
Boekomslag: Stil gesprek: Gedigte by die foto’s van Geo Jooste deur Jan Pretorius (Naledi, 2024)
- Jannie Pretorius lewer ’n persoonlike verslag oor die resensies wat van sy debuutbundel verskyn het.
Miskien moet ek net eers die een en ander sê oor die ego en ydelheid. Hennie Aucamp het die term egodokument in Afrikaans gevestig: dagboeke, briewe en ander geskrifte waarin die skrywer sentraal staan. In ’n brief aan my vra hy hom af waarom hy nie voorheen besef het dat die bloemlesing ook ’n egodokument is nie. Die oomblik wanneer keuses op grond van persoonlike voorkeure gemaak word, raak dit egodokumentasie, sê hy toe.
In die poësie, lyk dit vir my, is daar dikwels sprake van persoonlike voorkeure, al is dit dan net in die keuse van woorde en stof of onderwerpe waaroor gedig word. Digters verwoord byvoorbeeld gereeld hulle persoonlike ervarings, wat hulle gelees het, hul politieke insigte en traumas, onder andere. As sodanig is dit aanloklik om aan te voer dat daar iets soos ’n egodokumentêre gedig is. Dit lyk mal (maar verleidelik) om te beweer dat álle gedigte egodokumentêr is.
Hennie Aucamp verwys na die treffende gebruik van poësie deur DJ Opperman in sy gedig “Clat boek” wat op die dagboek van Louis Trichardt gebaseer is: “Elke gestroopte strofe eggo ’n dagboek-inskrywing.”
Het laer getrek.
Verwag al ’n week
ons word soos Potgieter
doodgesteek.
Seun gebore. Dood.
Vers gekalf.
Martha maak
van bessies salf.
Hier het ons dus ’n besondere gedig deur Opperman waarin hy ’n hele dagboek (’n egodokument) op poëtiese wyse met 10 kwatryne saamvat of verhewig. Opperman het die inskrywings wat hy uiteindelik in sy gedig omgedig en ingesluit het, geselekteer en uit hierdie persoonlike voorkeure poësie geskep.
Aucamp het per geleentheid oorweeg om sy eie dagboekinskrywings as gedigte aan te bied: “As ’n uitgewer ’n aantreklike tjek voor my oë verbyswaai, vat ek sommer ’n hele maand saam in rymende koeplette.”
Hier dus, suiwer, die gedig as egodokument.
Hoekom sou digters wou hê hulle gedigte moet gelees word? Hoekom nie, soos Kurt Vonnegut eenkeer in ’n brief aan leerders oor die skryf van gedigte aanbeveel het, dit bloot ná die skryf daarvan opskeur nie? Dis natuurlik ’n komplekse vraag met veelvlakkige antwoorde, maar ek wil een voorstel: Dit streel of stut digters se ego’s. Hulle voel dat hulle iets te sê het wat die moeite werd is om gelees te word. Die oortuiging is daar dat dit ’n breër betekenis vir ’n groter gehoor het. Hulle maak aanspraak op die aandag van hulle lesers. So dan ook met die gesprekke op literêre feeste: Digters se ego’s word myns insiens gestreel, omdat hulle interessante vrae oor hulself en hul gedigte kan beantwoord.
Onderlê ’n mate van ydelheid nie dalk alle gedigte as motief nie?
........
Onderlê ’n mate van ydelheid nie dalk alle gedigte as motief nie?
........
Ek is natuurlik oop vir die moontlikheid dat ’n bepaalde digter se gedigte en optrede sonder ’n egoïstiese motief, sonder enige teken van ydelheid, aangebied sou kon word. En ek aanvaar geredelik die moontlikheid dat daar digters kan wees wat dit op totaal onselfsugtige wyse (kan) doen.
Ek is nie een van hulle nie. Ek sal openlik erken dat ek van die idee hou dat my gedigte en mededelings daaroor interessant mag wees. Toe Alwyn Roux in September 2024 by Tuin van Digters in die Breytenbach-sentrum op Wellington met my oor my digbundel gesels het, was dit vir my ’n aangename en verrykende ervaring.
Ek kan op ’n groot skrywer staatmaak om my ydelheid te verdedig: George Orwell. In sy essay oor waarom hy skryf, identifiseer hy blatante egoïsme as een van die vier groot motiewe vir skryfwerk. Hy beskryf dit as die begeerte om slim te lyk, om bespreek te word, om ná die dood onthou te word en meen dit kan gebruik word om grootmense wat die skrywer in sy of haar kinderjare afgejak het, by te kom. Dit is bog, sê Orwell, om te probeer voorgee dat dit nie ’n motief, en ’n baie sterk een daarby, is nie.
Skrywers, sê hy darem verder, deel hierdie karaktertrek met wetenskaplikes, politici, regsgeleerdes, soldate, professionele besigheidsmense – in kort, die hele boonste kors van die mensdom. Die grootste gros van mense is akuut selfsugtig, beweer Orwell.
Stil gesprek, my debuutbundel, is in Julie 2024 die wye literêre wêreld ingestuur. Daarmee het my grootste, bykans lewenslange droom waar geword.
Daar het sover twee gunstige resensies van die bundel verskyn en een met positiewe en kritiese elemente. Die eerste en mees volledige een is deur Marlies Taljard op Versindaba gepubliseer. Sy maak ’n wonderlike, lewegewende uitspraak dat hoewel die gehalte van die gedigte van wisselende aard is, dit “soms briljant” is. Ek het haar dadelik van harte bedank daarvoor, want soos my vriend Stephan uit Sydney laat weet, nie eens NP van Wyk Louw was konstant briljant nie. Gerusstellend, dus, dat ek wél briljante gedigte kán skryf, al gebeur dit dan ook net soms.
