Sêgoed van Irma Joubert Haar beste eienskap: “My entoesiasme, dis wat die mense sê. Die lewe is vir my wonderlik, en daar is so baie dinge wat ’n mens nog kan doen en ontdek op soveel terreine. Daar is amper nie tyd om te slaap nie.” (Die Burger, 17 Oktober 2009) Die allerdiepste gat van ellende: “As iemand ophou lag. Nie eensaamheid nie, maar sielsongelukkigheid, só erg dat lag verdor.” (Die Burger, 17 Oktober 2009) “My stories kom uit die lewe self. Stories is deel van die lewe, dis deel van elke dag. Elke tiener wat verlief raak, elke kind wat gebore word, elke huwelik wat in ’n hofsaak eindig, is mos ’n storie. Elke oumens, elke kerkraad, elke dorp het sy eie stories.” (http://Romanza-lesers.wordpress.com/boeke/irma-joubert/) “Want vir my is skryf nie maar net skryf nie – skryf is so deel van my soos asemhaal, dis in my bloed, dit gaan deur my hart kop toe. En daarom sal daar seker (hopelik) altyd weer ’n storie wees wat wag om vertel te word.” (http://Romanza-lesers.wordpress.com/boeke/irma-joubert/) “’n Karakter kan nooit ’n middel tot ’n doel wees nie, dis ’n mens uit eie reg wat hom nie laat voorsê nie. Daar kom nie vir my ’n punt waar hulle self ontwikkel nie; hulle is klaar mens wanneer ek hul storie begin vertel. Daarom is dit glad nie lekker as ’n boek klaar is nie. Dan is die karakters nie meer elke dag by my nie.” (Die Burger, 28 Maart 2008) Indien sy die langpad vat, waarheen? “Met ’n 4x4 boendoes toe – hoe boendoeër, hoe beter. Ek dink tog ek is ietwat van ’n ontdekkingsreisiger. Ek sou graag een toer in die middel-1800’s deur Afrika wou doen en, soos Livingstone, die Victoria-waterval ontdek.” (Die Burger, 17 Oktober 2009) By watter figuur in die geskiedenis vind sy die meeste aanklank? “Met geeneen nie. Die geskiedenis het bewys hulle was maar ’n dom klomp. Ek kon seker gesê het Emily Hobhouse, maar ek is régtig nie baie goed met siektes en mense wat doodgaan en sulke goed nie. Dan eerder David Livingstone.” (Die Burger, 17 Oktober 2009) As wat wil sy in haar tweede lewe terugkom? “Net as ek self, maar langer en maerder en ’n bietjie slimmer. En miskien met ’n sangtalent en baie meer kuns in my. Maar dan moet my man nog net so lief wees vir my, anders bly ek sommer net ek.” (Die Burger, 17 Oktober 2009) Oor die voortbestaan van Afrikaans: "Ag man, die hele debat irriteer my. Ons práát mos die taal, ons lees en skryf en sing die taal, ons bid in die taal, vir wat nou so kerm oor die taal? ’n Taal is juis daar om eerstens gepraat te word. Ek sien beslis nie stuiptrekkings van ’n sterwende taal in my gesprekke met mense rondom my nie. Engels is dié wêreldtaal, ons is as Afrikaanssprekendes bevoorreg om dit as tweede taal te hê, dit gee ons toegang tot die hele wêreld, ook tot die akademiese en navorsingswêreld buite die grense van ons land." (Taalgenoot, Winter 2010) “Geskiedenis is fassinerend. Elke brokkie geskiedenis is ’n storie, maar ’n ware storie. Dit is seker hoekom dit in Engels his story genoem word.” (Die Burger, 1 Desember 2013) Mense kritiseer haar omdat sy sulke “outydse taal” gebruik. “Ek doen dit aspris. Dis eintlik baie moeite om in die idioom van destyds te skryf, maar dis hoe die mense gepraat het. Nog iets – ek vloek nie in my boeke nie en ek gebruik nie neerhalende uitdrukkings nie.” (Die Burger, 6 Desember 2010) “Jy moenie dink omdat jy jou lewe lank Afrikaans gegee het en al die reëls ken, jy weet hoe om ’n storie aanmekaar te sit nie!” (Get it Bloemfontein, 19 Junie 2013) “Ek skryf oor gewone mense wat in moeilike tye liefde vind.” (Die Burger, 26 Julie 2012) Oor haar stories wat ’n gelukkig einde het: "Sommige lesers hou van gelukkige eindes, ja; ander hou meer van ’n oop einde, iets meer uitdagend, miskien, iets wat jou laat wonder. Dis persoonlike voorkeur. Ek hou van ’n gelukkige einde, daarom eindig my stories gewoonlik so." (LitNet, aan Carla van der Spuy) "Deur my navorsing probeer ek my eie perspektief op gebeure verbreed sodat ek vir my lesers ware stories kan vertel. Al wat vir my belangrik is, is dat lesers my boeke geniet." (Vrouekeur, 29 Januarie 2016) "Met my navorsing verander my uitkyk nie, maar my perspektief verdiep wel. Hoe meer ek lees en luister, hoe beter verstaan ek dinge, veral uit die geskiedenis waaroor ek altyd gewonder het. Goed soos waarom hoogs intelligente mense soos die Duitsers Hitler só sterk aangehang het of hoe Christen-Afrikaners in die vorige bedeling kon redeneer soos wat hulle geredeneer het." (Vrouekeur, 29 Januarie 2016) "Of dit stories uit die twee wêreldoorloë is, of uit ons eie Boereoorlog of Grensoorlog, of die huidige Siriese vlugtelingkrisis, die waarheid is dat gewelddadige konflik onskuldige lewens verwoes. En dat die mens uiteindelik bo dit kan uitstyg en voortgaan met die lewe." (Volksblad, 26 November 2015) ’n Boek van toeka wat ’n indruk op Irma Joubert gemaak het: "Ek het as st 7-Bosveldkind kennis gemaak met Los donkies deur HS van Blerk. Dit skets die sukkelbestaan van armblanke-houtryers wat tydens die depressiejare met donkiewaens hout van die Bosveld na die delwerye op Barkly-Wes gery het. Ek kon myself totaal inleef in die wêreld van dié mense uit my kontrei. Die boek het later een van die fondamentstene van my skryfwerk geword." (Huisgenoot, 26 Mei 2016) |
Gebore en getoë
Irma Joubert is op 28 Augustus 1947 in Pretoria gebore. Haar ma, Alida Moerdyk, was haar lewe lank ’n verpleegster wat baie hard gewerk het. Na haar aftrede het sy soms vir die suster by hulle ouetehuis ingestaan as daar ’n behoefte was. Sy dien op die finansiële bestuur van die ouetehuis en is ’n ouderling. “Glo omdat die ou dames nie daarvan hou dat daar ná donker mans by hulle kuier nie. Sy het ook ’n klein viertrekvoertuig om self te kan veld inry vir haar groot stokperdjie, voëlkykery. My oumas was ook sterk vroue,” vertel sy aan aan Ilse Salzwedel.
Haar liefde vir stories kom waarskynlik van haar vurige Duitse ouma Silva Moerdyk, vrou van Gerrit Moerdyk, die argitek van die Voortrekkermonument. Sy was ’n nooi Pirow uit Oos-Pruise, die suster van Oswald Pirow, minister van verdediging van Suid-Afrika van 1933 tot 1939. “Ouma Silva het altyd stories vertel oor Noord-Duitsland waar sy vandaan gekom het. Ek het as klein dogtertjie eintlik vas geglo ek is ’n Pruisiese prinses. Ouma was baie polities, en ook ’n joernalis vir Die Boervrou, ’n tydskrif in die 1920’s. My ander ouma was Tienie Holloway, ’n kinderboekskrywer,” vertel Irma aan Ilse Salzwedel in Taalgenoot van September 2007.
Irma vertel aan Annalize Dedekind (Volksblad, 8 Julie 2017) dat haar argitek-oupa, Gerhard Moerdyk, die een was wat haar ’n liefde vir geskiedenis gegee het: "Aangesien hy die argitek van die Voortrekkermonument was, het ek gereeld saam met hom daarheen gegaan. Veral die friese was vir hom ’n gunsteling, want feitlik die hele familie was die modelle hiervoor. Selfs die hond.
"Ek was baie lief vir my oupa en ons besoeke aan die monument het my ’n liefde gegee vir die moderne geskiedenis wat ek kan verstaan – veral die twee wêreldoorloë."
Die skryfgene lê diep in Irma, want behalwe dat Tienie Holloway ’n bekende kinderboekskrywer van veral versies was, het Silva Moerdyk in die 1920’s twee rympieboeke, Klaasvaak en Die lente babietjies, geskryf, asook ’n drama oor Paul Kruger.
“Bly stil, ek wil iets sê!” moes haar pa dikwels sê om ook ’n woord in te kry. Irma is die oudste van ses kinders, vier susters en twee broers wat heelwat jonger as die susters is, vertel sy aan Adéle Dempers (Volksblad, 2 Oktober 2010). “As jy in so ’n groot gesin grootword, besef jy gou jy moet praat as jy gehoor wil word.”
Sy is ook deel van ’n hegte familie met baie neefs en niggies. Begrafnisse is deesdae een van hul joligste byeenkomste, die familie lag en praat, hulle deel mekaar se smart en vreugde. Haar pa was ’n idealistiese boer en sy het haar vormingsjare op ’n Bosveldplaas by Nylstroom deurgebring. Haar pa het uitgeboer en toe as entomoloog gewerk. Haar ma, Alida, was ’n verpleegster. “Ek ken van min geld hê,” sê Irma aan Dempers.
.
Haar ma se ouers was Holloway. Oupa Holloway, wat getroud was met Tienie Holloway, was as jong man ’n arm student in Londen, later sekretaris van finansies en toe ambassadeur in Londen waar hy tydens die Tweede Wêreldoorlog met koninklikes en hoës skouers geskuur het. “Dis mos ook ’n storie wat vertel moet word!” sê sy aan Dempers. “My pa het my geleer jy kompeteer nooit met iemand nie, ook nie met jouself nie. Jy doen net jou bes.”
Irma se liefde vir die geskiedenis kom dus van haar voorouers. Behalwe dat haar ouma vir haar vertel het van die Boereoorlog en van haar oupa wat as tienjarige seuntjie in die konsentrasiekamp op Standerton was, het die Rebellie ook vir haar werklikheid geword toe Bart Nel haar voorgeskrewe boek op hoërskool was. “Die 1930’s is die tyd toe my ouers verlief geraak het, die 1940’s toe ek gebore is, die 50’s toe ek sorglose grootwordjare op ’n Bosveldplaas geniet het. Miskien is dit waarom ek skoon nostalgies kan raak oor alles in daardie tyd,” op die Romanza-lesers se webwerf.
Haar heel eerste skrywers aan wie sy op laerskool verslaaf geraak het, was Enid Blyton en Heinz Konsalik, vertel sy aan Kirby van der Merwe (17 Oktober 2009).
