
Prent: Canva
Nietemin bly daar so ’n geurtjie in die lug hang wat herinner aan die gewaarwordinge wat beleef word wanneer twee sportspanne na ’n harde en verbete stryd van die veld af moet stap met ’n gelykopuitslag in ’n wedstryd. So ’n uitslag lei dikwels tot ’n soort gedwonge opskorting van die bronstigheid wat in die stryd opgewek word en alleen werklik bevredig kan word deur ’n oorwinning. Die bronstigheid is nog steeds daar, maar die hingste se libido dominandi word getem deur die koue noodsaaklikheid wat spruit uit die aanvaarding van die dwingende aard van die uitslag.
..........
Daan Craven het altyd gesê ’n draw in ’n rugby game is soos om jou suster te soen. Een of ander wysneus het hiertoe toegevoeg dat die enigste ding wat nog meer onbevredigend is as om jou suster te soen, is om verplig te word om haar ’n Franse tongsoen te gee. Gelukkig is ons dit met die Wilgenhof-skikking gespaar.
...........
Daan Craven het altyd gesê ’n draw in ’n rugby game is soos om jou suster te soen. Een of ander wysneus het hiertoe toegevoeg dat die enigste ding wat nog meer onbevredigend is as om jou suster te soen, is om verplig te word om haar ’n Franse tongsoen te gee. Gelukkig is ons dit met die Wilgenhof-skikking gespaar. Nie een van die twee partye tot die skikking het die geleentheid gevier met so ’n geesdriftige vertoning van hulle tevredenheid nie. Geen geleentheidsfoto is byvoorbeeld nog aan die pers uitgereik waar Thuli Madonsela en Jaco Rabie mekaar uitbundig om die hals val, terwyl die rektor en die voorsitter van die Universiteitsraad in die agtergrond ’n rieldans ter viering van nog ’n oorwinning van die Rede oor die Passies uitvoer nie. Dit bly maar ’n stram opgewondenheid wat heers oor die toeskietlikheid wat die twee partye openbaar het om tot ’n vergelyk te kom.
............
Dit bly maar ’n stram opgewondenheid wat heers oor die toeskietlikheid wat die twee partye openbaar het om tot ’n vergelyk te kom.
..............
Die voorsitter van die Universiteitsraad het nou wel verlede jaar al soos ’n tipiese moederhen gekloek toe sy die wens uitgespreek het dat sy graag sou wou sien dat die kuikens in die Matie-nes tot ’n wedersyds bevredigende oplossing vir die geskil kan kom. Maar die wens het maar ’n flou ontvangs gekry in ’n omgewing waar syself op ’n opvallende manier een van die katte in die duiwehok was.
Albei die partye tot die skikking het in die mate waartoe hulle verplig was om te huigel ten einde ’n skikkingsvooruitsig vlot te hou en die skyn van eerbaarheid te handhaaf, met die geykte taktiek vorendag gekom om boetedoening in diens te stel van selfverontskuldiging.
Daar is by beide ’n soort huiwerende boetedoening te bespeur. Die universiteit se verklaring gee nie sondermeer toe dat hulle inderwaarheid met onbewese en beledigende aantygings teen Wilgenhof gekom het nie. Hulle vra ook nie om verskoning vir daadwerklike beledigings nie. Hulle dui net aan dat hulle groothartige besorgdheid nietemin beskikbaar is vir diegene in die Wilgenhof-gemeenskap wat die universiteit se andersins goedbedoelde handelinge as beledigings ervaar het. Amper so asof hulle verbaas is dat enige redelike mens so fyngevoelig kan wees as om die aantygings teen hulle as beledigings te kon ervaar. Met ’n hoogmoedige groothartigheid vra hulle die Wilgenhof-gemeenskap nietemin om verskoning as dit wel as ’n belediging in hulle geledere ervaar is. Want sien, die universiteitsbestuur dink glad nie dat die Wilgenhof-kultuur ’n versteekte herberg is van subliminale nasionaal-sosialistiese, geesdrifte, verborge rassistiese onderbewussyne of seksistiese ywer nie.
Die beslistheid waarmee die professionele deugpronkers in diens van die universiteit verlede jaar uit een mond aanbeveel het dat Wilgenhof as ’n koshuis uitgewis en vervang moes word met heeltemal iets anders, dui miskien daarop dat hulle intussen herbesin het oor die kwale wat die koshuis teister en nie nou meer, soos in die verlede, aan ’n uitwissingsaksie blootgestel hoef te word nie. Die vrot in die kweper was dalk nie so diep as wat die coddling moths dit wou maak nie. Dit was nie meer nodig om die koshuis dood te skiet om sy lewe te red nie.
...........
Dit was nie meer nodig om die koshuis dood te skiet om sy lewe te red nie.
..............
Verlede jaar het dit voorgekom asof Wilgenhof in hulle oordeel so wesentlik boos was dat hulle die rektor probeer oortuig het dat daar geen salf aan die plek te smeer was nie. Wilgenhof was vir hulle soos ’n gekrokte siel wat vir Allah bid om hom weer heel te maak en daaraan herinner moes word dat dit vir Allah baie makliker is om ’n nuwe mens te skep as wat dit vir Hom is om so ’n diepgekrokte wese weer reg te timmer. Boonop het twee hooggeplaaste regsgeleerdes dit by die universiteit tuisgebring dat dit nie alleen ’n moreel regverdigbare skuif was om Wilgenhof as ’n brandoffer aan die gode van geregtigheid op te dra nie, maar dat die AV en die mammas se saak in elk geval sou sneuwel en bestem was om as “lawfare” in die pomp te duik. So waaruit spruit hierdie onverwagse vertoning van meegevoel met gekrenkte Wilgenhoffers? En is ’n mens dan sinies as jy die egtheid van sulke goedbedoelde krokodiltrane in twyfel trek?
Die universiteit maak in die skikkingsverklaring wel melding van die mate waartoe hulle dit betreur dat hulle versuim het om die onbesonne en beledigende aantygings oor Wilgenhof wat in die openbare pers rondgedwarrel het, teen te gaan. Alhoewel die universiteit dit nie eksplisiet sê nie, kan ’n mens hieruit aflei dat hulle miskien toegee dat hulle deur hierdie versuim medepligtig was aan die manier waarop die pers die Wilgenhof-kultuurpraktyke wou opvoer tot die peil van as ’n soort Nazi-bloufilmindustrie. Dit is moeilik om te glo dat die universiteitsbestuur oor so ’n lang termyn so ongevoelig kon bly toe een van die koshuise in die universiteitsgemeenskap aan sulke skuimjoernalistiek blootgestel was. So ’n beskermingsplig teenoor die universiteitsgemeenskap (insluitende die Wilgenhof-subgemeenskap) is egter so wesenlik aan hulle pligtestaat gekoppel dat ’n verskoning vir so ’n versuim amper neerkom op ’n erkenning dat die betrokke taakgelastigde bestuurslui te onbekwaam was om die universiteit in hierdie saak behoorlik en met die toegewyde aandag wat dit verdien, te bestuur.
As die universiteitsbestuur dan nou bereid is om egte krokodiltrane te stort oor die leemtes in hulle bestuursvernuf, hoekom dan nie maar met die hele sak patats na vore kom en daardeur ’n bietjie vertroue herwin deur te bieg oor die geslepe bestuursvernuf wat hulle wel ten toon gestel het toe hulle die bloedhonde van die pers help spoorsny het tot in die binneruimtes van Hool 88 nie? Om nog ’n paar vals pêrels voor ware swyne te werp kan tog nie te seer maak nie, of hoe? As die universiteit dan nou genope voel om hulle versuim om ’n onverantwoordelike pers teen te gaan te betreur, hoekom dan maar nie in dieselfde asem sommer hulle eie aandadigheid aan die pers se gretige teenwoordigheid op die kampus ook betreur nie?
Enige teaterregisseur in die Adam Small-teater sal sy/haar hoed agterna gooi as hy/sy met so ’n dramatiese verhoogbestuurspan vir die opvoering van ’n teaterstuk, soos Die geheime spelonke van Mrs Jones, vorendag kan kom, as wat die universiteit se bestuurskaders kon vermag toe hulle sommer in hulle deskundig beplande opvoering die lede van die pers ook deel van die dramatis personae gemaak het. “Talk about Berthold Brecht’s removal of the proscenium arch, darling? How ingenious!” En die fingerspitzengefuhl vir egte vertoonkuns wat na vore gekom het met die inbraak in die argief en Hool 88, is iets van ’n meesterstuk. Mens wil tog ook nie die dramatiese effek van hierdie piece de resistance verskraal met kwelvrae soos waarom die universiteit se ondersoekbeamptes dit nodig gevind het om slotte te breek en staalpype te saag as hulle maar net ’n sleutel tot die deure by die inwonende hoof of die primarias kon aanvra nie.
Sou dit dus vergesog wees om, alles in ag genome, te spekuleer dat die universiteit se verklaring in hierdie opsig eintlik, anders as wat dit voordoen, ’n soort bevestiging deur ontkenning- (affirmation by denial) maneuver is?
Die bevestiging deur ’n ontkenningmaneuver is ’n geykte kulkunsie wat politici tipies gebruik om hulle teenstanders met ’n slap tou te vang. Die Amerikaners het dit al “pig fucker politics” gedoop. Dit verwys na die siniese politieke strategie om buitensporige aantyginge teenoor jou mededingers te maak in die hoop dat as dit hulle dwing om die belaglike aantyging te ontken, die ontkenning stawend van die aantyging op die politieke oor kan val. Ek haal aan uit Hunter S Thompson se Fear and loathing on the campaign trail ’72:
This is one of the oldest and most effective tricks in politics. Every hack in the business has used it in times of trouble and it has been elevated to the level of political mythology in Lyndon Johnson’s early campaigns in Texas. The race was close and Johnson was getting worried. Finally he told his campaign manager to start a massive rumour campaign about his opponents life-long habit of enjoying carnal knowledge of his barnyard sows. “Christ, we can’t get away with calling him a pig-fucker,” the campaign manager protested, “nobody’s going to believe a thing like that.” “I know,” Johnson replied. “But let’s make the sonofabitch deny it.”
Daar is nietemin eweneens geloofwaardigheidsleemtes in die verskonings wat die AV in hulle skikkingsdokument maak vir die volgehoue instandhouding van die inlywingsrituele in die koshuis, die Nagligte en gewraakte elemente in die argiefkamers wat die geskiedenis van die plek uitbeeld. Hulle begin soos guppies in ’n vistenk borrels byt wanneer hulle die vraag moet beantwoord oor hoekom daar op ’n voortgesette manier toegelaat is dat hierdie praktyke voortduur ten spyte van herhaalde ondernemings deur die koshuisbestuur om dit te verwyder of te staak.
Dit is byvoorbeeld glad nie duidelik of die AV self die inhoud van die twee vertrekke “as onaanvaarbaar” of “nie in lyn met die norme van die hedendaagse samelewing, asook die US se 2040-visie en sy waardes” beskou nie. Die AV dui maar net aan dat hulle begrip het vir hoe “mense met ’n buiteperspektief” dit so kon ervaar. Dit klink amper asof hulle sê dat as die breër publiek se “pynlike gewaarwordinge” spruit uit hulle goedgelowige aanvaarding van die onwelvoeglike uitbeeldinge wat deur ’n onverantwoordelike pers aan hulle opgedis is, dan is hulle eintlik maar die slagoffers van hulle eie goedgelowigheid. Desnieteenstaande het Wilgenhof begrip vir die “pyn” wat die uitbeelding van ons effens bisarre lewenswyses in Wilgenhof by “buitemense” kan veroorsaak. Dit lyk nie asof hulle wil sê dat die gewraakte uitbeeldings nie enige pyn by Wilgenhoffers self sal of kan opwek nie.
Die geloofwaardigheidsleemtes waarvan daar hier sprake is en wat mens by beide hierdie partye kan bespeur, gee aanleiding tot ’n vertwyfeling oor die egtheid van hulle medelye-aansprake.
...........
Die geloofwaardigheidsleemtes waarvan daar hier sprake is en wat mens by beide hierdie partye kan bespeur, gee aanleiding tot ’n vertwyfeling oor die egtheid van hulle medelye-aansprake.
.............
Mens kan dit die Rooi Koos-vertwyfeling noem. Skoolkinders sit in ’n klas en vra raaisels. Hier kiep-kiep, daar kiep-kiep, woerts in die hoekie soort raaisels. Rooi Koos is een van die intellektueel minder begaafde klaslede. Hy dop nou al vier jaar elke jaar die eindeksamen en sit nou al vir vier jaar lank in hierdie klas. Die karnallie in die klas, Pietie Venter, vra ’n raaisel. Raai-raai, seg hy, eers slap dan styf dan tussen die bene dan in die lyf. Die juffrou wil hom die klas uitjaag oor hierdie oënskynlike vermetelheid, maar toe verduidelik Pietie dat net mense met onbehoorlike gedagtes nie sal kan raai dat hy eintlik van ’n pannekoek praat wat deur die stadia van slapdeeg tot stywe baksel en van kou tussen die kakebene en sluk vorder nie. Rooi Koos steek sy hand op. Die juffrou is verbaas. “Wil jy ook ’n raaiseltjie vra, Koos?” Nee, seg Koos, maar hy wil net weet: "Is daai ding van ou Pietie nie tog maar ’n ketotter nie?"
