Die afgelope paar jaar – veral na verlede jaar se fiasko van begrotingsredes, al drie van hulle – was dit geen plesier om in te skakel om te hoor presies hoe diep in die knyp ons land is nie. Ons, of altans ek, het gehoop dat uncle Cyril een of ander haas uit die hoed sal pluk om ons te red.
Een ding wat ons wel geleer het, is dat ons president se motto skynbaar is: “Slow and easy does it.”
Heelwat goeie dinge het die afgelope jaar of twee gebeur. Eskom en beurtkrag is grootliks iets van die verlede. Dit beteken dat besighede ietwat meer vertroue het om in ons land te belê. Ons is nie meer in ekonomiese rommelstatus nie, wat ook aan besighede meer sekerheid gee wanneer hulle na Suid-Afrika kyk. Danksy Trump se jojo-spelery met tariewe, is daar meer belangstelling in goud en edelgesteentes om in te belê, wat steeds goeie nuus vir ons inhou.
Minister Enoch Godongwana het in sy toespraak selfs melding gemaak van wenke van gewone burgers wat in die begroting ingewerk is. Ek is seker hulle was in elk geval van plan om dit te doen, maar ek is ewe seker ene Renette Oosthuizen, ’n kleinsake-besigheidsvrou, is nog steeds in ekstase dat haar wenk geneem is en selfs op verbeter is. Dis nou dat die BTW-registrasiedrempel vir klein besighede verhoog word van R1 miljoen na R2 miljoen. In die begroting word dit selfs verder verhoog, na R2,3 miljoen. Die grootste verrassing van die begrotingsrede is egter dat meer belasting ingesamel is die afgelope jaar en geprojekteer word vir die komende jaar, met die gevolg dat die beplande R20 miljard belastingvermeerdering (beide persoonlik en besigheid) geskrap kon word.
.......
Die grootste verrassing van die begrotingsrede is egter dat meer belasting ingesamel is die afgelope jaar en geprojekteer word vir die komende jaar, met die gevolg dat die beplande R20 miljard belastingvermeerdering (beide persoonlik en besigheid) geskrap kon word.
........
Dis ook die item wat die grootste applous gekry het. Mense voel die skoen druk, selfs in die parlement waar hulle ons geld soos water deur hulle vingers laat gaan.
Die item waarna ek met die meeste belangstelling uitgesien het, was wat omtrent provinsiale en plaaslike owerhede wat wanpresteer en onderpresteer, gedoen gaan word. Dis immers ’n verkiesingsjaar en mense ervaar munisipaliteite se prestasie as hul eerste interaksie met die regering. Soos ons kiesers meer ervare en gesofistikeerd word, is hulle ook meer geneig om wanpresteerders te straf en nie getrou volgens partypolitieke lyne te stem nie. In my straat wil ek weet die slaggate word toegemaak en die water loop wanneer ek die krane oopdraai, maak nie saak van watter party die raadslid is nie.
Minister Godongwana is duidelik deeglik hiervan bewus, want daar word ’n prestasiegebaseerde benadering tot munisipaliteite wat hulp nodig het, aangekondig. En as hulle steeds nie presteer nie, gaan hulle begroting verminder word. Of dit in die praktyk beteken ook munisipaliteite wat nie deur die ANC gelei word nie, kry ewe veel van ’n helpende hand, is natuurlik nog ’n ope vraag. En hoe gemaak met koalisies waar die partye so besig is om te baklei (in my munisipale owerheid by geleentheid letterlik) dat hulle nie daarby uitkom om behoorlik hul inwoners te bedien nie? Boonop, as die munisipaliteit nie hul geld kan hanteer nie en dit gaan na wat die minister noem “an indirect model”, waar die begroting deur ’n derdeparty hanteer word, beteken dit nie daar is nuwe geleenthede vir korrupsie nie?
........
Verdere goeie nuus is dat infrastruktuur opgeknap gaan word en dat voldoende geld, hoofsaaklik van privaatinstansies, bekom word dat dit wel gedoen kan word. Dis een groot verandering van vorige regerings. Daar word baie meer van die privaatsektor se vaardighede, en geld, gebruik gemaak om regeringsdoelwitte te bereik.
........
Verdere goeie nuus is dat infrastruktuur opgeknap gaan word en dat voldoende geld, hoofsaaklik van privaatinstansies, bekom word dat dit wel gedoen kan word. Dis een groot verandering van vorige regerings. Daar word baie meer van die privaatsektor se vaardighede, en geld, gebruik gemaak om regeringsdoelwitte te bereik.
Die toename in Sassa-toelaes was geen verrassing nie, veral nie in ’n verkiesingsjaar nie. Boonop kan hulle teen hierdie tyd maar aankondig dat die SRD-toelaag permanent gemaak word. As hulle dit wou wegneem, moes dit onmiddellik na Covid 19 amptelik oor was gedoen word. Nou is dit te laat en te veel mense het ’n verwagting dat hulle daai geld sal ontvang.
........
My ander groot bekommernis is die beplande toename in datasentrums, waar kunsmatige intelligensie gebruik sal word. KI is die gonswoord van die oomblik, maar nie genoeg mense besef watter ongelooflike druk dit op ons waterbronne sal plaas nie. Die datasentrums gebruik water en elektrisiteit genoeg om stede aan die gang te hou. En gewoonlik is dit die armer gemeenskappe na aan die sentrums wat die prys betaal, deurdat hulle nie voldoende water en elektrisiteit sal hê nie.
........
My ander groot bekommernis is die beplande toename in datasentrums, waar kunsmatige intelligensie gebruik sal word. KI is die gonswoord van die oomblik, maar nie genoeg mense besef watter ongelooflike druk dit op ons waterbronne sal plaas nie. Die datasentrums gebruik water en elektrisiteit genoeg om stede aan die gang te hou. En gewoonlik is dit die armer gemeenskappe na aan die sentrums wat die prys betaal, deurdat hulle nie voldoende water en elektrisiteit sal hê nie.
Maar oor die algemeen was hierdie begrotingsrede een wat my hoop gee. Dit lyk asof ons besig is om op die regte pad te kom. Laat ons hoop dat die volgende president nie ’n korrupte gek is wat ons terugneem na die Zuma-jare nie.
Lees ook:
Wat sê Bettina? Teleurstellende uitspraak in Mbenenge-tribunaal


