Verskoon my!

  • 0

Foto: Pexels

Lees ek in ’n artikel van Stephen Grootes in Daily Maverick ’n paar dae gelede: “Many of us like to try to understand a person we are talking to, a person we have just met. We want to know more about them. We often want to place them in our context.”1

Ons is mense. Ons is sosiale wesens. Dit beteken dat ons met mekaar omgaan en kommunikeer. En daarom is so ’n groot deel van ons mondelinge kommunikasie ’n weerspieëling van ons sosiale gedrag teenoor mekaar. Ons sosiale en kulturele voorskrifte maak dat ons, as opgevoede mense, ander in ag neem. As ons dit nie doen nie, word ons gebrandmerk as onbeskof, onbeskaafd of sommer ’n pyn êrens.

Om beleefd, beskaafd en aanvaarbaar met ander te kommunikeer, beteken dat jy jou massiewe ego so ’n bietjie op die agtergrond skuif en ander respekteer. Ons noem dit gewoon: goeie maniere.

Die gebruik van die woorde “verskoon my” is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ons gebruik dit wanneer ons die eettafel wil verlaat, tot ’n gespreksituasie wil toetree of dit wil verlaat, iemand wil onderbreek of sy/haar aandag wil trek sonder om onbeskof te klink, byvoorbeeld:

“Verskoon my, kan ek julle gou onderbreek?”

“Verskoon my, ek wil gou met die ou daar oorkant gaan praat.”

“Jammer” is nog so ’n woord: “Jammer om te pla, maar ...”

“Jammer” gebruik ons veral om verskoning te maak vir iets wat ons verkeerd gedoen het of waaroor ons verleë is.

“Jammer, man. Ek het jou nie gesien nie.”

“Jammer, Mevrou. Ons het nie jou nommer van hierdie bloes nie.”

En nou gebeur daar ’n baie snaakse ding in ons taalgebruik. Ek loop onlangs ingedagte tussen die rakke in ’n supermark uit reg voor ’n vrou in met haar swaargelaaide trollie en sy stamp liggies teen my.

“Ek is verskriklik jammer, Meneer. So baie, baie jammer.”

Ek sê toe maar net: “Jammer, dame.”

........
Het u al opgelet: Hoe groter die oortreding is, hoe kleiner die verskoning.
.......

Het u al opgelet: Hoe groter die oortreding is, hoe kleiner die verskoning. Dink maar aan politici. Jy sal nooit hoor dat hulle uitvoerig sê hulle is jammer nie, maar wanneer dit ’n klein oortredinkie of ongelukkie is, word daar soos die dame hier bo gedoen het, uitvoerig om verskoning gevra. En die een wat so om verskoning vra, hoef nie eers skuldig te wees nie. Dit wys maar net weer dat ons menslikheidsreëls soos dit in Afrikaans weerspieël word, soms snaaks werk. Dit geld ook ons hoflikheidreëls.

Hoflikheid beteken om die ander persoon meer in ag te neem as jouself. Die heel basiesste hoflikheidsreël is: Neem ander in ag!

Hoflikheidsreëls is ingewikkeld en het te doen met sosiale verhoudings soos verwantskap, vriendskap, statusverskil, bekendheid en baie ander veranderlikes. Maar ons kan ’n paar hoofkenmerke daarvan onderskei.

Een soort hoflikheidsreël het te make met aanspreekvorme, byvoorbeeld die erkenning van status met woorde of frases soos U Edele, Dominee, Professor, ens. En hier vind ons weer ’n vreemde verskynsel in Afrikaans. Hoflikheid en informaliteit lei dan tot die herhaling van die aanspreekvorm, soos in:   

“Tannie, sal tannie vir die oom vra om tannie se kar hier in te trek sodat ons tannie se kar kan was”, in plaas van: “Tannie sal u vir oom Tom vra om u kar hier in te trek sodat ons u kar kan was.”

........
U is vir ons in die meeste situasies net te formeel, en jy en jou weer te familiêr of gemeensaam, veral as statusverskil en ouderdomsverskil in aanmerking geneem word.
........

Kyk na die verskil tussen: “Dominee, het u die vakansie geniet?” en “Dominee, het dominee die vakansie geniet?” U is vir ons in die meeste situasies net te formeel, en jy en jou weer te familiêr of gemeensaam, veral as statusverskil en ouderdomsverskil in aanmerking geneem word.

Die erkenning van veral statusverskil dui op een soort hoflikheid wat ons “afstandshoflikheid” (of “statusverskilhoflikheid” as jy wil) kan noem. Die erkenning van iemand se status deur middel van aanspreekvorme word soms streng gereglementeer, byvoorbeeld in die hof, in formele vergaderings, ens.

