Seks, skoonma’s en skuld: ’n Troostante se gids vir gesonder verhoudings deur Elize Parker – ’n resensie

  • 0

Seks, skoonma’s en skuld: ’n Troostante se gids vir gesonder verhoudings
Elize Parker
Uitgewer: Naledi
SKU: 9781776172573

...........
Soos die titel aandui, is hierdie boek ’n gids vir gesonder verhoudings. Hier kry jy antwoorde op ’n verskeidenheid kwelvrae – daardie dinge wat jou verhoudings kan maak of breek.
...............

Soos die titel aandui, is hierdie boek ’n gids vir gesonder verhoudings. Hier kry jy antwoorde op ’n verskeidenheid kwelvrae – daardie dinge wat jou verhoudings kan maak of breek.

Elize Parker het geen bekendstelling nodig nie. Veertig publikasies in Afrikaans en Engels is al deur haar gepen. Dit sluit Christelike romans, dagstukkieboeke, gebedsboeke en familiesages in.

Sy is ook ’n gesoute joernalis, wat diep spore in veral die omgewingsjoernalistiek getrap het. Sy werk tans vir die niewinsgewende dierewelsynsorganisasie, FOUR PAWS Animal Welfare Foundation.

Terug na dié boek: Met die eerste woord reeds besef jy hier is raad – goeie raad.

Onlangs lees ek een van daardie waarhede wat ’n mens op verhoudingswebtuistes opspoor: “Jy kan nie iemand verwerp net omdat die situasie nie ideaal is nie. Goeie verhoudings werk nie omdat daar nooit probleme is nie, maar omdat mense genoeg omgee vir mekaar om maniere te vind om probleme op te los.”

Dís die kruks van Parker se verhoudingsgids. En wie sal beter weet as Parker? Sewe jaar lank het sy lesers se verhoudingsvrae as troostante by die gesinstydskrif Huisgenoot beantwoord. Sy erken male sonder tal hoe belangrik (en vervullend) dit was om lesers met raad en daad by te staan. Michelle van Breda, redakteur van SARIE, het Parker loopbaan as verhoudingskrywer in haar tydskrif aan die rol gesit. Parker het ook vele verhoudingsartikels vir die tydskrif Lééf met hart en siel geskryf.

Miskien is dit nodig om te sê Parker is ook al deur die smeltkroes en het sakke vol lewenswysheid opgedoen. As ma van twee suksesvolle volwasse dogters wat sy as enkelma grootgemaak het ná twee huwelike agter haar naam, het sy steeds groot respek vir die liefde. Sy het ook ’n sterk spirituele inslag. Danksy deeglike navorsing, sorgsaam verweef met haar eie ervaring, skryf sy omvattend oor ’n verskeidenheid verhoudingskwessies.

Parker se aanslag is empaties (sy is nie veroordelend nie), maar sy draai ook nie spreekwoordelike doekies om nie. Sy doen dit prakties, altyd met ’n effense vonkel in die oog.

Toeganklike struktuur

Deel van die sukses van ’n verhoudingsgids is dat dit maklik moet lees. Hierin slaag Parker goed met ’n boek van 149 bladsye met nege hoofstukke.

Al die hoofstukke gee aandag aan dié vrae wat, uit haar ervaring, die meeste hoofbrekens in verhoudings veroorsaak. Dit sluit in:

  • Wanneer dinge in die slaapkamer verkeerd loop
  • Sewe tipes ekse en hoe om hulle te bestuur
  • Hoekom slegte affairs met goeie mense gebeur
  • Die skoonfamilie – moets en moenies
  • Die lewe ná egskeiding
  • Hoe om vervreemding en familiekrisisse af te weer
  • Facebook-affairs, WhatsApp-flings en internet-einas
  • Ouers en kinders – hoe om harte en lewens te stroomlyn
  • Veilig uit die greep van verslawing.

