Ek het ook ’n snor, Koos, maar in elk geval ...

  • 0

Prent: Canva

Ek het gedeeltes van die kommunikasie rondom Mellet Moll se resensie van Riku Lätti se Taboek met belangstelling en stygende opwinding gevolg. Ek wil ook graag ’n bydrae lewer omdat Koos Kombuis die versugting uitgespreek het dat iemand wat nie betrokke was by “hierdie getjommel” nie, ’n opinie moet aanbied. Ek reageer dus op Koos se uitnodiging.

Ek moet eers ’n bietjie agtergrond skets om rigting te kry en die kontoere van my argumente te vestig.

Ek is ’n dosent in Opvoedkunde by Kovsies. Ek was nog altyd lief vir die Afrikaanse literatuur en het die literêre omgewing met belangstelling gevolg – as buitestander. Ek is veral lief vir biografieë van digters – NP van Wyk Louw, CJ Langenhoven, C Louis Leipoldt, ens. Die talle literêre gevegte wat gedurig uitbreek – toe en nou – is, meen ek, nie net baie interessant nie, maar ook baie belangrik.

Ek dink byvoorbeeld aan die woeste tye tydens Van Wyk Louw (getroud met Truida) se verhouding met Sheila Cussons en die verreikende gevolge wat dit gehad het vir Afrikaans as taal.

Vriendskappe is geruïneer of bevestig. Daar is blykbaar skade gedoen aan die taal se status. Ek dink verder aan Van Wyk Louw se afwysing van die Hertzogprys. Ek dink ook aan Langenhoven se frustrasie (“Agheretjietog ...”) toe sy psalms afgekeur en Totius s’n verkies word (waarskynlik weens ons Neelsie se minder sobere gewoontes). Uys Krige, toe iemand per geleentheid voorstel dat Ingrid Jonker ook na ’n sekere kuier genooi word: “Nee, asseblief tog nie.”

..........
My eerste algemene opmerking dus: Ons het hierdie gevegte nodig om ons taal se identiteit, die kwaliteit daarvan, te beredeneer en te (be-) vestig.
.............

My eerste algemene opmerking dus: Ons het hierdie gevegte nodig om ons taal se identiteit, die kwaliteit daarvan, te beredeneer en te (be-) vestig. Om op Bart Nel (“Ek is nog hý”) uit te brei: Ons moet nog óns wees – vér van sterf af. Omdat die maatstawwe gedurig verander, moet ons koppe stamp oor wat goeie poësie is. Ek onthou dat daar in ons slaapsaal in die weermag ’n plakkaat was van ’n soldaat wat sy gewonde makker dra. Onderaan staan toe geskryf: “Now is the hour for the dauntless spirit, now for the stout heart.” Nou is nie die tyd om kleinserig te wees óf persoonlike aanvalle te loods nie.

Ons streef sekerlik almal steeds daarna om Afrikaans se status as wêreldtaal uit te bou. Die interaksie tussen ons en Nederland vind tog steeds plaas en ons wil sekerlik nie in die verleentheid gestel word deur die twyfelagtige kwaliteit van die vrugte van ons kollektiewe penne nie.

Die gevaar daaraan is baie duidelik geïllustreer deur die drama rondom Rachael Gunn, Australiese briekdanser, se vertoning op die dansvloer tydens die Olimpiese Spele. Die wegsteek of ignorering van die waarheid kan rampspoedig wees en in ’n groot verleentheid ontaard. Marc Barnes meen: “The short-term price of honesty is always better than the deferred consequences of dishonesty.” As die waarheid weggesteek word, is die wegsteek van die waarheid dikwels groter nuus as wat die waarheid self sou wees. Laat ons dus stoei met mekaar om by die waarheid uit te kom.

...........
As die waarheid weggesteek word, is die wegsteek van die waarheid dikwels groter nuus as wat die waarheid self sou wees. Laat ons dus stoei met mekaar om by die waarheid uit te kom.
..............

Daar is groot beginsels en standaarde op die spel, dalk selfs die respek van ons vriende in Europa, en ja, tot ’n mate ook die status van alle Afrikaanse skrywers, dink ek.

Die probleem waarmee ons gekonfronteer word, is dat hierdie estetiese beginsels of standaarde nie eksplisiet is nie. Hulle is nie net moeilik om te beskryf nie, maar ook, soos ek gesê het, gedurig aan’t verander. Ek is bevrees ons gaan ook nooit presies weet wat hierdie beginsels of maatstawwe is nie: Dit is in wese ’n gesprek oor wat kuns is – en saam daarmee, die estetiese ervaring. Ons mag dit dalk op intuïtiewe vlak begryp, maar wéét is iets anders. Oor die vraag wat is kuns en wanneer en onder watter omstandighede ’n ervaring ’n kunstige of estetiese aard aanneem, word al vir eeue gedebatteer.