Ander kere moet ons as’t ware onderhandel om die statusverskil reg te kry, met ander woorde om te bepaal of aan te dui wie is Baas en wie is Klaas. Of anders gestel: Ek meneer en jy meneer; wie sal die wa dan smeer?

Nou ja, wié sal die wa smeer?2

Wanneer deelnemers aan ’n gesprek goed bekend is aan mekaar, is die statusverskil gewoonlik klaar bepaal. Dis veral wanneer hulle mekaar nie ken nie dat onderhandeling op ’n baie subtiele vlak plaasvind. Voor dit gedoen is, gebeur dit dikwels dat die gespreksgenote die gesprek onbehaaglik vind en die gespreksgenote wedersyds selfs as onbeskof kan beskou.

Die volgende gesprek is jare gelede in ’n winkel opgeneem:

  1. Winkelassistent: Môre, waarmee kan ons help?
  2. Klant: Goeiemôre, ek het ses eetkamerstoele wat opgestop moet word.
  3. Winkelassistent: Ja, ...
  4. Klant: Kan ek hulle môreoggend bring en dit weer môremiddag kry?
  5. Winkelassistent: Maar hoe dink jy gaan ons al die stoele in een dag opgestop kry?
  6. Klant: Ek sal baie bly wees indien dit enigsins moontlik is, want ek het die stoele elke dag nodig; my leerlinge sit daarop as hulle musiekteorie doen.
  7. Winkelassistent: O, gee u musiek, Mevrou?

Wanneer ons na twee sake in die gesprek kyk, word die onderhandeling oor status baie duidelik weerspieël in die gebrek aan aanspreekvorme en die gebruik van voornaamwoorde. Let op dat daar in beurte 1 tot 6 geen direkte aanspreekvorm gebruik word soos byvoorbeeld Dame of Mevrou nie. Dit beteken dat die gestoei oor status (Wie sal die wa smeer?) nog aan die gang is.

Die assistent gebruik die voornaamwoord ons (beurte 1 en 5) en gee daarmee te kenne dat sy ’n hoër status, as werknemer van ’n firma of onderneming, het as die klant. Boonop gebruik sy in beurt 5 jy en jou, wat ons teenoor vreemdes gebruik net as gelyke status of mindere status veronderstel word. Die assistent vermy ook enige direkte aanspreekvorm wat kon wys dat die klant ’n hoër status het as sy.

Die klant is effens slimmer. Sy vermy dwarsdeur die gesprek enige aanspreekvorm of voornaamwoord wat enigsins haar opinie oor die status van die assistent weergee. In beurt 2 gebruik sy die lydende vorm om enige aanspreekvorme te vermy, en in beurte 4 en 6 vermy sy ook enige aanspreekvorm. Let daarop dat die assistent in beurt 5 eintlik ’n baie onbeskofte antwoord gee, wat eintlik sê: “Wat dink jy van jouself? Ons is nie hier vir jou om rond te order nie!” Daardeur probeer sy haar (hoër) status bevestig.

Die klant gebruik nou ’n slim strategie. Sy reageer nie op die onbeskofte uitlating met iets soos: “Nou wat doen julle dan? Wil of kan jy my nie help nie? Is julle dan so treurig?” nie. Nee, sy verplaas die klem na haarself. Sy gebruik ek en my en sê eintlik: Ek is net so belangrik, indien nie belangriker nie, as die ons. Dit bou sy in ’n skynbare terugtrede in met: “Ek sal baie bly wees ... elke dag nodig” (maw “Ek is verleë”), maar dan kom sy met die statusbepalende: “... my leerlinge sit daarop as hulle musiekteorie doen.” Daardeur sê sy vir die assistent: Ek is nie sommer enige hierjy wat jy kan jy en jou nie.

Die assistent het nou ’n keuse om voort te gaan met die konfrontasie (soos in 5) of om dit te aanvaar. Eintlik kapituleer sy heeltemal: “O, gee u musiek, Mevrou?” Nie alleen gebruik sy die formele u (ipv jy) nie, maar sy gebruik ook nou ’n direkte aanspreekvorm: “Mevrou”, en gee daardeur toe: “Ek is Klaas; ek sal die wa smeer. Baie welkom, Mevrou!”

Die geveg om status is gewen. Die gesprek kan nou normaal en vriendelik voortgaan.

 “Maar, verskoon my eers, ons gesels later weer.”

Eindnotas

1 https://www.dailymaverick.co.za/article/2025-06-05-after-the-bell-what-is-it-with-our-middle-class-school-obsession.

2 Met hartlike erkenning aan wyle Daan Wybenga se artikel “Wie sal die wa smeer?” In Wat bedoel jy? (GJ van Jaarsveld (red) 1987).

Lees ook:

Rituele in Afrikaans?

Verdomp, ek wonder oor ver-

Oor lieftallig en reikhalsend en ander snaakse samevoegings in die Afrikaanse woordeskat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top