
Foto: Mark Miller, Pixabay
Dit is ’n ou Kaapse tradisie dat die kanonne in Kaapstad elke dag presies om 12:00 afgevuur word. Vroeër jare was die kanonne in die stad, maar in 1902 is hulle na Vlaeberg geskuif nadat inwoners gekla het oor die geraas. Heel vroeg het die kanon geskiet om aan te kondig dat ’n skip in Tafelbaai gearriveer het, maar vanaf 1806 het dit daagliks (buiten Sondae en vakansiedae) net om 12:00 geskiet om die tyd van die dag aan te kondig. Vir die skepe in die baai het dit gehelp om hulle klokhorlosies se akkuraatheid na te gaan. En mense wat in die binneland gewoon het, het op besoek aan Kaapstad hulle horlosies weer ingestel met die afvuur van die middagkanon. Die kanon se daaglikse skoot het mettertyd bekend geraak as “kanontyd”.
Dit is die bietjie geskiedenis wat ek ken. My verbeelding sê vir my dat hoe verder trekboere in die binneland inbeweeg het, hoe moeiliker dit moes gewees het om uurwerke in te stel volgens kanontyd. En doer op die einders van die Oosgrens moes dit later haas onmoontlik geraak het. Soms het daar seker ’n reisiger of sendeling langs gekom – ’n Janssens, ’n De Mist, ’n Campbell of dalk ’n Philip – en dan kon ek hopelik by hulle redelik vars kanontyd kry. En ek kon myself seker ook effens op datum bring met dit wat in die wêreld anderkant die grenslyne van my plaas aangaan. Hoe dit ook al sy, horlosies én oortuigings kan mettertyd uit ritme raak met die ritmes van die res van die wêreld.
Jy hoef egter nie geografies ver van ’n stad af te wees om stelselmatig uit voeling te raak nie. Jy kan gewoon, soos ons almal, net ouer raak. Daaraan herinner ons matriekseun my daagliks. Ja, die lewe verloop al verder weg van die wieg en mettertyd trek ek, of ek wil of nie, insgelyks verder weg vanaf die kanon op Vlaeberg. Daar is alreeds heelwat wat iemand soos ek nie meer raaksien nie en daarom uit voeling is met die tyd. Wat ek wel nog raaksien, gegewe kanontyd, wapper soos die ou Bataafse vlag voor die kasteel in Kaapstad in my gedagtes. Kleurvol in rooi, wit en blou simboliseer dit hoe ek, soos alle mense, besig is om al verder weg te trek vanaf kanontyd.

Foto: Edward Lich, Pixabay
Rooi: Ek begin met rooi as simbool van die struggle en toe ons land gebrand het. So gaan luister ek ’n tyd gelede in die stad na ’n gerekende ouer persoon. Ons is soos fisici wat die kans kry om na Einstein te luister of filosowe na Aristoteles, en sit aan sy voete soos aan die voete van Gamaliël. Vir die eerste halfuur. Daarna loer enkele mense wat bywoon, onderlangs vir mekaar, want dié Geneefse psalm wat gesing word, het hulle al té veel kere gehoor, en daar is nuwer berymings wat beter pas in die tye waarin ons leef. By my het die Hollandse konsep “zelfplagiaat” opgekom. Daar kom ’n tyd vir sommige akademici dat hulle nie werklik iets nuuts sê nie, maar baie graag nog iets wíl sê, en dan sê hulle wat hulle nog altyd gesê het. En jy kán sê wat jy nog altyd gesê het. Hoekom nie. Die vraag is of dit wat jy veertig of selfs vyftig jaar gelede, in 1976, gesê het, inderdaad nog altyd waar is. In die sosiale en menswetenskappe is dit meestal nie die geval nie. Die van ons wat sit en luister en ’n raps ouer is, is ordentlik – ons luister en knik. ’n Jong kollega wat die spreker nie goed ken nie en ’n paar nuwe struggles aan sy eie lyf voel, het egter agterna oor ’n koppie koffie droogweg opgemerk: “Dié uncle kan nou maar regtig aftree.”