Sóms is stráte beter as nóóit.
Die akademikus en digter Fanie Olivier is minder beïndruk. In ’n onlangse resensie in Beeld voel hy dat “min” van die verse werklik “uit die verf” gekom het. Besonder interessant, Taljard gebruik dieselfde beeld, maar in ander verband: “Wat duidelik uit die verf kom, is die ingesteldheid van die digter dat alle lewe waardig is en dat die lotgevalle van diere saak maak.”
Ek is as bykans bedelende debuutdigter eerlikwaar selfs tevrede met Olivier se “min”. “Min” is sonder twyfel goed genoeg vir my. Hy gee selfs ’n (vae) aanduiding van watter gedigte volgens hom geslaag het. Hy sê ek kies oorwegend vir “sterk rymvaste gedigte, waaronder twee afgewerkte distigon-verse en ’n netjiese villanelle”. Die villanelle is natuurlik “Grysland – ’n villanelle” (bl 63). Dit wil lyk of hy hou van die verwording van die papegaai, wat ek voorgestel het deur die veranderende kleurskakering van die voël in elke strofe. Die twee distigons is “Riel” (bl 57) en “loutering” (bl 33). Ek neem aan dis dié drie gedigte wat “uit die verf” kon kom.
Meer oor Olivier se resensie later.
Fantasties, intussen, vir my: Mellet Moll, wie se skielike en ontydige dood verlede jaar skokgolwe deur die Afrikaanse literêre wêreld gestuur het, se kommentaar toe ek Taljard se resensie op Facebook deel: “Ek het die voorreg gehad om die bundel onder oë te hê en ondersteun hierdie inskatting ten volle. My gelukwensing aan die digter (en fotograaf) met ’n blink debuut. Doe so voort.”
Taljard beveel Stil gesprek “met vrymoedigheid” aan: “[D]it is ’n belegging en benodig geen spesialiskennis van kuns of poësie nie, ’n bundel om te geniet en om gereeld deur te blaai en te herlees.”
Die tweede, korter resensie is deur Nini Bennett-Moll in haar rubriek “Heil die leser” op LitNet geskryf. Sy bespreek die bundel saam met drie ander ekfrastiese bundels en maak twee besonder fynbesnaarde en akkurate waarnemings, waarvoor ek haar insgelyks hartlik bedank het. Eerstens, dat my gedigte met hulle direkte en aardse segging bekoor. Taljard bevestig hierdie waarneming met haar stelling dat die bundel sonder pretensie is. As daar nou één ding is waarna ek streef en wat ek sou wou hê lesers moet raaksien en ervaar, dan is dit my strewe na moeitelose en aardse segging, ’n strewe na ’n gebrek aan pretensie. Later, op Facebook, brei Bennett-Moll uit en maak sy haar tweede akkurate waarneming: “Jannie, dis ’n lieflike bundel met ’n sonderlinge spirituele kwaliteit.” Dis óók presiés waarna ek gestreef het.
Het Olivier eers Taljard en Bennett-Moll se resensie gelees voordat hy syne geskryf het? Hy kan natuurlik skryf en lees wat hy wil, maar as hy sê dat daar te veel “hoogdrawende versiering en pretensie” in die bundel is, sónder om voorbeelde te noem, is dit in skerp kontras met Taljard se “sonder pretensie” en Bennett-Moll se “direkte en aardse segging”.
Betreffende moeitelose en aardse segging, is sommige van Van Wyk Louw se gedigte in my poëtiese bewussyn en strewe ingeweef. Ek het ’n sterk drang en is op ’n lewenslange missie om op so ’n natuurlike manier te dig dat dit moeiteloos voorkom en gemaklik lees en sê. Dit is vir my dié opdrag aan die kunstenaar. Louw het in ’n radiopraatjie in 1970 verwys na die Duitse digter, Heine, wat glo van sy allermaklikste gedigte tot 40 maal oorgewerk het om daardie spontaneïteit en eenvoud te verkry. “Oop, eenvoudig skryf is dikwels die moeilikste om te bereik,” sê Van Wyk Louw.
Joan Hambidge, in ’n pas gepubliseerde insiggewende stuk oor toeganklike en ontoeganklike gedigte op Versindaba, gee ’n duidelike antwoord op haar eie vraag: “Is die ‘oop’ toeganklike gedig ‘beter’ of meer aanvaarbaar as die ingewikkelde gedig?”
“Albei mag,” is haar beslissende, lewegewende uitspraak. Wie sou durf om van haar te verskil?
MER het lank gelede al aanbeveel dat die skrywer fyn moet waarneem en met waarheid moet sê. Ek haal enkele fragmente uit Van Wyk Louw se gedigte aan om aan te dui hoe hy myns insiens daarin geslaag het om met waarheid te sê:
O wink deur hierdie droefenis
waarin my siel verwilder is,
oor alle afgrond wat ons skei,
’n teken dat daar iets nog bly
tot smettelose gedagtenis. (Uit: “Gesprek van die dooie siele”, bl 12)
maar in jou donker en hoë wil
word dit soos in ’n kamer stil
nou dat die bitter trots gaan skuil
in deernis, soos ’n klippie sink
deur die grys-wit water van ’n kuil
en bewend daal deur kring ná kring
van altyd sterker skemering
tot daardie stil en diep bestaan
waaroor die sware waters gaan. (Uit: “O suiwer hart”, bl 62)
Laasgenoemde fragment het oor baie jare as emosionele onderbou vir my lewe gedien en het my menswording gestut en verkwik. Ek het ’n koffietafeltjie uit kiaat gemaak en ’n aantal van Van Wyk Louw se gedigte daarop laat inbrand – sien die foto’s hier onder. Die twee fragmente hier bo is ook daar.
