Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Waar die doringbome sing
Skrywer: Elize Parker
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779880161
“Hierdie oestyd is haar eie vrugte bitter op haar tong.” (bl 151)
“Die lewe gaan onteensegtelik voort. Soos pa Gert sou sê: Stil vloei die Komati.” (bl 132)
Waar die doringbome sing is die derde in die reeks van Elize Parker se sogenaamde Laeveld-trilogie. Dit volg op Stil vloei die Komati (2021) en Wanneer skaduwees kantel (2023).
Laat ek maar erken: Parker skryf nie eintlik die soort boeke wat ek graag lees nie. Sy dra egter vele hoede, en dit is veral met die koerantartikels waar my belangstelling in haar skryfwerk die meeste geprikkel word. Baie mense ken haar ook as die voormalige troostante van Huisgenoot, en daar is ook ander interessante uiteenlopende publikasies uit haar pen, soos Een cappuccino en ’n creme soda, asseblief (2015), ’n uitvloeisel van die pandemie van enkelouers, spesifiek enkelmoeders. Met die Laeveld-reeks weef Parker egter die wêrelde van omgewingsbewaring en mensehandel met haar meer tradisionele onderwerpe soos liefdesverhoudinge en godsdienstige tematiek. Die resultaat was drie boeke wat selfs vir my heel leesbaar was.
In Waar die doringbome sing keer die drie Van der Walt-niggies weer terug, en die storie van die Bateleur-landgoed word hervat. Soos in die vorige twee boeke is die verhaal weer in drie dele verdeel, en begin die vertelling by Lenore, waar sy die stukke optel na al haar vorige wedervaringe, ’n verwoestende brand en die heengaan van Theuns. Daar is bedreigings soos die mynbou en wildstropery, terwyl aansienlike gedeeltes van die boek iets van die dierelewe op die plaas probeer vasvang. Groot opgewondenheid ontstaan op Bateleur weens die toevoeging van Kili, die nuwe “tusker” wat op die plaas hervestig word, en wat beloof om ’n treffer onder die toeriste te wees. Hierdie eienskap van die Laeveld-trilogie (die voortdurende fokus op die wilde diere) dra aansienlik by tot die bekoring wat die verhale inhou, en die boek se karakterlys voorin bevat ’n hele klomp diere as karakters in die verhaal.
Deel twee speel egter in die Boland af. Vir Tarien, wat “vir ’n maand of twee” (101) tydelike skuilplek in haar ouerhuis op die plaas Welgevonden gaan soek het, verander die besoek in permanente verblyf wanneer haar ma se gesondheid verswak. Haar toewyding aan wat sy as haar roeping van God beskou, het sy in die verlede met so ’n mate van ywer en pligsbesef aangepak dat sy intussen besef sy het ander belangrike aspekte van haar lewe afgeskeep, iets wat nooit die wil van God kon gewees het nie. Maar Tarien se werk met die bekamping van mensehandel loop nie dood nie.
Alhoewel die storie deurlopend goeie nuanse behou, skyn die pas ietwat stadiger as dié van die voorgangers te wees – en dit slaag. ’n Geheimsinnige voertuig maak sy opwagting op Welgevonden, en Tarien hervat haar romanse met die sokkerspeler Alan, terwyl haar bemoeienis met mensehandel haar in konflik bring met die plaas se wynmaker. Gedurende die 1990’s was Parker bekend as een van die eerste skrywers van Afrikaanse hygromans. En gemeet aan sommige gedeeltes van Waar die doringbome sing, keer die skrywer soms terug na hierdie wortels van haar. Hoewel dit ’n mens onverwags bekruip, is dit keurige skryfwerk, en sluk mens darem nie jou tong heeltemal in nie.
In die laaste deel van die boek verskuif die fokus dan na Bella, wat in ’n stryd gewikkel is om swanger te word. As gevolg van die eindelose stroom mediese ingrypings waartoe sy haarself wend, het die gesin se finansies onder druk begin verkeer, en het dit selfs haar verhouding met Johnny begin beïnvloed. Ook Bella se innerlike stryd en worsteling met God vorm ’n belangrike deel van die verhaal, terwyl sy verder met spoke uit haar verlede moet stoei. Hierdie selftwis met geloof en die verlede dra veral daartoe by dat die karakters heel oortuigend voorkom. Deel drie se storie ontwikkel voorts om die Covid-pandemie van 2020 in te span as deel van die vertelling, wat donker dae vir toerisme en Bateleur inlei.
Dis amper ’n mens se eerste instink om die drie volumes van hierdie reeks met mekaar te wil vergelyk, maar mens moet seker daarteen waak. Omdat Waar die doringbome sing se pas vir my ’n bietjie stadiger gevloei het dié van die voriges, soos reeds gemeld, was die hele ervaring om hierdie laaste boek in die reeks te lees, vir my egter meer bevredigend as byvoorbeeld met die middelste boek. Dit is omdat die verhaal in geheel meer oortuigend word. ’n Stukkie ouwêreldse sjarme skemer immer deur in Parker se boeke, spesifiek in die taalgebruik en woordeskat, wat uit eie reg die lees die moeite werd maak. Die struktuur van die verhale is dan ook veel meer tradisioneel, en universele tematiek soos geloof, mensehandel, verhoudinge met mens en dier, ens, sorg dat die vertellinge goed genuanseerd bly en mens se belangstelling behou.
Trilogieë, of dit nou in die vorm van boeke of films is, eindig nie altyd goed nie. In die geval van Parker se Laeveld-reeks sal enige mens wat die eerste boek geniet het, waarskynlik by die hele reeks aanklank vind.