Irma het dus haar grootwordjare in die Bosveld geslyt waar sy saam met boeremense na aan die aarde geleef het. Hulle was ook mense wat geken het van droogte en swaarkry. Sy was ’n tiener in die 1960's, ’n tydperk wat vir jongmense opwindend was, maar vreesaanjaend vir hulle ouers. Sy skryf matriek in 1965 aan die Hoërskool Nylstroom.
Verdere studie en werk
Na skool is Irma na die Universiteit van Pretoria, waar sy in 1968 haar BA-graad verwerf en in 1986 ’n honneursgraad in Geskiedenis aan die Universiteit van Suid-Afrika.
Sy en Jan is al veertig jaar getroud en hulle het drie biologiese seuns: Jan-Jan, politieke redakteur van Rapport, Michael en Wikus. Michael bestuur ’n visteelplaas in Amerika en Wikus is ’n prokureur. En dan is daar ook in 2005 ’n pragtige pleegkind, Madeleine, aan hulle toevertrou. Madeleine het farmakologie gestudeer.
“Madeleine het op ’n besondere manier deel geword van ons gesin,” vertel Irma aan Ilse Salzwedel (Taalgenoot, September 2007). “Sy was ’n leerder van my by die Hoërskool Gelofte, ’n topstudent, en ook ’n uitblinker in die debats- en redenaarskompetisies waarby ek betrokke was. Boonop was sy hoofdogter. Toe Madeleine Durban verruil vir die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom, het ons steeds kontak behou. In haar tweede jaar op universiteit het Madeleine albei haar ouers kort na mekaar verloor. Na haar ma se tragiese motorongeluk het ek dadelik gery om haar te gaan bystaan. My man, Jan, het toe eenvoudig gesê: ‘Gaan haal haar, en bring haar na ons huis toe.’ Madeleine was ook die inspirasie vir Gretl, die hoofkarakter in Tussen stasies, want Gretl is net so mooi, slim, vurig en onafhanklik soos wat Madeleine in die die werklike lewe is.”
Irma en Jan het vir 35 jaar in Durban in KwaZulu-Natal gewoon, waar Irma onderwys gegee het – Afrikaans en Geskiedenis. Sy vertel aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 17 Oktober 2009) dat al kan sy van voor af ’n nuwe beroep kies, sy niks anders as ’n Afrikaans- en Geskiedenis-onderwyser sou wou word nie.
In 2004 het sy na 35 jaar in die onderwys besluit om af te tree en te begin skryf. Sedert 2009 woon hulle in Bloemfontein.
Irma is, soos Hanlie Retief dit in Rapport (6 Februarie 2011) stel, ’n kenner van die liefde. Haar rede is omdat haar man, Jan, haar liefhet. Haar kinderlewe was ook gelukkig met ouers wat omgegee het vir mekaar en lief was vir mekaar en hulle ses kinders wat, hoewel hulle baie baklei het, ook lief was vir mekaar. “En toe gaan trou ek met Jan, ’n rotsvaste, liefdevolle, reguit mens. Ek is 63, hy is 64 (in 2011) en ons het afgetree nadat hy al die jare ’n ontwikkelaar was en ek ’n onderwyseres. Ons aftreedroom was om te doen wat ons wil, veral reis. Dis presies wat ons nou doen. Maar nie oorsee nie, dit doen ek saam met my seun Jan-Jan (adjunkredakteur van Rapport). My man is ’n jagter, visserman en veldmens, hy is nie ’n museumloper of katedraalkyker nie. Laasweek bel ’n vriend en sê die visse byt. Die volgende oggend is ons in die kar en Jan kom by die viswaters … Eintlik sou ek baie meer produktief geskryf het as ons nié afgetree het nie!” vertel sy aan aan Retief.
Sy het altyd gesê dat wanneer sy aftree, sy gaan begin skryf. En sy het altyd geweet dat sy móét skryf – as Afrikaans-onderwyseres was sy betrokke by redenaars- en debatskompetisies en toesprake. Die skool se jaarlikse toneelstuk was altyd Irma se baba en sy het partykeer ook die storie daarvoor geskryf. Na 2004 woon sy twee ATKV-skryfskole by om iets van die skryfproses te leer en sy debuteer in Oktober 2004 met ’n artikel vir Insig oor disleksie. Sy word benoem as Mondi-finalis en bekroon as Media24 se spesialis-joernalis van die jaar. ’n Kortverhaal van haar verskyn ook in Huisgenoot.
“Ek wou egter stories skryf,” vertel sy aan François Bloemhof (Die Burger, 28 Maart 2008), “nie net kortverhale nie, lekker dik stories – maar het myself afgevra wie op aarde sou by ’n boekwinkel inloop en ’n boek van ’n totaal onbekende skrywer koop.” Daarom besluit sy om vir ’n boekklub te begin skryf. Sy het by LAPA Uitgewers die riglyne vir hulle Romanza-reeks gekry en begin skryf.
Vonkpos vir die hart is die heel eerste boek wat sy geskryf het – “’n mens weet mos nie vooraf of jy ’n regte bóék kan skryf nie.” Die agtergrond is Natal, ’n bekende plek vir Irma aangesien hulle meer as 30 jaar daar gewoon het. Die Drakensberge, vir Irma een van die plekke in die land waarvoor sy besonder lief is, figureer ook in die boek. (Romanza-lesers)
Vier maande later is haar tweede boek, ’n Beskermengel vir Marlene, ook as deel van die Romanza-reeks gepubliseer. “Albei hierdie verhale het as kortverhale begin, toe word hulle te lank en toe word hulle boeke,” vertel Irma (Romanza-lesers). Bogenoemde twee boeke is in 2009 as ’n duet deur LAPA uitgegee onder die titel Veilige hawe.
Siska Martin skryf in Volksblad (8 September 2009) dat bogenoemde twee boeke baie lekker ontspanningsleesstof is sonder die gewone voorspelbare einde.
Na hierdie twee ligte liefdesverhale was Irma reg vir ’n groter uitdaging: historiese romans van nagenoeg 80 000 woorde. Soos vroeër gesê, het sy ’n passie vir geskiedenis. Nie soseer die geskiedenis van Wêreldoorloë nie, maar die geskiedenis van die mens wat in vroeër tye gelewe het, veral die tyd van 1900 tot die 1950’s. “Dit begin met die Anglo-Boereoorlog, die Eerste Wêreldoorlog en die gepaardgaande Rebellie van 1914, dis ook die tyd van die Depressie in die 1930’s, die Tweede Wêreldoorlog 1939 tot 1945, van die oorname van Afrikaner-nasionalisme in 1948 en die swart Uhuru in Afrika vanaf die middel 1950’s.” (Romanza-lesers)
Verbode drif word in 2006 ook by Romanza uitgegee, met ’n heruitgawe in 2009 by LAPA.
Dit handel oor die gedoemde verhouding tussen ’n boeremeisie en ’n Joodse jong man net na die Anglo-Boereoorlog, skryf Herman Wiid op LitNet. Hierin lees ons van ’n Suid-Afrika wat die leser van vandag hom amper nie kan voorstel nie. Hier is pa se woord wet, en of ’n vrou goed kan brood bak, was die vernaamste riglyn vir vroue se waarde. ’n Taal se stand is bepaal deur sy Bybelse waarde.
Die hoofkarakter is Elizabeth van Rensburg, ’n intelligente en verfynde meisie, en sy voel uit pas in daardie wêreld. Wiid skryf verder: “Gedurende haar tydelike verblyf in die Kaap het sy die wondere van opvoeding en onafhanklikheid beleef en weier sy om op haar ma se versoek na die warm Bosveld terug te keer. Maar as vyftienjarige het Elizabeth geen keuse nie en aan die einde van hoofstuk een bevind sy haar sak en pak terug op haar pa se plaas, binne sy outoritêre waardestelsel."
Sy praat haar ma om om haar pa se toestemming te kry dat sy kan klaarmaak met skool. Elke weeksoggend gaan sy skool saam met drie ander seuns van die omgewing, twee broers Greyling en Izak Katz, die Joodse winkelier se seun. Twee middae per week neem sy ook musieklesse by missus Katz, Izak se ma. Só raak sy vriende met die familie en leer sy ook vir Izak van naderby ken.
Die titel speel nie net op Elizabeth en Izak se verbode verhouding in nie, maar ook op twee ander karakters, Ester Katz en Hansie-wat-starag is. Dit is ook hulle “verhaal van hoe hulle die drif van hulle gestremdhede moet oorbrug om deur die gemeenskap as ‘normaal’ aanvaar te word. ’n Derde verwysing na die titel sluit in die metaforiese drif wat die Afrikaanse taal in die verhaal sal moet oorsteek om as erkende lands- en godsdienstaal gevestig te raak. Op metafisiese vlak kan die titel ook as simbolies gesien word van die drif wat taal vir (fiksie)skrywers daar stel as beperking vir die uiting van gedagtes en emosies,” skryf Wiid.
Wiid se indruk van die boek is positief. Hy voel dat Irma se verhaal een is van onmoontlikhede, grense, liefde en, bo alles, hoop. “Ons almal is, soos Elizabeth en Izak, prospekteerders in ons eie lewens en word gereeld met probleme gekonfronteer waarvoor ons oplossings moet soek. Die enigste ding wat my kwel, is die langdradige en effens lomp einde wat ontrafel soos die verhaal afsluit. Maar Verbode drif is vir my ’n literêre diamant wat hoop uitstraal en verdien om op elke leser se boekrak te pryk.”
In Taalgenoot van Winter 2010 vertel Irma dat Verbode drif op daardie stadium haar gunsteling van al haar boeke is. Sy noem dit ’n "lekker storie" wat op die waarheid gegrond is. Sy vertel verder: "Hoewel my ouma gesê het ’n mens moet nooit dat feite ’n goeie storie bederf nie. Ek het op Nylstroom grootgeword. Net buite Nylstroom op die pad Naboomspruit toe, staan ’n stokou wildevyeboom: Katz-se-boom. Die boom staan nou nog daar, julle kan gaan kyk as julle my nie glo nie. Mister Katz was ’n Jood wat regtig gelewe het – my mammie het hom nog in die Nylstroomse hospitaal verpleeg toe hy al baie oud en verswak was. Maar ’n opregte gentleman, sê sy nou nog. Toe mister Katz nog jonk was, het hy verlief geraak op ’n boeremeisie. In die boek noem ek haar Elizabeth van Rensburg, maar haar regte naam was juffrou Blom. Juffrou Blom moes op haar ma se sterfbed belowe dat sy nooit met mister Katz sou trou nie, omdat hy Joods was. Nie een van hulle is ooit getroud nie. Maar vir jare en jare het hulle Sondagmiddae uitgery en in hulle motortjie onder ’n boom gaan kuier. Verbode drif is dus my vertolking van die storie wat ek kleintyd gehoor het en wat my nog altyd oneindig bekoor het."
Verbode drif is in 2012 saans op RSG voorgelees.
Die mense in Irma se stories is régte mense en vir haar is die belangrikste verhoudings tussen geliefdes, gesinslede, familie, vriende, vreemdes, asook die mens teenoor die natuur, die gemeenskap en die tydvak waarin hy leef. Een van die belangrikste aspekte van Irma se skryfwerk is dat sy dit regkry om ’n tydperk in Suid-Afrika uit te beeld wat tot nog toe in die Afrikaanse letterkunde net ’n gewroeg afgegee het. Sy kry dit ook reg om die nostalgie en sjarme van daardie tydperk vir die lesers deur te gee.