Ek het nie Van Wyk Louw se gedigte bloot gelees nie. Ek het hulle gelééf. En hulle gaan my nog help sterf ook.

Die kiaattafeltjie met twee lang boute deur gate – geboor deur die vier ou Afrikaanse woordeboeke (foto’s: verskaf)

Dit is natuurlik logies en noodsaaklik dat elke kunstenaar sy of haar eie styl ontwikkel. Dis hoekom ek vir Geo Jooste genader het oor sy fantastiese natuurfoto’s. Hy het sy eie fotografiese styl. Sy medefotograwe herken sy foto’s en praat van ’n “Geo Jooste” wanneer hulle sy foto’s sien. Ek het bo my gewig geboks toe ek hom vra om saam te werk, maar ek wou myself ook uitdaag. Ek leef in verwondering en lê verbeelde konneksies en gesprekke met dinge en diere aan. Ek verkies om die meeste van my gedigte te laat rym. Olivier sê my gedigte “dra swaar aan ’n soeke na rym”.
Is dit outyds, te swaar? Mens kan maar altyd aan die rym skaaf. Ek gaan dus doelgerig skaaf aan my rym.
O, kraampyn. ’n Taalversorger het my ’n tyd gelede meegedeel dat rym “uit” is. Hy moes ’n manuskrip “suiwer” van alle rym voor dit gepubliseer sou word. Dit mag dus uit wees, te swaar, maar Lady Gaga het sedert 2008, toe sy op die poptoneel verskyn het, popmusiek vernuwe en gered, want dit was op pad uit. Sy het op David Bowie, Madonna en Freddie Mercury staatgemaak om haar eie en verfrissende styl, wat steeds onmiskenbaar pop is, te ontwikkel.
Vir my is die Lady Gaga van Afrikaanse poësie, wat spaarsamige rym grootliks deur ’n bestaanskrisis gedra het, die Hertzogpryswenner Johan Myburg – soos in “Moralia (Plutargos) I” (bl 14) in Narreskip:
Circe se beswymelde swyne
steun almal op Gryllus die ot –
van die lot een van die flinkste breine.
Circe se beswymelde swyne
weet presies waar trek mens lyne
tussen vark en Odusseus die sot.
Circe se beswymelde swyne
steun almal op Gryllus die ot.
Ook in “Kwatryn” (bl 32):
Teen die sit en verlang wat die ouderdom bring:
Trek diep, holwang, aan die doepa wat sing
in die neus, neurie op die tong, wat sluimer
in die long, as kuur teen netelige herinnering.
Hambidge se ekfrastiese “Dar-es-Salaam: Pierneef” (Versindaba: aanlyn) gryp ook aan. Let op haar ligte, dog dodelik akkurate hand in die gebruik van rym in dié mistieke gedig:
Die stad van vrede wat jy hier betree,
onthou sy vir die lang reënvalle
met oorrompelende sonsondergange.
In hierdie skildery sien die kyker,
verbeeldend, ’n wêreld vergange.
Is die twee vroue sy (en haar voor-
malige geliefde) ontdekkend, soekend
in Upanga en Kisutu, in Swahili, na stilte?
In watter tyd metafisies of emosioneel
het die skilder dít so volkome beleef?
Dit word alles in ’n ander tongval ópgehef,
met nog ’n afdruk in iets nou nes verlange.
Meer onlangs verskyn Alwyn Roux se lieflike villanelle, getiteld “Die dodemis van Neptunus” (bl 79), in sy debuutbundel weerskyn:
niks hou stand in die tyd
’n vuurtoring waak oor die kus
stormweer is wyd verspreid
die skipper staar in die donker uit
van die golwe vergewis
niks hou stand in die tyd
in blindheid voer hy nou sy stryd
vaar dieper in die digte mis
al is die storm wyd verspreid
onderlangs die kreungeluid
die deining wat die seelui sus
niks hou stand nie in die tyd
sou hy hom later moes verwyt
van die rotse onbewus
stormweer is wyd verspreid
op die strand spoel wrakhout uit
die mishoring se dreuning rus
niks hou stand nie in die tyd
stormweer is wyd verspreid
Gerusstellend, dié rym, vir iemand soos ek wat nog steeds dol is op die ou weergawe van “O goedheid Gods” (uit my geheue):
O goedheid Gods, hier nooit volprese –
wie word daardeur nie diep getref?
Hoe snood ondankbaar is die wese
wat nie sy hart tot U verhef!
Die verwerking van 1976 (“U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie” – Gesang 40) is geskik vir ’n nuwe generasie, maar is (vir my) nie so gespierd nie:
U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie –
wie word daardeur nie diep getref!
Niks anders bring vir ons die heil nie –
ons wil ons hart tot U verhef.
Bemoedigend, dus, en met groot dankbaarheid, die “soms briljant” van Taljard, dat ek my “direkte, aardse segging” (Bennet-Moll) op die rug van die foto’s kon deurgesmokkel kry. Dankie, Geo; dankie, Johan Coetzee van Naledi; dankie, Alwyn Roux vir jou professionele keuring, inspirerende kommentaar en kundige voorstelle. Ek is hoopvol, nee, oortuig daarvan, dat die tradisionele digvorme steeds universele emosies, doodgewone en buitengewone skoonheid, algemene vrese en vreugdes uitgedruk kry. As ’n realistiese “oop” vers die essensie van die lewe op helder wyse uitbeeld, reik dit oor generasies en kulturele verskille heen en word dit geanker in gedeelde ervarings.
Vat maar net Boerneef se “Berggans”, so bekend dat dit onnodig is om dit volledig aan te haal. Wilhelm Jordaan het in ’n onlangse koerantrubriek (Netwerk24, 23 Oktober 2024) vertel van ’n Afrikaanse onderwyseres wat die gedig vir ’n groep matrieks voorgelees het. Toe sy klaar is, is daar ’n stilte. Toe sug een van die meisies: “Ek wil ook ’n berggansveer hê.”
Ek het self ook ’n epifaniese ervaring met ’n ou Afrikaanse gedig gehad. As dosent in die opvoedkunde moet ek dikwels studente se lesse evalueer. ’n Paar jaar gelede moes ek ’n lesaanbieding vir Afrikaans-tweedetaalleerders by ’n multikulturele skool evalueer. Dit was ’n poësieles, en ID du Plessis se “Rietfontein” is bespreek. Ek het in my matriekjaar (1981) daarop verlief geraak en van die dele maal nog konstant in my kop rond.
Die studente-onderwyseres lees die gedig met gevoel voor, speel Gerald Clark se toonsetting met haar CD-speler en die klas bespreek dit geesdriftig. Daarna deel sy ’n werkkaart uit. Die leerders begin die werkkaart voltooi. Ná ’n rukkie steek een meisie haar hand op: “Juffrou, sal jy asseblief weer vir ons die liedjie speel?” Die soet klanke vul die klas. Toe gebeur die wonder wat my hoendervleis gee en my ’n punt van 100% vir die les laat toeken: Dié klas kon nie beter aangebied word nie, want die kinders begin saggies saamsing terwyl hulle skryf.
Realisme – al is dit ook ’n verbeelde, magiese realisme – kan tydloos wees en grense oorsteek.
Om hierdie dinge te deel kom vir my natuurlik en maklik, en ek put groot plesier en genoegdoening daaruit. Ek is baie geesdriftig oor en lief vir Afrikaans. Ek is natuurlik nie ’n literatuurwetenskaplike nie en my kennis in daardie veld is relatief, of uiters beperk. Ek het my skryfstuk ingelei deur te wys op die onderliggende ydelheid (of arrogansie) wat sodoende aanvoelbaar mag raak en wil my haas om dit te probeer verklaar. Dit was immers vir Van Wyk Louw “’n saak van diep trots om nie my werk op veiling te bring deur eie persoon in onderhoude, verklarings, openbare optrede ‘interessant’ te maak nie. Die werk moet altyd vir homself spreek.”
Van Wyk Louw meld egter wel, in reaksie op aanklagte dat hy “duister verse” skryf, “met ’n bietjie trots” dat hy vir 10 jaar lank ’n bladsy in ’n kindertydskrif behartig het, “en niemand het ooit gekla dat dít onverstaanbaar is nie”. Van Wyk Louw sou sekerlik saamstem met Hambidge hierbo. Dis dan ook goed dat Van Wyk Louw vas glo dat die digter volledig mens moet wees: rondom, bókant of ónderkant sy poësie.
Van Wyk Louw erken verder dat hy nie altyd ’n man van vrede was nie, en nooit ter wille van die vrede nie: “Ek het dikwels my mening in die openbaar uitgespreek, en dikwels hard. Ek weet nie of ’n ander Afrikaanse skrywer meer dikwels in polemieke betrokke was nie.”
Ek wil graag terugkeer na Olivier se resensie. Ek sal dit doen deur onder andere na die verskille tussen sy resensie en dié van Taljard te verwys. Hy maak twee uitsprake oor Stil gesprek wat in direkte kontras staan teenoor dié van Taljard.
Olivier lewer kritiek op die besluit om die foto’s in die breedte te plaas: “Daar is dus pragtige foto’s wat hoegenaamd nie tot hulle reg kom nie, al is dit op stewige glanspapier gedruk. Al die foto’s is gevolglik klein en smal, met groot wit stukke bo en onder.” Hy gaan verder: “As die foto’s dwars geplaas was, dus in die lengte, sou die foto’s self ’n veel groter impak hê. Die feit dat die leser die boek dan telkens sou draai, sou terselfdertyd help om die gedigte selfstandig te laat staan vir die leesslag.”
Hierteenoor Taljard se mening: “Sowel die foto’s as die gedigte kom tot hulle reg deur hulle in die teks langs mekaar te stel: die foto telkens op die linkerblad en die gedig regs. Die groot persentasie bladwit dra by tot die esteties bevredigende geheeleffek van die werk.”
Ek, nie die uitgewer nie, is verantwoordelik vir die besluit om die foto’s horisontaal te plaas. Ek wil nie my besluit verdedig nie, want Olivier se siening is sekerlik deels geldig omdat hy geregtig is daarop. Ek voel egter genoop, en is boonop myns insiens geregtig, om te verduidelik hoekom die foto’s nie dwars geplaas is nie.
Olivier maak die kategoriese stelling dat “hierdie soort publikasies” ’n kleinerige geskiedenis in Afrikaans het. Hy noem drie: Vers en foto deur Cloete Breytenbach, MM Walters en Christo Botha se Droom van die Weskus en Adam Small en Chris Jansen se Oos Wes Tuis Bes. As Olivier met “hierdie soort publikasies” slegs verwys na foto’s met gedigte, is hy reg, sover ek weet.
Ek dink egter dat dit in daardie geval ’n verskraalde definisie van ekfrastiese gedigte in Afrikaans sou wees. Olivier gee geen aanduiding dat hy bewus is van die term ekfrasties nie, maar ek sou verbaas wees as hy nie daarvan sou kennis dra nie, en dit sou jammer wees, veral omdat twee fantastiese ekfrastiese bundels van Marlene van Niekerk rigtinggewend was betreffende die aanstigting tot die skryf, sowel as die uitleg van Stil gesprek.
Ek verwys hier natuurlik na Gesant van die mispels: Gedigte by skilderye van Adriaem Voorte ca. 1659-1707 en In die stille agterkamer: Gedigte by skilderye van Jan Mankes 1889-1920. Stil gesprek het – omdat ek daarop aangedring het by Naledi – in die meeste opsigte presies dieselfde uitleg as dié twee bundels, met die uitsondering dat daar oop bladsye teenoor die Nederlandse vertalings is in Van Niekerk se bundels, wat in Stil gesprek natuurlik afwesig is.
Is daar soveel beduidende verskille tussen die foto’s en die skilderye dat Olivier die twee bepalende bundels nie in ag sou kon of moes neem by sy resensie nie? Ek dink nie so nie. Om die waarheid te sê, op die teenblaaie van byna al Van Niekerk se fassinerende gedigte (byvoorbeeld “Lijster op tak” op bladsy 39) is die foto’s van die gedigte heelwat kleiner as wat mens sou verwag en word ook ’n groot spasie links van die afbeelding oopgelaat. Ek dink dis om estetiese redes gedoen en ek hou baie daarvan.
Ek dink dit sou esteties gesproke groot afbreek aan Van Niekerk se twee bundels gedoen het as die kunswerke nie net groter gemaak is nie, maar ook boonop dwars gedraai sou word. Ek dink dit sou op brutaliteit neerkom, esteties gesproke.
Die tweede verskil tussen Taljard en Olivier se resensies handel oor die kwaliteit van die gedigte en foto’s naas mekaar. Olivier meen dat die 28 gedigte sonder die foto’s sekerlik nie vir publikasie oorweeg kon word nie. Taljard, weer, wys tereg op die intieme konneksies en interafhanklikheid van die twee: “[D]ie ekfrastiese gedigte in hierdie bundel [is] absoluut gebonde aan die oorspronklike kunswerke en kan [...] beswaarlik daarsonder geïnterpreteer word, omdat dit spesifiek in gesprek tree met die afbeelding daarnaas.”
My mening: Dis ietwat laf om die twee te wil skei en hulle dan onafhanklik te beoordeel, want die foto’s sou sekerlik onafhanklik gepubliseer kon word – en van Geo se foto’s is al onafhanklik gepubliseer – maar die gedigte is genaelstring aan die foto’s. Daar is, afhangend van die leser, ’n bepaalde sinergie tussen die twee. Dis waarom dit tog ekfrastiese gedigte is, nie waar nie? Hoekom wil Olivier hierdie fyn simbiose tussen woord en beeld ophef sonder om vergelykings met soortgelyke publikasies aan te lê?
Hierdie gebrek aan diepte, aan oortuigende literêre konneksies, sowel as Olivier se versuim om sy veralgemenings met spesifieke voorbeelde te ondersteun, te illustreer of te regverdig veroorsaak ongelukkig dat sy resensie vir my ’n duidelike oppervlakkigheid toon, dat sy menings subjektief en onverfynd voorkom en dat dit vir my grootliks ’n teleurstelling is.
Vir sover die verskillende kontrasterende menings.
In die eerste plek, dan, is ek as akademikus gewoond aan kritiese debat. Dis bykans my brood en botter om my mening te gee, om my skryfwerk te verdedig, of om kritiese vergelykings te tref, soos hierbo. Ek is bewus van die beskouing dat digters of ander kunstenaars nie veronderstel is om te reageer op kritiek in resensies nie. Ek is wel deeglik bewus van die moontlikheid dat dit my skade mag berokken, maar ek voel letterlik vere daarvoor.
Met een van my vroeëre artikels – een wat ek oor Emme-Lancia Faro, briljante hoofdogter van die Sekondêre Meisieskool Oranje, in 2010 geskryf het en wat in 2012 gepubliseer is – het LitNet Akademies twee kollegas by ander universiteite gevra om kritiese kommentaar oor die artikel te lewer. Hulle het dit gedoen. Ek het my koud geskrik, maar tog volledig daarop gereageer en wag nog op hulle reaksie.
........
Ek hoop egter dat ek as relatiewe buitestander tog waarde mag toevoeg. En ek gun myself die luukse van domastrantheid. Ek gee dus my mening op onbevange wyse in die opregte hoop en oortuiging dat dit mag bydra tot stimulerende debat.
........
Omdat my akademiese veld buite die Afrikaanse literatuur val, soos gemeld, sal my menings altyd bepaalde gebreke toon. Ek hoop egter dat ek as relatiewe buitestander tog waarde mag toevoeg. En ek gun myself die luukse van domastrantheid. Ek gee dus my mening op onbevange wyse in die opregte hoop en oortuiging dat dit mag bydra tot stimulerende debat. As ek beredeneringsfoute maak of beperkte insig toon, kan dit aanleiding gee tot leer. En leer is nie iets wat ooit ophou nie.
Binne die konteks van die kleinerwordende poel van Afrikaanse akademici ag ek dit tweedens my plig en voorreg om die taal op dié wyse te dien. Ek sien en lees as akademikus hoe sommige gebeure in die Afrikaanse literêre wêreld en kultuur ontplooi en kan dan duidelik aanvoel en visualiseer wat ek wil sê. Wat ek dalk móét sê. Was dit Jean-Paul Sartre wat gesê het elke woord het gevolge – en elke stilte ook? Ernest Hemingway het hierdie beroemde woorde in sy Green Hills of Africa neergepen: “Every damn thing is your own fault, if you are any good.” As ek reg onthou, het Hernus Kriel en Roelf Meyer in die laat 1980’s, toe hulle tot die parlement verkies is, anders as wat van agterbankers verwag is, nie stilgebly nie, maar hulle menings met vrymoedigheid laat hoor. Daardeur het hulle klaarblyklik ’n wesenlike bydrae tot die politieke debatte van daardie tyd gemaak.
Omdat ek, soos in ’n vorige skryfstuk gemeld, in die derde plek soveel biografieë van Afrikaanse skrywers gelees het, is ek bekend gestel aan die oorloggies wat nog maar alte dikwels in die Afrikaanse literêre wêreld uitgebars het en steeds uitbars. Dis ook die rede hoekom ek met vrymoedigheid ’n bydrae op LitNet gemaak het tot die debat rondom Mellet Moll se resensie van Taboek, Riku Lätti se debuutbundel.
Ek begin afsluit. Dié Antjie Krog darem! Soveel illuminerende uitsprake en hoogtepunte die afgelope tyd! Die beste een vir my was dat sy haar status as digter aanvanklik as prekêr beleef het. Antjie Króg! Wat my by die oeroue vraag laat uitkom: Wanneer kan mens jouself as digter beskou?
Ek dink nie dís ’n maklike vraag om te beantwoord nie. Aanvanklik het ek gedag ’n digter moet eers, soos Krog, talle bundels oor dekades heen publiseer en Hertzogpryse ontvang. En ja, sulke digters ís natuurlik die laag room bo in die melkemmer. Ek het ’n grenslose bewondering vir haar en die ander poëtiese reuse.
Maar toe volg Stil gesprek se publikasie en ervaar ek my en Geo se bundel as fisiese entiteit. Ek dink aan die Latynse spreekwoord: Verba volant, scripta manent. Ek dink aan wat Flannery O’Connor in een van haar briewe gesê het: “In art you are impressing an idea on matter and that gives a sense that you do not have in real life. You use reality to make a different kind of reality.” Inderdaad.
Ons (ek en Geo) is in ekstase en verwondering. Ek sien Stil gesprek op die rak van Exclusive Books hier in Bloemfontein. Vriende wens ons geluk, begin kommentaar lewer en bestel die bundel. Ek gee talle verniet weg en stuur dit via PostNet regoor die land – tot in Australië (R800). Ou vriende en vriendinne maak kontak en ek maak nuwes. ’n Ou vriendin laat weet: “Ek sit en traan, liewe Jannie, so geniet ek dit.” My ydelheid blom welig. My sosiale kontakte ondergaan ’n verjongings- én verouderingskuur. Ek kry ’n nuwe visie vir my aftrede oor vier jaar. Toe volg die gesprek met Roux by Tuin van Digters.
Die resensies verskyn. Naledi stuur my eerste, beskeie tantième. Daar is 75 bundels aanlyn verkoop. Nie minder nie as 75 mense het geld uitgehaal om te lees wat ek skryf en om Geo se foto’s te sien. Ek kommunikeer heerlik met Coetzee, elegante eienaar van Naledi. Hertzogville, my grootworddorp, se leeskring nooi my om met hulle te kom gesels.
........
Ek gaan nie nou skielik dolweg begin jaag na publikasies nie. Ja, ek het en sal aanhou skryf omdat ek die aanstuwing voel. Ek was sonder twyfel oormoedig en oorgeesdriftig in 2024, maar gun my die luukse en dwaasheid daarvan.
........
Dis genoeg, besef ek geleidelik. Ek gaan nie nou skielik dolweg begin jaag na publikasies nie. Ja, ek het en sal aanhou skryf omdat ek die aanstuwing voel. Ek was sonder twyfel oormoedig en oorgeesdriftig in 2024, maar gun my die luukse en dwaasheid daarvan. Soos voorheen, pos ek onbevange my skryfsels op Facebook. Dis tog waar welmenende, kosbare vriende my aanvanklik aangemoedig het om te publiseer.
Van Wyk Louw – wie anders – verskaf broodnodige leiding vir die pad vorentoe (al was dit aan die einde van ’n roemryke loopbaan as digter): “Ek was nog nooit bekommerd oor my ‘digterskap’ nie: sy aard of sy doel nie; ek het nooit gevrees vir ophou nie. En as ek vandag of môre sou weet dat ek nooit weer ’n versreël sal skryf nie, sal dit my nie kwel nie. Ek sien dié digterskap – as dit ’n digterskap was – nie as ’n ‘worsteling’ of wat ook al nie. Dit was geen ‘stryd’ om die digterskap nie. By my het alles te maklik, te vanself gekom.” Antjie Krog, weer, is “oortuig” dat sy klaar is met die skryf van gedigte.
Maar mý droom is klaar waar en sal waar blý. Al verkoop niks verder nie en al tel iemand ’n verweerde kopie van Stil gesprek oor 50 jaar op ’n vlooimark op, sien dit kos R15 en sit die bundel weer neer.
Ek is gek oor die volgende verhelderende aanhaling uit The noise of time deur Julian Barnes, ’n stuk waaraan ek myself gereeld herinner, of wat gereeld aanmeld en as durende aansporing en gerusstelling dien:
What could be put up against the noise of time? Only that music which is inside ourselves – the music of our being – which is transformed by some into real music. Which, over the decades, if it is strong and true and pure enough to drown out the noise of time, is transformed into the whisper of history.
Dalk doof die geraas van tyd Stil gesprek binnekort uit. Dalk lees ’n Afrikaansonderwyseres “Droom”, wat Taljard “die mooie ‘Droom’” en Bennet-Moll ’n “prikkelende liefdesgedig” noem, oor 50 jaar vir die matrieks van daardie jaar en sug één matrikulant oor dit so mooi is.
Maar ek voel geborge, dankbaar en uiters verlig dat ek – uiteindelik! – my gedigte (“verse”, noem Olivier hulle met tye, maar darem ook “gedigte” hier en daar) tot die smartvolle lewe hier in hierdie wye en droewe land kon toevoeg. In die woorde van Walt Whitman, so bekend gemaak deur Robin Williams in Dead Poets Society:
O Me! O Life!
