Wissen und glauben – en wie het vir God gemaak?

  • 0

Foto-erkenning: Pexels op Pixabay. ©2016 Pexels, gepubliseer op 29 November 2016. Gepubliseer onder die gratis lisensievoorwaardes van Pixabay.

Die Godsbegrip behels (wetenskaplik in die eerste plek, naas die gebruiklik-teologiese in die tweede plek), geen antropomorfies gelyke Persoon nie, maar ’n definieerbare matematiese Beginsel in terme van die getal en sy verhoudinge.

Die Godsbegrip gedefinieer

Die twee mees fundamentele begrippe/konsepte, reeds in die Oud-Griekse filosofie, is persona en principium (in Latyn vertaal vir character en archê in Grieks). Daarom moet die gebruike en betekenisse van hierdie twee begrippe, in wat gaan volg, ook reg van die begin af baie duidelik gestel word om enige waninterpretasie of semantiese misverstande te voorkom.

Persona is ’n ou Etruskiese (voor-Italiaanse) woord vir die masker wat ’n toneelspeler op het (dra) om ’n bepaalde karakter in ’n toneelstuk mee uit te beeld (’n persoonlikheid wat hy vir die oomblik aanneem, maar nie sy eie is nie, soos die Griekse hupokritês daarvoor ook getuig). Nêrens in Klassieke Latyn word persona ooit vir ’n gewone, alledaagse, individu as “persoon” gebruik nie. In die Romeins-Hollandse Reg (soos ook by Hugo Grotius, die Nederlandse grondlegger in die 17de eeu), het dit egter mettertyd ook die betekenis verkry om ’n individuele persoon aan te dui wat sy eie strategiese identiteit en beeld binne sy sosiale opset en konteks het. Maar dit kan ook misleidend wees, soos die psigiater Carl Jung dit gestel het, om te verwys na iemand se teatrale façe/front na buite om so sy innerlike self te verberg. Die woord persoon is etimologies (die Griekse woord vir “ware betekenis”) af te lei uit per-sonare, “om te laat voort-klink (uit die mond van die persona/masker)”. In die Christelike teologie het Persona egter die spesiale “geopenbaarde” (teenoor “natuurlike”) eksegetiese betekenis verkry waar dit in/by die Drie-eenheid verwys na die drie eiendomlike Persone (tres Personae) van God die Vader, Jesus die Seun, en die Heilige Gees, wat dan sáám die essensiële Godheid (sou) uitmaak, elkeen met sy eie karakter. Een, maar tog ook drie, waar die Heilige Gees (tò Pneûma tò Hágion van die Griekse NT) niks anders kan wees as die voor-Sokratiese natuurfilosowe se tò pneûma toû kósmoû, dws “wêreld-siel” nie, daardie élan vital wat die ganse skepping deuradem. Dit het die Griekse NT binnegekom danksy die Griekse Gnostisisme van die vroeg-Christelike era, en is nie van Joodse oorsprong hier nie.

God-die-Skepper is ’n abstrakte metafisiese werklikheid wat nie in mensgelyke vorm voorgestel kan word nie. Die beeld van God in die mens is nié na uiterlike vorm en gestalte nie, maar na sy innerlike, redelike, essensie. Die mens is as ’n verlengstuk van God na sy rede (noûs) geskep, en nie na sy liggaam (sôma) nie. Heel tereg het die OT se Tien Gebooie dit dan ook dat die mens nie ’n beeld of gelykenis van God (tsêlêm Êlōhîm) mag maak nie (Genesis 1:27), want dit is wat die Heidene (hā-gōjîm, tà éthê in NT Grieks) doen. Die mens is (slegs) ’n skadu (tsêl) van God – en nie God van die mens nie. Hier het Islam dit korrek.

Die Teutoons-Germaanse woord vir “god”, naamlik *gup/ghut (Gott in Duits) vind ons vir die eerste keer by Ulfilas in sy Gotiese Bybelvertaling van die 4de eeu, en wel in Codex Argenteus van die 6de eeu (tans in die Universiteit van Uppsala in Swede, in goud en silwer ink op persgekleurde velyn geskryf vir die Oosgoot Theodorik in Ravenna, Italië, eers herontdek na ’n volle 1 000 jaar). Biskop Ulfilas het hierdie woord uit die volkstaal (lingua cottidiana) geneem wat (origens) bloot generies gewys het as ’n term by die aanroep en aanbidding van énige (ook profane) godheid, en dit toe ver-Christelik het.

Die Godheid het in die Tanakh, dws die Hebreeuse OT in die Griekse NT, ’n (uitsonderlike) eienaam gehad, naamlik Jāhěwêh, soos vasgelê in die tetragrammaton (vierletterwoord) JHWH, wat 6 823 keer daarin voorkom, en wat die Jode nie mag uitgespreek het nie (omdat dit te heilig is), en in die plek waarvan hulle dan altyd Adōnai, “my Heer”, of “HERE” (in die pluralis majestatis) gelees en gesê het. Jāhěwêh (die meer oorspronklike uitspraak by JHWH, wat in die Middeleeue as Jěhōwãh uitgespreek is, heel waarskynlik op model van die vokaal by Adōnai. So het die OT-naam (hā-sjêm) van die God van Israel in die Griekse NT geheel verlore geraak, waar net Kúrios, “Here”, soos in Moderne Grieks “meneer” (< “mijn heer”) gebruik is, en die oorspronklike essensiële betekenis daarvan ook in die NT verlore gegaan het).

Maar wat is die etimologiese éérste betekenis van JHWH?

Jāhěwêh is baie duidelik afgelei van die Hebreeuse werkwoord jāhā, “om te wees”, “is” (contra Samuel Prideaux Tregelles in sy Hebrew and Chaldee Lexicon, bl 337, sub voce), wat dit van Egiptiese oorsprong vermoed, en koppel aan Jup(p)iter, (D)jovis (Jovis-pater) in Latyn, en Zeús, Zeús(patêr) in Attiese Grieks, met Deús, Zeû patêr (vader Zeus) in Eoliese Grieks. Die woord vir “God” in Latyn is deus, afgelei uit Grieks théos, in ’n merkwaardige ooreenkoms met dies, “dag” in Latyn, en dyâúch in Sanskrit (wat ook “hemel”, die liggewende uitspansel, kan beteken). In Afrikaans het ons dag, en in Engels day te vergelyk. Hierdie betekenis van Jāhěwêh word pragtig opgesom in Eksodus 3:14 waar JHWH Hom Self-identies aan Moses verklaar as êhějê āshjêr êhějê, “Ek IS, wat ek is.” Suiwer monisties.

Belangrik is dat die Joodse Tanakh hier ’n absoluut suiwer monisme verkondig. Aan die einde van hierdie essay sal ek dit ook matematies bewys. In Deuteronomium 6:4 lees ons dan ook: Shěmā Jīsjěrāēl Jāhěwêh êlōhēnu Jāhěwêh êchād: “Hoor Israel, die HERE onse God is ’n enige HERE.”

Die metafisiese Godheid, as Skepper van die fisiese universum, kan in die éérste plek slegs wiskundig-onpersoonlik gedefinieer word in terme van sy hoofattribuut, naamlik die werking van die getal in al sy matematiese verhoudinge. Eers ná die Skepping van die mens, miljarde jare later, in/na die beeld van hierdie God, en daarby nie in mensegestalte nie, maar met ’n rede (noûs) as ’n ekstensie van die Godheid Self, kan die mens sy Skepper-God verpersoonlik, soos sy eie unieke vingerafdrukke dit ook datulologies bevestig (vgl Jesaja 43:1: “Ek het jou by jou naam geroep, jy is Myne”).

Principium verwys na die “princeps”, die “eerste in begin” (soos editio princeps, die “eerste gedrukte uitgawe van ’n boek”), en dan ook meer bepaald na die absolute begin van in/enige saak, soos in die principium mundi,die (absolute) begin (oorsprong) van die wêreld”. ’n Principium kan ook slegs slaan op die “eerste geldende beginsel” in ’n proses van logiese beredenering. Isaac Newton van Cambridge (obit 1727) het met sy gebruik van principium in sy Philosophiae Naturalis Principia Mathematica sonder meer alleenlik verwys na ’n “wiskundige beginsel”, soos dat 2+2=4 (oral en altyd), dws net soos by die gebruik van die getal in al sy matematiese verhoudings om enige saak in ’n konkrete stelling fisies te kan verklaar, soos by Puthagoras van Samos (580 vC), die eerste Griek wat homself ’n philo-sóphos, “’n liefhebber van die wysheid”, genoem het, en ook metafisies by Plato van Athene in sy Teorie van vorme, oftewel Ideëleer. Puthagoras was die eerste om die verhouding tussen die lengte en spanning van ’n snaar wat getokkel word vas te lê in syfers/getalle. Hierdie is dan ook die leidende beginsel in hierdie essay oor die primêre, eerste, attribuut van die Godheid as die skeppende Oer-Bron van alles in die ganse heelal (universum).