Hierna volg Ver wink die Suiderkruis, wat in 2006 onder die Romanza-reeks verskyn het en in 2008 deur LAPA heruitgegee is. Irma vertel aan Salzwedel dat die storie self maklik is, want die hele lewe is mos vol stories. Sy begin by ’n prentjie van die karakters. Vir Ver wink die Suiderkruis se Kate het sy byvoorbeeld ’n foto van Catherine Zeta-Jones bo haar lessenaar geplak, en vir die aantreklike Bernard Neethling het sy Ryk Neethling se gesig gekies. “Dis natuurlik ook ironies,” sê sy aan Ilse Salzwedel (Taalgenoot), “want as jy nou onthou, was Bernard eintlik ’n arm Neethling in Ver wink die Suiderkruis. Ek hou van ’n storie met ’n kinkel. Kate en Bernard leef aan verskillende kante van die spreekwoordelike treinspoor.”
Ver wink die Suiderkruis vertel die verhaal van Kate Woodroffe, die dogter van ’n mynmagnaat. Die storie speel af in Suid-Afrika, in 1932. Vir haar praktiese navorsing vir haar meestersgraad in sosiologie oor die kultuur van armoede wat armes nie kan afskud nie, moet sy na Vrededorp om self met hulle te gaan praat. Maar daarvoor moet sy iemand hê om haar te beskerm.
Bernard het sy ouers jonk verloor. Hy moes jok oor sy ouderdom om by die myne te kan werk, maar op 22 is hy die woordvoerder van die Afrikaanse mynwerkers in loononderhandelinge met Kate se pa, die mynbaas John Woodroffe. Bernard word toe as Kate se lyfwag aangestel.
Stoffel Cilliers (Beeld, 15 Desember 2008) skryf dat die skrywer goeie navorsing oor die politiek en die sosiologie van die dag gedoen het. “Heel opwindend is die vakbondvergadering wat Kate, van haar medestudente en haar professor vermom bywoon en wat hulle haastig moet verlaat toe dinge te warm word. Dit is bekend dat 1932 die tyd was van die Depressie en die groot droogte; van die Carnegie-kommissie en sy ondersoek na die oorsake van die armblanke-vraagstuk; asook die dae van Hertzog en die goudstandaard.
“Maar dit is ook die jaar waarin twee stérk persoonlikhede, Bernard en Kate, se liefde tot die uiterste toe getoets word. Telkens breek die band tussen hulle en telkens is daar blye versoening.” Cilliers raai die lesers aan om gerus hierdie boek te lees.
Vir Danila Liebenberg (Volksblad, 19 Januarie 2009) is daar ’n innigheid aan die storie wat enige romantikus sal roer. “Die boek getuig van uiters deeglike navorsing wat die skrywer spesifiek oor Hertzog en sy beleid oor beskaafde arbeid gedoen het. ’n Groot Ja! Vir Joubert se roman.”
Cecilia Britz, Irma se uitgewer, voel toe dat Irma reg is vir ’n roman van 150 000 woorde. Die gevolg was Tussen stasies.
Oor die storie agter die boek vertel Irma aan François Bloemhof (Die Burger, 28 Maart 2008) en Ilse Salzwedel (Taalgenoot): “Ek het in 2004 vir my seun Michael en sy Duitse vrou Melli in die VSA gaan kuier, en hulle het my bederf met ’n bootreis na die Bahamas. Die eerste aand beland ons aan tafel, deftig geswart-nommertjie, gebaadjie en gedas, saam met vier vreemdelinge. Die ouerige dame langs my se naam was Sarah en haar uitspraak het Duits geklink, toe vra ek: ‘Are you German?’ Haar mond het ’n reguit lyn gemaak. ‘No,’ sê sy, en toe weet die storiedeel van my brein dat ek hier ’n stórie het – want ’n vrou van tussen 70 en 80 met ’n Oos-Europese uitspraak en die naam Sarah én wat beslis nié Duits is nie, het ’n storie. ‘Will you tell me your story?’ vra ek toe.
“Sy was ’n kwaaierige dame, maar die volgende dag kom sit sy onverwags langs my op die dek. Sy is ’n Jodin, vertel sy. Haar ouers was Pole, haar pa ’n kleremaker, sy die jongste van drie kinders. Toe Duitsland Pole op 1 September 1939 binneval, was sy agt jaar oud ...”
Uiteindelik het Sarah ontdooi en vertel dat sy, haar ma, sussie en ’n tante na Auschwitz geneem is waar haar tante gesterf het en haar ma ernstig siek geword het. Haar ma wou hê haar dogters moes ontsnap en het saam met ander vroue ’n graf gegrawe waarin die twee dogters toe lewend begrawe is sodat hulle in die nag kon ontsnap. Haar ma het dit beklemtoon dat hulle moes ontsnap voor dit begin sneeu, want anders sou hulle voetspore duidelik sigbaar wees.
Gretl (in Tussen stasies) is nes Sarah en haar sussie teen die Russiese soldate gewaarsku en is aangeraai om alles te probeer om in Switserland uit te kom. Ook is Gretl se sussie (soos Sarah s’n) aan die begin van die ontsnapping oorlede. Sarah en haar sussie is deur ’n Russiese soldaat gevind en hulle is weggesteek totdat hy met Sarah Frankryk toe kon uitwyk. Hulle is getroud en hy is na ’n 50-jarige huwelik op 93 oorlede.
Irma het geweet dat sy die storie ’n Suid-Afrikaanse agtergrond sou moes gee. Ook is daar veranderinge wat sy moes aanbring. ’n Jaar later het sy geweet dat sy Pole en Auschwitz sou moes besoek voordat sy Sarah se storie kon vertel.
Sy vertel aan François Bloemhof: “My man steek viervoet vas: Hy is ’n jagter en ’n hengelaar, nie ’n museumloper nie. ‘Gaan kyk na die Vrouemonument in Bloemfontein,’ stel hy voor. My seun Jan-Jan is toe saam; ons reis deur Oos-Europa per trein. Op die Katowice-stasie koop hy twee eenrigtingkaartjies na Auschwitz. Aardig. Ons staan later buite in die son net om te voel of ons nog lewe. Die volgende dag op die trein na Krakow sê ek: ‘Ek kan nie een van my karakters in Auschwitz laat ingaan nie. Maar ek gaan nog voort met die storie.’”
Sewe maande lank het Irma nog navorsing gedoen – net waar sy kon inligting kry, het sy gesoek en hoe langer die navorsing geduur het, hoe meer het die verhaal begin werklikheid word, en hoe meer opgewonde het sy geword. “Teen die tyd dat ek begin skryf, is dit ’n stukkie waarheid oor mense.”
Tussen stasies is die eerste titel in LAPA se Vrouefokus-program. Die uitgewers het gemeen dat daar genoeg leesstof vir die lesers van Afrikaanse romantiese fiksie is, maar dat daar ’n behoefte is aan stories met meer ingewikkelde intriges en waar die ontwikkeling van ’n liefdesverhouding nie sentraal hoef te staan nie. Dit stories se inhoud en lengte sal verskil van die “klub”-boeke.
Jaybee Roux skryf in Beeld (11 Desember 2007): “Gretl, die hooffiguur in Tussen stasies, word as jong kind aan die leser bekend gestel. Haar pa, ’n Duitse offisier in die Tweede Wêreldoorlog, is op die slagveld dood. Maar Gretl het ’n skeutjie Joodse bloed in haar: Gretl, haar ma, ouma en suster word op ’n trein geplaas. Daar is geen twyfel oor wat op hulle wag nie, maar Gretl word, onbedoeld, gered deur Jakób, ’n lid van die Poolse Tuisfront. Hy het geen keuse as om haar onder sy beskerming te neem nie, en raak toenemend geheg aan die gevatte wysneusmeisie. Maar die skeiding móét kom. Jakób neem Gretl terug Duitsland toe, na ’n onsekere toekoms. Hy lees van Afrikaners wat Ariese oorlogswesies werf vir aanneming, en besluit dis die aangewese rigting vir Gretl se lewenspad. Dié deel van die verhaal is boeiend, realisties en uitstekend nagevors.”
Gretl se aanneemouers in Suid-Afrika, Bernard en Kate Neethling van Ver wink die Suiderkruis, noem haar Grietjie en sy word ’n ouer aanneembroer, Kobus, ryker. En soos die lesers verder lees, kry hul antwoorde op vrae soos of Gretl en Jakob mekaar weer sou sien."
Hoewel die uiteinde van Grietjie se probleme vir Roux net te maklik en rooskleurig is, is Tussen stasies vir hom ’n boek wat nooit vervelig is nie en hy beveel dit van harte aan.
Wat vir L Viljoen (Literator, Desember 2008) uitgestaan het, was die treffende karakterbeelding van Gretl en Jakob. Ook het die karakterbeelding van die minder belangrike karakters oortuig. Gretl se sterk karaktertrekke word ook oortuigend uitgebeeld. “Sy hanteer die verwarring en konflik wat uit ras-, kultuur-, taal- en godsdiensverskille spruit met skranderheid en ’n verstommende insig, gesteun – en soms ondermyn – deur die sprokies van haar verlede. Uiteindelik is dit juis haar onvermoë om aan hierdie emosies en diep onderdrukte herinnering aan die trauma van haar kleintyd uiting te gee wat uitloop op haar totale ineenstorting en die bevredigende ontknoping van die verhaal. (...)
“Die agtergrond oor Pole, Duitsland, Tsjeggo-Slowakye, die Dietse Kinderfonds, asook Suid-Afrika in die vyftiger- en sestigerjare is deeglik nagevors, maar die historiese feite is nooit hinderlik aangelas nie. Dit vorm ’n integrale deel van die vertelling en bied ’n kritiese beeld van die kragtige dryfvere van ideologieë kort na die Tweede Wêreldoorlog wat met die jare vervaag het. Wat ook al die leser se belangstelling – in die geskiedenis, ’n lekker Bildungsroman, ’n boeiende liefdesverhaal, of ’n roman wat handel oor versoening tussen kulture, ideologieë, tale, rasse, en godsdienste – Tussen stasies stel nie teleur nie. Dit is inderdaad, soos die stofomslag beweer, ’n verhaal van die menslike gees se vermoë om ‘uit te styg en te oorwin’.”
Oor die einde van Tussen stasies vertel Irma aan Danila Liebenberg (Volksblad, 3 November 2007): “Ek het veral lank gesoek vir ’n einde. Die einde wat in die boek gepubliseer is, is die vierde een wat ek geskryf het. Vir my is die einde van so ’n aard dat dit die leser laat wonder of dit werklik die einde is en of dit die einde is wat Grietjie (die hoofkarakter) sou gekies het as sy self ’n einde vir haar verhaal kon kies.”
