Verdomp, ek wonder oor ver-

  • 1

 

Terwyl ons Afrikaans as skryf- of spreektaal gebruik, is ons oor die algemeen onbewus van sekere taalpatrone. Dié patrone is opmerklik soms op klankvlak – vgl flikker, flonker, fladder, flakker, flapper, fletter in woorde wat met fl- begin en op -er eindig en wat almal dui op ’n trillende, herhaaldelike handeling of frekwentatief.

Patrone kom ook op woordvlak voor, en natuurlik ook op sinsvlak.

Onlangs tref so ’n patroon my terwyl ek sinonieme soek vir die kragwoord verdomp. Ek kry toe die volgende rytjie: verdomp, verbrands, verduiwels, vervlaks, verdeksels, vergalste, vervloeks. Ek dink toe ook aan ander kragwoorde wat in hulle plek gebruik kan word, soos hel, donner, bliksem en dit tref my: Geeneen van hulle val in ’n patroon met ver- soos dié rytjie hier bo nie.

Wat is aan die gang met ver-? Sit daar aan ver- bepaalde betekenisnuanses wat so ’n rytjie moontlik maak?

Ek doen toe ’n klein ondersoek na ver-. (Onthou dat wat hier onder staan, nóg ’n uitgebreide sinkroniese nóg ’n diakroniese ondersoek aan die hand van ’n groot korpus data is.)

Betekeniswaardes van ver-

Maak: verarm, veraangenaam, verbeter, veredel, verfraai, verseker, verander, versoet, verbitter, verblind, verbly, verbou, verbreed, verbrits, verbrons, verchroom, verdiep, verdig, verdonker, verdoof, verenig, vererts, verfyn, vergas, verfilm, verhonger, verneder, versag, verskrik, versuur.

Maak tot: veras, verafgod, versuiker, verafrikaans

Word: verbeen, verbleek, verbrak, verdamp, verdor, verdwerg, verhout, versteen, verkalk, verlam (?), verdierlik

Verander van: verjaar, vertaal, verhuis, verruil, verplant, verskuif, verdring, verklee, verveer

Veroorsaak: verhinder, vervuil.

Sover eintlik maklik. Maar gou kry jy ’n woord soos versuip wat nie in een van die groepe hier bo val nie en ook nie ’n duidelike betekeniswaarde het nie. Die ver- hier kan hoogstens as ’n intensiveringsvorm (erg, baie erg, te veel, oordadig) beskou word. Ons herken die stamwoord en dit het ’n gewone positiewe of negatiewe betekenis. Die mooiste voorbeeld hiervan is seker ongeluk. Die gevolge van ’n ongeluk maak is nie noodlottig nie, maar voeg ons ver- by, is die ongeluk wel noodlottig – verongeluk impliseer dood. Daarom is dood verongeluk ’n pleonasme (oorbodige semantiese inligting). Om iemand te vervloek is nie maar gewoon om hom te vloek nie, maar om hom ’n intensiewe, lang, negatiewe, selfs noodlottige, helse toestand toe te wens.

Voorbeelde van intensiewe: verskeur, verbrand, verdrink, versuip, versmoor, verongeluk, verslaap, verbrou, verknoei, verjaag, verwilder, vervloek, veranker, verban, verbaster, verberg, verbruik, verdelg, verdruk, verdwaal, vereffen, vergeld (?), vergis, verwar, verken, verkla, verklik, verkreukel, verlei, vermaan, vermeng, verneder, veroordeel, verpletter, verrek, versuur,  verswik, verafsku (?).  

’n Mooi positiewe voorbeeld is eer – vereer. ’n Antoniempaar kom voor by ag – verag, maar waar ag, soos eer – vereer, positief is, is verag negatief intensiverend. Die teenoorstaandes: koop – verkoop gee verskillende perspektiewe op ’n bepaalde transaksie.