STELLING:

Die Godheid is nie ’n Persoon nie, maar ’n tydlose Beginsel, ongeword, onveranderlik, en onverganklik.

’n Definisie van die Godheid slaan op die twee hoofattribute, wetenskaplik en religieus, van hierdie Godheid, eerstens met verwysing na die skepping van die wêreld, en tweedens ook in orde van tyd na die skepping van die mens – twee aparte skeppingsdade wat miljatde jare uit mekaar lê, soos reeds hier bo gekonstateer. Die wêreld (aarde, universum, heelal, kósmos) is volgens die wetenskap van vandag 4,54 miljard jaar oud. Skepping self het egter reeds 13,8 of 13,7) miljard jaar gelede plaasgevind volgens die Oerknal-teorie, dit is, toe daardie oomblik van singulariteit daarvoor aangebreek het, dws toe daardie moment van kritieke hitte en digtheid vir die Skepping bereik is, wat hierdie geweldig groot kosmiese “omwenteling” veroorsaak het (’n atoomreaksie wat die energie daarvoor moes verskaf het), wat tot die fisiese skepping van die wêreld gelei het, waarby stof en energie (vgl Einstein, E=mc²) saam met ruimte en tyd ontstaan het en gevorm is. Hierdie reusagtige omwenteling kon, op die regte tyd, net deur die werking (uit Grieks F/wérgon, “werk” – só reeds by vóór-Klassieke Homerus) van ’n skeppende, kousale Agens wat nou die Godheid uitmaak, plaasgevind het. Hierdie “kosmiese omwenteling” kan vergelyk word met die voor-Sokratiese natuurfilosoof Anaxagoras van Kladzomenae in Magna Graecia, vandag Suid-Italië, wat reeds in die 5de eeu vC gemeen het dat daar ’n perichôrêsis (’n “groot draaibeweging”) met skepping moes plaasgevind het waarby kwalitatief eenderse spérmata (“sade”/elemente) bymekaargekom het om vaste liggame te vorm. Die groot Duitse idealis Martin Heidegger (obit 1976) het nog onlangs gewys op die ontologiese (syns)waarhede wat hierdie ou Griekse wysgere teoreties kwytgeraak het. So was Herakleitos van Efese ook die grondlegger van die moderne atoomteorie. Anaxagoras was ook, soos reeds genoem, die heel eerste Griek wat na die Godheid verwys het as die Nôus, dit is daardie Kosmiese Intelligensie (“Rede”) wat agter die ontstaan en bestaan van alles lê.

Die duur (en datum) vir die ontstaan van die aarde/heelal, wat slegs één persentasiepunt uit mag wees, is reeds deur atomiese meting bepaal waar gebruik gemaak is van die sogenaamde Kosmiese Mikrogolfagtergrond- (KMA-) uitstraling (“CMB radiation”) nadat, deur afkoeling, die eerste lig (nagloed) in die heelal gevorm is ongeveer 380 000 jaar gelede, wat gevolg het op die Oerknal. Hierdie, heel toevallige, kritieke ontdekking vir die datering van die Oerknalteorie, is eers in 1964 deur Arno Penzias en Robert Wilson gemaak deur die opvang van elektromagnetiese strale uit alle rigtings van die heelal wat gelyktydig op een sentrale punt waargeneem is, strale komende uit die verste eindes van die heelal waar dit nog steeds, teen ekspansioneel-eskalerende spoed op spoed vir ewig verder die eter in voortsnel. Die heelal, in sy omvang, kan geen einde hê nie. Hierdie is ’n filosofiese begrip waarop later in hierdie essay paradoksaal in besonderhede teruggekom sal word.

Amper ’n eeu gelede het Edwin Hubble dit al waargeneem as “the redshift” wat eerste bewys gelewer het van sterrestelsels (galaksies, sterrestelsels, “melkweë” < Grieks gála + -aktos, “melk”) buite die stelsel, wat toe nog maar waargeneem is deur sterrekundiges. Hierdie is ’n verskynsel waar die ligbron voortdurend verder weg beweeg as die waarnemer daarvan (vgl die Doppler-effek hier).

Die religieuse oorleweringe by die Jode (deur hul Tanakh), asook die Boeddhisme (deur die Vedas), het hulle eie “geopenbaarde” daterings vir die Skepping uitgewerk. By die Jode is die wêreld in die jaar 3761 vC geskep (dws nou oor die 5 000 jaar gelede), bereken volgens hul Bybelse gegewens en geslagsregisters.

Aartsbiskop James Ussher van Ierland (1581–1656) het die Skepping gestel op presies 6 nm van 22 Oktober (die aand voor 23 Oktober) van die jaar 4004 vC volgens sy eie Bybelse Skrifberekeninge.

Die Boeddhiste uit Babilon (en Persië), daardie “wyse manne” (mágoi, eintlik “sterrewiggelaars”, uit die Verre Ooste (waarvan net die Evangelis Mattheus ons vertel in hoofstuk 2 in die Evangelie volgens hom), het die plaasvind van die Skepping gestel in die loop van ses siklusse (kalpas) in die Vedas, te vergelyk met die Joodse ses dae van Skepping in die Tanakh), soos ook in die Avesta van die (Persiese) Zoroastrianisme – as besliste pródromos (voorloper) van die Christelike geloof, wat uit die Joodse Tanakh ontstaan het, waarvoor vergelyk hierna onder “Zoroastrianisme”), wat één dag by die Godheid uitgemaak het (en nou as 432 jaar bereken word). Volgens die Boeddhisme kan die dag en datum van die Skepping nie bereken word nie, omdat God-die-Skepper buite tyd-en-ruimte is.

Die Oerknalteorie is so oorgepopulariseer dat mens gedwing word om hier ’n eie kort verslag op te stel. Die basiese historiese ontstaan van hierdie teorie moet hier egter tog wel in kort aangestip word.

Die Rus Alexandro Friedmann het in 1920 deur wiskundige berekenings tot die gevolgtrekking gekom dat die wêreld sedert sy oomblik van singulariteit van ontstaan steeds besig is om ekspansioneel verder die leë ruimte in uit te brei oor al die miljarde jare heen. In 1929 het die Amerikaner Edwin Hubble teleskopies-empiries die oneindigheid van die bestaan van postgalaktiese stelsels van heelaleilande vasgestel.

Georg Lemêtre, ’n Belgiese Rooms-Katolieke priester wat ook in die fisika gespesialiseer het, het in 1927 daardie voorwêreldse atoom van Demokritos laat ontplof. Hy het gereken dat daar aan die absolute begin van die heelal (die oomblik van singulariteit) ’n kataklismiese ontploffing van ’n klein superatoom plaasgevind het toe die digtheid en die temperatuur daarvan alle grense van die konstante oorskry het. Dit was eers in 1946 dat sy seminale L’Hypothèse del’ atome primitiv verskyn het. Lemêtre het in twee wêrelde geleef waarin hy sy godsdienstige belewing totaal geskei het van sy wetenskaplike oortuigings. In 1951 sou pous Pius XII in sy toespraak “Fiat lux” (“Laat daar lig wees”) dit ook wel stel dat die wetenskap nou bewys dat God bestaan, en daar in die bestaan van die Godheid nie meer getwyfel kan word nie. So ’n pro forma-godsdiens kan egter nooit met die Bybelse gegewens van die Christendom versoen word nie. By die “Wissen und glauben” in hierdie essay word kennis aangebied wat as ’n korrektief moet dien op obsolete uitgediende primitiewe beskouings wat nog as die waarheid verkondig word. In die plek van blinde geloof het wetenskaplike wete nou gekom, en kan die bestaan van God-die-Skepper nou matematies in plaas van (net) dogmaties bewys word. “Creatio ex nihilo” het nou ’n gans ander betekenis gekry. Lemêtre se model van die Skepping deur die Oerknal-model is substansieel verder ontwikkel deur George Gamov (Georgij Antonovich Gamov), Russies-gebore in Odessa in die Oekraïne van die USSR in 1904, maar hy het in 1934 na Michigan in die VSA vershuis. Gamov het later die hier bo genoemde KMA (CMB) voorspel wat Arno Penzias en Robert Wilson van New Jersey in die VSA in 1964 heel toevallig ontdek het. Dit is naamlik dat die kosmiese nagloed wat plaasgevind het na die Oerknal, die ruimte in is met die oomblik van singulariteit en ’n uitstraling wat konstant dieselfde is uit alle rigtings in die ruimte. Hierdie is dan inderwaarheid die heel eerste stem/klank wat steeds bly voortklink in die eter na meer as 37 miljard jaar gelede toe die Skepping met die heel eerste atoominploffing plaasgevind het, en nog steeds besig is om voort te duur.

