
Nadine Petrick met Irma Joubert (links); Antjie Krog (regs). Foto’s: Verskaf
“Welkom aan die koeke van Robertson!” Met hierdie guitige groet het Nadine Petrick die meer as 300 gaste, wat netjies op die kerkbanke in Welgemoed Kerk ingeryg gesit het, laat skaterlag. Dit was boek- en koekoggend, deel van die Welgemoed Kunstefees, en Irma Joubert en Antjie Krog was op die spyskaart.
Irma Joubert, befaamde en beminde skrywer van historiese romans, was eerste aan die beurt. Die kundige Petrick was die gespreksleier en het vir Joubert uitgevra oor haar liefde vir geskiedenis, die oorsprong van haar verhale en karakters en hoekom sy so graag trilogieë skryf. Joubert het vertel dat die liefde vir geskiedenis en stories deur haar grootouers gelê is. Haar oupa aan vaderskant was Gerard Moerdyk, een van die ontwerpers van die Voortrekkermonument. Hy en haar ouma Moerdyk, wat ’n skrywer en politikus was, het vir haar stories oor die geskiedenis van die Afrikaner vertel. Haar ander ouma Tienie Holloway, ’n skrywer van kinderverse, het vir haar feeverhale vertel. Maar dit was die ware stories, geskiedenisstories, wat haar geïnteresseer het. Beide families was ook modelle in die friese van die Voortrekkermonument sy het as ’t ware binne die geskiedenis grootgeword, geskiedenis was vir haar ’n werklikheid.
........
Sy het as ’t ware binne die geskiedenis grootgeword, geskiedenis was vir haar ’n werklikheid.
........
Joubert vertel dat dit dan juis haar belangstelling in die geskiedenis is wat die agtergrond van haar verhale skep. So byvoorbeeld word Europa tydens die Tweede Wêreldoorlog, Joodse vervolging, Duitse weeskinders en die Italiaanse Krygsgevangenes wat na Suid-Afrika gekom het, die ruimte en temas van haar verhale. Die milieu wissel dikwels tussen Europa en suidelike Afrika, waar plaaslike kultuur en politiek natuurlik ook ’n rol speel.
Joubert vertel entoesiasties oor hoe sy die navorsing vir haar romans geniet. Dit is duidelik dat historiese akkuraatheid vir haar noodsaaklik is en dat haar karakters met die omgewing moet insmelt.
Stories kom meld hulle soms op onverwagse manier by haar aan. Soos in die geval toe sy in Nederland die Pas-Opkamp in Vierhouten besoek het. Die storie van sowat 100 onderduikers wat vir 18 maande in eenvoudige houthuise, wat half onder die grond versteek was, vir die Duitsers weggekruip het, het haar dadelik aangegryp en sy het besluit om ’n roman daaroor te skryf. Haar hoofkarakter sou ’n dogtertjie wat in die kamp gebly het, wees. So is die roman Mentje kind van Pas-Opkamp gebore.
Joubert bely dat sy so geheg word aan haar karakters dat dit moeilik is om van hulle afskeid te neem. Hulle word soos kinders wat saam met haar woon, wat met haar praat, soms huil sy saam met hulle en moet hulle troos... Dit is dan juis hierdie noue band met haar karakters en die onvermoë om afskeid te neem wat veroorsaak dat sy hulle dikwels in ’n volgende verhaal gebruik. Dit is hoekom sy al ’n paar trilogieë geskryf het waar temas en karakters in ’n mindere of meerdere mate herhaal kan word. As die skepper van die karakters kan sy hulle immers manipuleer.
........
“Wat sê jy vir ’n kind wat graag wil skryf?” Irma se antwoord was om klein te begin. Begin met kortverhale en bou daarop voort. Jy kan nie dadelik ’n magnum opus lewer nie.
........
Irma Joubert se passie vir haar werk was aansteeklik en inspirerend. Natuurlik was daar dan ná die tyd ’n vraag uit die gehoor: “Wat sê jy vir ’n kind wat graag wil skryf?” Irma se antwoord was om klein te begin. Begin met kortverhale en bou daarop voort. Jy kan nie dadelik ’n magnum opus lewer nie.
Tydens die pouse kon die gaste kennis maak met die koeke van Robertson. Dié lekkernye wat spesiaal van ’n bakkery in Robertson was, is ’n belewenis. Elke koek was ’n meesterstuk!
Daar is ’n sekere verwagting as ’n digter wat al drie maal die Hertzogprys vir digkuns gewen het, jou kom toespreek. Antjie Krog het nie teleurgestel nie. Krog het afgeskop deur te sê dat sy bly is om mans in die gehoor te sien, want dit is vir haar ’n bekommernis dat die krag van letterkunde slegs by vroue en leeskringe lê.

