
Titel: Donkerster
Skrywer: Annerle Barnard
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637007351
Annerle Barnard se Donkerster was die naaswenner van 2023 se LAPA-jeugromankompetisie. Naomi Meyer vra vir Annerle waaroor die boek handel – en hoekom dit die ideale leesstof vir hierdie kort herfsvakansie is.
Annerle, ek wil met jou praat oor jou jeugverhaal Donkerster – en kom ons spring by die diep kant in. Ons almal wil in die regte lewe iets doen om stroping in die land te bekamp. Nou laat jy sommer die hoofkarakter in jou storie dit doen. Carli ry van kleins af saam met haar pa rond as hy sy werk doen. Wie is Carli, wie is haar pa? En watse werk doen hy? Wat gebeur in die storie?
Carli Kirstein (17) is ’n jeugdige met ’n passie vir wildbewaring. Ek het nogal op ’n manier aan die bekende jeugdige omgewingsaktivis gedink toe ek met Carli as karakter gestoei het. Carli bemoei haar egter nié met klimaatsverandering nie, maar slegs met die bewaring van wild en bedreigde spesies in Suid-Afrika. Haar ouers is albei veeartse en sy het van kleins af saam met haar pa rondgery. Dis juis na ’n insident met renosterstropery wat haar pa moes hanteer dat Carli besef het dat sy ’n passie vir wildbewaring het.
Carli het twee vriende, Hilda en Sam. Die drie van hulle word by die skool geboelie omdat hulle besonder slim en vreemd is. Al drie karakters het hulle eienaardighede en nie een pas regtig by dit wat as “normaal” beskou word in nie.
Carli is verlief op Wouter (ook 17), ’n uithalerkrieketspeler wat haar eintlik net vir haar vaardighede met wiskunde misbruik. Dan betree Stef, die bure se seun, die prentjie. Stef (23) is baie sjarmant, en werk saam met Carli se ma by Vetpharm, die nabygeleë mediese navorsingsentrum (dieremedisyne). Stef is baie welaf. Xander (19), ’n veeartsenykundestudent, doen vakansiewerk by Vetpharm en as haar pa deur ’n perd geskop word min of meer toe Xander se vakansiewerk by Vetpharm tot ’n einde kom, bied haar pa Xander verdere vakansiewerk aan. Carli leer hom ook dus beter ken.
Via die eienaar van die nabygeleë Wild Cat Sanctuary verneem Carli dat leeustropers bedrywig is in die omgewing. Die eienaar doen stappe om enige stopery by die Wild Cat Sanctuary te verhoed en Carli raak betrokke sonder om haar ouers daarvan in kennis te stel. Haar 11-jarige boetie, Julian, neem ook deel, en op die ou einde is hulle lewens in gevaar. Een van die persone wat sy ken en vertrou het, is ook by die stropery betrokke.
Carli se toewyding aan wildbewaring bring nie net haar eie lewe in gevaar nie, maar ook die van die mense vir wie sy omgee.
Ek maak sommer ’n aanname as ek sê jy laat jou karakter iets doen wat ons almal wil doen. Is dit in jou geval waar? Het jy ’n behoefte daaraan om wildstroping te bekamp? Is jy lief vir diere? Wat was die inspirasie vir die storie?
Ek raak woedend wanneer ek in die media lees van stropery. Ja, die mense wat die diereprodukte as medisyne aankoop, glo dalk dit het medisinale waarde, maar die stropers weet gewoonlik dat die dier geen medisinale waarde het nie. Dit gaan gevolglik alles oor geld. Dis ’n misdaad en niks anders nie. Ook gee die stropers nie om hoe die diere ly nie.
(Mense sê dat die stropers dikwels arm mense is wat net ’n lewe wil maak, maar as ’n mens net ’n lewe wil maak, hoekom vermink jy ’n renoster – of wat ook al – terwyl die dier nog lewe?)
............
Die inspirasie vir die storie kom vanuit verskeie oorde. Enersyds het ’n vriend van ons vertel hoe die renosters op sy plaas gestroop is. Hy was oneindig hartseer daaroor. Toe tref daai veearts in die Limpopo wat by stropery betrokke geraak het, die nuus. Dis toe die einste veearts wat na ons vriend se diere omgesien het as daar ’n probleem was. (Dáárom is een van die mense wat Carli vertrou het, by stropery betrokke.)
...............
Die inspirasie vir die storie kom vanuit verskeie oorde. Enersyds het ’n vriend van ons vertel hoe die renosters op sy plaas gestroop is. Hy was oneindig hartseer daaroor. Toe tref daai veearts in die Limpopo wat by stropery betrokke geraak het, die nuus. Dis toe die einste veearts wat na ons vriend se diere omgesien het as daar ’n probleem was. (Dáárom is een van die mense wat Carli vertrou het, by stropery betrokke.)