Persoonlik het ek vir die eerste keer ’n estetiese ervaring gehad toe ek na die agterkant van die Sound of music-LP gestaar het, na die swart-en-wit foto van die lieflike Julie Andrews – vir úre.

Om die waarheid te sê, my geslagsbewustheid is daar bevestig, het ek later uitgevind. Ek het ’n paar jaar gelede ’n akademiese artikel geskryf oor die effek wat The sound of music op ons gesin se kultuur gehad het. Dit was vir my wonderlik toe ek tydens die navorsing op nog ’n artikel afkom waarin die outeur ’n soortgelyke ervaring tydens sý staar na daardie spesifieke foto beskryf – met een groot verskil: Hý het met ’n gelyke mate van vreugde besef hy is gay.

Dit illustreer vir my die bykans waansinnige en uiteenlopende effek van groot kuns op die mensdom.

Praat van groot kuns: My tweede estetiese ervaring het in 1999 gebeur, in die Rijksmuseum in Amsterdam. Voor Rembrandt se Nagwag. Om die een of ander rede was dit vir my pragtig en ek moes die geld bymekaarskraap om die toegang te betaal. Ons was só arm dat my vrou buite moes wag. Maar daar, toe ek die inligting op die bordjie by die skildery lees, het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan. Rembrandt, het die stuk verduidelik, het vir die eerste keer ’n militêre groep in aksie geskilder, met spiese wat in alle rigtings wys. Vóór hom het skilders die soldate in ’n ry laat poseer en hulle staties vasgelê. Tydens my besoek het diesulke skilderye in dieselfde vertrek as die Nagwag gehang. Ek kon die verskil onmiddellik sien. Die reuseskildery (waarvan ’n stuk jare gelede boonop afgesny is om in ’n spesifieke vertrek te pas!) het as’t ware gepols met geluide en beweging wat ek bykans kon hoor en sien – en ek is op ’n lewenslange soektog gestuur.

...........
Dis iets soos om die reënboog te jaag: Jy weet vóóraf dis onmoontlik om hom te vang. Daar’s iets paradoksaal daaraan. Koos se onbeantwoorde vrae – of Taboek ’n goeie boek is of nie, of dit poësie is – sal moeilik beslissend beantwoord word. Of dalk tóg. Ons hét al groot vordering gemaak sedert Mellet Moll se resensie en al die kommentaar daarna en ek het my eie mening daaroor ontwikkel.
..............

Dis iets soos om die reënboog te jaag: Jy weet vóóraf dis onmoontlik om hom te vang. Daar’s iets paradoksaal daaraan. Koos se onbeantwoorde vrae – of Taboek ’n goeie boek is of nie, of dit poësie is – sal moeilik beslissend beantwoord word. Of dalk tóg. Ons hét al groot vordering gemaak sedert Mellet Moll se resensie en al die kommentaar daarna en ek het my eie mening daaroor ontwikkel. Meer hieroor later.

Die bestaan van die sogenaamde “Meno-paradoks” het my nie gestuit nie en ek het kosbare ontdekkings gemaak. Ek is al vir 20 jaar willoos-gewillig vasgevang in dié paradoks. Kortliks iets hieroor, ek weet dis algemeen bekend. Dis basies ’n beredenering of studie van verskynsels waarvan die belang, aard en sin nie vooraf begryp kan word nie. Sokrates en sy studente was per geleentheid besig om oor deugsaamheid (“virtue”) te debatteer, maar kon nie tot ’n beslissende beskrywing of definisie kom nie. Hoe, wou sy student Meno later gefrustreerd weet, kan hulle soek na iets as hulle nie eers weet wat dit is nie? Wat meer is: Hoe sou hulle dan ooit weet as hulle dit sou vind?!

Friedrich Schiller se beroemde briewe On the aesthetic education of man aan die einde van die agtiende eeu beskryf dié uitdaging treffend en is moeilik om te vertaal:

To lay hold of the fleeting phenomenon, [the philosopher] must first bind it in the fetters of rule, tear its fair body to pieces by reducing it to concepts, and preserve its living spirit in a sorry skeleton of words. Is it any wonder that natural feeling cannot find itself again in such an image, or that in the account of the analytical thinker truth should appear as paradox? [...] For [Beauty’s] whole magic resides in its mystery, and in dissolving the essential amalgam of its elements we find we have dissolved its very being.

Ek is gek oor die woorde sorry skeleton of words. Dis dan ook wat my skryfstuk is. Maar, sê Schiller ook – en daarmee vererger hy die dilemma – die mens kan slegs sy weg na vryheid deur skoonheid (“beauty”) vind. Praat van onmoontlik, selfs ysingwekkend.