Irma vertel op die Romanza-lesers se webwerf dat sy vir ’n historiese roman baie navorsing doen voordat sy begin skryf, want as oud-Geskiedenis-onderwyser is korrekte historiese feite vir haar baie belangrik. “My navorsing gee dan vir my ’n raamwerk van feite, dan vleg ek fiksie tussenin sodat feit en fiksie totaal verweef word tot ’n eenheid. Die feite in die boek maak dat mense onwillekeurig die fiksie glo. En hoe meer ek nalees en oplees en plekke besoek, hoe meer word die storie realiteit, hoe meer diepte kry my storie.
“Voordat ek ’n storie begin skryf, leer ek eers my karakters goed ken, ek leef maande lank met hulle saam. Tydens my navorsing sien ek hulle in situasies waarvan ek lees, ek hoor hulle praat wanneer ek onderhoude voer met mense wat in soortgelyke situasies was, ek sien my karakters in die plekke wat ek besoek. Sodat, teen die tyd wat ek begin skryf, dit nie meer ’n storie is nie, maar ’n stukkie waarheid oor mense wat ek as verteller baie goed ken.
“En juis daarom is dit glad nie lekker as ’n boek klaar is nie. Want dan is die mense in die boek nie meer elke dag by my nie. Die nuwe mense van die nuwe boek trek dan by my in, en dit neem lank om hulle eers te leer ken en lief te word vir hulle, voordat ek weer hulle storie kan vertel.”
Irma se stories bestaan werklik: “In elke plattelandse dorp se storieskat was daar mos maar ’n Jood wat ’n geheime verhouding met ’n boeremeisie gehad het; elkeen van ons weet mos van die skatryk stadspoppie wat op die brandarm boerseun verlief geraak het; êrens ken ons iemand wat een van die 1948 Duitse wesies geken het. Elke ou foto vertel ’n storie, soos die maer Jode op ’n oorlaaide trein op pad na Auschwitz, of die regop burger in sy flenterbaadjie op sy perd – hy lyk nie meer as vyftien jaar oud nie. Ons oumas het vir ons kleintyd stories vertel, régte stories; ’n ou Poolse vrou op ’n plesierboot in die Bahamas vertel haar lewensverhaal; die kassier by die bank vertel hoe haar pa uit Rusland gevlug het en haar ma in Ierland ontmoet het. Of jy onthou dat Italiaanse krygsgevangenes ’n brug op julle plaas kom bou het en saans musiek gemaak het, jy lees toevallig van 500 Poolse weeskinders wat in 1943 na Oudtshoorn gestuur is, jy sien in ’n oerou koerantberig dat ’n ligte vliegtuig oor die Belgiese Kongo geval het – die vlieënier word vermis. Solank die mens nog die aarde bewoon, kan stories nooit opraak nie.” (aan Ilse Salzwedel, Taalgenoot)
Irma se volgende boek, Anderkant Pontenilo, word in 2009 by Tafelberg Uitgewers gepubliseer. Dit is ’n liefdesverhaal met die Tweede Wêreldoorlog as agtergrond. ’n Italiaanse krygsgevangene bevind hom op ’n plaas in die Bosveld. Maar die oorlog self speel nie so ’n groot rol in die storie nie, aangesien die karakters geaksentueer word, vertel Irma aan Kirby van der Merwe (Die Burger, 17 Oktober 2009). “Die roman het twee verhaallyne. Die Suid-Afrikaanse deel speel af teen die Afrikanerkultuur en -politiek van die jare 1933–1946, met die hoeksteenlegging van die Voortrekkermonument, die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog net daarna, die skeuring in Afrikaner-geledere en die oorlog in die Noorde (eintlik El Alamein).
“Die tweede lyn begin in Italië met die opkoms van Mussolini, die uitbreek van die oorlog en die vertrek van die soldate na die Suide (eintlik El Alamein) – waar die twee storielyne ontmoet. En natuurlik, met ’n aantreklike Italianer op die plaas (al is hy nou ook deel van die ‘Roomse Gevaar’), watter Boeremeisie met warm bloed in haar are sal haar hart in toom kan hou?”
In Anderkant Pontenilo staan die Fourie-familie sentraal. Pa ondersteun generaal Hertzog wat neutraal wil bly, terwyl Oupa vir Smuts wat oorlog toe wil gaan, aanhang. Die seuns in die familie is agter DF Malan. Ons ontmoet vir De Wet en Klara en Gerbrand en Christine, almal jongmense wie se drome deur die oorlog geraak gaan word.
In Italië, op ’n klein dorpie, bly die beeldhouer Guiseppe Romanelli en sy seuns, asook Don Veneto en sy mooi dogter Gina. Gina en Antonio, een van die seuns van Guiseppi, is verloof.
Antonio gaan oorlog toe en beland as krygsgevangene op die Fouries se plaas waar hy klipwerk moet doen. Hy en Klara ontmoet en hulle word vriende. Christine en Gerbrand ontmoet mekaar in Egipte. Met Antonio op die plaas het dit ’n invloed op almal, maar veral Klara se siening van die vyand, die oorlog en die plaas.
Adéle Dempers skryf in Volksblad dat Anderkant Pontenilo in wese ’n liefdesverhaal is wat verryk word met interessante brokkies oor die geskiedenis van die jare veertig. “Joubert se verteltrant is lekker vinnig, die spanningslyn word van die begin af gehandhaaf met die draadloos en koerante wat kort-kort nuus (toenemend ontstellend) oor die oorlog in huise in bring.” Dit is ’n lekkerleesboek wat jy net nie kan neersit nie.
Vir Ilza Roggeband (Die Burger, Junie 2009 presiese datum onbekend) was die boek plek-plek interessant en ’n mens wil dit klaar lees, maar die storie sou gebaat het by nog ’n bietjie skaafwerk.
Anderkant Pontenilo is die eerste van ’n trilogie en die vervolg verskyn in 2010 en is getiteld Pérsomi, kind van die brakrant. Hierin neem Irma haar lesers terug na die jare tussen 1940 en die 1960’s. Oor Pérsomi vertel Irma aan M Malan in Die Burger (6 Desember 2010): “In Pérsomi is daar drie storielyne. Daar is die kwessie van die armblanke, ’n liefdesverhaal wat die suikerlagie om die politiek en geskiedenis is en die begin van apartheid. Ek konsentreer veral op die situasie van die Indiërs in Noord-Transvaal. Hul moedertaal was Afrikaans en dié wat ek geken het, het hul grond van Paul Kruger gekry, maar hulle moes trek. Die Afrikaanssprekende Indiërs se storie is nooit regtig vertel nie.”
Die hoofkarakter het al in Pontenilo haar opwagting gemaak toe sy as bywonersdogter ’n klein rolletjie gespeel het. Hierdie keer word die verhaal uit die gesigspunt van Pérsomi en haar familie vertel. Vroeg in die boek vertel Irma van haar nuwe karakter: “Pérsomi weet presies wie sy is: sy is ’n bywonerskind, die vierde kind van Lewies en Jemima Pieterse op mister Fourie se plaas. Sy is ’n lang, maer kind, met donker oë en reguit, donker hare. So anders as Sussie en Piet, wat hulle pa se kort, plomp figuur en waterige klein ogies geërf het. Of Gertjie of Babie met hulle ma se kroeserige rooi hare. Hannapat is ’n goeie mengsel van die twee. Selfs Gerbrand het hulle ma se rooi hare gekry . Net sy lyk anders . . .” (bl 13).”
Adéle Dempers skryf in Volksblad (18 Desember 2010): “As intelligente kind kry Pérsomi swaar in die haglike omstandighede waarin sy grootword. Gerbrand is haar ouboet, die enigste een tot wie sy aangetrokke voel, maar is afsydig, dikwels ongeduldig, en dan word hy ook nog ’n Rooilussie, verag deur baie. Hoe verstaan sy dit? Toe hy in Noord-Afrika sneuwel, troos Boelie Fourie die ontredderde meisietjie. ’n Sterk band ontwikkel tussen haar en Boelie wat verinnig soos hulle ouer word. Verskeie faktore hou hulle egter uitmekaar; Pérsomi is immers ’n bywonerskind afhanklik van aalmoese terwyl Boelie mister Fourie se seun is. Soos hulle ouer word, het hulle ook sterk, botsende menings. (...)
“Pérsomi het ’n sterk wil om uit te styg en word ’n prokureur wat haar op haar Bosveldse tuisdorp vestig. Wanneer sy die Indiër-gemeenskap, mense wat vir haar net goed was, se gedwonge verskuiwing in die hof beveg, bring dit haar in verdere konflik met die gemeenskap en veral met Boelie, ’n vurige Nasionalis.”
Pérsomi is nie vir Dempers net ’n opeennoeming van geskiedkundige feite nie, maar ’n lewendige en realistiese uitbeelding van die tyd waarin die verhaal afspeel. Die leser leer ken die omstandighede van armblanke-gesinne deur die beskrywing van die Pieterse-gesin. Jemima, die moeder, is moeg vir die lewe, terwyl Pérsomi aan die ander kant die persoon wat die wil het om bo hulle omstandighede uit te styg, verpersoonlik. Joubert se karakters is werklik, die taalgebruik en dialoog is gemaklik en deur die agtergrond leer ken die leser die geskiedenis van Suid-Afrika van daardie tyd en hoekom mense sekere keuses gemaak is. “Daarby is dit ’n heerlike storie. Pérsomi is die soort boek wat jy met moeite neersit,” aldus Dempers.
In Beeld (25 Oktober 2010) skryf Ronel Nel as volg oor Pérsomi: “Joubert, ’n bobaas-storieverteller, verstom die leser weer eens met haar diepgaande navorsing, en die manier waarop sy ’n verweefde en ingewikkelde geskiedenis verlewendig deur die taal en handelswyses van haar karakters. ’n Mens proe eintlik die angs, die woede, die verwarring en die vrees van daardie ongewone dekades – die 1940’s en 1950’s.”
Vir Cas van Rensburg (Rapport, 29 Desember 2010) staan dit uit dat die skrywer ’n baie goeie agtergrond en kennis van die tydperk van die roman het “en wat die roman laat slaag, is dat sy juis nie hierdie stuk Afrikanergeskiedenis rou in die leser se gesig gooi nie. Dit is subtiel verweef met die daaglikse bestaan van haar karakters wat in ’n tydvak leef waar hul lewensuitkyk noodwendig beïnvloed is deur die politieke woelinge in eie lands-, dorps- en familiegeledere.”
’n Belangrike deel van die storie is Pérsomi se verdediging van die Indiërs se gedwonge verskuiwing en vir Van Rensburg het dit geruk om hierdie storie as deel van ’n liefdesverhaal teen te kom. Maar “dit gee ’n heeltemal ander perspektief as blote geskiedenis en plaas jou midde-in daardie tyd met ’n vars besef van ongeregtighede wat in die naam van apartheid gepleeg is,” skryf Van Rensburg.
“Wat die trefkrag van die verhaal ook versterk, is die feit dat die skrywer ’n aanvoeling vir taal het en ’n soort ‘skoon’ prosa skryf. Haar karakters word eweneens nes die geskiedenisagtergrond subtiel uitgebeeld met veral ’n opvallende oor vir dialoog. Trouens, dit het ’n mens by die lees van die roman dikwels laat wonder of die skrywer nie haar hand aan ’n drama moet waag nie.