Ek praat toe met twee regskundiges om uit te vind waarom stropers stroop. Die een meen toe geld. Die ander een voeg by: Dikwels doen die persoon iets wat maak dat die stropers ’n houvas op hom/haar kry. En dan is dit neusie verby, want die persoon word dan deur die sindikaat beheer.
Wat die veearts in Limpopo betref: Ek weet nie wat die motief was nie. Ek weet net dis dikwels mense van wie jy dit die minste verwag wat by ’n misdaad (relevant tot hulle werk) betrokke is. Mens verwag nie dat ’n veearts sal stroop nie, ook nie dat ’n maatskaplike werker by pedofilie betrokke sal wees nie, ook nie dat ’n predikant ’n buite-egtelike verhouding sal hê nie (alles werklike sake wat in die media was).
Andersyds was dit nuusberigte wat ek oor stropery gelees het wat die storie geïnspireer het. Dis ’n werklike en realistiese probleem. Baie aktueel.
Ja, ek gee om vir diere, maar ek is glad nie ’n skootdiertjiemens nie.
Dis nie net meisies wat lief is vir diere wat van jou boek sal hou nie. Die storie sal ook spreek tot tienermeisies en vroeë liefde- of verliefdheidsservarings. Wie is al die karakters in jou storie?
Ek dink dis ’n boek vir 14–90+. Dis aktueel. Dis relevant!
Carli Kirstein is, soos ek gesê het, 17 en benewens haar passie vir bewaring is sy superslim.
Sam (ook 17) stry teen albinisme en sy stryd is parallel met dié van die leeus. Nes sommige mense glo dat leeubene genesing vir kwale bring en medisinale waarde het, glo sommige mense dit ook oor mense met albinisme se liggaamsdele. Dis natuurlik als nonsens. (En ja, ek het ’n probleem daarmee as mens óf dier ’n onreg aangedoen word.)
Hilda (17) is Duits. Haar ouers is beide ingenieurs en sy aard na hulle: baie presies, baie wetenskaplik georiënteerd, en sy het geen takt nie. Sy sê dit soos dit is.
Wouter (17) is die skool se krieketster. Hy speel op skool reeds provinsiale krieket. (Ek weet van persone wat dit gedoen het, dus is dit heeltemal realisties.) Wouter is as die komende jaar se hoofseun aangewys. Die skool verwag hy moet uitblink in krieket én akademies presteer, maar dis moeilik vir hom om by alles uit te kom. Die druk is net te veel.
Stef (23) is baie sjarmant en laat Carli aan Ronaldo (die sokkerspeler) wat sy voorkoms aanbetref, dink. Hy is Vetpharm se finansiële bestuurder. Sy pa wou hê hy moet veeartsenykunde studeer, maar Stef wil eintlik ’n CFA (Chartered Financial Analyst) wees, nie slegs ’n finansiële bestuurder nie. Sy pa verwyt hom vir die mens wat hy is en dink daar is slegs een beroep wat die moeite werd is.
Xander (19) stoei met sy eie spoke. Hy gaan die komende jaar sy tweede jaar in veeartsenykunde doen. Sy ma het hom en sy pa verwerp en getrek weens ’n insident wat plaasgevind het toe Xander self nog ’n kind was. As volwassene het hy weer met haar probeer kontak maak, maar sy stel nie eintlik in sy wel en wee belang nie.
Waar kom die titel van die boek vandaan?
Teoreties gesproke kan donker sterre groei om 10 miljard keer meer lig as die son te verskaf (volgens wetenskaplikes). Carli is ’n donker ster. Sy verskaf lig in ’n duister wêreld. Sy gee om. Sy verskaf genoeg lig om met ’n hele heelal vol sterre te kan meeding. Maar op die oog af is haar ster tans donker. By die skool voel sy soos ’n uitgeworpene.
...........
Teoreties gesproke kan donker sterre groei om 10 miljard keer meer lig as die son te verskaf (volgens wetenskaplikes). Carli is ’n donker ster. Sy verskaf lig in ’n duister wêreld. Sy gee om. Sy verskaf genoeg lig om met ’n hele heelal vol sterre te kan meeding. Maar op die oog af is haar ster tans donker. By die skool voel sy soos ’n uitgeworpene.
..............
Die titel sluit ook aan by Sam se fassinasie met sterrekunde. Op bladsy 100 sê Sam Carli het gedink Wouter was haar sterstof, maar hy’s soos die atmosfeer op Venus.
Hoekom is die storie goeie vakansievermaak vir hierdie kort stukkie herfsvakansie wat nou wink?
Die storie lees lekker. Dié blitsblaaier het genoeg kinkels om leser aan die raai te hou. Donkerster is ’n kombinasie van romanse en spanning, en daarom sal seuns én meisies daarvan hou. Wat ouer persone betref: Die tema is relevant, en as jy wil weet waarby die jeug alles betrokke is, lees jeugfiksie!
Lees ook:
Sanlamprys vir Jeuglektuur-kortlys 2021: ’n onderhoud met Annerlé Barnard