Vetplantfeetjies deur Antjie Krog en Ingrid de Kok met illustrasies deur Fiona Moodie
Sy het begin met Vetplantfeetjies met verse deur haarself en Ingrid de Kock en kuns deur Fiona Moodie wat in 2022 verskyn het. Vetplantfeetjies is nie net ’n pragtige boek met prettige kinderverse en lieflike tekeninge van vetplante met feetjies daarin nie, maar is ook vir Krog ’n bewusmaking van die bedreiging wat onwettige stroping vir hierdie besondere plante inhou.
Feetjies is baie belangrik vir kinders se ontwikkeling, sê Krog. Dit laat ’n kind aan die werklikheid ontsnap en met iets buite homself, iets magies en delikaat, kontak maak. Omdat feetjies met die natuur verbind word, verhoog dit die kind se bewussyn oor wat rondom hom aangaan.
........
Feetjies is baie belangrik vir kinders se ontwikkeling, sê Krog. Dit laat ’n kind aan die werklikheid ontsnap en met iets buite homself, iets magies en delikaat, kontak maak. Omdat feetjies met die natuur verbind word, verhoog dit die kind se bewussyn oor wat rondom hom aangaan.
........
En dan is daar die krag van rym. Krog vertel dat ’n kind reeds bewus word van ritme deur sy ma se hartklop en ná geboorte met die reëlmaat van sy eie asemhaling. Die ritme van rym vibreer binne-in die lyf, die herhaling bou bronne van innerlike krag en is helend. Daar is bewys dat ’n kind rym begryp lank voor die woorde betekenis kry.
Ná hierdie betoog oor die waarde van feetjies en rym vir die kind het Krog ’n paar gedigte voorgelees. Die gehoor het hulle verkneukel in haar voordrag waar sy die rym en alliterasie beklemtoon het.
Krog het volgende ’n paar gedigte uit Mixtape vir die liefde voorgelees. Sy het vertel dat sy hierdie bundel vir tieners saamgestel het; nie net as protes teen die geykte voorgeskrewe gedigte nie, maar ook as protes teen die swak musiek met treurige lirieke waarna hulle luister. Dit bevat liefdesgedigte uit die breë gemeenskap van Afrikaanse digters. Daar is ouer digters en nuwe stemme. Die bundel is ’n mengelmoes van verskillende soorte liefde; nie net romantiese liefde nie, maar ook liefde in gesinsverband, liefde en woede, om net ’n paar te noem. Krog hoop om tieners se siening oor die liefde te verbreed.
........
Kan ’n digter ná 70 nog oor die liefde dig? Krog het sonder om ’n oomblik te weifel, opgestaan en met drif en passie die intens-persoonlike en erotiese gedig “dis wanneer ek ons onthou” voorgelees. Het ek my verbeel of was daar tydens die applous ’n effense skudding in die fondamente van die kerkgebou...
........
Laastens het sy die bundel Plunder, die bundel waarvoor sy haar derde Hertzogprys vir poësie gekry het, opgetel. Sy het slegs strofes uit drie gedigte “die sigbaarheid van allerlei strooptogte”, “redekawel” en “vrae met die bloedlyn af” voorgelees. Dit was egter meer as genoeg om die gehoor bewus te maak van die intensiteit, teerheid en ook die ontstellende aard van die verse.

Antjie Krog lees voor uit haar gedigte. Foto: Verskaf
Haar bundel Plunder waarvoor sy haar derde Hertzogprys gekry het, is gewaagd, intens, teer, polities-gewaagd, angsaanjaend, deernisvol, ontstellend.
Sy het afgesluit deur haar geloof in die krag van poësie te beklemtoon. Gedigte het haar geleer liefhê, geleer om na die wêreld te kyk en geleer om die dood en hartseer te verwerk. Die dele in die Bybel wat iets aan haar maak, is dié waar daar aandag aan die poësie gegee word. Die gehoor het gelag toe Krog self bely het dat die gedigte “depressing” is. Toe kom daar ’n vraag uit die gehoor of ’n digter ná 70 nog oor die liefde kan dig? Krog het sonder om ’n oomblik te weifel, opgestaan en met drif en passie die intens-persoonlike en erotiese gedig “dis wanneer ek ons onthou” voorgelees. Het ek my verbeel of was daar tydens die applous ’n effense skudding in die fondamente van die kerkgebou...
Lees ook:

