
Agtergrondfoto: Ralf Kunze | Pixabay
Titel: Wanneer skaduwees kantel
Skrywer: Elize Parker
ISBN: 9780637003599
Uitgewer: LAPA
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
“Anders as mense, manipuleer en mislei diere jou nie.” (bl 238)
“Daar is altyd lief by die leed. Soet by die suur.” (bl 170).
Elize Parker se Stil vloei die Komati, wat in 2021 gepubliseer is, is ’n boek wat my vandag nog net so opgewonde maak as toe dit verskyn het. Die verhaal speel af in die Laeveld met die drie niggies Lenore, Tarien en Bella se wedervaringe wat sentreer rondom die plaas Bateleur waar die tragedie van ’n skietongeluk van jare gelede by die familie bly spook en patriargoupa Tjaart van der Walt vanuit die graf steeds sy gewig laat geld. Die storie is verder ingekleur deur die uitdagings van renosterstropery en mensehandel. Die enigste element van die boek wat my so ’n titseltjie gesteur het, was die voorblad (en skynbaar ook een leser op die webwerf Goodreads wat die voorblad as “misleidend” beskryf het). Gelukkig steur ek my maar min aan boeke se voorblaaie, maar vir ander lesers kan voorblaaie moontlik meer gewig dra.
Wanneer skaduwees kantel is die opvolg op Stil vloei die Komati en stel die leser bekend aan ’n hele rits nuwe karakters. Trouens, daar is dalk so ’n bietjie te veel karakters na my smaak. Gelukkig is daar ’n alfabetiese lys van karakters voor in die boek. Die uitgewers het waarskynlik geantisipeer dat sommige lesers (soos die uwe) so ’n bietjie hulp sal benodig. Ek kan my nie indink hoe moeilik dit moet wees vir ’n skrywer om ’n trilogie interessant te hou nie. Daarby het ek ook die gawe vervolmaak om teleurstellende trilogieë uit te kies. My verwagtinge het ek dus sonder veel moeite in toom gehou. Wanneer skaduwees kantel vloei nogal vinnig. Dit is nie diep filosofie dié nie. Dit is ’n klomp storielyne wat meesterlik inmekaargevleg is en wat goed daarin slaag om deurlopend spanning te skep en, natuurlik, te ontlont. Parker se boeke is besonder familievriendelik. Daar is geen vloekwoorde nie, amper ondenkbaar in die soort fiksie waarmee ek myself gewoonlik mee bemoei. In ’n sekere sin is die gebrek aan skelwoorde eintlik half onnatuurlik; ’n mens verwag nogal ’n kragwoord hier en daar, veral gegewe die situasies waarin die karakters hulleself by tye bevind en die uiteenlopende aard van mense se persoonlikhede. Maar dan weer sal dié gesaniteerde aanslag waarskynlik spreek tot bepaalde soort lesers. Iets wat ook daarby aansluiting vind, is die buitengewone godsdienstigheid – weer eens ’n saak wat my so ’n bietjie ambivalent laat. Aan die een kant is die amper eindelose verwysings na godsdiens soms so ’n titseltjie te veel na my smaak. Aan die ander kant oortuig dit wel, want ’n mens kan jouself nogal die karakters so voorstel. Heelwat Suid-Afrikaners is immers ’n uiters godsdienstige nasie en die karakters se geloof in God word deeglik getoets.
Soos in Stil vloei die Komati speel die wilde diere in Wanneer skaduwees kantel weer ’n belangrike rol en bly ’n lokaas wat die storie geur gee. Die formaat van die boek is soortgelyk aan die voorganger en is weer in drie dele verdeel, een vir elkeen van die drie niggies se perspektiewe op die gebeure. Bateleur se status quo word bedreig deur die moontlikheid van mynbou-ontwikkelinge in die omgewing. Daar is verraad van binne die eie kring. Onmin ontstaan ook tussen die niggies, terwyl Mosambiek se siklone ’n spoor van ontwrigting laat. Die stryd teen mensehandel duur ook voort. Die een drama dra die saad van die volgende en die dood gooi ook weer ’n verdere skadu oor die familie. Op die keper beskou, is Wanneer skaduwees kantel volgens my beskeie oordeel ’n waardige opvolg van Stil vloei die Komati. Omdat die storie so vinnig vloei, bly dit interessant en boeiend, ’n mens word nooit verveel deur die storie nie. ’n Mens hoef ook nie Stil vloei die Komati te lees om Wanneer skaduwees kantel te kan verstaan nie, maar hoekom sal ’n mens die eerste boek nie wil lees nie? Na dese sien ek beslis ook uit na die derde en finale boek in die trilogie wat in die verskiet lê. Om boeke te publiseer, is ’n spanpoging en Wanneer skaduwees kantel is keurig versorg. Selfs die voorblad is veel meer gepas as wat die geval was met Stil vloei die Komati. In die hele boek kon ek net een enkele skynbare foutjie vind en dit was ’n grammatikale glips op bladsy 115 in ’n sin wat lees: “Sy het dit heel verdiend gekry het oor die sjokoladestafies wat sy saam met Bybels uitdeel vir diegene wat vra.” Behalwe vir die klein amper onbenulligheid, is die boek uitstekend ontwikkel en ’n aangename leeservaring. Ons is bevoorreg om so ’n eindelose stroom van hoogstaande boeke in Afrikaans te lese te kry en Wanneer skaduwees kantel is nog so ’n welkome nuwe toevoeging.