
Lara Klawikowski (innoverende modemaker en gasspreker), Elsibe Loubser McGuffog, Nikiwe Nondabula (gasspreker en dosent by UWK Opvoedkunde), Busisiwe Gasa (voormalige verteenwoordiger van Iziko Slave Lodge)
Elsibe McGuffog praat met Naomi Meyer oor Elsibe se The poetry whisperer’s workshop / Werkswinkel van ’n dig-dirigent.
Elsibe, ek het jou publikasie The poetry whisperer’s workshop / Werkswinkel van ’n dig-dirigent onder oë gehad. Vertel my asseblief die agtergrond daarvan. Begin eerste by jou: Skryf jy graag gedigte? En waarom was daar ’n werkswinkel?
Ek skryf gedigte, wat seker begin het by eenvoudige rympies as kind en wat aangewakker is deur my studies (ek het ’n honneurs in Engelse literatuur) en loopbaan (ek was vir lank in die uitgewersbedryf en media). My eerste gedigte is in die jaar 2000 deur Tafelberg uitgegee, in Nuwe Stemme 2. Benewens my skryf- en redigeerwerk, is ek ook in die onderwys bedrywig. Ek dien tans op SACEE – The South African Council of English Education – toevallig saam met ’n kollega wat saam met my in 1991 honneurs geloop het, Alison Gwynne-Evans. Sy ken my al sedert hoërskool (ons was saam op Kampsbaai in 1985) en sy het vertroue in my getoon toe ek met ’n idee vorendag kom, naamlik om onderwysers te wys hoe hulle gedigte kan skryf, sodat hulle skoolkinders aan die skryf kan kry. (Dit is immers eintlik deel van die kurrikulum!) Ek self het al, as hoërskoolonderwyser, dit met my eie leerders gedoen. Benewens my eie metodes, het ek ’n paar jaar terug die manuskrip van die digbundel The art of waiting for tales, deur Makhosazana Xaba, moes deurkyk om ’n verslag vir die uitgewer (Lukhanyo) te skryf. Die boek is toe deur Kobus Moolman van UWK geredigeer. Daardie digbundel bevat ’n goeie metode vir gedigteskryf en ek wou dit graag aanwend in ’n werkswinkel.
Al was die inslag vir die werkswinkel dus vir onderwysers, het die werkswinkel nie net studentonderwysers, oudonderwysers en selfs twee professors gelok nie, maar ook mense uit die publiek.
Die digbundel is meertalig. Daar is baie gedigte in Afrikaans en Engels, maar ook heelwat in Xhosa. Die bundel is dus toeganklik vir baie Suid-Afrikaners om te lees. Wie is die ander digters en kunstenaars wie se werk in die bundel verskyn? Hoe het julle almal se paaie gekruis tot julle hierdie werkswinkel aangebied het?
Mens kan by so ’n werkswinkel nie eintlik die uitkoms voorspel nie. Ek was dus bly om te sien dat so baie goeie gedigte oor die verloop van drie Saterdagoggende geskryf is! Dit is tipies dat ’n aanbieder – soos wat Gaireyah Fredericks ook maak – dan daardie klompie gedigte aanvul met haar eie werk om ’n lywige bundel te vorm. Baie van die skrywers is jong studente van die CPUT-onderwyskampusse – Wellington, sowel as Kaapstad. Ander is kennisse van my wat die werkswinkel bygewoon het. Een van die gassprekers, Lara Klawikowski, wat ’n modemaker is, het ’n gedig geskryf. Haar gedig is juis deur die metode in The art of waiting for tales gevorm. Die beelde en foto’s in die bundel is deur kennisse geskep, of deur my kind of ek self. Hulle sluit soms by sekere gedigte aan, maar bied ook visuele stimulasie vir skryf. Mens se sintuie moet geprikkel word. Daarom ook dat ek Lara genooi het as gasspreker. Sy het die sintuig van voel by ons wakker gemaak, omdat haar modeskeppings se lap baie interessante teksture het. Sy gebruik ’n proses van herwinning. In die groep van net onder 30 was een persoon Xhosa magtig. Hy het sy eie gedigte in Engels geskryf, maar ek self is op ’n missie om meertalig uit te gee indien die genre dit toelaat – en om self isiXhosa baas te raak – en ek het hom dus gevra om etlike gedigte te vertaal. So skep ek ook graag werk vir jongmense. Die gedigte is toe deur ’n uitmuntende kenner geredigeer.

https://www.litnet.co.za/the-poetry-whisperers-workshop-compiled-by-elsibe-loubser-mcguffog-a-readers-impression/
Jy skryf nie net gedigte nie, maar skryf ook kinderboeke en is ook ’n kunstenaar. Hoe verskil die verskillende vorme van kunspleging vir jou en waarom skep jy binne die verskillende genres?
Seker sodat ek nie myself of ander mense verveel nie. Ek voel dat die digkuns nader aan visuele kuns staan, omdat die leser of gehoor sy eie interpretasie bring. Op skool moet kinders dikwels ’n juiste “betekenis” studeer, omdat die kurrikulum en eksamenmemorandum so spesifiek is met antwoorde, maar ons het in die werkswinkel daarvan probeer wegkom. Die gedig beteken wat jy wil hê dit moet beteken, solank jy jou redenasie uit die gedig self kan staaf. Ek stem al hoe meer saam met Breyten Breytenbach dat ek nie my gedigte wil verduidelik nie. Die gehoor self moet die gedig verstaan soos hulle wil, en nie net analiseer nie, maar voel. Soos fynkuns, het ’n gedig ’n sekere tipe energie, ’n emosie; tog is dit oop vir interpretasie – ’n gedig werk op baie vlakke. ’n Gedig se beeldspraak kom dikwels uit die sintuie; digters – alle skrywers – span hul sintuie in. Beeld en klank is inspirasie, sowel as uitkoms van ’n gedig. Goed wat mens op die ou end nie juis in woorde wil vasvat of analiseer nie. Ja, op skool analiseer ons gedigte, maar ek het die ander kant van die muntstuk uitgewys. Die twee kante leef saam.
Kinderboeke kan ook op vele vlakke werk, maar dit is meer tipies dat mens, veral in prenteboeke, nie die kind aan die einde van die verhaal verwaarloos nie. Hoe die storielyn ook al loop, moet die kind op die ou end veilig voel. Gedigte hoef nie daardie tipe resolusie te hê nie.
Kinderboeke is vir my ’n moeilike genre, omdat mens nie voorspelbaar of flou moralisties wil wees nie (Roald Dahl is dalk my held), maar mens moet tog die impak op die kind goed deurdink. Soos met enige skryfwerk, baat mens by mentors en proeflesers.
Ek lees in die voorwoord dat jy skryf hoe onseker die toekoms van die digkuns is as mens kunsmatige intelligensie in ag neem. Wat is jou gedagtes oor KI, die skeppende bedryf en ander algemene werk wat op hierdie stadium deur mense verrig word, maar waar KI sake reeds verander?
Goeie vraag. Ek het een van my haikoes in die bundel (“Untitled haiku”) deur ChatGPT gevoer om te vra vir ’n analise. Dit was nogals insiggewend, want ChatGPT het daardie gedig baie goed verstaan en so te sê vir my verklaar hoe daardie eenvoudige drielyn-gediggie voldoen aan al die elemente van digkuns, soos die belang van die titel, die digter se stemtoon, atmosfeer of emosie wat geskep word, klank en ritme, rym al dan nie, struktuur of vorm, taalgebruik en beeldspraak, konteks en tema.
Dinge is vinnig aan die gebeur – neem byvoorbeeld die Penguin Kids AI book collaboration. In daardie projek, wat KI-gedrewe is, was daar “human refinement” van 30%.
Ek is tans besig met my derde kinderboek waarin die illustreerder KI reeds ingespan het. Ons mik vir ’n “spanpoging”. Ek voel dus dat ons slim moet wees om KI te kry om die “vuilwerk” namens ons te doen, maar die mens se hand moet steeds daarin wees.
In die uitgewers- en mediabedryf self gaan daar seker vrees ontstaan. Die kunstenaars en illustreerders (en grafiese ontwerpers) wat reeds gestig is, het dit makliker, want hulle sal werk kry. Ek self sal hoop om altyd ’n kunstenaar te betrek, en ek verkies dit om onbekende mense te gebruik, uit my “mentorkarakter”. Waarna ek kyk, is ’n unieke of spesifieke styl, en selfs beter indien daardie styl aan hul eie verhaal of konteks raak. Soos met gedigte, raak die biografie of lewenservaring van die kunstenaar belangriker noudat KI kompetisie is. Haikoes is byvoorbeeld vir my ’n geliefde digvorm, omdat ek poog na ’n oopkop, subtiele benadering tot die lewe. Philip de Vos en Marieta McGrath skryf graag limerieke, omdat hul van nature humoristies is. Met my eerste kinderboek het die illustreerder waterkleurskilderye oor ’n periode van sewe maande geskep. Dit self was ’n verhaal, en dit raak aan haar geleefde ervaring en sê iets van haar karakter. Dus het die proses van illustreer ’n storielyn van sy eie. Daar is goed wat fout gaan, prente wat oorgeteken moet word, klimakse en konflik. Ek deel graag hierdie stories oor hoe die illustrasies geskep is by boekbekendstellings. Ons wil tog nie daardie stories verloor nie!
Jou eie gedigte in hierdie bundel is wyd-uiteenlopend. Daar is gedigte oor die liefde, oor die natuur en oor ’n onderwyser in die klaskamer en die generasie vir wie jy moet klasgee. Waaroor skryf jy en waarom skryf jy? Skryf jy as iets jou prikkel, sommer dadelik, of skryf jy elke dag, ongeag die inspirasie (al dan nie)?
Ek het fases. Soms sal ek vir maande lank net gedigte skryf. Nie juis omdat ek emosies wil of moet uitdruk nie, maar bloot omdat ek tyd gemaak het om op die regte vlak te vibreer. Dis moeilik om te beskryf, want dit is vir my ’n tipe spirituele gevoel. Elizabeth Gilbert het op ’n slag dit beskryf. Kreatiwiteit is soos hierdie energie wat van buite af sommer net aangehardloop kom, dalk soos ’n warrelwind, ’n gevoel wat op jou afpyl. As die dag kom, moet jy tyd maak om dit te vang.
........
Soms sal ek vir maande lank net gedigte skryf. Nie juis omdat ek emosies wil of moet uitdruk nie, maar bloot omdat ek tyd gemaak het om op die regte vlak te vibreer. Dis moeilik om te beskryf, want dit is vir my ’n tipe spirituele gevoel. Elizabeth Gilbert het op ’n slag dit beskryf. Kreatiwiteit is soos hierdie energie wat van buite af sommer net aangehardloop kom, dalk soos ’n warrelwind, ’n gevoel wat op jou afpyl. As die dag kom, moet jy tyd maak om dit te vang
.........
Hardloop agterna en vang daardie muse of gees of energie aan die stert voor dit weghol. Wat jy self hoef te doen, is bloot aan die werk te bly, sit by jou rekenaar, lees goed, bly nuuskierig, verlaat jou huis om met mense in kontak te kom (deur jou sintuie!), glo dat iets jou gaan prikkel en dit sal. Gedigte is orals – in gesprekke wat jy voer, in koerante, op Facebook, in kuns, in boeke. Mens moet net oop bly en die muse sal jou help om die elemente reg saam te sit. As die muse by my aankom, dan laat staan ek gewoonlik dadelik waarmee ek besig is en skryf dadelik reëls neer, soms op stukkies papier in my handsak, maar by die huis het ek mooi joernale – gewoonlik een langs my bed en een in my kantoor. Dit hou mens by ’n dissipline.