“Wat die roman ook beklemtoon, is dat ons ons stories moet vertel, anders sal dit later óf vergeet word óf deur ander vertolkings verswelg word. Hoeveel lesers van 50 en jonger onthou byvoorbeeld nog die dae van bywoners? Of die armblanke-vraagstuk en die Carnegie-verslag van die 1930’s?
“Dit is natuurlik nie ’n werk wat met byvoorbeeld ’n Marlene van Niekerk se Triomf vergelyk kan word nie, maar miskien is dit net so ’n belangrike werk in die kringe van diegene wat nie lesers van hoge letterkunde is nie. En dit is hierdie lesers van goed geskrewe en toeganklike romans wat uiteindelik Afrikaans as ’n skrywerstaal sal laat voortbestaan.”
Die derde boek in Irma se trilogie is Kronkelpad wat in 2011 verskyn. Die hoofkarakters hierdie keer is Lettie Louw en Marco Romanelli. Dié twee was in Pontenilo en Pérsomi ook op die toneel maar as minder belangrike karakters. Hulle is in Kronkelpad die hoofkarakters waaroor Irma Joubert drie verhaallyne skep wat oor etlike dekades heengaan. Die agtergrond vir Kronkelpad is die polio-epidemie wat in die 1950’s plaasgevind het. In Beeld (7 November 2011) skryf Adéle Dempers dat die effek daarvan op die jongmense van daardie tyd goed uitgebeeld word. Dit het ook vir Lettie op ’n persoonlike vlak beïnvloed.
Dempers skryf verder: “Soos sy voorgangers, is Kronkelpad ontspannende leesstof met die geskiedenis as stewige werklikheidsbarometer. Die karakters is warm en menslik. Veral by Lettie, ’n sterk vrou en nie die tipiese popmooi heldin van ’n liefdesverhaal nie, sal lesers aanklank vind. Kronkelpad bied ’n bevredigende slot vir die trilogie. As bonus eindig dit waar Pontenilo begin het – in die Italiaanse bergdorpie waar die mense so van mooi stories hou.”
Alta Cloete skryf op WordPress (4 November 2011) dat Irma Joubert weet hoe om ’n roman met geskiedkundige agtergrond aanmekaar te sit en die storie met sorg en detail te vertel.
Benewens die polio-epidemie het Kronkelpad ook die eeufeesvieringe van die Groot Trek in 1938 as agtergrond, asook die Tweede Wêreldoorlog en die Joodse vervolging in Italië.
In Rapport van 11 Februarie 2011 skryf Nini Bennett: “Rialien Naudé, ‘n geskiedenisstudent, nader dr Lettie Louw om hulp met ’n geskiedenistaak. Dié Bosveldse dokter se gedagtes loop ver terug, en dien as stimulus vir die roman: ’n verhaal vind neerslag in die vorm van ’n gedetailleerde vertelling, ’n lywige werk van 478 bladsye. Rialien figureer as katalisator vir die verhaal, en is nie ’n rolspeler nie.”
Lettie Louw, wat haar pa se mediese praktyk oorneem, was nog nooit die gewildste en aantreklikste meisie op die dorp nie. As gevolg daarvan het sy die besluit geneem om haar beroep dokter te maak. Maar net totdat sy vir Marco Romanelli, ’n Italianer wat die konsentrasiekampe van die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, ontmoet. Omdat sy gesondheid nie so goed is nie, het hy na die Bosveld gekom om te kom aansterk.
Lettie word mooier soos sy ouer word en Marco se herinneringe aan Rachel en die kamp in Birkenau begin effe op die agtergrond skuif. Maar met die uitbreek van die polio-epidemie met sy gevolge wat tot in die Bosveldse dorpie gevoel word, lei dit die karakters op ander paaie voordat die trilogie eindig waar dit begin het – in die Italiaanse dorpie in die Alpe.
Bennett sluit haar resensie af: “Joubert skryf met gesag oor die leefwêrelde van haar karakters. Historiese feite word met gemak vervleg in die verhaallyn, sonder om steurend of pedanties te wees. Die outydse sjarme in Kronkelpad is verfrissend. Dit is tegerlykertyd ’n aangrypende roman, en uiters toeganklik geskryf. ‘Ware liefdesverhale het geen einde nie’ (p 343), gebaseer op ’n siening van Richard Bach, dien as kompas in dié kronkelpad-verhaal. ’n Verhaal wat die leser býbly.”
Vir Madri Victor (LitNet) kon die storie al vroeër geëindig het, “Maar toegegee, die meeste aanhangers van Irma Joubert sal waarskynlik teleurgesteld wees met my voorstelle; Joubert se historiese romans fokus op verhoudings, veral liefdesverhoudings, en bied vir die leser nie net ’n kykie in die verlede nie, maar ook ’n gelukkige einde waarin die liefde blom. En dit doen Kronkelpad met groot sukses. Joubert trek met hierdie verhaal al die los drade van die trilogie se karakters bymekaar. Soos Lettie se ma voorspel: hier kry elke pot sy deksel – ten spyte van die kronkelpaaie waarop die leser saamstap.”
Voordat Irma haar ander trilogie, wat begin is met Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies, voltooi het, is daar eers ’n bundel kortverhale van haar uitgegee onder die titel Tuiskoms: stories oor die liefde (Tafelberg, 2012). Hierdie is almal stories wat voorheen in tydskrifte verskyn het en Irma se gunsteling storie is “Onze Nest” een wat handel oor twee swaeltjies wat verlief raak. Dit is in Landbouweekblad gepubliseer omdat nie een ander tydskrif ’n storie oor diere wou publiseer nie.
Die 16 verhale het almal tussen 2004 en 2011 in Huisgenoot, Rooi Rose en Landbouweekblad verskyn.
In sy resensie skryf Stoffel Cilliers (Rapport, 3 Julie 2011): “Die verskyning van Joubert se bundel herinner opnuut aan die sterk vormende invloed wat tydskrifte deur die jare op die Afrikaanse literatuur gehad het. Audrey Blignault, Alba Bouwer, P. H. Nortje en verskeie skrywers ná hulle se gewilde bundels is deur tydskrifbydraes voorafgegaan. Nou kry Joubert se talle aanhangers die geleentheid om haar bundel te beproef. Dat die verhale oor die algemeen goeie waardes bevorder; ’n humoristiese, vrolike aanslag het, maar ook ongelyk in gehalte is, word gou duidelik. Besluit maar self oor watter stories jou tone wil krul en watter nie.”
Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies is in 2013 heruitgegee deur LAPA net voordat die finale boek van hierdie trilogie, Tolbos, verskyn het.
Die handeling in Tolbos geskied tussen Junie 1976 tot einde 1989 en in hierdie periode skilder Irma Joubert weer vir haar lesers ’n familieverhaal wat die leser vasgenael sal laat sit en lees.
Toe Irma aanvanklik Ver wink die Suiderkruis begin skryf het, het sy dit glad nie bedoel as boek een van ’n trilogie nie. Dit is dan ook aanvanklik deur Romanza vir LAPA gepubliseer. Selfs nie eers toe sy begin skryf het aan Tussen stasies het sy aan die moontlikheid gedink nie. Maar toe sy vir Gretl Suid-Afrika toe moes laat kom en vir haar ’n Suid-Afrikaanse familie moes kry, het sy begin dink aan die moontlikheid om haar by Bernard en Kate Neethling in die Bosveld te gaan laat bly. Met die publikasie van Tussen stasies is daar besluit omSuiderkruis bietjie uit te brei en dit was op aandrang van die lesers dat Tolbos geskryf is en die trilogie voltooi is, vertel Irma aan Phyllis Green van Sarie (12 Desember 2013).
Tolbos speel gedeeltelik in Suid-Afrika en gedeeltelik in Pole af en dan die laaste stuk weer in Suid-Afrika. Phyllis Green wou by Irma weet of sy bewustelik weer ’n skakel terug gemaak het na Pole, omdat Gretl in Tussen stasies daarvandaan gekom het.
Vir Irma was dit deels die rede, maar daar was sulke baie ooreenstemmings tussen die val van kommunisme in Pole en die einde van apartheid in Suid-Afrika dat sy verstom geslaan was. Die opstande in Soweto wat op 16 Junie 1976 plaasgevind het en wat begin het as ’n vreedsame optog en ’n bloedbad as afloop gehad het, was vir Irma die begin van die einde van apartheid. Op 25 Junie 1976 was daar ook ’n vreedsame betoging teen die kommunistiese bestel in Pole en dit het ook uitgeloop op ’n bloedbad en die begin van die einde van kommunisme.
En toe op 9 November 1989 word die Berlynmuur en ander grense tussen Oos- en Wes-Duitsland afgebreek en net ’n paar weke later, op 11 Februarie 1990, is Nelson Mandela na 27 jaar uit die tronk vrygelaat en was hy ’n vry man. Daar was vir Irma ook nog ander ooreenkomste en dit alles saamgegooi, het vir haar gevra om ’n storie te vertel.
Irma het ook aan Reza van Rooyen (Die Burger, 1 Desember 2013) gesê dat die 1980’s totaal by haar verbygegaan het aangesien sy haar kinders moes grootmaak. Dit was een van die redes hoekom sy Tolbos geskryf het en dit was uit haar oogpunt ’n fassinerende tyd in die geskiedenis.
Irma het ook in Tolbos gebruik gemaak van regte mense as karakters om die gebeure nog meer geloofwaardig te maak. Só maak Helen Zille en Max du Preez hulle opwagting in die storie. “Katrien Neethling, die vroulike hoofkarakter in die boek, gaan studeer joernalistiek en dit is waar Zille in die prentjie kom,” sê Irma Joubert aan Rudolf Stehle (Die Burger, 11 Desember 2013).
“Zille gaan praat met die studente aan Wits oor ondersoekende joernalistiek, spesifiek met verwysing na haar oopkrap van die dood van Steve Biko. Sy praat ook met die studente oor haar betrokkenheid by die Black Sash en Katrien sluit dan as jong Afrikaanse meisie by die Black Sash aan. Ek moet natuurlik geweldig versigtig wees wat ek vir Helen Zille in daardie tyd laat doen omdat sy ’n bekende persoon is,” sê Joubert aan Stehle. “Zille in dié boek is nié die politikus nie, maar ’n joernalis en lid van die Black Sash in die 1980’s.”
Ander bekendes, behalwe Zille en Du Preez, in Tolbos is die musikante Bernoldus Niemand, André Letoit, (Koos Kombuis) en Johannes Kerkorrel. Irma het haar streng by die historiese feite gehou toe sy hierdie karakters deel van haar storie gemaak het.
“Wanneer Katrien by Beeld te ver gaan met haar liberale verslaggewing, is sy haar werk kwyt en klop sy aan by Vrye Weekblad waar Du Preez die redakteur is. Hy bied haar dan die geleentheid om as vryskut so nou en dan ietsie vir hulle te skryf,” vertel Irma verder aan Stehle.
Sentraal in Tolbos staan Katrien wat as tienjarige dogter hoor van die onluste in Soweto en terselfdertyd word die vyftienjarige Poolse tiener Jakób Kowalski deel van die betoging teen kommunisme in Pole. Hierdie twee oënskynlike totaal aparte gebeure bied dan die agtergrond vir hierdie roman.