Beide die universiteit en die AV se verklarings het elemente in wat by mens ’n soort Rooi Koos-vertwyfeling opwek. Beide huiwer om die kind by sy naam te noem. Miskien kan ons sosiaal-wetenskaplikes vir ons ’n geveinsdheidindeks ontwerp sodat ons daarmee ’n huigel koëffisiënt vir die twee partye kan uitwerk. So ’n indeks kan ook handig te pas kom om metings te maak van ander verskynsels op die kampus. Dit is tog immers miskien beter om met ’n bietjie geveinsdheid die “game te draw” as wat dit is om op ’n eerlike manier die waagstuk aan te gaan om die “game” uit en uit te verloor.
Rooi Koos-vertwyfeling het byvoorbeeld nou onlangs weer by die US opgevlam toe daar by ’n verwelkomingseremonie vir eerstejaars daarop aangedring is dat die nuwe aankomelinge by die universiteit ’n soort eed moes aflê waardeur hulle as ’n vertoning van eerbied aan hulle eie gewetens en as ’n onderskrywing van die universiteit se nuutgevonde progressiewe etos, rassisme, seksisme, klassisme en dies meer moes afsweer.
Dit het die kampus van Rooi Kose laat wonder of die aflegging van so ’n eed eintlik net verlossingswaarde kan hê vir diegene waar daar nog so ’n soort residuele of sluimerende in utero rassisme, seksisme of klassisme in die student se gemoed bly voortluier. Die eed kan dan as ’n mantra dien om hierdie soort onderduimse duiwels uit te dryf. Vir dié wat nie dragtig is met hierdie soort Rosemary’s babies nie, is die eed natuurlik beide oorbodig en irrelevant. Gaan die universiteit na die voltooiing van studie aan die universiteit ’n soort sertifikaat uitreik wat bevestig dat beëdigde studente gedurende hul studietermyn nie ’n slagoffer geword het van die werkinge van sulke duiwelse luste nie? Dit herinner aan die kranksinnige wat na suksesvolle behandeling by Valkenburg ontslaan is uit die inrigting en in die Kaapse strate rondgedwaal het en vir mense op straat gevra het of hulle mal is. As hulle antwoord “natuurlik nie”, dan pluk hy sy ontslagsertifikaat uit sy sak, hou dit voor hulle neuse en kom dan met ’n nuwe vraag. “Maar kan julle, soos ek, dit bewys?”
Miskien kan die universiteitsbestuur, noudat ’n skikkingsooreenkoms met die Wilgenhoffers bereik is, so ’n sertifikaat aan die koshuis en al die lede van die Wilgenhof-gemeenskap uitreik.
.........
Miskien kan die universiteitsbestuur, noudat ’n skikkingsooreenkoms met die Wilgenhoffers bereik is, so ’n sertifikaat aan die koshuis en al die lede van die Wilgenhof-gemeenskap uitreik.
.............
Ons ou Wilgenhof-babies kan dan die ding onder die neuse van die deugpronkers in die media indruk wanneer hulle pershonde in ons psigiese stortingsterreine kom rondsnuffel op soek na die verbleikte letsels wat apartheid op ons gemoedere gekerf het. Of om gerugte te ondersoek dat Hitler se verbronsde kinderskoentjies deur ’n ywerige Wilgenhof-argivaris in die dertigs van die vorige eeu in ’n ruimte onder die veetrap weggebêre is.
Hierbenewens kan die universiteit miskien die terme van die skikkingsooreenkoms uitbrei deur fondse te bewillig vir die stigting van ’n Wilgenhof Anonymous-organisasie (soos die AA), waar huidige en oud-Wilgenhoffers op ’n vrywillige basis byeen kan kom en mekaar kan voorsien van morele en ander ondersteuning in ons stryd teen die versoeking om te veel nostalgiese dwelms in te neem en daardeur die gevaar loop om ’n uitgediende koshuiskultuur kunsmatig aan die lewe te hou. Mediese en psigiatriese oorsig kan ook beskikbaar gemaak word waar die gebruik van nostalgiese dwelmmiddels vir legitieme wetenskaplike doeleindes onder beheerde kondisies toegedien kan word.
Op die manier kan Wilgenhoffers stadig en versigtig uit die nostalgiesindroom gelei word en daarmee die geswets en gesweet van cold turkey-sindroom ooreenkomstig vermy.
Lees ook:
Identiteit, vaardigheid en die allesoorheersende kwessie van wins
Wilgenhof: "Ontgroening help nie met moderne studente se uitdagings nie"