O me! O life! of the questions of these recurring,
Of the endless trains of the faithless, of cities fill’d with the foolish,
Of myself forever reproaching myself, (for who more foolish than I, and who more faithless?)
Of eyes that vainly crave the light, of the objects mean, of the struggle ever renew’d,
Of the poor results of all, of the plodding and sordid crowds I see around me,
Of the empty and useless years of the rest, with the rest me intertwined,
The question, O me! so sad, recurring – What good amid these, O me, O life?
Answer.
That you are here – that life exists and identity,
That the powerful play goes on, and you may contribute a verse.
Die beste en mees verrassende gevolge van die publikasie van Stil gesprek, het ek boonop met vreugde ontdek, is nie die verkoop van die bundel nie.
Dis die herkonneksies met ou vriende en die maak van nuwe vriende. Die stories van swaarkry en oorwinning. Die uitbreiding van my sosiale netwerk. Die gebede, gesprekke, selfs trane. Die meelewing en ondersteuning: gebied én ontvang. Die om verskoning vra ook, ja. Die onverwagse, onbedoelde, hoogs stimulerende nuwe insigte en betekenisse.
Die ervarings. Die vars, groen oggend op Hertzogville by die pragtige kwekery saam met die energieke, lewenslustige vrouens van die leeskring. Hulle kóók, papa!
Iemand wat sê: “‘Piëta’ het my diep geraak, want ek het my seun twee jaar gelede aan kanker verloor.” Skrywers wat droom van hul eie publikasies, wat skugter hulle drome deel. My vrypostige raad (na één bundeltjie): “Moenie dat énigiemand jou tune nie.” Ons het dikwels as kinders gesê: “Ek laat my nie tune nie.” Net so. Doen jou eie ding. Skrýf!
My menswees is en word verkwik. Die geleidelike vereensaming van my as ouerwordende mens is (tydelik) gestuit en omgekeer. I'm out there. Ek dring na ’n inniger, dieper, meer bevredigende vlak van my menswees en wording deur. Die sinergie (dankie vir die raak beskrywing, Alwyn Roux) tydens die skryf en publikasie duur voort.
Dis ’n bediening, besef ek geleidelik. Van Wyk Louw het jare gelede geargumenteer dat poësie “ontstaan uit liefde, uit haat, uit droefheid, uit skrik, vrees, uit praat met God en verlang na God”. Aan Hom kom ál die lof en eer steeds toe, nou en vir altyd.
Ek sluit my relaas af. In die 1977-rolprent As good as it gets met Helen Hunt en Jack Nicholson – wat beide Oscars vir hulle vertolkings ontvang het – is daar ’n besonder kosbare toneel. Nicholson staan aan die onderpunt van ’n stel trappe en Hunt aan die bokant. Daar is ’n argument tussen die twee.
Sy roep desperaat uit: “Why can’t I just have a normal boyfriend? Why? Just a normal boyfriend who doesn’t go nuts on me?”
Haar ma, wat duidelik staan en afluister het, kan haarself nie inhou nie en maak ’n verskyning in haar nagrok: “Everybody wants that, dear. It doesn’t exist.”
Sy maak verskoning omdat sy nie bedoel het om die gesprek te onderbreek nie en draai terug in haar kamer.
Die kameraskoot verskuif na Nicholson. Hy staan ’n oomblik stil, lig dan daardie wenkbroue van hom en begin ingenome glimlag: “Boyfriend.”
Hy vloog die trappe op.
In sy resensie maak Olivier twee wonderlike stellings, miskien onbewustelik, maar nietemin: 1) “Die heel laaste foto is deur die digter self geneem [...]”; 2) “Wat maak die digter, want dit is duidelik in die eerste plek ’n versdebuut, met hierdie gegewe? Pretorius kies oorwegend [...].”
Ek is ’n digter. ’n Afrikaanse een. ’n Ydele debúútdigter, ja, maar steeds ’n digter – verál omdat Olivier so sê – in ’n koerant, nè, al ís dit ’n digitale een.
Dankie, Fanie.
Bloemfontein,
15 Januarie 2025
Bronne
Arkpark.net. 2023. Singsaam met SOUT 4 Lirieke. https://rianamouton.arkpark.net/lyricsSout4-a.htm (5 November 2024 geraadpleeg).
Aucamp, H. 2002. Wat dryf dagboekskrywers? Die Burger, 24 Maart.
Barnes, J. 2016. The Noise of Time. Londen: Vintage.
Bennett-Moll, N. 2024. Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels. https://www.litnet.co.za/heil-die-leser-die-huwelik-tussen-woord-en-beeld-vier-ekfrastiese-bundels/ (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Bester, Z. 2012. LitNet Akademies: ’n Evaluering van Jannie Pretorius se positiewe profiel van Emme-Lancia Veronique Faro. https://www.litnet.co.za/litnet-akademies-n-evaluering-van-jannie-pretorius-se-positiewe-profiel-van-emme-lancia/ (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Clark, G. 2010. Rietfontein se leidam. https://www.youtube.com/watch?v=Vqq-fmpeuaY (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Fitzgerald, S. (red.). 1988. The Habit of Being: Letters of Flannery O’Connor. New York: Farrar, Straus en Giroux.
Gesang 40. 1976. Psalms – Gesange. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers.
Hambidge, J. 2025. Joan Hambidge. Ontoeganklike versus toeganklike gedigte. https://versindaba.co.za/2025/01/13/joan-hambidge-ontoeganklike-versus-toeganklike-gedigte/ (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Jordaan, W. 2024. Wilhelm Jordaan: Heel mooiste liefdesgedig in Afrikaans is ... https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/wilhelm-jordaan-heel-mooiste-liefdesgedig-in-afrikaans-is-20241023 (5 November 2024 geraadpleeg).
Louw, NP van Wyk. 1970. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.