Die Skepping, met die Oerknal, word vandag gestel op 13,7 (13,8) miljard jaar gelede met die aanbreek van daardie unieke oomblik van singulariteit toe dit plaasgevind het. Dit was miljarde jare voordat ons (huidige) aarde, ná die afkoeling van daardie eerste kosmiese atoominploffing, gevorm is, toe die binding van stof (materie) en gas (waterstof en helium) plaasgevind het om vaste liggame te vorm, en só vir gravitas gesorg het (Newton se gravitasie, oftewel aantrekking tot mekaar van daardie vaste liggame).

Ex nihilo nihil fit, “Uit niks kom niks” (dws niks kan niks skep nie, en uit niks kan niks gemaak word nie), is ’n vaste beginsel in die wetenskap by die kosmologie én filosofie. Die ou Griekse voor-Sokratikus Parmenides (van Elea in Graecia Magna, Suid-Italië, gebore in 515 vC), as die Weste se eerste Idealis, het dit, volgens Plato, in sy seminale gedig “PerÌ phúseôs” (“Oor die natuur”) gestel dat geen verandering ooit sonder (kousale) beweging moontlik is nie, kan geskied nie. Die werking van ’n skeppende Mag/Godheid word hier veronderstel. Dit is interessant om daarop te let dat ’n ander groot voor-Sokratiese natuurfilosoof, Anaxagoras van Kladzomenai in Klein-Asië, met die konsep van die Noûs as Kosmiese Intelligensie (Rede) gekom het om die perichôrêsis (die groot “draaibeweging”) aan die gang te sit waarby ’n oorspronklike onbeperkte aantal kwalitatief verskillende sade (spérmata) aan mekaar laat vaskleef is om dit tot skepping te bring. Hiervoor het Aristoteles hom geprys, maar ook daarop gewys dat hierdie Noûs van hom niks anders is as die literêre truuk van ’n deus ex machina by die oud-Griekse dramaskrywing nie, waar die skrywer, as hy hom met sy intrige in ’n hoek vasgeskryf het, ’n Godheid laat neerdaal om die probleem vir hom op te los. Sien, daar lê geen kousale oorsaak agter die werking van Anaxagoras se Noûs (uit die niet) nie. En buitendien, waar het Anaxagoras se spêrmata vandaan gekom? Wie het dit geskep, apart van die werking van sy Noûs? Anaxagoras was nietemin die eerste Griekse denker wat by/tot die konsep van (’n) Godheid vir die Skepping gekom het.

Dit bring ons dan by God-die-Skepper as die Oerbron van alle enérgeia (< F/wérgon, “werk”, in Homeriese Grieks reeds, dit is, Energie, wat geskep en gebruik kan word, maar nooit self vernietig kan word nie. Hierdie energie, in watter vorm ook al (soos by die splyting van die atoom, of deur die opwekking van die wind oor land of op die golwe van die see, kan alleen in terme van eksakte matematiese formules beskryf en gedefinieer word, gestel in die vorm van daardie getal in al sy matematiese verhoudings, soos ons dit in Plato se Teorie van vorme, oftewel in sy unieke Ideëleer, vind as die belangrikste en laaste attribuut van God, die Goeie (tò Agathón), soos progressief uitgewerk (oor ’n periode van 40 jaar in sy Akadêmeía aan die Képhissos-spruit buite, ten weste van, die stad Athene) deur Plato in sy groot reeks (18) Dialoë (wat vir ons, heel buitengewoon, nog al die eeue deur bewaar gebly het), en die Amerikaner Ralph Waldo Emerson eens van hierdie Plato sou sê: “Plato is philosophy, and philosophy is Plato.”

God-die-Skepper, as die Oerbron van alle energie, kan dus hier, in essensie, enkel en alleen gedefinieer word in terme van daardie getal in sy oneindige reekse matematiese verhoudings. Dit vorm dan ook die eerste wetenskaplike definisie van God-die-Skepper en wel in ’n neutrale en onpersoonlike verhouding gesien.

Ons kan hier reeds die oud-Griekse wysgeer Aristoteles van die 4de eeu vC bybring. In die 7de en 8ste boek van sy Phusiká (7. 241b 24 –242 a16, voortgesit in die grootste deel van die 8ste boek) stel hy ons bekend aan die Skepper van die wêreld (Dêmiourgós, gevorm uit dêmos, “landgebied” + *F/wérgon, “werk”, “bewerking”, soos hier bo by “werksame” Enérgeia) as die “Eerste Onbeweeglike Beweger”, hier in Grieks bondig gestel as tò ou kinouménon kineî, “dit wat nie kan beweeg nie, maar (wel sélf voortdurend) beweeg”. Hierin word die onsydige (geslagtelik neutrale) bepaalde lidwoord saam met die medium/passiewe vorm van die werkwoord kineî, “om te beweeg”, in die praesens-tempus-stam met sy liniêre, progressie, oftewel durende Aktionsart, gebruik om dit te substantiveer (“Dit wat”), en weer wel saam met die negatief van die Werklikheid, naamlik ou (“nie”), en nie mê as die negatief van die Hipotetiese nie (vgl hier Jan Gonda, The character of the Indo-European moods with special reference to Greek and Sanskrit, EJ Brill, Leiden, 1956). Aristoteles het dus, heel tereg, die Godheid (in die eerste plek) as on-persoonlik, neutraal, Agens/Mag gesien optree. In sy aanbidding sou die mens later God ver-persoonlik, wat hy in die Skepping daar buite en in homself as sy Skepper ontdek het. Die kardinale punt wat Aristoteles wou stel, was dié van kousaliteit, oorsaaklikheid. Daar kan in die fisiese wêreld beweging plaasvind slegs en alleen waar daar ’n Beweger met Enérgeia (“werkende krag”) is wat as Agens, soos by God-die-Skepper, die oorsaak vir alle beweging verteenwoordig.

’n Kardinale stellingsaanname in hierdie essay is dat die volle som van materie in die wêreld en heelal uit energie ontstaan het. God-die-Skepper Self is die Oerbron van hierdie energie wat al die boustene in die wêreld en heelal uitmaak. Die grootste konsentrasie van atome wat opgebreek kan word, vind ons vandag in aardkorse wat uraan en torium bevat, die radioactivité waarvan die bestaan deur die twee Franse Henri Becquerel en Marie Curie reeds in 1896 vasgestel is. Hierdie twee elemente was egter reeds ontdek deur onderskeidelik Martin Klaproth (uraan, 1729, vernoem na die pas ontdekte planeet Uranus op 13 Maart 1781) en Jöns Jacob Berzelius (torium, 1828, vernoem na die Noorse god Thor, die god van “bliksem en donder”, met sy rooi hare en ikoniese hamer, Mjölnir). Die twee Duitsers Otto Hahn en Fritz Strassman (net te laat vir Adolf Hitler) het die opbreek/splyting daarvan in 1938 ontdek. Die ware werking van hierdie átoma het vir meer as 2 500 jaar vir die mens verborge gelê, tot dit eers in ons leeftyd, in die Tweede Wêreldoorlog, deur Amerikaanse wetenskaplikes gesplyt is vir die vervaardiging van die atoombom oor Hirosjima en Nakasaki). En die mens kon nou sy eie “Hel” skep, soos die bekende Amerikaanse evangelis Billy Graham opgemerk het toe hy die heel eerste (eksperimentele) atoominploffing aanskou het in die Jurnada Murertro-woestyn in Nieu-Mexiko op 16 Julie 1945, die oggend om 5:29:25. By die opbreking van die atoom word ’n enorme bondel energie vrygestel wat sedert die Skepping chemies gebind gelê het, ’n oermineraal, soos uraan.