Alta Cloete skryf in haar resensie as volg (Maandblad Zuidafrika): “Vir hierdie leser lê die grootste bekoring van Joubert se werk egter nie in die geskiedkundige feite nie, maar in die mense daaragter. Joubert slaag daarin om die geskiedenis lewend te maak met volronde, oortuigende en aangrypende karakters met net die regte tikkie romantiek en humor daarby. Een van haar grootste bates is haar vermoë om in die skoene van ʼn kind te klim. Die vyftienjarige Wladek Kowalski wat die leser aan die begin van Tolbos leer ken, is ʼn heerlike karakter. Vol hormone, vol selfvertroue, met ʼn aansteeklike lewensdrif en skerp humorsin pak hy elke uitdaging wat die lewe vir hom gooi met kenmerkende entoesiasme aan. Katrien Neethling, aan die ander kant, is ʼn eensame buitestaander, maar tog – dikwels teensinnig – deel van die uitgebreide familie waarin sy grootword en moet ʼn lang pad loop voor sy met haarself kan vrede maak.
“Die tema van familie loop soos ʼn goue draad deur die verhaal. Die verskil tussen die eenvoudige leefwyse in Pole teenoor die relatief luukse – maar tog sobere – bestaan van die Neethlings in Suid-Afrika is opvallend. Die ooreenkomste in die familiestrukture en die soms teensinnige verbondenheid word egter telkens voorop gestel en kom veral na vore in die treffende beskrywings van die Kersfeesvieringe van elke familie.
“Telkens keer Wladek terug na sy mense en probeer hulle teen die gevolge van sy politieke betrokkenheid beskerm. Ten spyte van sy ooglopende briljantheid bly hy diep verbonde aan sy doodgewone, liefdevolle familie wat onder die moeilikste omstandighede die beste probeer maak van hulle lewens. Katrien is veral gedurende haar tienerjare in opstand teen haar familie, maar in haar diepste nood is dit hulle wat haar onvoorwaardelik te hulp snel en mettertyd aanvaar sy haar verbondenheid aan haar mense. Die verlies van familie word dan ook deur albei karakters as besonder traumaties ervaar en was vir hierdie leser van die aangrypendste dele in die boek. Die dogtertjie Katrien se onherstelbare verlies en die manier waarop dit haar status as buitestaander inisieer, bepaal die verloop van haar lewe en vorm haar karakter tot ʼn groot mate. Wladek se ontreddering wanneer hy sy familie moet verlaat, is eenvoudig aangrypend en toon die ander kant van sy speelse, op die oog af soms ligsinnige, karakter.
“Die ontwikkeling van die liefdesverhouding en die innerlike groei wat dit op die ou end moontlik maak, word subtiel en oortuigend uitgebeeld. Geen maklike oplossings word aangebied nie en die keuses wat die karakters maak, is volkome realisties.
“Joubert se skryfstyl is sober, sonder tierlantyntjies. Sy slaag telkens daarin om treffende tonele met min woorde te teken. Die groot getal karakters word elkeen as uniek geskilder. Dit is egter die oënskynlik sorgvrye Wladek en die opstandige Katrien wat die diepste in die leser se hart kruip, soos dit geslaagde hoofkarakters betaam.”
Elsabé du Toit skryf in Die Burger (30 Desember 2013) dat Tolbos in die eerste plek ’n liefdesverhaal is, maar as gevolg van die geskiedkundige agtergrond van die verhaal, is dit nie net ’n tipiese resepmatige verhaaltjie nie. "Die verhale van Irma Joubert word wyd gelees en hierdie een is dalk haar beste tot dusver."
In ’n onderhoud met Carla van der Spuy op LitNet is Irma egter van mening dat sy nie Tolbos primêr as ’n liefdesverhaal sou beskryf nie, aangesien die liefdesverhaal spesifieke vereistes aan die skrywer stel, waaraan Tolbos nie voldoen nie. Sy sê: "Tolbos is ’n historiese roman waarin die liefde wel ’n groot rol speel, hoofsaaklik omdat die liefde vir my deel van die lewe self is."
Ook op LitNet het Leswin Laubscher, medeprofessor en voorsitter van die Departement Sielkunde aan die Duquesne Universiteit in Pittsburgh in Amerika, oor Tolbos die volgende geskryf: "Katrien protesteer en durf die swart woonbuurte aan met die aunties van die Black Sash (’n aksie wat nie baie geloofwaardig is nie, bygesê). (...) Maar mens het meer as interessante geskiedenisfeite of spookagtige ooreenkomste tussen Pole en Suid-Afrika nodig om ’n roman te laat werk.”
Hy gee egter toe: “Dit is wel waar dat die Suid-Afrikaanse hoofkarakter, Katrien en haar Poolse eweknie, Wladek, ’n storieverbintenis het, een wat Joubert uitlê in die twee boeke wat Tolbos voorafgaan as trilogie, te wete Tussen Stasies en Ver wink die Suiderkruis. (...) Op die ou einde is Tolbos miskien meer romanse as roman, en die ‘nuwe’ van die parallelle Poolse storie meer die persoonlike bevrediging van ’n skrywer wat ‘lief is vir geskiedenis’, as ’n vernuwende literêre instrument om kuns mee te maak.”
Na aanleiding van bogenoemde wou Carla by Irma weet: "Maar wat van die 'bottom line' – lesers se terugvoer? Wat was die terugvoer wat jy tot dusver persoonlik gekry het? Kan mens nie maar net ’n roman, of ’n historiese roman, of wat dit ook al genoem word, net vir die lekkerte lees sonder om dit eindeloos te ontleed nie?"
Irma se antwoord is as volg: "Leswin Laubscher het vir my ’n interessante perspektief uitgespreek. Ek kan hom eerstens verseker dat daar wel 'wit tannies' – hoofsaaklik van die Black Sash – by van die begrafnisse in Soweto was en dat die begrafnisgangers beslis ons bekende Halleluja-liedere gesing het, maar in hulle eie taal. Albei hierdie feite is histories korrek – ’n mens kan dit in geskrewe verslae van die Black Sash lees, en van die 'wit tannies' wat daar was, kan uit eie ervaring vertel.
"Tweedens kan ek hom verseker dat Tolbos geensins voldoen aan die vereistes wat uitgewers stel vir ’n 'romanse' nie. My eerste twee boeke, Vonkpos vir die hart en ’n Beskermengel vir Marlene, is uitgegee as 'romanse'. Dit is ’n genre met uiters vaste reëls wat van die skrywer baie dissipline verwag om binne hierdie grense te bly. Dit is, terloops, ook ’n genre wat wêreldwyd uiters gewild is, wat lesers aan die lees hou en dikwels uitgewers se koppe bo water hou.
"Ek glo verder elkeen is absoluut geregtig op ’n eie mening oor enige boek; so ook elke resensent. Indien stellings in byvoorbeeld ’n historiese roman foutief is, is dit ook enigeen se goeie reg om dit uit te wys. Mens moet egter seker maak van jou eie feite voordat jy dit begin bevraagteken.
"Ten slotte maak dit nie veel saak in watter kategorie die boek geklassifiseer word nie. Ek skryf vir die lekker; ek glo vir geen oomblik ek is ’n woordkunstenaar soos byvoorbeeld Karel Schoeman nie. As iemand van my boek hou, is ek bly. As mense nie daarvan hou nie, is dit ook doodreg – ek self hou beslis nie van alles wat ek lees nie, selfs al word dit soms sterk aanbeveel. Hoe vervelend sou die lewe nie gewees het as almal van dieselfde goed gehou het nie."
Leswin Laubscher skryf verder: "Ek betwyfel nie dat Voëlvry ’n rol te speel gehad het in apartheid se verbrokkeling en nederlaag nie, maar om seks oor die kleurgrens en diep teue aan tallose stoppe dagga voor te hou as aktivisme en opoffering, beledig diegene van ons wat gemartel was, in hegtenis geneem was, vriende en familie verloor het, en die trauma van ’n alledaagse geweld op ons stoepe moes verduur."
Van der Spuy wou by Irma weet wat sy van bogenoemde stelling dink en of mense seks oor die kleurgrens gehad het as ’n vorm van protes. Kon dit nie dalk gewees het omdat hulle verlief was nie?
"Lesers van die boek kom uit verskillende omstandighede en agtergronde, daarom kan ’n mens nie sê hierdie stelling is vergesog nie. Ek het dit geskryf uit ’n spesifieke perspektief – die een van my hoofkarakter, Katrien, wat uit ’n konserwatiewe Bosveldse boerehuis gekom het en hoofsaaklik as gevolg van wat sy oor die radio gehoor en in die letterkunde gelees het, oor die landsituasie begin wonder het. Sy is nie gemartel nie; sy het nie familie of vriende verloor nie (nie eens, soos baie gesinne rondom haar, weens die grensoorlog nie); sy het nie die daaglikse geweld beleef nie; maar sy het op haar eie manier ook deur ’n sielestryd gegaan. En soos vir baie wit Afrikaanssprekende jongmense van daardie tyd was die Voëlvry-beweging vir haar bevrydend – iets wat mense wat nie uit dieselfde huise as sy gekom het nie, moontlik nie sal verstaan nie. Hierdie verhaal sluit mos nou nie ander belewenisse van daardie tyd uit nie; selfs mense wat uit dieselfde agtergrond as sy gekom het, kon dit totaal anders beleef het. Hierdie is net een soort belewenis van wat in die 1980’s gebeur het," was Irma se antwoord aan Van der Spuy.
Irma se volgende roman, Immer wes, is in 2015 deur LAPA gepubliseer. Voordat die boek in Suid-Afrika op die rakke was, was die Nederlandse en Duitse vertalings reeds klaar wat dui op Irma se gewildheid in die buiteland. ’n Bekendstellingstoer in Duitsland en ’n optrede by die Boekefees in Frankfurt was deel van die uitgewers se bemarkingstrategie.
Immer wes vertel die verhaal van Hildegard, ’n dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adel met ’n liefdelose ma en ’n pa wat wel oor die algemeen omgee.
"In 1914, toe die donker wolke wat oor Europa saamgetrek het, uiteindelik in die Groot Oorlog uitbreek, leer Hildegard vir die eerste keer hoe lelik die lewe daar buite is, hoe afskuwelik oorlog, en wat ’n misleidende woord 'oorlogshelde' is. Haar kinderlike verering van die Duitswester Gustav los op in die vlaktes van sy geliefde land waarheen hy terugkeer. Sy trou met ’n man – haar vader se keuse, as mens dit ’n keuse kan noem – wat min vreugde in haar lewe bring.
"Teen die tyd wat die Tweede Wêreldoorlog ten einde loop, is sy intiem vertroud met die pyn van verlies en onderdrukking, armoede en hongersnood, en meer as ooit haat en verag sy oorlog. Maar dit is nie die einde van die reis nie. Dit besef sy eers toe sy en haar kind hulle weens omstandighede waarvan niemand sou kon droom nie, in Duitswes bevind. Wat môre sal bring en waar sy en haar dogtertjie ’n heenkome sal vind, weet niemand. Soms weet sy nie of God haar nog hoor wanneer sy bid nie.
