Identiteit, vaardigheid en die allesoorheersende kwessie van wins

  • 0
...
Mense in die wêreld van TV, film, radio en verhoë praat moeilik vir hulself. ’n Geveg is aan die gang met die president, Cyril Ramaphosa. Hy moet ’n ooreenkoms met hulle vakbond (SAGA) teken. Dit sal effens beter vooruitsigte toevoeg om die storiemens se identiteit te beskerm.
...

Dit staan soos ’n paal bo water: ’n Mens is verantwoordelik vir jou dade. Een klein misstappie kan mens duur te staan kom, of dit gebore is uit jeugdige voortvarendheid, of ’n wanbegrip vir die reëls, of selfs weens ondeurdagte reëls.

Gereeld sien mens onbesonne dinge wat die asem wegslaan. Ervare mense wat dinge aanvang wat kinders twee keer sou laat dink. En hulle kom niks oor nie. As niemand gestraf word nie, kom oortreders weg met moord. En oortree weer. Dis soos toestemming om ’n toffie te wys vir die gemeenskap, soos in dorpsbesture of parlementêre komitees waar voorsitters sit wat verdink word van misdaad. Middelvinger.

Howe moet tyd afstaan aan veroordeelde moordenaars en verkragters se klagtes: Hulle vind hul tronkomstandighede kwansuis ongemaklik. Armsvol misdadigers, die bewyse dakhoogte, haal nie eens die tronk nie. Tussen die maatskaplike werkers en die gereg val die pap op die grond oor ’n vermeende kinderverkragter. In 2024 moor hy na bewering. Ou mense se pensioen word uit die bank geroof. Stadsgeboue vergaan net daar waar hulle staan. Armes se werksgeleenthede verdwyn deur ’n gulsige ou man wat alles verruil het vir Indiese lensiesop.

Op meer abstrakte terrein spartel die reëls in ’n sleurpoel van filosofiese maagwerkings. Iemand besluit Wilgenhof moet sluit. Dekades se meelewing gaan daarmee saam. Studente is hul verblyf kwyt. Protes stroom uit talle uithoeke. Die ma’s protesteer! Samora Menze, oud-inwoner, fasiliteer ’n proses vir “persone van kleur”. Oud-Wilgenhoffers wat hul steun toesê aan die voortbestaan van die koshuis, nou gekleur onder ’n sluier van rassisme. Shomane Mathiba, ’n advokaat en ook ’n oud-Wilgenhoffer, verklaar geen rassediskriminasie is in Wilgenhof geduld nie (Rapport 22 September 2024). Onder die gesiene name van oud-Wilgenhoffers is diegene wat sê hoe lekker hulle gelag het vir die “Nagligte” met hul hoë stemmetjies. Is dit die beweerde Ku Klux Klan-invloede? Neil Botha, primarius, maak ’n saak uit dat Wilgenhof te kosbaar is om verlore te gaan. ’n Oud-primaria verduidelik die maskers is die Middeleeuse executioner. Dit gaan oor orde en dissipline, niks met die wit gewade te make van die Ku Klux Klan nie. Intussen ly elke oud-Wilgenhoffer se eie identiteit onder die aantygings van rassisme en elke ander ding. En dan is daar natuurlik ernstige aantygings van individue oor die menige jare, selfs van beweerde verkragtingsinsidente. Alles soos jy maar sal aantref waar die geringste mate van mag betrokke is.

Wat was Wilgenhof se sonde? Wie is die septerswaaiers wat oor die instelling se lot besluit, nou eintlik?

Op ekonomiese terrein besluit sakemanne ’n klomp koerante moet sluit. Dis steeds nie so duidelik hoekom nie. Is dit omdat hulle rêrig soveel minder gelees word en teen ’n verlies handel, dat hulle regtig nie volhoubaar is nie? Ander partye wil dan die dagblaaie oorkoop omdat dit goeie sakepraktyk is. Wat pla is: Wie neem die besluite? Die koerante is gestig deur groepe mense uit ’n taalgroep, met die oog op opheffing en bewaring van die gemeenskap se belange. Hulle bestaan al dekades. Die stigtingsinstansie is nou reusagtig. Sakebelange sluit nou ook TV en talle kleinhandelreuse in. Die koerante is al generasies deel van mense se kultuurlewe en by verstek hul kultuurtuiste. Is die besluitnemers nie meer lus om te werk met kleingeld nie? Maak die stigtingsinstansies se handewerk en die loon van 400 papierjoernaliste (wat internet insluit) net nie meer saak nie?

