Oor lieftallig en reikhalsend en ander snaakse samevoegings in die Afrikaanse woordeskat

  • 0

Sekere woorde in die Afrikaanse taal het die afgelope tyd baie aandag gekry het weens rugbyspelers wat woorde gebruik het wat in Afrikaans 'n ander betekenis het as in Engels. Hier skryf Gert van Jaarsveld oor nog ander interessante woorde in Afrikaans en oor samestellende afleidings.

Lieftallig is so ’n mooi woord met ’n positiewe betekenis. Maar kyk ons na die onderdele van die woord, herken ons lief. Wat is dan nou so tallig daaraan? En wat van reikhalsend? Waarna reik die hals? En watter soort bal is die een in balhorig of baldadig? Die woordeskat van Afrikaans wemel van die soort interessante samevoegings.

In die taalkunde, of linguistiek, bestudeer die subdissipline morfologie die betekenisvolle onderdele van komplekse of gelede woorde. Dit beteken dat die ondersoeker kyk na sistematiese eienskappe en patrone van klankvorm en betekenis in die onderdele van dié woorde.1

Die vernaamste bouprosesse van komplekse woorde is samestelling (of kompositumvorming), bv plaasdier, en afleiding, bv hoekig. Ons noem die dele van ’n samestelling stamme, want ons herken (dikwels) die oorspronklike woorde waaruit dit saamgestel is. Daar kan meer as twee stamme in ’n samestelling/kompositum wees, bv wegloopooi. Daarteenoor bestaan ’n afleiding uit ’n stam plus ’n voorvoegsel (of prefiks), soos in on- + -nodig) en/of ‘n agtervoegsel (of suffiks), soos in werk- + -loos.

’n Belangrike semantiese kenmerk van komposita is dat die laaste deel (ons noem dit die kern) sy morfologiese potensie behou, maw ons kan plaasdier verbind met -e of -tjie. Daarteenoor verloor die vorige lid (ons noem dit die bepaler) sy morfologiese potensie. Ons kry dus nie iets soos *plasedier, *plasiedier nie.2 Semanties funksioneer die bepaler as inperking en spesifikasie van die betekenis van die kern. Boer verwys generies na ’n bepaalde beroep. Varkboer verwys na ’n spesifieke soort boer. Ook die verhouding tussen die lede van ’n kompositum is interessant. In beesvleis bepaal ’n groter geheel die kern, maw dit gaan oor vleis van ’n bees. Hierdie insluiting van begrippe is die verskynsel van hiponimie. Die superordinaat bees bepaal in dié geval die kern vleis wat ons ’n hiponiem noem. Omgekeerd: In vleisbees bepaal die hiponiem vleis weer die superordinaat bees.3

Een van die interessante woordbouprosesse is samestellende afleiding. Kom ons neem ’n woord soos lagwekkend. Die -end is ’n bekende suffiks. Maar jy kry nie ’n kompositum lagwek nie, omdat *lagwek nie selfstandig as woord gebruik word nie. Die proses is dus die gelyktydige samevoeging van lag- + -wek- + -end. Dieselfde geld byvoorbeeld hardhorend, vrylopend, hartroerend, ens. Semanties is hulle redelik deursigtig, bv “iets wek lag”, maw die afgeleide samestelling is maklik om te ontleed.

Daarteenoor is die ontleding van sommige woorde, soos reikhalsend in bv “Sy sien reikhalsend uit na haar huweliksdag”, ‘n bietjie ingewikkelder. Vir die gewone taalgebruiker is dit egter nie nodig om die onderdele semanties uit te pluis nie. Sodra die konstruksie gevorm is, vorm dit ’n nuwe woord en konsep en die betekenis daarvan word as ‘n geheel deur die taalgebruiker geken. Hy/sy hoef dus nie daaraan te dink dat hals “nek” beteken, en dat reik eintlik van rek af kom, en dat dit letterlik geïnterpreteer of geparafraseer kan word as “nek rek om iets by te kom” soos ’n hoender om kos by te kom nie.