Die atoom (uit Grieks á-tomon, “dit (daardie element) wat nie verder op te sny (temneîn) is nie, wat nie verder opgebreek kan word nie”). Die voor-Sokratiese natuurfilosoof Demokritos van Abdera uit Thrasië wat, soos vele van sy tydgenote oor meer as twee eeue heen, tussen 600 en 400 vC, ’n wêreldverklaring in die plek van die eertydse mitologiese wêreldvoorstelling gesoek het, het die átomon ôbousteen in/by die skepping van die wêreld, soos Anaxangoras van Kladzomenae in Magna Graecia, Suid-Italië, weer sy divers verskillende sade (spêrmata) as boustowwe gepostuleer het, wat ’n Kosmiese Intelligensie (dit is, God-die-Skepper) georden het deur ’n gigantiese draaibeweging (perichôrêsis) in die heelal (kósmos).

 Herakleitos vorm ’n verhaal van sy eie.

Die atoomteorie as verklaring van/vir die ontstaan van die wêreld het reeds begin by die voor-Sokratiese natuurfilosoof Demokritos van Abdera teen 500 vC. Hy was afkomstig van die Thrasiese kus, noord van die Swart See (wat, ironies genoeg, ’n plek was wat in die Oudheid bekend was vir sy “dom mense”, maar wat tog ook die geboortestad was van die gevierde Sofis Protagoras). Hy het ’n onsigbare element wat hy die átomon genoem het (’n neologisme in die Grieks van die tyd) as oerbousteen en substraat van alle fisiese voorwerpe op aarde hipoteties voorgestel wat ’n verbale adjektief, onsydig/neutrum, vorm van die werkwoord témnô, “ek sny in dele op”, gesubstantiveer met die bepaalde lidwoord , en genegativeer deur die voorvoeging van die alpha privativum.

Die atoom, weet ons vandag (ook reeds elders hier gestel), bestaan uit protone en neutrone waarby die nukleus, of kern van die atoom, met ’n positiewe elektriese lading kragtig ombind word deur ’n elektroniese band wat ’n 100 miljoen tot die mag 6 sterker is as die aantrekkingkrag van die aarde. Vandaar die ontsettende krag wat vrygestel word by die opbreek of splyting daarvan, wat eers betreklik onlangs, in 1945, plaasgevind het aan die einde die Tweede Wêreldoorlog (wat hierdie atoom toe ook laat gebeur het). Die kern van die atoom beslaan slegs 99,5 persent van die massa daarvan, alhoewel dit net een miljoenste van ’n miljardste van die volume daarvan uitmaak.

Die Romeinse filosoof Carus Titus Lucretius (99–55 vC) wat tragies jonk selfdood sou pleeg) het in sy De Rerum Naturae Demokritos se leerstelling in Latyn omgewerk en toegepas in hierdie sesdelige leerdig van hom, in 7 500 reëls opgestel in daktiliese heksameters (in navolging van die Homeriese eposse van die 9de eeu vC). Lucretius se idee was om die mens van sy persoonlike vrees vir die dood klinies te verlos (dalk daarom ook sy eie selfdood). Lucretius se primitiewe insig hier was verstommend. Hy het hom voorgestel (buite die moderne laboratorium) dat hierdie atome, ook in die vaste vorm van voorwerpe konstant in voortdurende beweging bly, maar dat die mens dit bloot nie kan sien nie. Vandaar sy beroemde vergelyking in boek 2, reëls 308–332 van sy De Rerium Naturae, waarin hy dit stel dat die mens nie met die blote oog die beweging van die elektrone in die atoomkern kan waarneem nie, en dit dan vergelyk met die visie van ’n trop skape wat in die verte op ’n afstand wei – wat die mens dan nie met die blote oog kan raaksien nie.

Hier bo is ’n kort oorsig gegee van die splyting van die atoom wat ’n ganse nuwe era in die geskiedenis van die mensheid ingelui het deur die atoom in laboratoria te ontleed. Wat dit merkwaardig maak is, dat Demokritos, as student van Leukippos, bloot oor die moontlikheid daarvan gespekuleer het en ook die juiste appellatief daarvoor bedink het. Al die voor-Sokratiese natuurfilosowe (Demokritos het Sokrates oorleef) het na die oerstof, element, gesoek waaruit die wêreld met die Skepping opgebou is (water, vuur, lug, grond, of maar net tò ápeiron, “die onbegrenste” soos by Anaximenes). Puthagoras van die ou Egeïese eiland Samos (tans in die Middellandse See) het die beginsel van Skepping egter gevind in die getal of syfer in die ontelbare reekse van matematiese verhoudinge daarvan. Demokritos het die oorsprong van alle materiële dinge op aarde gevind in wat hy á-tomon (“dit wat nie verder opgesny/gedeel kan word nie”) genoem het. Beide was reg. Dit was die groot Duitse eksistensialis Martin Heidegger (1889–1976, ’n ondersteuner van Adolf Hitler) wat in die vorige eeu nog herhaaldelik gewys het op die belangrike bydrae wat die oud-Griekse, voor-Sokraties, natuurfilosowe gelewer het om die wese van die Syn (tò ón, die onsydige partisipium enkelvoud uit die werkwoord eímie, “ek is”) te definieer en te kan verstaan in die domein van die ontologiese in die wetenskap.

Net soos die Parmenidiaanse wysgere het Demokritos die onveranderlikheid van die Synde (tò ón, “dit wat is”) aanvaar, maar hy het die eenheid daarvan verwerp. Demokritos het gedink dat as die Synde ver genoeg opgedeel word, ons uiteindelik op ’n oneindige aantal onverdeelbare eenhede sal afkom wat hy átoma (die meervoud) genoem het. Hierdie stofdeeltjies is ongeword, onveranderlik, onverganklik (soos God self), en is ook volkome ondeurdringbaar. Dit is almal kwalitatief dieselfde. Dit is so klein dat dit nie sintuiglik met die blote oog waargeneem kan word nie. Dit verskil alleenlik in vorm (schêma, idéa) en grootte. Die kwalitatiewe verskeidenheid van empiries waargenome voorwerpe wat daaruit gevorm is, volg uit die wyse waarop hierdie atome daarin gerangskik is. Dit hang dus af van die orde (táxis) waarin daardie atome gerangskik is, die ligging of plasing (thésis) van die atome daarin, en die vorm en grootte van die atome self. Sintuiglik waargeneem, kan ons sê dat voorwerpe ontstaan en vergaan. Maar in die absolute sin van die woord is daar nie iets soos ontstaan en vergaan nie, want die atome self is ewig onverganklik. Wat dus in werklikheid gebeur, is dat hierdie onverganklike atome in bepaalde rangskikkings saamgevoeg is in daardie fisies gemanifesteerde voorwerpe waar dit bind by die skepping/ontstaan en weer ontbind by die disintegrasie van daardie voorwerpe. Die kwantum substansie van atome in hierdie wêreld kan nie verminder of vermeerder (word) nie. Herakleitos bly egter in gebreke oor presies waar en hoe hierdie atome ontstaan het.

En dít het ook die ewige kardinale vraag tot vandag gebly en wil verduidelik wat in die huidige skrywe opgelos probeer word deur die Oerenergiebron daarágter te postuleer wat, net soos by die Skepping alleenlik in terme van die getal/syfer in al sy matematiese verhoudinge, en letterlik in alle fisiese voorwerpe opgebou is.

As Demokritos sy atome as hilosoïsties (dws dat dit in sigself bewegingskrag besit – soos dit nou inderdaad die geval is) beskou het, dan sou hy die interne enérgeia daarvan apart moes verklaar het.

Die atoom skitter vandag in sy eenvoud sedert Albert Einstein se beroemde stelling, E=mc², waar energie gelyk gestel word aan die spoed van lig (sewe en ’n halwe keer rondom die aarde in ’n sekonde) tot die mag 2, soos (reeds) geformuleer in sy Spezielle Relativitätstheorie. Zur bewegter Köper van 1905. Alles is maklik as jy presies weet hoe.

Die nukleus, oftewel kern, van die atoom, wat ’n elektries positiewe lading bevat, word deur ’n elektries negatief gelaaide elektroneband ombind wat 100 miljoen tot die mag 6 sterker is as die aantrekkingskrag van die aarde. Vandaar die enorme vrystelling van energie as daardie band gebreek word. Die kern van die atoom beslaan 95,5 persent van die massa daarvan, alhoewel dit slegs één miljoenste van ’n miljardste van die volume daarvan uitmaak.