’n Joernalis is nie ’n hierjy nie. Joernaliste werk op ’n hoë vlak met deeglike begrip van komplekse onderwerpe. ’n Joernalis is die daaglikse arbeider wat dinge wat in die wêreld aangaan opspoor, waarneem, opsom en kundig weergee. ’n Joernalis is iemand wat in ’n stadium van sy of haar lewe begin soek het vir wat noemenswaardig is elke dag en dit leer opvolg het om dit met beduidende vakmanskap deur studie en ervaring oor tyd te versamel, weer te gee. Die joernalis is blootgestel, die joernalis kan nie skaam wees vir mense wat hy of sy nie ken nie – van aangesig tot aangesig werk beste. Op heter daad werk beste. Die joernalis se feite moet korrek wees. Die joernalis moet probeer visionêr wees. Die joernalis is gister, vandag en môre. Die joernalis is ’n sielkundige. Die joernalis is ’n geskiedkundige. Die joernalis is ’n speurder. Die joernalis is nie laat nie; het nie ’n babbelas nie (KUG); ken nie siekte nie; ken weinig openbare vakansiedae. Almal onder hierdie versamelnaam voldoen nie noodwendig aan al bogenoemde nie en is uniek as individu, maar een vereiste is gemeenskaplik – hulle moét goed begaafd wees. Sommige joernaliste word as TV-aanbieders opgeraap. Die TV-joernalis bevind hom nou in die TV-been van die oorhoofse korporasie. Die vermaaklikheidswêreld het egter ook sy dinge.

Mense in die wêreld van TV, film, radio en verhoë praat moeilik vir hulself. ’n Geveg is aan die gang met die president, Cyril Ramaphosa. Hy moet ’n ooreenkoms met hulle vakbond (SAGA) teken. Dit sal effens beter vooruitsigte toevoeg om die storiemens se identiteit te beskerm. Werknemers in die vermaaklikheidswêreld gons behoorlik in groepies en dagdroom oor die dag wanneer hulle identiteit beskerm sal word. Hulle hoop op ’n herhalende inkomste wanneer hulle werk weer en weer gedeel word en gereeld op ander platforms as waarvoor dit oorspronklik gemaak is.

Een groot verskil tussen hulle en die joernaliste wat onlangs hulle stemme dikgemaak het: In die vermaaklikheidswêreld word jy geleer om jou uit die politiek van die industrie uit te hou. Ten minste kon die stemme wat namens joernaliste opgegaan het, dinge verander. Poste behou. Al is dit dalk net tydelik.

In stilte het die storieverteller – die TV-aanbieder, akteur, regisseur, skrywer en ander rigtings wat met storievertel te make het – dekades oorleef in die papierdun posisie van stukwerker. In die 80’s is besluit hulle – noem hulle “kunstenaars” – betaal 25% belasting. In die 90’s is besluit ’n 8 uur werksdag word ’n 12 uur werksdag op films; ’n 10 uur werksdag op TV word ’n 12 uur werksdag. Toe begin fooie boonop daal soos tye en kompetisie moeiliker word.

Daar is vir sommige mense in die media baie goeie voordele vir swaar tye of aftrede. Maar gemeet aan die genoemde protes van voorste joernaliste, geld dit nie vir almal nie. Die gemeenskap, Jan Publiek, was summier in die kryt om saam te protesteer. Die koerantsluiting is nie omgekeer nie, maar die werksverliese wel.

Wat dinge bemoeilik, is as die slagoffer nie ’n stem het nie. Gelukkig hét ons nog ’n vrye media. Daarin word selfs die publiek se stemme gehoor. Teen staatskaping en swak regering en die mediabesluit en riool en Stellenbosch. Mens sou hardvogtig kon wees en as iemand kla, sê: Daar is ander verblyf op Stellenbosch. Of: Skryf meer en publiseer wyer? Of: Kry ’n ander loopbaan. Baie mense in die vermaaklikheidsbedryf kies al lankal ander loopbane om ’n verskeidenheid van redes.

Alle mense het nie dieselfde persoonlikheidstipe nie. Party mense met wie dit swaar gaan kan aanhou probeer sonder beskerming; sonder ’n salaris of loon. Sonder heenkome. Ander kan bloot nie. ’n Bestaan sonder wortels en fondamente is vir sommige mense onmoontlik. Opstaan en weer probeer word vir sommige ’n groter uitdaging as vir ander. Die vermaaklikheidswêreld het al baie slagoffers gehad. Individue wat tragies aan eie hand handdoek ingegooi het, sluit bekende name in die industrie in. En sonder twyfel baie onbekende name ook.

Wilgenhof se dilemma is darem nie in dieselfde kategorie as die kunste nie. As mens bereid is om abstrak te dink, is daar groot skade waaroor ons in die media en op TV-programme en sosiale media hoor. Die mediabesluit is dalk naby aan skadelik, soos in die vermaaklikheidswêreld. Die joernalis stem op vele maniere ooreen met die vermaaklikheidspersoon. Dis ironies hoe geleenthede vir individue minder word soos wat nuusplatforms, nes vermaaklikheidsplatforms, globale entiteite word. ’n Mens wens joernaliste nie toe om in die waakeenheid te beland van die kunstenaars nie.