"Hierdie lekkerleesroman wat strek oor die twee Wêreldoorloë en uiteindelik, via Suid-Afrika, in Namibië eindig beloof om Irma Joubert se lesers weer weg te voer na lande en tye wat nie aan ons bekend is nie. Soos altyd is die styl maklik, maar soos soveel keer te vore, wys Joubert ook die donker kant van die mens. Oorlog is verskriklik. Gelukkig is daar altyd hoop in al Irma Joubert se romans.
"Immer wes is die eerste boek in haar nuwe trilogie. Al drie verhale het as kern die lyding van vroue en kinders. Joubert sê: 'Dit maak nie saak wie die vyand is nie, die vergrype teen die mens is dieselfde. Sodra honger oorneem, word die mens soos ’n dier.' " (Uitgewers se inligtingstuk)
Tydens die bekendstelling van Immer wes in Bloemfontein vertel Irma aan Elretha Britz (Volksblad, 26 November 2015) dat die storie losweg gegrond is op ’n ware verhaal wat sy by ene Rod Gribnitz gehoor het.
"Sy ma, het hy vertel, is in 1896 in Rusland gebore en was agt jaar oud toe die Russies-Japanse oorlog en die gepaardgaande Bolsjewistiese revolusie teen die tsaar uitgebreek het. Baie Baltiese adellikes is gevang en na Siberië verban. Rod se voorsate het met die hulp van ’n goedgesinde Joodse handelaar ontsnap. Só het hulle in Königsberg geland waar ook Hildegard ná hul vlug uit Rusland haar bevind het. Vrede was van korte duur, want hulle was skaars daar toe die Eerste Wêreldoorlog in 1914 uitbreek.
"Hierna verloop Hildegard se verhaal anders as dié van Rod se ma. Wat wel ooreenstem, is dat derduisende Europeërs oor die jare verder wes moes vlug voor die kommuniste uit en in die proses telkens al hul aardse besittings verloor het."
Irma vertel aan Elretha Britz (Volksblad, 29 September 2015): "Die titel dui op Hildegard wat telkens in ’n westelike rigting vlug, van Rusland na Oos-Pruise, na Berlyn en uiteindelik na die destydse Duitswes."
Irma het al gesê: "Wat is ’n storie sonder ’n liefdeslyn om die grusaamhede van die oorlog verteerbaar te maak," en in Immer wes is dit ook so.
Irma het vir Immer wes deeglike navorsing in Duitsland gaan doen. In Berlyn het sy gaan loop in die gebied waar Hildegard gewoon het – "om ’n gevoel van die omgewing te kry en te sien hoe die huise lyk. ’n Vaart op die Spreerivier soos Hildegard en haar man dikwels onderneem het, was ook deel van haar verkenning.
"Die feit dat Hildegard nie ’n Nazi-aanhanger was nie en haar man wel, behoort ’n interessante teenstrydigheid vir Duitse lesers te wees."
Vir Irma was die skryf van Immer wes een van haar moeilikste dinge wat sy nog gedoen het – nie soseer vanweë die inhoud van die boek nie, maar as gevolg van persoonlike omstandighede, onder andere die dood van haar moeder. Groot dele van die boek is langs haar moeder se bed in die hospitaal geskryf.
Irma het ook al klaar die raamwerk van die volgende twee boeke in haar kop. Die trilogie word nie aanmekaar verbind deur die karakters nie, maar deur eenderse omstandighede. In Immer wes word vroue en kinders se lyding in die twee Wêreldoorloë in Duitsland uitgebeeld. Die tweede boek het Nederland as agtergrond en die derde een Brittanje.
Willie Burger was die resensent van Immer wes in Vrouekeur van 5 Februarie 2016. Volgens hom gaan dit ook in hierdie roman nie net slegs oor een liefdesverhouding nie, maar oor ingewikkelde verhoudings tussen mense wat gesitueer word teen die agtergrond van ’n verwarrende geskiedkundige gebeurtenis.
Burger gaan voort: "Immer wes lok die leser in ’n vreemde historiese werklikheid in deur die ervaring van ’n dogtertjie wat later ’n vrou word, uit haar eie beperkte begrip van die wêreld aan te bied. Terwyl die leser by haar emosionele wêreld van ’n afsydige ma, ’n afstandelike pa, ’n liefdevolle oppasser, ’n koue huweliksverhouding en haar ervaring van onderdrukking en hongersnood ingetrek word, word ook baie inligting oor die historiese gebeurtenisse gegee. Die leser ervaar as ’t ware die geskiedenis van 'binne'.
"Soos die karakters uit haar ander romans, word Hildegard se geloof in God ook beproef en sy vind uiteindelik rus en vrede ten spyte van die ontwrigtende gang van die geskiedenis. Dit is waarskynlik hierdie troos wat telkens in Joubert se romans teenwoordig is, wat verder tot die gewildheid daarvan bydra – selfs nog meer as die fyn besonderhede van die historiese gebeurtenisse (want vir die verskillende vertalings word die historiese gebeurtenisse blykbaar aangepas)."
Behalwe enkele punte van kritiek soos dat daar ’n paar clichés in Immer wes voorkom en dat van die gebeure dalk té dramaties beskryf is, is Riette Rust (Rapport, 13 Desember 2015) ook baie positief oor die roman. "Al die los verhaaldrade word netjies saamgeknoop. Daar sal waarskynlik literati wees wat ’n gesofistikeerde slot sou verkies, maar dié roman is nie op hulle gemik nie. Immer wes is een van die beste leeservarings wat jy in ’n lang tyd sal hê. Gordel vas vir ’n emosiebelaaide rit deur oorlog."
In Volksblad (16 November 2015) is Karla Janse van Vuuren ook vol lof vir Immer wes: "Weer eens verf dié vaardige skrywer beelde met woorde en word die vernietigende loopgrawe van die Eerste Wêreldoorlog en Adolf Hitler se maniese tirades ’n werklikheid in jou hande. Die enigste teleurstelling is dat ek my nie nou al in die tweede boek van die trilogie kan verdiep nie."
Vir Elbie Adendorff was daar ook ’n paar punte van kritiek, soos die "mooi slot" en die paar geforseerdhede in die taal, maar ten spyte hiervan is Immer wes ’n verhaal wat beslis gelees kan word, "want dit verwoord nie net die verhaal van ’n vrou in oorloggeteisterde omstandighede nie, maar veral die verhaal van hoop en ’n toekoms uit die oorlog uit."
Die tweede deel van Irma se trilogie oor die swaarkry van kinders en vroue in oorlogtyd, Mentje kind van Pas-Opkamp, is in 2017 gepubliseer. Hierdie verhaal speel in Nederland af. Sy was al goed aan die gang met Immer wes toe sy die eerste maal van die weggesteekte dorp in Nederland hoor. En dit was die impetus vir Mentje.
Hierdie "dorpie" wat eintlik net bestaan het uit ’n paar verskuilde hutte wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die bosse naby Nunspeet opgesit is, was die wegkruipplek van meestal Jode gedurende die oorlog.
’n Regsgeleerde, ene Von Baumhauer van Vierhouten, het die inisiatief geneem om hierdie skuilplek teen die Duitsers op te rig en "Oupa" DD Bakker en se vrou, "tante" Cor was sy helpers om die vlugtelinge daar te versteek. Ná ongeveer ’n jaar, in 1944, is die skuilplek deur Duitse soldate ontdek en is die "onderduikers" tereggestel. En dit is die punt waar Mentje se storie begin.
Irma het aan Elretha Britz vertel (Beeld, 22 November 2017) dat al die karakters in die eerste derde van Mentje geleef het en hul name, Han, Bart, Wim en Flora, was hul regte name: "Ek het hierdie inligting gevind in ’n boek waarin dié mense se beskrywings van gebeure in die versteekte dorp opgeteken was.
"Op ’n navorsingsbesoek aan Nederland het ek die jonger broer van dié vier betrokkenes, Hans, ontmoet en volgens hom is my weergawe presies soos hulle dit aan hom vertel het. Mentje se pa was een van dié wat gehelp het om die Jode daar te laat skuil, maar hy is ongelukkig gevang.
"Die tweede deel van die boek gaan oor die Slag van Arnhem, wat ’n absolute fiasko vir die Geallieerde magte was. Veldmaarskalk Bernard Montgomery het valskermsoldate agter die Duitse linies laat land waar meer as 10 000 uitgewis is. Ek het dié veldslag gekies omdat Suid-Afrikaners betrokke was en ek ’n Suid-Afrikaanse verbintenis wou inbring.
"Die derde en laaste deel speel in Suid-Afrika af. Daaroor wil ek nie nou iets sê nie. Dit is egter geen liefdesverhaal nie. Mentje is maar 13 jaar oud wanneer die boek eindig. Die derde roman in die trilogie sal die los drade van Immer wes en Mentje saamvat."
Hierdie tweede verhaal in die trilogie vertel die storie van Mentje, ’n Nederlandse dogter wat nadat haar pa verdwyn het, saam met ’n klompie Jode in ’n gedeeltelik ondergrondse kamp in ’n woud die Duitsers probeer ontvlug. Toe iemand hulle egter verraai, moes hulle vlug en só beland Mentje in Arnhem by familie. Die tante was onwillig om haar te huisves, maar aangesien dié so geknak is na die dood van haar man, is dit Mentje wat die rol van die ouer moet inneem.
In Arnhem raak Mentje betrokke by twee Suid-Afrikaners, Tinus en Andrew, wat sy versteek en verpleeg. Só beland sy in Suid-Afrika waar sy haar met Tinus as haar voog op hulle plaas bevind.
Trisa Hugo het Mentje vir Volksblad (4 Desember 2017) geresenseer en veral die menslikheid in oorlogsromans fassineer haar: "Veral waar die klein onskuldige kind, wie se lewe oorweldig en verander word deur die oorlog, ’n hoofkarakter is. Hierdie verhaal kan wat dít betref, sy skoene volstaan langs boeke soos onder andere The boy with the striped pajamas deur John Boyne, Little girl lost deur Barbie Probert-Wright en die plaaslike Wilhelmina: kampkind op Java van Mariël le Roux.
"Die skrywer slaag uitstekend daarin om ’n slim, dapper meisie se leefwêreld te verbeel. Die skrywerstem bly grootliks op die agtergrond, waar dit hoort. Die leser beleen Mentje se wêreld asof mens die kindjie ken. Navorsing en geskiedenisfeite is deurgaans uitstekend in die verhaal geïntegreer. (...)
"Tans is Joubert waarskynlik die gewildste plaaslike skrywer van historiese romans en met Mentje bewys se weer waarom. Die boek lees maklik, die feite is histories korrek en op só ’n manier in die boek ingevleg dat die grense tussen feite en fiksie vervaag. ’n Mens is die hele tyd bewus van die ongelooflike spanning van die oorlog, tot by die verrassende ontknoping. Dit laat ’n mens ook uitsien na die derde boek, wat belowe om te vertel wat uiteindelik van Mentje en Tinus word, en ook van Hildegard uit die eerste boek van die trilogie, Immer wes."