Elke hoofstuk word weer in onderafdelings verdeel. Die meeste mense het deesdae geen erg aan lomp relase wat moeilik lees nie. Ons hou van kort stukke kopie met pit. Genoeg om aan te herkou en versadig te voel, maar nooit soveel dat ons tot barstens toe vol voel nie.

Aansluitend hierby: Navorsing het bewys ’n goudvis se aandagspan is nege sekondes lank. Microsoft het egter bevind sedert die ontwaking van die digitale era is die mens se aandagspan tussen agt en twaalf sekondes lank (time.com). Soms dus korter as dié van ’n goudvis. Dit help dus dat ons nie met ’n magdom inligting gebombardeer word nie. Volpunte aan die outeur!

Tussenkoppe wérk ook en maak die teks toeganklik. Só ook om wenke deurgaans tipografies duidelik uit te stip/lig.

Gesaghebbend

Al die hoofstukke is gesaghebbend en relevant, maar ek gee aandag aan die inhoud van vier: seks (sekerlik die algemeenste kwessie), egskeiding (kyk na die kommerwekkende statistiek), die internet se uitwerking op verhoudings (dit spreek vanself) en verslawing en destruktiewe verhoudings (’n hartseer saak).

Seks en kommunikasie

Die inhoud van die gids is duidelik en op die vrou (of man!) af.

Hoofstuk 1 (“Wanneer dinge in die slaapkamer verkeerd loop”) is ’n goeie wegspringplek.

Sy probeer toon hoe kompleks verhoudings is, en dat daar nooit kitsoplossings is nie. Boonop moet albei partye toegewyd wees daaraan om hul probleme op te los. Anders sal hulle nooit ’n gesonde eindpunt bereik nie.

Parker wys dat kommunikasie die gom in die verhouding is. Dis eintlik van die begin tot die einde van haar gids die kruks van verhoudingsprobleme (en -oplossings).

Oor seks trek sy só weg: “Seks staan nie losstaande van verhoudings nie en kan ook nie losgemaak word van wie en wat ’n individu is nie.”

Sy beskryf in verskillende onderafdelings van die hoofstuk faktore wat ’n seksuele verhouding kan skaad. Dit sluit in leuens, rusie voor bedtyd, te veel alkohol, skielike siekte (en medikasie), trauma, ’n nuwe baba in die huis en ’n lae libido.

...........
Wie weet, as jy hoofstuk een gelees het, sê jy dalk: “Oukei, Skat, dalk tog vanaand.”
.............

Wie weet, as jy hoofstuk een gelees het, sê jy dalk: “Oukei, Skat, dalk tog vanaand.”

Egskeiding – die lewe daarna (hoofstuk 7)

Sedert vlak 4 van die COVID-19-pandemie het die aantal aansoeke om egskeiding met 20% toegeneem (meningspeiling deur DIY Legal). Luidens data van Statistiek SA (2019) eindig 4 uit 10 huwelike in Suid-Afrika in die skeihof. Dit raak dus baie mense.

Parker wis boonop uit dure ondervinding wat dit verg om te skei. Haar raad: beplan. Wees prakties, kry jou papierwerk reg, doen navorsing oor die geldsake (dit kan duur wees), berei jou voor vir die alleen lewe daarna en sorg vir nuwe ondersteuningsnetwerke (veral as erkende enkelouer). Les bes: Leer om die bevryde jy te waardeer. En om aan te gaan met jou lewe.

Haar filosofiese ingesteldheid bied hoop aan vroue (en mans) wat dikwels dink die einde het aangebreek as hulle in die skeihof beland.

“Om oor ’n egskeiding te kom, is moeilik maar haalbaar. Jy is dalk goed op pad om dit reg te kry, maar indien jy ’n wrok koester, gaan dit moeilik wees.”

Die internet-era (hoofstuk 7)

Almal van ons word deur die digitale werklikheid geraak.

Dit geld vriendskappe, familie- en liefdesverhoudings.