’n Mens leer deur ervaring daar is altyd twee kante van ’n saak. Stemme wat roep om koerantsluiting, om Wilgenhofsluiting, om vermaaklikheidsINsluiting, doen dit om goeie redes van hulle eie, so vir partye om woedend mekaar weg te wens is nie die antwoord nie. Met gesprekvoering kan baie vermag word. Met gesprekvoering kan elkeen ietsie wys word van die ander se gesigspunt.

Beeld is 50 jaar oud. Dis groot. Dis vir sommige mense hul identiteit. Die vieringe lees soos grafskrifte. Joernaliste besef seker hul produk word nou soos dié van die kunstenaar – afhanklik van die artikel wat hulle lewer; afhanklik van ’n nuwe begroting.

Die ou in die vermaaklikheidswêreld moet baie slim werk met klein begrotings. Kleintyd het die gedagte aan ’n kafee mens laat sommetjies maak – hoeveel Creamy Toffees of Sunrise Toffees moet teen ’n wins verkoop om ’n bestaan te maak? Die wins moet groot genoeg wees per item om ’n voortbestaan te verseker. Die kafee moet volhoubaar wees. Verkoop die kafee 400 toffies elk teen ’n klein wins, kan hy wins maak.

Is die stukwerker die kafee of die toffie? Dit hang seker af uit wie se oogpunt mens kyk. Wat maak dit vir 400 joernaliste? Een toffie is nie in staat tot wins nie. Die toffie moet dus duurder wees.

Die vermaaklikheidsindustrie het ook meer uitdagings as net begrotings. Die kunstenaar het oënskynlik geleer die kreef raak gewoond daaraan. Die Afrikaanse geskiedenis werk nie sagkens met iemand wat uit gelid stap nie. Maar wie is in gelid en wie is nie? Daar is ook sedert die 90’s nie meer hulp van die staat se kant af nie. Dit baat al dekades nie om aansoek te doen by instansies wat veronderstel is om kunstenaars te help nie. Keuring by die Lotto en die National Arts Council en die Wes-Kaap Kultuurkommissie was bevooroordeeld, om dit sagkens te stel, later ’n mors van tyd wat uitloop op vernedering. Identiteit is telkens die gedeelde senuwee.

’n Studenteraadsvoorsitter sê Wilgenhoffers het nie berou nie (Rapport 22 September 2024). Berou waaroor? Wilgenhoffers is op hulle knieë. Is die joernalis beter af? Die vermaaklikheidsmens ken van. In sy binnekamer vra hy gereeld om uitkoms.

Mag die nuwe ondernemings joernaliste identifiseer vir die kwaliteit wat hulle is. Mag koeranttitels liewers op die mark kom vir nuwe eienaars om te koop. Mag die president se long game eindig en hy die vermaaklikheidsvakbond (SAGA) se versoek onderteken om die vermaaklikheidsmens se identiteit te beskerm. Mag die howe – asof hulle nie besig genoeg is nie – positief besluit oor die identiteit van Wilgenhof. Mag hulpelose kaderontplooiing wyk voor kundigheid en menslikheid. Mag bevoorregtes besef die klein koek kan meer en nog koek word en groter koek word, nóg voorreg genereer vir nog mense terwyl die vissies vermeerder. As die industrie groei en ’n mens jouself omring deur mense wat so goed soos jy en selfs beter as jy is.

Vir die vermaaklikheidswêreld sal dit mooi uitwerk as daar ’n bietjie mededeelsaamheid is. Baie lande het vir kunstenaars ’n American Dream: waar vakbondlede in die vermaaklikheidswêreld ná 21 jaar se lidmaatskap ’n pensioen het. Op baie plekke oor die wêreld word geskiedenis hoog aangeslaan. Oorlewering en tradisie word deur gesofistikeerde nasies beskou as oordrag van wysheid, eerder as die negatiewe, passiewe woke-entiteit wat die mens nuut gaan skep het en wat nou oorheers.

Ons besef tog dat SA baat by inklusiwiteit; dat ideëskrums almal baat by menslikheid en respek en ’n pad vorentoe.

Die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld is klein en dien ’n relatief klein gehoor. Afrikaanse skole is nou maar 3% van skole in die land? Die joernalis is selfs al polisieman. Wilgenhof? Elkeen van hierdie entiteite ’n onderdeel van ’n onmisbare tekstuur.

Deursigtigheid wat verskillende gesigspunte oopgooi, sal verligting bring sonder kommer oor die volgende sny brood, basiese rekening of gebed om beterskap; sonder die leë gevoel dat jou voorsate vir jou gelieg het en niks nagelaat het nie.

Selfs politici in koalisies sal dalk die voordele hiervan besef. Want maggies man, ons mag maar ons ma’s trots maak. Want eerlikwaar is dit wat hulle ons probeer leer het. Het hulle nie?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top