Louw, NP van Wyk. 2002. Versamelde gedigte (hersiene uitgawe). Kaapstad: Tafelberg.
Mandela.ac.za. 2024. Hennie Aucamp: ’n Skrywer besin oor sy dagboek. http://www.mandela.ac.za/onseangeltjie/aucamp2.htm (5 November 2024 geraadpleeg).
Moll, M. 2024. Boekresensie: ‘Taboek’ herinner aan ’n boomhuis in Kaapse storm. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/boekresensie-taboek-herinner-aan-n-boomhuis-in-kaapse-storm-20240728 (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Myburg, J. 2022. Narreskip. Pretoria: Protea Boekhuis.
Olivier, F. 2025. Verse in ‘gesprek’ met foto’s ’n eiesoortige leeservaring. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/verse-in-gesprek-met-fotos-n-eiesoortige-leeservaring-20250112 (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Opperman, AJ. 2024. Antjie Krog glo sy’s klaar met gedigte skryf, kry eredoktorsgraad van UP. https://www.netwerk24.com/netwerk24/kunste/boeke/antjie-krog-glo-sys-klaar-met-gedigte-skryf-kry-eredoktorsgraad-van-up-20240904 (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Orwell, G. 1946/2021. Why I Write. Londen: Renard Drukker (Bpk.).
Pretorius, J. 2012. ’n Positiewe profiel van ’n buitengewone hoofmeisie as rolmodel: Emme-Lancia Veronique Faro van die Sekondêre Meisieskool Oranje. https://www.litnet.co.za/n-positiewe-profiel-van-n-buitengewone-hoofmeisie-as-rolmodel-emme-lancia-veronique-faro-v/ (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Pretorius, J. 2024. Ek het ook ’n snor, Koos, maar in elk geval ... https://www.litnet.co.za/ek-het-ook-n-snor-koos-maar-in-elk-geval/ (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Pretorius, JPH. 2023. ’n Persoonlike waardering van Hennie Aucamp se gepubliseerde dagboeke. Stilet, 35(1):37–64.
Roux, A. 2024. weerskyn. Pretoria: Protea Boekhuis.
Subber, R. 2022. “Tear it up,” says Kurt Vonnegut. https://richardsubber.com/tear-it-up-says-kurt-vonnegut/ (5 November 2024 geraadpleeg).
Taljard, M. 2024. Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius). https://versindaba.co.za/2024/08/27/resensie-stil-gesprek-jan-pretorius/ (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Thecuriousastronomer. 2014. O me! O life! – Walt Whitman (poem). https://thecuriousastronomer.wordpress.com/2014/02/18/o-me-o-life-walt-whitman-poem/ (5 November 2024 geraadpleeg).
Van der Merwe, BAJ. 1999. Afrika in die resente Afrikaanse digkuns. PhD-proefskrif, Potchefstroom Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. https://repository.nwu.ac.za/bitstream/handle/10394/16252/Van%20der%20Merwe_BAJ_TOC%20&%20Chaper%201-5.pdf (5 November 2024 geraadpleeg).
Van Niekerk, M. 2017. Gesant van die mispels: Gedigte by skilderye van Adriaen Coorte ca. 1659-1707. Kaapstad: Human & Rousseau.
Van Niekerk, M. 2017. In die stille agterkamer: Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889-1920. Kaapstad: Human & Rousseau.
Versindaba. 2022. Alwyn Roux. Dodemis van Neptunus. https://versindaba.co.za/2022/10/04/alwyn-roux-dodemis-van-neptunus/ (5 November 2024 geraadpleeg).
Versindaba. 2022. Joan Hambidge. Natuurverse 2. https://versindaba.co.za/2022/07/21/joan-hambidge-natuurverse-2/ (5 November 2024 geraadpleeg).
Versindaba. 2024. Joan Hambidge: Dar-es-Salaam: Pierneef. https://versindaba.co.za/?s=dar-es-salaam (15 Januarie 2025 geraadpleeg).
Lees ook:
Heil die Leser! Die huwelik tussen woord en beeld: vier ekfrastiese bundels


Kommentaar
Ek het 'n African Grey-papegaai. Na my man se dood en my skuif Kaap toe, kon Hendrik en my se gesprekke die alleenheid minder maak. Ek was egter in die gehoor by Tuin van digters, met die gesprek tussen Alwyn Roux en Jannie Pretorius. Die gedig "Grysland" is voorgelees en het dadelik met my gepraat, tot diep in my siel. En ek kon nog nooit weer die gedig se stem stil nie.
Liewe genade, Theresa, my hele lyf slaan hoendervleis uit toe ek jou kommentaar lees. Dankie vir die deel, dis kosbaar.
Wat het geword van 'n bietjie outydse beskeidenheid? Gaan lees weer die resensies. Er staat nie wat er staat. Lees veral tussen die lyne. Daar was ernstige kritiek. Een swaeltjie maak nie 'n somer nie en een bemoedigende woord maak nie 'n positiewe resensie nie.
Dankie vir jou terugvoer, Nico, ek waardeer dit.
Gewaardeerde terugvoer van 'n kollega:
"Ek kon my ore nie vanoggend glo toe my man sê hy is al halfpad gelees aan jou digbundel nie. My man is nie ‘n leser nie, en nog minder van digbundels.
Hy het die boek op die tafel sien lê en Geo Jooste se naam het sy aandag getrek. Hy is baie beïndruk met hoe goed jou gedigte by die foto’s aanpas.
Welgedaan 😊"
Goeiemiddag, Nico Steenekamp. Ek het 'n vraag vir jou: Sê nou iemand doen 'n "park run" of 'n fietsrytoer en hy post foto's of videos daarvan (homself) op Facebook, sou jy dit as "outydse beskeidenheid" of spog beskou?