Nog ’n belangrike aspek word goed geïllustreer in voorlopig in bv voorlopige agenda. Dit kan soos volg semanties geparafraseer word: ’n agenda wat voor ’n ander “loop”/kom, vooruit dus, en nie permanent/finaal is nie. Die konsepte uit en nie finaal nie is deel van die betekenis van voorlopig, maar word nie in die samestelling in vorm uitgedruk/geleksikaliseer nie. Ons kan dit vormreduksie noem. Ek noem dit onderleksikalisering, maw die betekenis is meer as wat in vorme uitgedruk word. ’n Geelvis is nie geel nie; dis die binnekant van die bek en die kieudeksel wel geel is. Die stert is konkaaf en die vis is silwer, terwyl die rug 'n koperkleurige skynsel het. Die pens is wit. Die benaming geelvis is dus eintlik misleidend en kan as gevolg van onderleksikalisering nie eenvoudig verklaar word nie. Dieselfde geld bv rooivink.4

’n Pragtige, moderne voorbeeld hiervan kry ons deesdae al hoe meer in voedseladvertensies, bv liplekker sosaties. Almal weet wat liplekker is, maar dit maak semanties gesien nie sin nie: jou lip kan tog nie lekker wees nie. Maar lipafleklekker maak wel sin. Aflek word dus weggelaat of geonderleksikaliseer, maar die betekenis van aflek bly in die verkorting agter.

........
Onthou, baie van die woorde is oorgeërf en die samestelling of dele daarvan het mettertyd semanties ondeursigtig geraak. Dit kom deurdat ’n vorm met ’n bepaalde betekenis deur die loop van die jare verdwyn, daar soms vormverandering plaasvind, asook betekenisverskuiwing.
........

Net so by kernfisikus. Dit maak eers sin as jy weet krag soos in kernkrag is weggelaat.

’n Laaste voorbeeld. In “Hy vry na die blou-oog” word nooi weggelaat, maar dit bly in die betekenis van die samestelling.5

Die patroon stam + stam + -ig (suffiks) kom in letterlik honderde woorde in Afrikaans voor; vgl bouvallig, toevallig, lamsakkig, oppervlakkig, oorvloedig, oormoedig, weldadig, weemoedig, waaghalsig. Hierdie woorde is nie samestellende afleidings nie, maar afgeleide samestellings wat afleidings is van komposita wat op hulle eie in die taal voorkom, bv “Die huis is ’n bouval”; “Hy is ’n lamsak.”

Onthou, baie van die woorde is oorgeërf en die samestelling of dele daarvan het mettertyd semanties ondeursigtig geraak. Dit kom deurdat ’n vorm met ’n bepaalde betekenis deur die loop van die jare verdwyn, daar soms vormverandering plaasvind, asook betekenisverskuiwing. Dan moet die etimoloog nader geroep word. Wat ’n groot voordeel dat ek dmv ViVA aanlyn woordeboeke kon raadpleeg, in besonder die Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA), en ook dmv van Etimologiebank.nl toegang gehad het tot etimologiewoordeboeke in Nederlands, veral die Etymologisch woordenboek van het Nederlands (EWN), waarvan ek opsommenderwys ruimskoots gebruik gemaak het.

Baldadig beteken vandag “spelerig” of “uitgelate”. In Middelnederlands was bal se betekenis “sleg, boos”. ‘n Baldaet was dus ’n slegte of bose daad wat laat dink aan misdadig. Balhorig weer kom van balorig, “om sleg te hoor, hardhorend te wees” en is in Nederlands balorig en in Afrikaans balhorig. Baldadig het deur die loop van die eeue ’n positiewer betekenis gekry en by balhorig het die betekenis weer negatiewer geword. Boonop het in Afrikaans 'n vormverandering plaasgevind van orig na horig.

Interessant nou dat in Middelnederlands die samestelling baeldaet bestaan, met bal (met die betekenis “sleg” of “boos”) wat as afsonderlike woord gebruik is. Die toevoeging van -ig maak dit dus ’n afgeleide samestelling. Daarteenoor kom, sover ek kon vasstel, *bal(h)oor nie êrens as selfstandige woord voor nie. Dit is dus ’n samestellende afleiding deur die gelyktydige verbinding bal- + -(h)oor- + -ig. In balhorig dui bal- dus steeds ’n negatiewe gevoel aan:

bal·ho·rig b.nw. [balhorige, balhoriger, die balhorigste]

1 (veral van kinders gesê) doof vir raad/vermaning; ongehoorsaam: ’n balhorige spannetjie seuns.

2 moedswillig doof vir die bevele van meerderes; ongehoorsaam, weerspannig, onregeerbaar. (HAT aanlyn)

Kom ons kyk of ons op grond van semantiese deursigtigheid samestellende afleidings met -ig in groepe kan plaas. Onthou die -ig maak van die samestellende afleiding ’n byvoeglike naamwoord, of adjektief; ons noem dit dus ’n adjektiveerder.

1. Semanties deursigtig. Die dele van die kompositum kan letterlik geïnterpreteer word

plantaardig; goedaardig; kwaadaardig; boosaardig; wreedaardig; eentonig; eenparig; milddadig, gewelddadig, moorddadig; goedhartig, groothartig, gulhartig; blymoedig; lankmoedig; kwaadwillig; moedswillig (vanuit die gemoed); eiewillig; dienswillig; vrywillig; liefdadig; padwaardig; padvaardig; reisvaardig; openhartig; lofwaardig; selfstandig; hartvormig (honderde voorbeelde met -vorm- + -ig, bv blaarvormig, niervormig); kranksinnig; koudbloedig; warmbloedig; strydlustig; veglustig; selfstandig.

  • Alhoewel plantaardig ’n byvoeglike naamwoord is, neem dit nie normaalweg trappe van vergelyking nie: *plantaardiger, *plantaardigste.
  • Padvaardig beteken “gereed om te reis; op pad”, terwyl padwaardig beteken “geskik om op die pad te ry”.
  • Krank = siek is ’n verouderde vorm.
  • n Mens sou seker strydlus en veglus as geleentheidsamestellings kon gebruik, soos in: “Sy strydlus/veglus ken geen perke nie.” Dan sou strydlustig en veglustig morfologies ontleed kon word as afgeleide samestellings.

2. Semanties halfdeursigtig. Een of albei stamme moet figuurlik geïnterpreteer word.

swaksinnig; diepsinnig; skerpsinnig; stompsinnig; groothartig; kleinserig; kleinsielig; hardkoppig; hardnekkig; hardlywig; lighartig; lighoofdig; kortsigtig; sagmoedig; swaarmoedig; bloeddorstig; lafhartig; koelbloedig; losbandig.

  • Die bepalers in hierdie samestellende afleidings is meestal figuurlik. Swak- dui nie op fisieke swakheid nie, maar op geestelike tekortkoming teenoor skerp- in skerpsinnig wat verstandelike uitnemendheid aandui.
  • Dis interessant dat die bepalers hoofsaaklik byvoeglike naamwoorde is en die samestellende afleidings soms in antonimiese verhouding staan, bv skerpsinnig:stompsinnig. Skerpsinnig kontrasteer ook met Lighartig kontrasteer met swaarmoedig.
  • Kleinserig illustreer ’n ander dimensie van komposita. Die betekenisnuanses van klein- hier kan geparafraseer word as “maklik seerkry” of “bang wees vir seerkry”. Hierdie nuanse kom nie in die betekenis van klein as simpleks voor nie. Elke samestellende afleiding is dus ’n unieke verbinding van betekenisse.
  • Beide hardkoppig en hardnekkig se dele is figuurlik en die samestellende afleiding eintlik idiomaties, bv hardkoppig, “met ’n harde kop”. Daarnaas kry ons ook koppig met min of meer dieselfde betekenis, maar dié woord is direk afgelei van kop.
  • Met ’n harde nek is nie eintlik as uitdrukking in Afrikaans bekend nie. “Ndl hardnekkig het ontwikkel uit verwysings na trekdiere met harde, onbuigsame nekke” (EWA). Dit laat onwillekeurig dink aan halsstarrig. Die betekenisse is nou verwant. Dis interessant dat ons hard + nek kry in hardnekkig, maar nek (hals-) + styf (-star) kry in halsstarrig. Bepaler en kern is omgeruil.
  • Sig in kortsigtig (“kort van sig”) het dieselfde betekenis as stiksienig, waar stik kom van steek, “wat by sig vassteek”; vgl ook EWA.
  • Teenoor koudbloedig en warmbloedig wat letterlik verklaar kan word, staan koelbloedig wat niks met bloed te doen het nie, maar “wreed sonder genade/gewete” beteken. Waarskynlik ’n leenvertaling vanaf Engels “in cold blood”.
  • Losbandig was letterlik “uit die band/binding/hoepel losgespring” soos ’n wynvat wat uitmekaarval.6

 3. Semanties ondeursigtig. Groep 1.

Die betekenis van die kompositum maak nie sin uit die dele nie.

aandadig; aanvallig; volmondig; langdradig; voorlopig; armlastig; angsvallig;  rondborstig; vrypostig; spitsvondig; swartgallig; koelbloedig; soetsappig; hardvogtig.

  • In al hierdie gevalle speel assosiasie ’n belangrike rol, en die samestellende afleiding kan nie letterlik geïnterpreteer word nie, al lyk die dele bekend.
  • Volmondig kom waarskynlik nav die uitdrukking uit volle mond figuurlik geïnterpreteer as “hartgrondig, van ganser harte, volkome” (EWA) Langdradig kan alleen maar metafories verklaar word: “soos ‘n lang draad”.
  • Rondborstig: rond het hier die betekenis van “opreg”, en bors = “hart, inbors, gemoed”.7 Hier het ons weer die taalverskynsel metonimie, wat beteken dat ’n woord gebruik word om na ’n verwante of geassosieerde saak te verwys. Bors verwys hier na “hart” of “binneste” soos ons ook kry in inbors.
  • In aanvallig (bv aanvallige, mooi dametjie) beteken (sover ek kon vasstel) aan- iets soos die aan wat ons in aanstaan kry en val soos in dit geval my.
  • Aandadig: Hier het ons ’n mooi voorbeeld van vormverandering – “vervorm uit verouderde Afr handdadig, ‘medepligtig', en lg uit Ndl handdadig (al Mnl), 'skuldig aan 'n misdaad, medepligtig'. Ndl handdadig kan 'n samestellende afleiding met -ig van hand en daad wees, lett 'met eie hand werksaam aan misdaad', of 'n afleiding met -ig van handdaad.” Dit geld ook angsvallig: Mnl anxtvoudich “angstig, bang” > angstvaldig > Ndl angstvallig > Afr angsvallig (EWA).
  • Armlastig: Die las van armoede vir armesorg.
  • Spitsvondig: “Gevormd uit ‘spits’ in de betekenis ‘scherpzinnig’ en ‘vondigh’, ‘vindingrijk’ [1550; iWNT vond] Aanvankelijk bestonden spitsvondig en spitsvindig naast elkaar, als leenvertaling van Vroegnieuwhoogduits spitzfündig en spitzfindig. In het Duits is de vorm met -i- de standaardvorm geworden, terwijl het Nederlands alleen de vorm met -o- heeft behouden (EWN).8
  • Vrypostig: vry- kan letterlik verklaar word; post- het niks met die hedendaagse pos te maak nie. -postig se herkoms is onbekend (vgl EWN, terwyl moontlikhede genoem word in EWN en EWA.
  • Hardvogtig: Dit is werklik ’n interessante samestellende afleiding. So ook swartgallig. Terwyl hard en swart figuurlik is, verwys vog en gal na werklike vloeistowwe. Vir jare het dokters geglo nav Hippokrates se indeling van persoonlikheidstipes gekoppel aan liggaamsvloeistowwe, dat die verhouding van die vloeistowwe in die liggaam persoonlikhede bepaal. Dié vloeistowwe is bloed, geel gal, swart gal en slym. Hardvogtig slaan op die “vog” in die liggaam wat dan “hard” is, en so ’n persoon is wreed, ontoegeeflik en ongenaakbaar. Swartgallig weer dui op die “swart gal” en impliseer swaarmoedigheid as vername karaktereienskap. In Grieks beteken melaina chole inderdaad “swart gal”. Dis waar ons melankolie(s) vandaan kom.

4. Semanties ondeursigtig. Groep 2.

Een deel bevat ’n semanties ondeursigtige, argaïese vorm.

balhorig; baldadig; aamborstig; uitbundig; barmhartig, halsstarrig; kloekmoedig; kortstondig (tydstip); luidrugtig.

  • Aamborstig: Die woordeboeke gee verskillende verklarings vir die aam- in Ek volstaan met ’n kort aanhaling uit ELW: “Lg is 'n sametrekking van ademborst, 'n samestelling van adem ‘asem' en Mnl borst, borste 'gebrek'.”
  • Uitbundig het ’n interessante herkoms uit die tekstielbedryf. Ausbündig kom in Hoogduits voor en Ausbund beteken letterlik “buite die bundel”. Volgens T Pluim (1911), Keur van Nederlandsche woordafleidingen, Purmerend: “... uiteinde van een stuk laken, dat niet opgebonden (opgerold) was, maar uitgevouwen lag, om als monster, als “toonbeeld” te dienen; een “Ausbund” moest dus voortreffelijk, puik, bijzonder goed zijn; vandaar: iets uitbundig prijzen = iets als toonbeeld, als voortreffelijk prijzen.” Na aanleiding hiervan het die woord die betekenis van “voortreflik” gekry. Maar ’n verskuiwing in betekenis na die benoeming van emosionele handelinge het reeds in Nederlands plaasgevind en vandag ken ons uitbundig as “uitgelate, (selfs) lawaaierig, luidrugtig, opgewonde”. Ook weer ’n mooi voorbeeld van betekenisverskuiwing (EWN).
  • Barm- in barmhartig word uitvoerig in verskeie etimologiewoordeboeke bespreek. Kortliks: Dit was eers armhartig in Goties (’n hart hê vir die armes) en ’n vertaling van die Latynse misericors, waarin die dele miser: “ellendig/arm/ongelukkig, arm” en cor: “hart” herken word. Ons kry ook erbarm en die b- was in Goties ’n voorvoegsel (EWN).
  • Meewarig: Mee is ’n wisselvorm van mede, en waar in Oudhoogduits is “opreg, vriendelik”.
  • Voorbarig: In Middelnederlands was die betekenis “deur ander as voortreflik beskou” Dit het ontwikkel na “self op voorgrond te plaas” tot “voortvarend”, waaruit die negatiewe betekenis in Afrikaans “astrant, aanmatigend, opdringerig” (EWA) ontwikkel het.
  • Luidrugtig: Uit Middelnederlands luid + ruchte (“geskreeu, geroep”) (EWN). Die ruchte herken ons ook nog in berug, gerug en rugbaar (maak).

Heldhaftig en manhaftig lyk na samestellende afleidings, maar hulle is nie. Hulle is ontleen aan Hoogduits mannhaftig. Die ft in Duits het verskuif na cht in Nederlands, bv Luft > lucht. Dus heldachtig en manachtig met -achtig se betekenis “soos ’n man/held”.

Die gedig “Awater” deur Martinus Nijhoff (1934) bevat ook ’n adagium of spreuk: "Lees maar, er staat niet wat er staat." Die betekenis van ’n kompositum, afgeleide samestelling en samestellende afleiding is nie bloot ’n optelsom van betekenisaspekte van die dele nie. Sinkronies gesien kan baie samestellings nie op sigwaarde ontleed word nie; vgl maar Groep 1 hier bo. Ons het ook oeroue vorme oorgeërf uit Nederlands, wat beteken dat ons vorme in samestellende afleidings kan identifiseer wat nie met bekende woorde in Afrikaans korreleer nie en waarvan die betekenisse onduidelik is. Dit maak dalk die soeke na groter semantiese reëlmaat, patrone of sistematiek moeilik, indien nie onmoontlik nie.

Laat ek dan maar “lieftallig” afsluit. Ek hoop u is ook “in tel / van die getal” mense wat “lief is / liefde gee”. Die vorm tal in lieftallig, getal en aantal kom van die werkwoord tel.

En so geliefdes, my hartgrondige groete!

Eindnotas

1 Gerrit van Huyssteen bied ’n uitstekende oorsig oor die studie van morfologie in sy hoofstuk in Kontemporêre Afrikaanse taalkunde, 2014,Van Schaik, ble 171–208.

2 ’n Paar uitsonderings kom voor, soos in mannetjieskat.

3 Daar is verskeie soorte verhoudings binne komposita en dit is ’n uitgebreide tema wat ek nie hier kan bespreek nie.

4 Die broeiende mannetjie is swart en rooi; die voorkroon is swart en die slagvere is bruin. Niebroeiende mannetjies en wyfies het breë dofgeel wenkbroue, fyn gestreepte borste en bruinerige snawels. https://www.wikiwand.com/af/Rooivink.

5 Dit word ’n eksosentriese kompositum genoem. Die verwysing is na die voorwerp/saak waarna die weggelate gedeelte verwys.

6 PAF van Veen en N van der Sijs, Etymologisch woordenboek: de herkomst van onze woorden, 1997, 2de druk, Van Dale Lexicografie, Utrecht, Antwerpen.

7 PH Schröder, Van aalmoes tot zwijntjesjager,  1980, Baarn. “Er zijn enkele woorden in het Nederlands die in oorsprong figuurlijk zijn en slechts schertsend letterlijk kunnen worden gebruikt. Een daarvan is rondborstig, een ander is openhartig. Het is evenwel duidelijk dat men beide woorden ook letterlijk kan gebruiken. Dan heeft het eerste betrekking op de lichaamsvormen van een meisje of vrouw, het tweede op de uitsnijding van haar japon.”

8 M Philippa, F Debrabandere, A Quak, T Schoonheim en N van der Sijs, Etymologisch woordenboek van het Nederlands, 2003–2009, Amsterdam.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top