“Die landskap van die liefde verskil drasties van ’n paar dekades gelede, maar die wortel van die probleme bly dieselfde, naamlik kommunikasie.” Parker slaan die spyker op die kop.

Baie van ons gesprekke deesdae handel oor digitale ontrouheid, ’n gróót sondebok. Dink aan al die dinge wat kop uitgesteek het tydens die pandemie. Mense was 24/7 saam met hul geliefdes in dieselfde ruimtes. Krapperigheid en verveling het dikwels kop uitgesteek. Wat is makliker as om iemand op die internet op ’n webtuiste raak te loop, aanlyn te praat en later oor te skakel na WhatsApp-flirtasies?

Parker skryf oor al hierdie euwels – die kommunikasievergrype van die moderne mens – wat mense se liefdeslewens binnedring.

Sy verwys na sosialemediabeheptes, maar sy verduidelik ook wat dalk die redes daarvoor kan wees. Dalk kry iemand nie aandag by hul huweliksmaats nie en voel genoop om aanlyn bevestiging van hul menswees te kry.

Is ons werklik bewus van die gevaar daarvan om té veel persoonlike inligting op die skerm te deel? En vir dié wat aanlyn voorgee om iets te wees wat hulle nie is nie, is dit nie tyd vir selfondersoek nie?

Parker daag almal uit tot beter selfoonetiket en besinning oor hul sosialemediagewoontes. Hoe eg is ons wanneer ons iets deel? Stel ’n mens nie dalk onredelike eise aan vriende, kollegas of geliefdes wanneer jy vir hulle whatsapps stuur nie? Nie almal antwoord dadelik nie. Sommige mense het bepaalde tye van die dag wanneer hulle aandag gee aan hul aanlyn administrasie. Wanneer hulle nie dadelik op e-posse, WhatsApp-boodskappe of Instagram-plasings reageer nie, beteken dit nie noodwendig hulle is ongeskik nie.

Ná die lees van dié hoofstuk is daar ’n paar “rooi vlaggies”, oftewel aanlyn-gevaartekens, soos Parker daarna verwys, waaraan ek vir seker in die toekoms meer aandag sal gee.

Veilig uit die greep van verslawing (hoofstuk 9)

Statistiek van die World Drug Report van 2021 laat ’n mens sidder. Wêreldwyd, na raming, gebruik al hoe meer mense tussen 15 en 34 dwelms, met 15% van die Suid-Afrikaanse bevolking wat dwelmafhanklik is (www.sadag.org).

Tussen 7,5 en 31,5% van Suid-Afrikaners het na raming ’n drankprobleem of sal nog daarmee sukkel (www.issup.net).

Volpunte dus dat Parker dié probleem onder die loep neem.

Uit lesers se kwelvrae het sy vasgestel enige verslawing, hetsy drank, dwelms, pornografie, gim of werk, het ’n reuse-uitwerking op ’n verhouding. Indien dit nie hanteer word nie, kan dit ’n verhouding knak.

Sy verduidelik onder meer hoe alleendrinkers hulself vervreem van hul maats, hoe alkoholisme isolasie veroorsaak en hoe oormatige drankgebruik dikwels tot bravado lei, wat weer ontrouheid kan veroorsaak. Oormatige drankgebruik kan egter ook die libido inhibeer.

Kortom, die destruksie van alkohol, en veral hoe dit kinders in die huis raak laat ’n mens nie koud nie.

Alkoholisme is maar een van vele verslawings wat bespreek word en Parker se wenke vir pornoverslaafdes is veral sinvol.

Wat ook al jou verslawing, sy beklemtoon dat dit harde werk, eerlikheid en toewyding verg om dit aan te pak.

Die volk se sielkundige

Opsommend: As jy nie geld, tyd of lus het vir ’n sielkundige nie, is Parker se praktiese en realistiese wenke dalk die oplossing vir vlotter verhoudings.

Laat die tante jou gerus troos.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top