By ’n groepie van hulle word die grondvorm nie onafhanklik gebruik nie, byvoorbeeld moei in vermoei. Maar ons kry die vorm terug in woorde soos moeisaam, moeilik. Nog ’n voorbeeld: verbied teenoor gebied.

Maar nou het ons ’n hele klomp oorgeërfde woorde met ver-, maar die grondvorme word nie as afsonderlike woorde gebruik nie. -niel in verniel is volgens die etimologiese woordeboeke (vgl etymologiebank.nl) afkomstig van Middelnederlands niel “voorover ... steil, diep”, verorber  van oorbaar en verwaarloos van (Mnl) waerlos, (Mnl) warlôs. Die funksie van ver- word nie verklaar nie. Hier is ’n paar voorbeelde: verslind, verorber, verteer, verniel, vermink, verlep, verdwyn, verdoesel, verneuk, verbaas, verras, verkrag, verraai, verbeur, verbloem, verbluf, verbrysel, verbyster, verderf, verguis, verkluim, verkwansel, verkwik, verrot, verswelg, vermetel, verwaand.

’n Snaakse vorm is foei.1 Ons ken dit as vertedering of simpatie: “Foei/foeitog, so baie teenspoed is nie lekker nie.” Maar die werkwoord verfoei (baie negatief) kan teruggevoer word na die Middelnederlandse verfoeyen en die Nederlandse verfoeien (werkwoord). Uitspraak: [vər'fujə(n)]. Afbreekpatroon: ver·foei·en . Vervoegingen: verfoeide (verl tijd enkelv). Vervoegingen: heeft verfoeid (volt deelw) (iets of iemand) afschuwelijk vinden. Voorbeelden: “de nieuwe vriendin van je broer verfoeien omdat ze een snob is”, “het eten van vlees en vis verfoeien”. Synoniemen: verafschuw ...2. Verfoeien en verfoeilijk word steeds algemeen in Nederlands gebruik, aldus Bruno Andries se antwoord op my navraag op Facebook.

Al is die grondvorme vandag nie semanties deursigtig nie, lyk dit asof ver- hier ook intensiverend werk. Ek dink hier moet ons maar volstaan met wat in een etimologiese woordeboek aangedui word as een van die funksies van ver-, naamlik dat dit geen betekenis byvoeg nie, maar die grondvorm versterk en benadruk.3

Die naaste wat ek aan verdomp kon uitvind, is die Nederlandse verdomme (godverdomme). Waar die p in Afrikaans vandaan kom, weet ek verbrands nie. In Afrikaans ken ons nie verdorie nie, maar wel gedorie.

Dit is dalk nie vreemd dat die ver- help om in verdomp, verbrands, verduiwels, vervlaks, verdeksels, vergalste, vervloeks as emosionele uitroepe ’n intensiewe, negatiewe emosie oor te dra nie – wat die -domp, -brands, -vlaks, ens dan ook al mag beteken.

En wat maak ons nou met ver- in verlief?  Ek weet nie. 

Eindnotas

1 Myns insiens is G.J. van Wyk (2003), Etimologiewoordeboek van Afrikaans, Stellenbosch se eerste onderskeiding nie meer waar vir Afrikaans nie: 1. Uitroep van veragting, sterk afkeur. 2. Foeitog.

In bet. 1 uit Ndl. foei (1618), wat ontstaan het uit die gebaar van uitspuug. Bet. 2 het in Afr. self ontwikkel.

  1. pfui. Vanuit Afr. in S.A.Eng. (1906 in bet. 1). Uitleenwoordenboeken

2 Gevonden op https://www.woorden.org/woord/verfoeien

3 Etymologisch Woordenboek van het Nederlands, M. Philippa, F. Debrabandere, A. Quak, T. Schoonheim en N. van der Sijs (2003-2009), Amsterdam. (In: Etimologiebank.nl).

Lees ook:

Oor lieftallig en reikhalsend en ander snaakse samevoegings in die Afrikaanse woordeskat

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top