Irma se boeke wat in Nederlands vertaal is, is daar net so gewild soos die Afrikaanse boeke in Suid-Afrika. Dit was vir haar ’n baie groot verrassing toe die versoek gekom het dat hulle haar boeke in Nederlands wil vertaal. “Een van die redes is omdat die Nederlandse mark versadig is aan Amerikaanse fiksie. Boekhandelaars het die uitgewers gevra om met iets nuuts vorendag te kom,” vertel Irma aan Elretha Britz in Die Burger (26 Julie 2012).
“Dit is toe dat Corinne Vuijk van die uitgewer Mozaïek gereken het Tussen Stasies is ideaal om die gaping te vul. Sy het die Engelse sinopsis gelees – sy ken nie Afrikaans nie – en die boek na Dorienke gestuur, ’n vertaler met ’n besondere belangstelling in Afrikaans.”
En dit was dit. Binne 18 maande is vier van Irma se boeke vertaal. “Die vertalings is feitlik woord vir woord. Net ons idiome en streektaal-dialoog was vir Dorienke ’n probleem,” aan Elretha Britz.
Die romans is uitgegee met die mooiste omslae. Die tonele op die omslae sluit bymekaar aan – almal het ’n vrouefiguur op die buiteblad wat van agter gesien word.
Intussen was Irma in Mei 2012 in Nederland om haar boeke daar te gaan bemark. Die uitgewer Mozaïek het haar soontoe geneem en vir Irma was dit ’n ongelooflike klompie dae, vertel sy aan Britz. “Dit was die moegste wat ek ooit was – 10 dae van twee optredes per dag, sewe media-onderhoude, ’n video-opname vir YouTube, baie bederf-uitstappies en ’n melktert-‘verrassing’ op elke geleentheid. Maar dit was ook die opwindendste gebeurtenis in my professionele lewe. Toe ek skool gehou het, was atletiek teen die buurskool die hoogtepunt van ons jaar. Nou is ek as skrywer op ’n buitelandse toer geneem en ek het maar sewe jaar gelede begin skryf.”
Reuse-plakkate het haar begroet by die boekwinkels waar sy opgetree het. Haar romans het in die winkelvensters gepryk en groot getalle mense het die bekendstellings bygewoon. “Hulle het ’n leeskultuur wat ons nie hier ken nie.”
In Augustus 2012 het die Vrouelandbou-unie van Mpumalanga (VLUM) Irma Joubert as hul skrywer van die jaar aangewys en vir Esra Bosch as die kunstenaar van die jaar. ’n Oorkonde is tydens die Malieveldstreek se winterstreekvergadering aan Joubert oorhandig.
In 2013 was Irma Joubert een van die finaliste vir die Bloemfonteiner van die Jaar. In 2014 het die Suid-Afrikaanse Biblioteekvereniging Anderkant Pontenilo aangewys as een van die gewildste boeke in 20 jaar in Suid-Afrika. Ook in 2014 het sy die Week van die Afrikaanse Roman saam met ander prominente Afrikaanse skrywers soos onder andere Marita van der Vyver en Etienne van Heerden in Nederland bygewoon. In November 2014 het sy ook ’n eerbewys van haar alma mater, die Universiteit van Pretoria ontvang, naamlik die Alumni se hoogste eerbewys, die TuksAlumni-Laureaat.
2014 was ’n goeie jaar vir Irma Joubert. Benewens al bogenoemde toekennings is sy ook in Nederland bekroon met die Publieksprijs Christelijk Boek 2014 in die kategorie vertaalde fiksie. In 2016 was Immer wes op die kortlys van die Nielsen-boekverkopersprys. Vandat die boek in November 2015 op die rakke verskyn het, moes LAPA dit binne twee maande herdruk. Immer wes is ook in 2016 benoem as ’n finalis vir Huisgenoot se Tempo-beeldjie in die kategorie Leesboek van die Jaar.
In sy Pérsomi-resensie sê Cas van Rensburg dis nie ’n werk wat byvoorbeeld met Marlene van Niekerk se Triomf vergelyk kan word nie, “maar miskien is dit net so ’n belangrike werk in die kringe van diegene wat nie lesers van hoge letterkunde is nie. En dit is hierdie lesers van goed geskrewe en toeganklike romans wat uiteindelik Afrikaans as ’n skrywerstaal sal laat voortbestaan.”
Irma se reaksie hierop: “Dis die beste opsomming van my werk wat ek nog gehoor het. Ek skryf nie hoge letterkunde nie. Ek lees dit wel, want dis my plig, en ek kan verstaan hoekom dit goed is – maar dis nie wat ek wil skryf nie. Ek wil eenvoudige, ware stories in lekker Afrikaans vertel.
“Ek sal seker nooit kontroversiële boeke skryf nie. Ja, daar is soveel omstredenheid in die wêreld, maar ek loop daarby verby. ’n Mooi storie, dis waarvoor ek lief is. As ons jonk is, droom ons van die wonderlike lewe wat ons gaan lei, die verskil wat ons gaan maak. Maar op die ou end word dit nooit waar nie, maar op ’n manier is ons almal tóg gelukkig. As my boeke eindig met: toe leef almal gelukkig saam, is dit nie storieboekgelukkig nie, maar waarheidgelukkig. Dis mos maar die lewe, is dit nie?” (Hanlie Retief in Rapport, 6 Februarie 2011)
Ook die Amerikaners is opgewonde oor die stukkie Suid-Afrikaanse goud wat hulle raakgeboor het. HarperCollins was nog nie eens klaar met die vertaling van Tussen stasies nie, toe vra hulle nog van haar boeke aan.
Die Nederlandse vertaling van Immer wes met die titel Hildegard is in 2016 binne twee weke nadat dit verskyn het, uitverkoop.
Tussen stasies heet in Engels The Girl From the Train en is in die VSA gekies deur die Target Book Club wat beteken dat die eerste oplaag aldaar ’n minimum van 40 000 is. Daar is ook beplan dat Tussen stasies in 2017 op rakke in Noorweegse boekwinkels beskikbaar sou wees.
The girl from the train was ook in 2016 een van die drie finaliste vir die Christy Awards wat die hoogste prys vir Christelike lektuur in Amerika is en sover Irma se uitgewers kon vasstel, is dit die eerste maal dat ’n vertaalde werk vir hierdie prys benoem is.
Tussen stasies is ook al in Duits vertaal en is ook daar ’n reuse-sukses. Dis reeds in ’n vierde druk, al is Das Mädchen Aus Dem Zug eers in 2014 uitgereik. Ver wink die Suiderkruis is ook intussen op Duitse winkelrakke te kry.
Oor haar skryfwyse vertel Irma in Maart 2017 tydens ’n optrede by die Woordfees as volg: “Ek is nie so kreatief dat die storie my lei nie. Geordenheid kom seker maar uit my onderwysdae. My wiskunde is nie so goed nie, so ek werk op 120 000 woorde met 12 hoofstukke van 10 000 woorde elk. Tipies Afrikaanse onderwyseres, begin ek met die bekendstelling en motoriese moment, verwikkeling, ontknoping, verwikkeling, ontknoping en so gaan dit aan. Dan werk ek van agter af terug: Die laaste hoofstuk is die oplossing, die tweede laaste die klimaks en die hoofstuk voor dít die krisis.”
Irma Joubert se resep vir die skryf van ’n roman:
- Maak seker jy het ’n boeiende storie met ’n spanningslyn. Jy moet van die begin af weet hoe jou roman gaan eindig.
- Ken jou karakters – ken elke faset van elke karakter.
- Moenie die storie aan jou leser vertel nie – wys die storie aan jou leser. Laat die storie deur middel van "showing" gebeur.
- Ken die ruimte waarin die storie afspeel en maak seker jy ken die omstandighede waarin die storie lewe kry. Doen navorsing!
- Moenie mooi skryf nie. Skryf funksioneel. Skryf realisties. "Die oomblik wat die leser die eerste keer dink die toeval raak nou een te veel, verloor jou roman sy geloofwaardigheid."
- Ken jou skryfreëls. Om spel- of taalfoute te maak, is eenvoudig nie ’n opsie nie. Belê in ordentlike woordeboeke en ander hulpmiddels soos die Skryf Afrikaans van A tot Z en die Afrikaanse woordelys en spelreëls. (Volksblad, 24 Augustus 2011)
Publikasies:
Publikasie |
Vonkpos vir die hart |
Publikasiedatum |
2005 |
ISBN |
0799334952 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: Romanza |
Literêre vorm |
Liefdesverhaal |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
’n Beskermengel vir Marlene |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
0799336017 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: Romanza |
Literêre vorm |
Liefdesverhaal |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
- |
Publikasie |
Verbode drif |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Ver wink die Suiderkruis |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Tussen stasies |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Veilige hawe (duet) |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780799343434 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Anderkant Pontenilo |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780624047018 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
ATKV-prys vir Liefdesromans 2010 |
Vertalings |
Nederlands Pontenilo vertaal deur Dorienke de Vries 2011 |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Pérsomi, kind van die brakrant |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780624049340 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Kronkelpad |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780624053873 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Tuiskoms: stories oor die liefde |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780624052791 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Tolbos |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
9780799364033 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Immer wes |
Publikasiedatum |
2015 |
ISBN |
09780799376968 (sb) |
Uitgewers |
Pretoria: LAPA |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Artikels oor Irma Joubert beskikbaar op die internet
- Bloemhof, François: Sy skryf én vertel so lekker
- Britz, Elretha: Irma Joubert beleef blomjaar
- Britz, Elretha: Joubert se boeke in Nederland gewild
- Britz, Elretha: Joubert se pennevrug ook treffers in Europa
- Dempers, Adéle: Irma Joubert – passievol oor die lewe, mense en skryfwerk
- Du Buisson, Theuns: Joubert sal “nooit kan skryf oor gebroke gesin”
- Erasmus, Louwna: Irma Joubert goed tuis in koue Bloemfontein
- Green, Phyllis: Passie vir geskiedenis laat Irma Joubert skryf
- Irma Joubert
- Irma Joubert
- Irma Joubert
- Irma Joubert
- Irma Joubert
- Irma Joubert
- Irma Joubert
- Irma Joubert besoek Douglas
- Liebenberg, Danila en Marais, Willemien: Irma Joubert stel boek in Bloemfontein bekend
- Mari: Nuwe uitgawes van Irma Joubert se Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies nou op die rakke
- Retief, Hanlie: Geskiedenis en skryf vat hande
- Salzwedel, Ilse: Storiejagter
- Schoeman, Lynné: Profiel: Irma Joubert
- Skrywer in Port Elizabeth vir “Tolbos”
- Van der Merwe, Kirby: Solank Jan net daar is
- VLU vereer Irma Joubert
- Week van de Afrikaanse roman - Irma Joubert
Artikels deur Irma Joubert beskikbaar op die internet:
- Dagboek-verhale laat geskiedenis ryklik lewe kry
- Irma Joubert investigates differences between historian and novelist
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Ek kan nie wag vir die laaste boek in die Immerwes-trilogie nie!
Irma het familie geword in ons huis. My Mamma word in Mei 89 en het alles gelees, behalwe Hildegard wat ons nie in die hande kan kry nie. My Mammie wil graag vir haar 'n brief stuur - is dit moontlik om haar e-posadres of telefoonnommer te kry?