’n Wond deur sy pa toegedien: ’n lesersindruk van Seuns sonder pa’s deur Julian Jansen

  • 0

 

Titel: Seuns sonder pa’s
Skrywer: Julian Jansen
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 978-0-7963-2209-8

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

My eerste kind, ’n seun, David, is onlangs gebore. Menigmale wanneer ek in sy donker oë staar, wonder ek: sal ek ’n goeie pa wees? Want my raamwerk van vaderwees is geskend. My held was ’n alkoholis en weens sy kroniese drankprobleem, is ons kinders tentatief in ’n kinderhuis geplaas. Die vaderfigure daarna het heeltemal misluk. Inteendeel: Oom Pieta was ’n monster en Pa Jan het my in ’n moordmasjien omskep. Dus is Julian Jansen se boek Seuns sonder pa’s (2021) vir my soos manna uit die hemel.

Jansen is welbekend as joernalis en sy debuutboek Die De Zalze-moorde (2017) was ’n blitsverkoper in beide Afrikaans en Engels. Ek wonder of dit dié boek was wat sy binneste geroer het om die onderwerp oor vaderlose seuns aan te durf, want voor in Die De Zalze-moorde haal hy aan uit John Eldredge se Die ongetemde hart: “Elke seun word êrens op sy reis na manwees gewond... Dié wond is byna altyd deur sy pa toegedien.”

In die voorwoord van Seuns sonder pa’s waarsku Jansen: “As die pa afwesig is en die gemeenskap of familie nie ingryp nie, sal die seun spoedig ’n plaasvervanger vir hom soek.” ’n Kykie in Carla van der Spuy se nuutste ware misdaad-boek Gangster (2021) wys vir ons dat dit nie ’n leë dreigement is nie. Inteendeel!

Die skrywer van The Making of Lee Boyd Malvo: The D.C. Sniper, Carmeta Albarus, wat as ’n sosiale werker deur die regter genader is om vas te stel of die sewentienjarige DC Sniper weens versagtende omstandighede die doodstraf vry kan spring, getuig: “In search of a father figure, Malvo instead found John Muhammad, a veteran of the first Gulf War who intentionally shaped his protégé through a ruthlessly efficient campaign of brainwashing, sniper training, and race hatred, turning the susceptible teen into an angry, raging, and dissociated killer with no empathy for his victims.” Net soos met Malvo word talle Vlakte-seuns se gebroke kinderjare en hul soeke na liefde en aanvaarding deur bendes misbruik om hulle as kanonvoer te gebruik.

Met die skryf van hulle artikel 8 Terrifying Life Lessons from a Former Terrorist (2014) probeer Robert Evans uitvind: “Why on earth would anybody think that bombing innocent civilians is an acceptable career path?” Anne Williams en Vivian Head spook ook hiermee in hulle boek Terror Attacks (2007) wanneer hulle vra: “What makes a terrorist? What actually goes on in the schools, mosques, training camps, cells and bomb factories of groups such as al-Qaeda?” Die Vanity Fair-verslaggewer Donovan Webster peins ook daaroor in sy artikel The Making of a Sniper (2004): “How does a bright, popular, affectionate kid get turned into a killing machine?”

Shane O’Doherty, ’n voormalige IRA-terroris antwoord: “If your job is to recruit soldiers for the IRA or the PLO or al-Qaida, you’re going to prefer 17- and 18-year-olds for the same reason the Marine Corps and the IDF recruit from that age group: They’ve got lots of energy and you barely have to pay them.” Webster stem saam: “As every ground-forces general knows, the most malleable killing machine on earth may be a teenage boy desperately needing to belong to something greater.”

Gangster word juis bemark met die woorde: “Ek kom uit ’n broken home. Niks ma nie. Niks pa nie... Maar toe ek na die gang toe gaan, toe belong ek... ” G’n wonder Malvo verklaar ’n dekade later nie: “He picked me because he knew he could mould me. He knew I could be what he needed me to be. He could not have chosen a better child.”

Orals gebeur dit met vaderlose seuns, die Kaapse Vlakte is geen uitsondering nie.

Jansen skets pynlik hoe sy soldaat-pa Donald hom met ’n vaderwond agterlaat. Drank. Aggressie. En weermagdissipline. Maar hy klou nie aan die slegte vas nie. Inteendeel, hy leer uit sy pa se foute, sowel as uit sy goeie eienskappe. En Jansen gebruik sy seer om ander te genees.

Die hoofstukke waar Jansen as onderwyser uitreik na leerlinge is van die mooiste hoofstukke in die boek. Ongelukkig sal Jansen nooit al die vrugte sien van die saad wat hy gesaai het nie. Die sewe verhale in Hoofstuk 5 onderbreek die vloei van die boek. Die statistieke is skokkend! En bevestig wat ek eerstehands in die tronk ervaar het. Navorsing wys dat kinders wat sonder ’n vaderfiguur grootword, groter kriminele neigings toon. Maar dit is juis hierdie onderbreking wat jou aandag op die harde werklikheid vestig: dinge kon soveel anders vir Jansen uitgedraai het.

Jansen sluit die boek af met twee baie belangrike dele en dit is in hierdie hoofstukke waar die krag van Seuns sonder pa’s lê: as gemeenskap kan ons die wêreld ’n beter plek maak wanneer ons mans vaders vir die vaderlose seuns word. Dit is inderdaad soos die Afrika-spreekwoord sê: dit neem ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top