Om te bewys dat die massa (stof, materie) van die ganse heelal deur louter/blote energie verwek is, moet ons Einstein se formule E=mc² net omswaai. En dit is presies wat die Groot Hadron-versteller tans besig is om te doen in ’n tonnel van 27 km lank en 100 m onder die grond wat in Europa tussen Switserland en Frankryk geleë is. Dit wil die werking van die sogenaamde Higgs-boson, oftewel partikel, waardeur die aarde en heelal geskep is, bewys, en het reeds op 4 Julie 2012 klinkklare getuienis daarvan verkry deur die skep om kwarke toe ’n proton-proton-botsing in daardie ondergrondse tonnel met behulp van reuse magnete te bewerkstellig.

Die term Higgs-boson, in Engels ook “the God particle” genoem, verwys na ’n elektromagnetiese veld binne die kwantumfisika (’n vlak in die fisika waar tot die allerkleinste atomiese komponente betrokke is in die studie van die verhouding, by skepping, tussen stof (massa) en energie), waar hierdie interaksie dan bestudeer word tussen daardie fundamenteel basiese partikels in die heelal wat deur die interaksie daarvan met die Higgs-boson bind om (vaste) massa daaraan te gee (min of meer soos beweging in water dit sou doen, terwyl daardie partikels wat nie bind nie, dan ook net fotone bly (soos dit ook wel genoem word). Die Higgs-boson, as elektromagnetiese veld van oneindige minuskule partikels in die kósmos, teoreties onsigbaar, voorspel dat dit bestaan, is vernoem na Peter Higgs wat in 1964, saam met vyf ander wetenskaplikes, (Kibbel, Guralnik, Hagen, Englert en Bront) die Nobelprys vir fisika verower het vir die uitwysing van hierdie grootse en uiters belangrike teoretiese oorspronklik skeppende element in die heelal, wat (moes) bestaan. Die laboratorium daarvoor, digby Genève in Switserland, heet die CERN (oftwel European Organisation for Nuclear Research), waar verskeie volke oor die hele wêreld heen nou saamspan vir hierdie atomiese navorsing sedert die stigting en oprigting daar in 1998–2008. Hier word gepoog om die oorspronklike Skepping na te doen waar massa (stof, materie) uit blote energie geskep word, en dat God-die-Skepper die Oerbron Self is van al daardie energie, ’n onbekende indeterminaat van al die energie wat ons God noem, maar wat wel gedefinieer kan word in terme van matematiese verhoudings mbv die getal en syfer daarin. Álle vorme van enérgeia, as werksame krag, kan in wiskundige formules beskryf word.

Die Hadron-eksperiment poog om te bewys hóé God, as die eerste Oerbron van Energie Self, ons materiële wêreld 4,5 miljoen jaar gelede, en in beginsel reeds met die Oerknal van 13,8 miljard jaar gelede, geskep het, en dat dit daarom ook wetenskaplik te verklaar is in terme van die getal in al sy matematiese verhoudings.

In fisika is die woord hadron afgelei uit die Grieks hadrós, wat “dik en hard” beteken. Hierdie term is in 1962 geskep deur die Russiese wetenskaplike Lev B Okin om ’n subatomiese partikel in die atoom mee aan te dui wat uit meer as twee kwarke bestaan en wat deur ’n sterk atomiese krag byeen gehou word. Die grootste deel van die massa van materie by Skepping kom uit twee hadrone, die proton en die neutron, terwyl die proton en die neutron dan weer saamgebind word deur verdere subatomiese kwarke. Kwarke vorm weer die mees fundamentele en elementêre boustene (binne die nuclei van die átoma) wat saam met die hadrone alle vaste stowwe in massa uitmaak. Die kwark is in 1963 ontdek deur die fisikus Murray Gell-Mann wat dit toe vernoem het na die drie karakters van Muster Mark in James Joyce se roman Finnegans Wake van 1939. Daarna is daar nog verder onderskei tussen die “Onderkwark” (in Augustus 1993), en die “Boonste kwark” (in Maart 1995). Kwarke maak dus, as die heel basiese boustene in die kosmos, die meeste subatomiese partikels in die wêreld en heelal uit. Die besonderhede pas hier bo aangegee, is om maar iets van die ontdekking van die atoom in die afgelope minder as 100 jaar aan te gee, alles gestel in terme van die matematiese formules van die getal in al sy verhoudings tot in die diepste minutae daarvan. Selfs tyd kan vandag ook teoreties-atomies gemeet word tot in attosekondes, dws eenduisendmiljoenstes van ’n gewone horlosiesekonde, oftewel net soveel horlosiesekondes as wat daar is in die ouderdom van die Skepping, 13,8 miljard jaar gelede. Die eerste Caessium-133-atoomhorlosie is reeds in 1955 in Londen gebou deur Louis Essen (en Jack Parry).

Terwyl Albert Einstein op ’n keer gesê het dat wetenskap sonder godsdiens lam is, is godsdiens sonder wetenskap weer blind (en lei mens in ’n kamer in wat geen uitgang het nie). Tog so waar na beide kante, wat ook die leitmotief van hierdie essay vorm oor die verhouding wissen und glauben. Die wetenskaplike benadering oor “blinde geloof” (pístin in die NT) kan nou begryp word, en die teoloog kan weer tot besinning geroep word.

Die beroemde Joodse geleerde Martin Buber kon in 1923 in die Ich und dich ook nie blinde geloof aanvaar nie, en het in die plek daarvan die Hebreeuse êmoenah gestel, dws ’n vaste vertroue (fiducia) by voorbaat. As die son nog elke oggend uit die Ooste opgekom het, kan ek verwag dat dit ook môre die geval sal wees. Buber vind hierdie stellige vertroue van êmoenah ook in die Hebreeuse Bybel-Skrif (Tanakh). By Plato se Ideëleer, waar die metafisiese “logika” juis die dominerende rol speel, pas “geloof” nie in nie; die mens kan slegs weet of nie weet nie, soos ook by sy leermeester, die logikus Sokrates. Tog bly daar dinge oor wat die mens (tans) nog nie weet nie – die sogenaamde non liquets selfs in die Romeins-Hollandse Reg. Die uitspraak van die apostel Paulus in I Korinthiërs 13:13, “en nou bly (net) geloof (pístis), hoop (elpís) en liefde (agápe) oor”, verwoord steeds ’n gnomiese waarheid. In Romeine 7:13 lees ons dan ook dat “die geregtigheid/regverdigheid van God daarin geopenbaar is, naamlik, ex písteôs eis pístin. God gee dan self die geloof om te kan glo. Die fides quã creditur, “die geloof waardeur geglo word”, is so deel van die fides quae creditur, “die geloof wat/waarin geglo word”. “Geloof” hoort nie alleen by/in enige partikulêre godsdiens nie. Emmanuel Kant van Köningsberg, dié eksponent van die Duitse Aufklärung (daardie intellektuele, filosofiese en kulturele “Verligting” van die 18de eeu, ná die Franse Revolusie) het by geleentheid, in sy Kritik der reinen Vernunft, opgemerk dat hy eers van al sy kennis ontslae moes raak eerdat hy kon glo, maar het terselfdertyd ook gesê dat hy elke dag die sterrehemel bo hom (eindeloos) bewonder, as ook die mens se etiese wet in hom.

Binne 14 tot 16 dae na konsepsie begin die fetus suurstof inneem deur die moeder se bloed (pneïn, vgl pneûma).

William Harvey van Londen het in 1616 die eerste keer die bloedsomloop (deur die pulmonêre aksie van die longe met asemhaling) van die mens logies verduidelik in sy De muto cordis et sanguinis anamalibus (eers 12 jaar later in Frankfurt, Duitsland, gepubliseer in ’n handboekie van 72 bladsye). Die deurvloei van bloed buite die hoofslagare van die mens is deur Marcello Malpighi van Bologna in Italië (grondlegger van die mikroskopiese anatomie) aangeteken. Harvey het die pulmonêre ingreep by die vloei van bloed in die menslike liggaam as slegs “van nature” aanvaar. Eers in 1906, net meer as ’n eeu gelede, is die bestaan van die sinoatriale nodus ontdek deur ’n Britse anatomis, Arthur Keith, en sy student Martin Flack in ’n private laboratorium in Kent, Engeland. Hierdie nodus maak in terme van massa slegs een persent van die hart uit, maar vorm tog die setel van die menslike lewe. Hierdie pasaangeërtjie van die hart, wat die elektriese impulse gee (verwek) vir die klop van die hart, sit teen die muur van die regteratrium, digby die hoofslagaar (vena cara) waar die gedeoksideerde bloed weer by asemhaling van (vars) suurstof voorsien word as nutriënt vir al die selle van die liggaam.