Ek skryf oor uiteenlopende onderwerpe en my onderwerpe hou soms verband met my rolle in die lewe. Soms skryf ek wat mense wil hê. Die haikoe word byvoorbeeld waardeer deur skoolleerders, omdat dit Japannees in oorsprong is (Japannees en Spaans is lyk my die tale wat tieners deesdae boei), taamlik maklik is om aan te leer en die analise daarvan word gewoonlik nie in toetse en eksamens vereis nie. Dit staan dus vir speel en droom. Maar my gehoor is nie altyd dieselfde nie. My eerste gedigte was eroties, van hulle selfs kru – dit het ek geskryf na 1994 toe die hele land vryheid van spraak wou aanwend. Baie mense hou van dualisme of yin en yang – die kontras en soms konflik tussen uiterstes. Dalk tussen man en vrou, of ouer en kind, of ideologieë wat bots, en ek vind dat ek meermale terugkeer na hierdie tema. Maar ek ontdek graag nuwe onderwerpe. Om die waarheid te sê, met hierdie bundel het ek vir die eerste keer besef dat mens oor geloof en God kan skryf sonder om dogmaties, eng of soetsappig te klink. Deelnemers aan die werkswinkel – juis jong studente van CPUT – het sommer van nature oor God en geloof geskryf, en so is ek ook uitgedaag om hierdie onderwerp van geloof uit te traai! Kyk byvoorbeeld na my gedig “Beans”.
Vir wie is hierdie digbundel gepubliseer; wie is jou teikenmark? Wie het jy in gedagte wat jou ideale lesers is – mense wat hul eie geleefde ervarings wil skryf en inspirasie hieruit kan put, dalk? Ek het daarna gekyk en gedink dat dit ook met vrug in die klaskamer gebruik sal kan word – skoolkinders wat verskillende tale praat, sal werke in hul eie tale kan lees.
Die digbundel is ’n geskenk aan die deelnemers van die werkswinkel en ook ’n groot dankie aan Iziko (wat my geborg het), sowel as die gassprekers. Dié wat geskryf het en dié wat nog van my werkswinkels gaan bywoon, sal daarby baat. Maar nie alleenlik hulle nie. In die algemeen is die gedigte gepas vir volwassenes en kinders – so ja, beslis gepas vir skole en onderwysers.
Omdat ek self weet hoe die meeste gedigte in die bundel tot stand gekom het (naamlik die tegniek of metode wat gebruik is, die inspirasie, die verloop van die skryfproses, van oorspronklike manuskrip tot finale gedig), is dit ’n tipe handleiding – maar slegs vir my en toekomstige bywoners van my werkswinkels wat daardie skryftegnieke by my sal kan leer. Op die oog af is dit bloot ’n digbundel wat ieder en een in die publiek kan geniet.
Daar is ook kuns in die bundel. Vertel asseblief daarvan.
In die werkswinkels self het ons kuns (visuele kuns, foto’s, selfs lap) gebruik as prikkels om aan die skryf te kom, sowel as die geluide van Kaapstad. Nie juis hierdie spesifieke beelde nie. Beelde is egter vir my belangrik. Die bundel is dalk bietjie soos Ons Klyntji wat Toast Coetzer en sy span uitgee, wat beelde sowel as gedigte behels. Dit maak die teikenmark groter en dit sluit die nuwe generasie en jongmense in. Ek wou ook graag van my kennisse die kans gee om hul werk ten toon te stel in ’n publikasie. Mens moet aanhou om kreatiewe mense te motiveer deur die volgende deurtjie vir hulle oop te maak, die volgende platform aan te bied. Kreatiewe siele moet mekaar ondersteun.
Kan jy vir ons lesers wys hoe jou werkswyse lyk, as hulle dalk ’n paar wenke wil hê om self gedigte te skryf?
Waar is die bundel te koop en hoe kan mens te werk gaan om dit in die hande te kry?
Tans is dit direk by my beskikbaar (elsibe@elsibe.co.za) en ook by die Breytenbachsentrum in Wellington. Naledi sou dit uitgegee het, maar die formaat was vir hulle bietjie ongewoon (digbundels is dikwels A5) en my sperdatum was knap. Ek het toe besluit om self die risiko te dra. Ek bemark graag my eie boeke! Naledi gaan my tweede kinderboek uitgee. Dit gaan oor bak. Terloops, bak is die een aktiwiteit wat my nooit ooit inspireer om ’n gedig te skryf nie. Behalwe die eindproduk. Dit is liries lekker!
Lees ook:
The poetry whisperer’s workshop, compiled by Elsibe Loubser McGuffog: a reader’s impression
Elsibe Loubser McGuffog gesels met Naomi Meyer oor Katja se kattesalon.