Toe ek na die besoek vroegaand tuiskom, toe laat ek my vrou belowe dat sy my, dag en datum wanneer die uurwerk vir my aftrede kantel, soos ’n Springbok-senter sal duik, oor die kantlyn en heeltemal uit die speelveld uit. Kyk, en toegegee, in die ’70’s en ’80’s was die “uncle” se woorde ’n broodnodige evangelie. En wat hy sê, is inhoudelik steeds waar. Maar op ander plekke in die wêreld. Hy besef nie dat hy op die limiete beweeg wat die kanontyd van 2026 betref nie.
Wit: Van daai uncle draai ek na die uncle wat die rubriek skryf. Vir sommige van ons is die verder wegtrek vanaf die middagkanon soos lugtyd van ’n selfoon wat opgebruik word. Om dit blatant te stel: Wit manlike lugtyd is opgebruik. Anders as ’n Danie Marais wat in sy digbundel Ek en jy bestaan nie weet dat ’n wit Marais in sy vyftigs nie bestaan nie, besef alle middeljarige Marais’s nie dat ons nie op hierdie tydstip in die geskiedenis bestaan nie. En ons behoort te verstaan waarom ons nie bestaan nie – daar was ’n paar wit uncles wat my, en my kollegas soos ek, se lugtyd in die dekades voor ons namens ons opgebruik het. Dis soos wit ooms wat in ander lande namens ons gaan praat. Dit beteken nie ons het geen bydrae wat ons meer kan maak nie. Dit beteken wel dat ons pynlik bewus daarvan is wanneer ’n wit uncle terugkeer uit die buiteland vir ’n lesing en nog funksioneer met die kanontyd van 1986. Dan voel dit vir ons asof ons ons in ’n noodtoestand bevind. En dié van ons wat halfpad deur die lewe is en by ’n universiteit werk, loer onderlangs vir mekaar en dink aan Ogden Nash se gedig “Old men”, wat Danie Marais ook aanhaal: “People expect old men to die, / They do not really mourn old men. / Old men are different. People look / At them with eyes that wonder when … / People watch with unshocked eyes; / But the old men know when an old man dies.” Ou wit mans kan ook simbolies sterf, en dan is dit by uitstek ander wit mans wat dit raaksien.
Blou: Kyk, sommiges van die jonger geslag staan vlakby die kanon, maar stel nie hulle horlosies in nie. Dis gewoon ’n verspeelde kans. Hier preek ek net vir myself. En my relaas klink dalk soos ’n antiwit, antiman- en antigeriatriese strydskrif. Dis nie die bedoeling nie. Ouer mense, en ook wit mense, selfs sommige mans, kan nog ’n mooi bydrae lewer. Indien ek besef dat “blou” rym met “hou” in “soms ook weet wanneer om my mond hou”. Soos wat ek ál hoe verder wegtrek van die middagkanon, en my gehoor swakker raak, is die beste remedie om dalk eers net te luister totdat ek weer die kanon hoor skiet. En wanneer ek die klank weer helder hoor soos ’n klok wat lui, ook net doodseker maak dat ek weet waar die bel hang. So kan ek verhoed dat ek nie, in die woorde van Danie Marais, klink soos “’n ou wat sy hande met reënboogseep / in wit magteloosheid wil was” nie. Ek kan eerder net my kanontyd aanpas vanaf 1976, 1986, of watter dekade dit ook al in vasgehaak het, en lank staar na die syfers van 2026.
Lees ook:
Ek en jy bestaan nie deur Danie Marais: ’n LitNet Akademies-resensie-essay
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n Visuele resensie van Albert Pretorius se Ek is nie Danie


Kommentaar
Ek lees nog heel lekker aan wit ou toppies se gewaarwordings. Miskien is insig belangriker as kleur, ouderdom en oppervlakkige aannames.