Dean Hamer (The God gene. How faith is hardwired into our genes, Anchor Books, Doubleday, 2005) het die geneties vooropgestelde neiging by die mens om te wil glo, die semen religionis in hom, gevind in die monamiene van die menslike brein wat as die draers daarvan optree, wat hom biologies in staat stel om met sy hart en rede te wil/kan glo, en die mistiese te wil bedink, en dit die mens se VMAT2-geen gedoop, wat dan ook evolusionêr ontwikkel het, en wat hy later ook evolusionêr weer kan verloor.

Waarom is dit dat die hart (se nodus) begin klop? Sekerlik deur die mitrochondriale geen in die DNS van die mens. Maar hoe het die eerste hart (soos by Adam en Eva) begin klop? Altyd slegs en alleen deur die soewereine energie-ingrepe (ewig van buite na binne) deur God, die Skepper van die mens, wanneer dit vir hierdie nuwe lewe nodig geword het. Ook dit kan hier alleen in terme van wetenskaplike formules bespreek en gedefinieer word deur die matematiese werking van die getal in al sy verhoudinge, wat alles uiteindelik uitbalanseer.

Ek het ses elemente in die psigies-somatiese samestelling van die mens geïdentifiseer wat van belang is by die bestaan van die mens, naamlik sy pneûma (as die onsterflike geestelike self), sy sôma (as die vleeslike liggaam), sy psúchê (as sy persoonlike self wat bestaan buite die Godheid), sy noûs (as die rede, oftewel die redelike beginsel in hom), sy kardía (sy ganse emotiewe lewe van hart en niere), en sy theophoría (as godsaanskouing, inspirasie, oftewel intuïsie as instinktiewe oortuiging, soos by Henri-Louis Bergson.

Die gans belangrikste element in die mens se synskonstitusie is sy pneûma, sy lewe as lewensbeginsel wat ongeword, onveranderlik, en vir ewig onsterflik is. Dit het ’n metafisiese preëksistensie, ’n tydelike eksistensie op aarde saam met die sterflike liggaam (sôma), wat loop vanaf geboorte tot sterfte tydens die bíos (lewensduur) van die individuele mens. Dit vorm sy vita quā vivimus, die lewensbeginsel waardeur hy lewe, in teenstelling met sy bíos, die lewe wat hy op aarde lewe (die vita quam vivimus), vorm.

Die Griekse woord pneûma is afgelei uit die werkwoord pneîn, wat “asemhaal”, “suurstof inneem” beteken (om te kan lewe). So vertaal dit dan ook die Hebreeuse term ruăch wat presies dieselfde betekenis het. Die pneûma vorm dus letterlik die lewende suurstof van/in die mens se bestaan, net soos daardie suurstof in die lug daar buite wat alle lewe onderhou, en wat met waterstof verbind is om die chemiese element H₂O te vorm, waarsonder geen lewe op aarde en die heelal moontlik is nie.

Die pneûma van die mens is louter enérgeia, “werksame energie”, as deel van die tydlose energie van God-die-Skepper Self wat in die (lewende) mens geplaas is. Daarom is dit ewig onvernietigbaar soos die Skepper Self, en bly dit vir ewig voortbestaan na die dood (afsterwe) van die liggaam (sôma) wat dan in sy atome ontbind.

Die siel (pneûma, eerder gees) en die liggaam (sôma) vorm ’n parallelistiese dualisme, geheel anders as wat dit die geval is by die Ka en die Ba in die ou Egiptiese mitologie, waar die Ka die geestelike lewensbeginsel van die mens in die graf vorm, terwyl die Ba, voorgestel as ’n voël met ’n mensekop wat kan vlieg, daardie siel eendag weer, getransfigureerd, met die Godheid herenig kan word vir sy salige nalewe, oftewel Akh (Nirwana by die Boeddhisme, as die ophou van persoonlike bestaan en uitdowing van die eie, persoonlike, lewensvonk).

Die tweede (sekondêre) definisie van God word in religieuse terme bespreek, waarin God die Skepper, eers van die wêreld, en daarna die mens, as God aanbid was sedert die vroegste stadia van die mensheid. Deur die eeue heen het verskillende volke dit op diverse wyses gedoen.

Gideon Joubert het Die Groot Gedagte van 1988 die teleologiese (planmatige) ontwerp in die Skepping van die wêreld van toepassing gemaak op die Christelike godsdiens van vandag. Geen godsdiens op aarde het egter die monopolie op hierdie uitgangspunt om die “waarheid” van hul partikuliere godsaanbidding mee te bewys nie. Deur die geskiedenis van die ganse mensheid heen het daar reeds derduisende “kerke” (afgelei uit die NT Christós, soos in Duits Kirche, Engels church) as sosiëteite, oftewel sosiale/maatskaplike groeperings van aanbidders, ontstaan, elkeen met sy eie partikuliere dogmatiese (duidelik te onderskei van etiese) leerstellings waarbinne God aanbid is. Elke godsdiens in die wêreld het sy eie dogma (uit Grieks dokeîn, “soos dit (die beste) lyk”). Hierdie dogma is, per definisie, ’n “vasomlynde (kerklike) leerstuk waaroor nie meer geredeneer kan word nie” (vgl CMA Supplement van 2017, bl 42). Immanuel Kant het in sy Kritik der reinen Vernunft die baie belangrike onderskeid hier getref tussen analitiese en sintetiese kennis. Analitiese kennis spreek vanself (is “self-evident”), soos dat 2+2=4, terwyl sintetiese kennis afgeleide kennis is. Alle godsdienstige dogmas in die geskiedenis is helaas sinteties, afgelei. Dogma is die skándalon, oftewel steen des aanstoots, in alle religieuse en alle ander vooropgesette, a priori-argumentasies.

Uitdaging van Stephen Hawking

In 1988 het die beroemde Cambridge-kosmoloog Stephen Hawking sy A brief history of time: from the Big Bang to black holes gepubliseer. As wetenskaplike het hy gemeen dat dit wat die afgelope 13,7 miljard jaar sedert die Skepping gebeur het, deur suiwer fisiese en chemiese wette retrospektief noukeurig verklaar kan word sonder dat ’n eksterne Goddelike mag van buite hoef in te gegryp het. Hierby het hy dan opgemerk (op cit, p 184): “Up to now, most scientists have been too occupied with the development of new theories that describe what the universe is [rather than] to ask why (this is the case).” Hierna het Hawking dan ook summier sy groot uitdaging tot die menslike intellek gerig (bl 185). “However, if we do discover a complete theory (of the origin of the universe) it should be in time understandable in broad principle by anyone, not just a few scientists. Then we shall all, philosophers, scientists, and just ordinary people be able to take part in the discussion of the question why it is that the universe and we exist. If we find the answer to that, it would be the ultimate triumph of human reason – for then we would know the mind of God” (my kursivering). In hierdie artikel is gepoog om hierdie waarom in die wat te vind en te verduidelik. Eintlik het Stephen Hawking se antwoord die antwoord tot hierdie vraag noodwendig in sy eie hande gehad, naamlik die wetenskaplik-matematiese werking van die getal in al sy verhoudinge. Hawking het, soos baie ander groot Westerse wetenskaplikes, byvoorbeeld Friedrich Nietzsche (“God is dood”) en Immanuel Kant van Köningsberg (wat dit in sy Kritik der reinem Vernunft duidelik gestel het dat hy eers van al sy kennis ontslae moet raak eerdat hy kan glo), die God van die Christendom gaan verwar met die Absolute Godheid wat lê agter ons fisiese en metafisiese werklikheid, wat tog, in sy matematiese essensie (in die eerste plek) wel geken kan word, hoewel die ontstaan van daardie skeppende Oerbron van werksame Energeía daarágter vir altyd ’n indeterminaat sal bly. Dit is immers God se Groot Geheim, die geheim van die werking van kosmiese enérgeia, wat tóg altyd in terme van die getal in al sy matematies-wetenskaplike verhoudings verklaar en gedefinieer kan word. Ek was as student teen die helfte van die vorige eeu op Cambridge gelyk met Hawking ’n eerstejaar daar, aan die Universiteit van Cambridge, die een van King’s College, en die ander van Trinity College, waar eersgenoemde hoofsaaklik sy linkerletterbrein vir Grieks moes inspan, en laasgenoemde sy regtersyferbrein vir wiskunde.

