Welgemoed Kunstefees 2024: ’n onderhoud met Marieta Nel

  • 0

Die Welgemoed Kunstefees vind plaas van 23 Augustus tot 8 September 2024 by die NG Kerk Welgemoed in Kaapstad se noordelike voorstede. Kaartjies aanlyn beskikbaar by Webtickets.

Marieta Nel vertel vir Naomi Meyer van die Welgemoed Kunstefees wat binnekort in die noordelike voorstede plaasvind.

Hallo Marieta, ek hoor die Welgemoed Kunstefees vind vanjaar vir die derde keer plaas. ’n Kunstefees wat direk ná Covid afgeskop het en nou groei! Vanjaar se programbekendstelling is op Donderdagaand die 11de Julie. Hoe het die fees ontstaan?

Die Welgemoed Kunstefees het inderdaad ná Covid afgeskop. Dit was ’n interessante sameloop van gebeure wat tot die ontstaan van die fees aanleiding gegee het.

Eerstens het Heerden en Hannelie van Niekerk (leraarspaar van NGK Welgemoed) die KKNK in 2022 bygewoon. Frank Opperman het aan die einde van sy eenmanvertoning Ek wens ek wens roerend aan die gehoor erkenning gegee. Dit was duidelik – die kunstenaars was diep dankbaar om ná ’n tyd van isolasie terug op die verhoog te wees. Hannelie en Heerden het gewonder of die gemeente (Welgemoed) nie ’n inisiatief kan loods om ons kunstenaars te ondersteun nie.

Op daardie stadium het Hannelie en Lorraine Coetzer reeds gesprekke gevoer oor die gesamentlike optrede van ’n gaskunstenaar (iemand soos Jak de Priester) met skoolkore.

Daar was in daardie tyd ook die wye oortuiging dat daar in die onmiddellike omgewing (plaaslik) ’n behoefte aan uitreik na mekaar oor verskeie grense bestaan. Covid het ons geleer dat ons interafhanklik en afhanklik van mekaar is. Mense wil op plaaslike vlak byeenkom, verhoudings bou, na mekaar en die omgewing omsien.

..........
Covid het ons geleer dat ons interafhanklik en afhanklik van mekaar is. Mense wil op plaaslike vlak byeenkom, verhoudings bou, na mekaar en die omgewing omsien.
...........

In die gemeente het die oortuiging begin groei dat die gemeenskap gedien moet word deur ’n benadering van gasvry leef.

Bogenoemde gebeure het die tafel gedek vir die ontstaan van ’n kunstefees in Welgemoed. Toe die gedagte om prakties ’n kunstefees staan te maak voorgestel is, het dit by die kerkraad en gemeente byval gevind, en is die eerste Welgemoed Kunstefees aangebied.

Ek sien daar is musiek en teater by die fees. Wil jy dalk enkele hoogtepunte uitsonder?

Dis uiteraard onmoontlik om een produksie bo ’n ander uit te sonder, want ons glo ons het ’n uitstekende balans tussen verskillende kunsvorme, iets vir ouer mense en vir die jonges, iets vir boekwurms, stukke wat swaar op die gemoed lê en iets wat jou sal laat lag, musiek, toneel, kos en kuns. Ons voel wel bevoorreg om ’n swaargewig-akteur soos Frank Opperman vir ’n tweede keer terug te verwelkom, asook ’n opkomende jong ster soos Eldon van der Merwe, en ons boekbesprekings gaan weer eens ’n hoogtepunt wees. 

Jou spesialiteitsgebied is veral boeke, weens jou agtergrond as skrywer en betrokkenheid by uitgewers. Vertel asseblief van die boek en koek-geleentheid van verlede jaar en wat dit vanjaar behels?

Ons het verlede jaar 300 gaste gehad wat na Antjie Krog en Irma Joubert kom luister het. Die redes vir die groot belangstelling is die uitsonderlike praatjies, ’n groot verskeidenheid koeke wat al die pad van Robertson af kom en die gul ontvangs van die span by die kerk. Vanjaar het ons op Saterdag 24 Augustus vanaf 9:00–11:00 twee praatjies, gevolg deur Robertson se koekefees. Met die eerste praatjie, “Kom ons praat oor ons pa’s”, praat Susan Booyens met Julian Jansen oor sy boek Seuns sonder pa’s en met Pieter Fourie oor sy boek ’n Hart is so groot soos ’n vuis. Tydens die tweede praatjie, “Sonder sonde”, gesels Erla-Mari Diedericks, skrywer van Salemstraat, met Sidney Gilroy oor Bloedsomer en met Pieter Fourie oor Ons skulde.

...........
Met die eerste praatjie, “Kom ons praat oor ons pa’s”, praat Susan Booyens met Julian Jansen oor sy boek Seuns sonder pa’s en met Pieter Fourie oor sy boek ’n Hart is so groot soos ’n vuis. Tydens die tweede praatjie, “Sonder sonde”, gesels Erla-Mari Diedericks, skrywer van Salemstraat, met Sidney Gilroy oor Bloedsomer en met Pieter Fourie oor Ons skulde.
...............

Waar vind die fees plaas?

By die NG Kerk Welgemoed in Kaapstad se noordelike voorstede. Ons ouditorium se akoestiek is wonderlik en die “boere-katedraal” verleen hom tot ’n unieke venue vir die kunste. 

Die kaartjies lyk vir my bekostigbaar. Waar kan mense dit koop?

Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Webtickets of by enige tak van Pick n Pay. 

Lees ook:

Raaiselroman: ’n lesersindruk van Ons skulde deur PP Fourie

Bloedsomer deur Sidney Gilroy: ’n resensie

’n Wond deur sy pa toegedien: ’n lesersindruk van Seuns sonder pa’s deur Julian Jansen

Die blinkertjies in Pa se baard en ander skitterende stories en Die skool vir ramspoedige talente en ander gelukkige stories, ’n resensie

Nuut by LAPA: Die skool vir rampspoedige talente en ander gelukkige stories, saamgestel deur Marieta Nel

Welgemoed Kunstefees 2023: Boek-en-koek

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top