Die vrae wat is kuns en wanneer is ’n ervaring ’n estetiese een, moet dus as ’n kwessie van noodsaak, selfs oorlewing beantwoord word. Dit is dié voertuig na self-realisering. In hierdie opsig vind ek ’n beskrywing van die samestellende elemente of eienskappe van ’n estetiese ervaring deur die beroemde Monroe C Beardsley baie nuttig.

In 1970 bespreek Beardsley vyf moontlike eienskappe waaroor so ’n ervaring mag (moet?) beskik:

  1. Dit behels aandag aan ’n gedeelte van ’n fenomenologies objektiewe veld – óf sintuiglik (soos die kleure van ’n skildery) óf intensioneel (soos die gedigte in ’n digbundel) en aan die elemente en interne verwantskappe daarvan.
  2. Dit behels dat die fenomenologiese veld ervaar sal word as sou dit ’n gestratifiseerde ontwerp (in ’n digbundel sou dit van die samestellende elemente – gedigte? – moet wees) vertoon.
  3. Dit behels ’n bewustheid van sekere kwaliteite wat in menslike konteks deur woorde soos skoonheid, elegansie, grasie, waardigheid, lighartigheid, ironie en geestigheid beskryf sou kon word.
  4. Dit word gekenmerk deur ’n redelik hoë mate van eenheid in vergelyking met gewone, alledaagse ervarings. Eenheid het twee onderskeibare dele: samehang en voltooidheid. Daar moet dus ’n ongewone samehang en voltooidheid wees in die verskillende persepsies, gevoelens, gevolgtrekkings, herinnerings, begeertes, ens.
  5. Dit is intrinsiek bevredigend, en bring dus óf deurlopende genot óf bevrediging en vervulling daarmee saam. Dit impliseer dat die ervaring nie noodwendig lekker of aangenaam hoef te wees nie. Dink maar aan ’n skrikwekkende pretrit op die Cobra van die gestorwe Ratanga Junction: Dit blyk dalk eers ná die tyd dat dit aangenaam was.

Ek gaan die beginsels hierbo gebruik om my merkwaardige persoonlike ervaring van ’n konsert van Koos Kombuis in die Aasvoëlklub hier buite Bloemfontein so twee jaar gelede kortliks te ontleed. Ek weet Koos sal waardering hiervoor hê, want hy het per geleentheid besluit sy vertonings is benede sy hoë standaarde en het toe oor alles herbesin. Hy het ook iets anders gesê waaraan ek gereeld dink omdat dit so belangrik is: Hy’t naamlik gesê hy gee nie om as sommige Afrikaanse liedjies gewild is nie, maar hy sal ’n probleem hê as dit met pryse bekroon word. Dankie daarvoor, Koos.

Wat myns insiens betekenisvol mag wees, is dat daar tans ’n parallelle debat (aangeroer deur Charlize Berg) oor die kwaliteit van Afrikaanse liedjies is. Ek wil-wil aanvoel dat ons kultuur by ’n kantelpunt is.

Terug na Koos: Ek het die vrugte van sy illuminerende uitspraak en sy self-ondersoekende besinning gepluk, want sy konsert was fantasties en wel om die volgende redes – in die lig van Beardsley se vyf eienskappe hierbo:

  1. Hy het my aandag sonder moeite vasgevang. Ek het gefassineerd geluister. Ek was opgelos in tyd en spyt toe dit verby is.
  2. Hy het verskillende liedjies gesing, elkeen met sy eie lieflike en aparte identiteit. Daar was gestratifiseerde ontwerp, dus, niks eentonig nie. Geen dowwe kolle nie.
  3. Sy humor, geestigheid, passie en verstommende kundigheid as sanger en liedjieskrywer was verruklik. In sy konsert was daar inderdaad kwaliteite soos skoonheid, elegansie, grasie, waardigheid, lighartigheid, ironie en geestigheid. Hy was nie mooi op die Julie Andrews-manier nie, maar mens kan dít verstaan.
  4. In my gemoed het alles uitstekend bymekaar gepas. Daar was samehang, niks was hinderlik nie. Dit was tot hoë mate waar, meer as vir sommige vervelige konserte wat ek al bygewoon het.
  5. Koos se konsert was intrinsiek bevredigend en die herinneringe daaraan bring steeds vir my genot. Ek het elke oomblik en element daarvan geniet.

Ter opsomming: Koos se konsert was (vir my) ongetwyfeld ’n estetiese ervaring van hoogstaande gehalte, ’n genotvolle kunswerk met ’n duidelik aanvoelbare esteties bevredigende digtheid.

Nou: Wat beteken dit alles vir die omstredenheid rondom Lätti se Taboek en Moll se resensie? Is Lätti se boek poësie?

Ek dink nog. Of nee wag – ek het klaar gedink.

Lees ook:

Die nag van die lang snorre

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top