Om die “denke” (mind) van God te kon lees het Hawking die hoogtepunt van die menslike rede (noûs) gevind. Deur die “denke” van God-die-Skepper in terme van die wetenskaplik-matematiese patrone te lees, bring ons uiteindelik fisies die naaste daaraan, met die metafisiese wat relatief bly, soos Plato dit sistematies in sy Akadêmeía aan die walle van die Kêphissosspruit buite ou Athene oor 40 jaar heen uitgewerk het in sy “Teorie van vorme”. As ons die vingerafdrukke van God-die-Skepper in ons kósmos (van die Griekse werkwoord kosmeîn, “om in orde te bring”, “om (kosmeties) mooi te maak”), werklik kan lees, sal die neteldoek van die mitologiese ook verval.

 

Wat is energie?

Die etimologiese (étumon, “ware”) grondbetekenis van die woord energie wat dit wil aanwys in die oorspronklike Grieks is in hierdie essay al herhaaldelik onder die loep geneem. Dit is naamlik afgelei uit die Grieks enérgeia, ’n woord wat reeds gevorm is in die pre-Klassieke tydvak teen 1 500 vC, en wel in die Lineêr-B Fase daarvan (wat eers in 1954 op Cambridge ontsyfer is). Dit kom uit die woordstam érgon, < *Férgon, vir “werk”. Energie het in die natuurwetenskappe, waar dit in ’n vaste skalêre waarde aangedui word, ’n kwantatief-objektiewe betekenis, gemeet in Joules (“Y”), met ’n Youle gelyk aan een Newton-meter. In psigologiese terme het energie weer ’n subjektiewe betekenis binne ’n filosofies-generiese konteks, waar dit die lewende, vitale eienskap van die mens in sy lewe op aarde beskryf, soos juis gegrond in sy pneûma as onsterflike lewensbeginsel. Wanneer die mens sterf, gooi die siek liggaam (sôma) die pneûma af (verwerp dit wat op hom geteer het), saam met die partikuliere (persoonlike) psúchê in die synskonstitusie in die mens. Wanneer die vleeslike liggaam ontbind, verloor die mens ook sy abstrakte (metafisiese) gebruik van noûs en kardía, om redelik te dink en gevoel te kan beoefen, dit wat op aarde sy kubernêtês (“stuurman” en “loods”) in die lewe was.

Nou “vervlug” die pneûma van die gestorwe mens, dws daardie onsigbare self en “teenwoordigheid” wat hy op aarde beleef het as/in vitaliteit, lewenskrag en besieling, en vertrek dit na sy ewige “tuiste” in die Hiernamaals. Die wonder van die dood laat die skeiding van hierdie heel oorspronklike dualisme van liggaam en gees gebeur, net soos die wonder van die geboorte dit laat plaasvind het. Omdat die pneûma as gees van die lewe louter energie is, kan dit by die dood van die liggaam nie self ook vernietig word nie. Die proses van die ont-mensliking van liggaam (die sôma, soos opgebou uit sy atome) kan fisies duidelik waargeneem word in die vier primêre facies mortis, “tekens van die dood”, soos reeds beskryf deur Hippokrates van (die eiland) Kos in die Klassieke Griekse Oudheid, reg aan die begin van sy Prognosticum, wat reeds in Middeleeuse Latyn aangegee is as die rigor, algor, livor en petrefacio mortis, met verwysing onderskeidelik na die verstywing van die liggaam, die verslapping van spiere, die deursigtigheid van sy bloed, en die algemene versteniging van die liggaam wat met sy dood plaasvind. Dan bly pas net sy eens lewende beeldnis (soos) vir ’n standbeeld van wat hom ’n goeie kunstenaar in marmer kan uitbeitel, of op ’n doek, vir ewig kan vaslê. Sy karakter, staties en kil vir die oomblik, soos op ’n hedendaagse fotoafdruk. Dit verteenwoordig die persoon wat hy was as deel van sy uiterlike psúchê. Maar die gordyn het nou finaal geval oor sy aardse bíos.

Wanneer ons by Skepping kom, vind ons daardie Oerbron van alle Enérgeia, die Godheid self, wat alles oorspronklik laat ontstaan het waar daar niks was nie, nie eens ’n vakuum nie. Dit was die absolute begin buite tyd. God is Energie. God is die Natuur. As ons dan hierdie Godheid in absolute lede moet definieer, vind ons dit louter in die wiskundige terme van die getal in al sy matematiese verhoudinge. Waar hierdie enérgeia heel oorspronklik vandaan kom, kan hierdie God essensieel alleen ook net in/deur wiskundige beginsels en formules beskryf word wat per se buite ruimte en tyd bestaan. Die waarheid van die blote beginsel bestaan net in homself, want dit het oral en altyd dieselfde waarheid (soos dat 2+2=4).

Die Christelike godsdiens is vandag die heel grootste godsdiens in die wêreld met meer as 2,3 miljard aanbidders (in die drie hoofstrominge van Katolieke, Hervormers, en ’n Grieks-Ortodokse Kerk in die Ooste, terwyl dit vandag nog verder uitbrei, veral in Asië en die sub-Sahara in Afrika) ná die skamele klein lokale ontstaan daarvan in Samaria, Israel, wat begin het by Jesus se 12 dissipels 2 000 jaar gelede, en in die eerste eeu reeds gevestig was deur die reuse “sendelingwerk” van Paulus. Dit is deel van die na-Klassieke mensheid, toe louter geloof suiwer logiese denke gaan vervang het oor ’n inkubasieperiode van ’n volle 1 000 jaar tydens die Middeleeue (376 nC, met die val van die westelike keiserryk onder Romulus Augustulus tot die ontdekking van die Amerikas deur Christopher Columbus), en die Westerling ook ’n mentale noëtiese evolusie ondergaan het. Edward Gibbon, in sy The decline and fall of the Roman Empire van einde 18de eeu, wat 13, 14 eeue se geskiedenis in Europa dek, meen dat dit die belofte van ’n salige Hiernamaals vir die (brose en “sterflike”) mens is wat die groot bekeringsrol van metanoía (van tot ander insig te kom) gespeel het. Die mens wil en kan nou eenmaal nie aanvaar dat hierdie, so bewustelike, lewe van hom eendag, met sy dood, tot ’n finale einde sal kom nie, soos die Russelliete vandag nog beweer. Die groot Britse intellektueel, filosoof, logikus en wiskundige Bertrand Russell, ’n gebore Wallieser en oudstudent van Trinity College op Cambridge, het in sy Why I am not a Christian van 1927 verklaar dat die mens ook maar eendag sal sterf net soos ’n hond. Vir die Christen, weer, wag die ewige lewe met sy geloof in Jesus Christus se verlossing daarvan.

Die Griekse NT, handboek van die Christelike evangelie, het nie klinkklaar uit die hemel geval nie. Daar was tye van storm en drang, onderdrukking en vervolging, hervorming en teenhervorming.

Die idee dat ’n god nog eendag tot redding van die sterflike mensheid sal kom, het reeds sterk gestaan in die verre verlede van die mens, juis soos ook by die “drie-eenhede” in Egipte van Isis, Osiris en Horus, en in die Hindoeïsme by Sjiwa, Wisjnoe en Brahma(n).

Om die geskiedenis van die Christendom stap vir stap in al sy diverse nuanses te bestudeer, bring ’n uiters fassinerende verhaal aan die lig vanaf die te boek stelling en interpretasie daarvan, veral oor die eerste vier eeue. Onder die redakteurskap van FJ Foakes-Jackson en Kirsopp Lake word dit net in breë trekke vertel in hul The beginnings of Christianity (in 5 volumes, Macmillan, Londen, 1920–33). Die Christelike Kerk het vandag in baie kringe ’n soort sosiëteit gaan word waar rituele bloot pro forma gevolg word, soos dit van geslag tot geslag oorgeërf is, sonder om die implikasie daarvan werklik te verstaan. Daar is haas nie ’n enkele dogmatiese bousteen daarin wat nie vandag bevraagteken word nie, vanaf die maagdelike geboorte van Jesus tot sy Godsverklaring in die somer van 325 nC met die Eerste Konsilie van Nicea, as homo-oúsios, “van dieselfde substansie as God Self”. Dit was op voorstel van Hosius van Córdova in Spanje, die “Groot Belyer van die Geloof”. Hy was waarskynlik die voorsitter van daardie Konsilie, en is self amper om die lewe gebring onder die Christenvervolging van keiser Maximilianus.

Een van die verdoemendste argumente teen die historiese waarde van die Griekse NT het in 2004 gekom met Gerd Lüdemann van die Universiteit van Göttinging se publikasie The resurrection of Christ. A historical inquiry. Lüdemann, wat as ’n oortuigde Christen grootgeword het, het dit oor ’n lang tydperk sy doel gemaak om die ware historisiteit van Jesus se opstanding te bewys (wat die Qur’an van Islam ontken by surah An-Nisa 4:157–158 deur te beweer dat dit iemand anders moes gewees het wat gekruisig was wat wel soos Jesus kon gelyk het en voorgestel is, maar dat hierdie Jesus (Isa) eerder direk deur Allãh in die hemel opgeneem is). Lüdemann het die tradisie van die opstanding van Jesus in haarfynbesonderhede nagegaan in die oorgelewerde tekste (kanoniek én apokrief) en bgevind dat daar soveel weersprekings in die verslae rondom die opstandingsverhaal van Jesus voorkom dat dit glad nié as ’n historiese feit aanvaar kan word nie. Dit is met die allernoukeurigste eksegese dat Lüdemann sy ondersoek begin het by Paulus (wat Jesus nooit in ware persoon, prósôpon pròs prósôpon, ontmoet het nie) se eie verhaal van die opstanding van Jesus in die 15de boek van sy Romeine-brief. Lüdemann se eie verklaring is dat ons hier te doen het met selfbegogeling (“self-deception”) wat later in die tradisie ingewerk is (“reworked into tradition”) en aanvaarde feit geword het. Die verskyning van die “beeld” van Jesus aan Petrus (ook Mari, en ander) op die derde dag na sy kruisiging was ’n suiwer illusionêre/visioenêre gebeurtenis, soos ook by Paulus op sy Damaskus-pad. Omdat die kruisiging en opstanding van Jesus as die Christus kardinaal en sentraal staan in die Christelike geloof, soos omskryf deur Paulus in sy briewe, kan niemand homself ’n ware “Christen” (soos destyds in Antiochië by Handelinge 11:26) noem as hy insien dat die oorlewering dit hier verkeerd had nie. Sulke probleme het Rudolf Bultmann van Marburg oorbrug deur, as eksistensialis, die historiese agtergrond van die evangelie van Jesus onnagevors te laat, en alleen die etiese teks van die Griekse NT slegs op sigwaarde te aanvaar as dié model in die kêrugma (proklamasie en verkondiging) van die evangelie van Jesus.

’n Belangrike onderskeid tussen die OT en die NT wat te dikwels uit die oog verloor word, is dat die NT ’n testament, ’n diáthêkê, met God is, terwyl die OT ’n sunthêkê met God is. James Hope Moulton van Cambridge (’n groot vernuwer van die NT-leksikografie, in navolging van Gustav Adolf Deissmann van Berlyn, ná die ontdekking aan die einde van die 19de eeu van duisende nieliterêre papiri in die sand van Egipte by Oxyrhynchus (oa) wat in ook die alledaagse Koinê-Grieks van die NT-Evangelies opgestel is) was die eerste om in 1906 op die uiters belangrike onderskeid, in teologiese eie-aard, te wys. In die Hebreeuse OT wys die sunthêkê op die berit, “verbond” tussen JHWH en sy uitverkore bondsvolk, die Jode (van Judea), waar die aandeel van hul God JHWH in hierdie verhouding persentasiegewys ’n volmaakte vol getal uitmaak, terwyl ’n diáthêkê ’n onewe verhouding veronderstel wat aangegaan is tussen God en sy volgelinge.

In hierdie essay, waar daar na die betekenis van ’n “ware” godsdiens gesoek is, is herhaaldelik, per kontras, na die dogma van die Christelike godsdiens verwys (as ’n kontrole), omdat die Christelike godsdiens tans die grootste wêreldreligie uitmaak. Elders in hierdie essay is alreeds ’n (gedeeltelik) noukeurige eksegese van die Griekse teks by Markus 16:16 aangebied: ho pisteúsas kaì baptistheís sôthêsetai – “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word.” Hierdie is die enigste plek in die NT waar “glo” en “doop” slegs gekoppel word (vgl by Johannes 3:16, Handelinge 16:31 en Romeine 10:9). Die filologiese rasionaal hier is dan die volgende: “Hy sal gered word” (hoofsin in die futurum indikatief as die modus van die werklikheid – naas die gebruik van ’n subjunktiewe konstruksie wat ’n hipotese sou aandui) wat nadat hy tot geloof gekom het, en ook nadat hy gedoop is (bywoordelike bysinne van tyd en voorwaarde, uitgedruk deur die ingressiewe aoristus-stam by die partisipium wat Aktionsartliche ’n eenmalige puntaksie aandui, en gesubstantiveer is deur die bepaalde lidwoord). By Handelinge 16:3, waar die tronkbewaarder van Filippi vir Paulus en Silas vra wat hy moet doen om ook gered te word, is hy geantwoord: písteuson (praesens imperatief met ’n duratiewe liniêre Aktionsart) epí tòn Kúrion Jêsoûn, kaì sôthêsê(i) sù kaì ho oikós sou – “Bly glo in die Here Jesus, en jy en jou huis sal gered word.” Met die koms van die Christelike godsdiens was hierdie die standaard. Mettertyd het dit die gebruik geword dat die doopouers hier vir die stomme suigeling instaan sonder dat hy/sy sélf ’n noëtiese besluit tot bekering kon aflê. Só is die potensiële neofiet sonder sy/haar wete “gekraal” vir die Christendom. Daarby het die doop ook nou in die plek van die besnydenis (peritomê) gekom, terwyl net seuntjies patriargaal in die OT op die agtste dag na geboorte besny is as teken van die ewige verbond (sunthêkê, běrit, en nie ’n diáthêkê van die NT nie) tussen Abraham en God.

Volgens die internasionale Wêreldklok (Worldclock) bely slegs ’n baie klein persentasie hiervan (nominaal) vandag die Christelike godsdiens, naamlik 2,3–2,67 miljard (teenoor die 1,9–2 miljard van Islam, 1–1,7 miljard vir Boeddhisme, 500 miljoen vir Hindoeïsme, 400 miljoen aanbidders van hul voorvaders, en 1,1–1,3 miljard onverbonde aan enige godsdiens – agnostici, ateïste). En dit behalwe die groot beskawings in die verre verlede, soos dié van Oosterse Judaïsme, die Babiloniërs, en die Fenisiërs, asook die Klassieke Grieke en Romeine met hul panteons. Wat van die ewige saligheid van hulle, die efemeriese mense, wat sonder Jesus as Middelaar tussen hom en hierdie Absolute Godheid gesterf het (en steeds sterf), maar instinktief en inherent van nature besef en weet dat daar ’n Hoër Mag bestaan wat sy eie kortstondige lewe kousaal transendeer het, soos die Skot James George Frazer dit uitgewys het in sy The Golden Bough van 12 volumes, nou meer as ’n eeu gelede, wat vir hom ’n lewenstaak geword het nadat hy op Plato se lywige Teorie van Vorme (Ideëleer) op Cambridge gepromoveer het.

Watter een van die derduisende godsdienste vandag op aarde het die volle dogmatiese waarheid beet in sy partikuliere geloofsbelydenis? Hier kan ’n grafiese beeld gebruik word. In al hierdie godsdienste word na die Absolute Godheid gesoek. Stel elkeen daarvan voor as ’n speek wat na die as, as die middelpunt van die reuse wiel van die Volle Waarheid lei. Elkeen het wel sy eie relatiewe bestaansreg in die mens se ewige Godsoeke, maar nie een daarvan kan hom die reg toe-eien as die enigste Volmaakte Weg na die mens se saligheid nie. In hierdie essay is ’n gemene deler gekonstrueer wat intrinsiek waar is (moet wees) vir elkeen wat na die Absolute Godheid, God-die-Skepper, soek.

Lees ook:

Olumpia, setel van Zeus op die Peloponnees, deel I

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top