Verskeie voëls en Die 17de veer: ’n gesprek met Nanette van Rooyen

  • 0

Nanette van Rooyen het die 2020-ATKV-Woordveertjie verower in die Selfleeskategorie: Graad 8–10 met haar roman Die 17de veer (LAPA Uitgewers). Izak de Vries het met haar gesels.

Nanette, is dit nie gepas dat ’n boek oor vere die ATKV-Woordveertjie wen nie?

Dat ek nou wragtag ’n boek oor 17 vere moes skryf om ’n Veertjie te verdien. Ek loop nou nog op die wolke.

Die 17de veer was ook ’n naaswenner in die 2018-LAPA-Jeugromanwedstryd, is ek reg?

Ja, dis korrek.

Daar is 16 voëls se vere in die boek; elkeen het te doen met Lara se soeke na haarself. Ek wil nie die storie verklap nie, so ek gaan eerder vra: Hoe het jy op elk van die vere afgekom in jou soektog na ’n storie?

Ek gee my liefmoeder alle eer. Sy het my van kleins af op die spoor van vere gehou. Vir my gesê vere is boodskappe van die engele. Ek loop tot vandag toe nog nie verby ’n veer nie. Toe die liefmoeder oorlede is, moes ek haar huis gaan oppak. En wat vind ek? Glasflesse vol vere. Agter die Maizena in die koskas. Agter die streng-gestrykte linne. Tussen die koekblikke. Selfs in die medisynekas. Dit het my so geraak, want elke veer het beteken sy het wye paaie geloop.  ’n Baie goeie vriend van my is ’n ornitoloog. Hy het ook my oë oopgemaak vir die voëlryk.

Alex, die jongman in die verhaal, is ’n uilliefhebber. Jy sou dus ook oor hierdie pragtige roofvoëls moes navorsing doen – selfs oor hoe hulle soms mishandel word?

Ja, ’n uil roer my.  Ten tye van die skryf van die boek het ’n uiltjie op die boonste tiptoppie van ’n sipres oorkant my huis kom sit. Ek en daai uiltjie het ’n verhouding ontwikkel. Die simbool van wysheid. Vir sommige die doodsvoël. Die mitologie omtrent uile het my so gefassineer. Dit is internasionaal ’n gelade simbool, die uil.

'n Gevlekte ooruil (Foto: Izak de Vries)

En die musiek ... die boek het sommer ’n klankbaan van sy eie. In jou vorige boek, Ek was hier, speel musiek net so ’n belangrike rol. Wil jy iets daaroor sê?

Ek skryf nie een woord sonder musiek nie. En ek kies die musiek na die toonaard van die boek se grein. Chinchilla was vol Fado en verlate musiek. Met Ek was hier het ek Vrydae vir Sabina sit en wag terwyl sy baskitaarles gehad het; dit het ’n rol gespeel. Omdat beide my kinders musikaal is, help dit ook om my bekend te stel aan “nuwe” musiek. Die 17de veer het ’n klap van die steampunk gekry. Ai, En Eddie Vedder se Long nights en Wolf het my op ’n ander planeet neergesit.

Die boek is op ouer kinders, eintlik al jong volwassenes, gerig. Die karakters in jou boek is ook baie volwasse in hulle optrede, net soos dit die geval was in Ek was hier. Beide romans handel oor gewone mense, in dié geval jongmense. Hoe so?

Ek hou my kinders dop. Ek luister hulle af. Ek probeer kyk deur hulle oë. Ek sal dit nie sommer aan hulle erken nie, want dan staan hulle bakhand vir tantième.

Ek wil weer iets vra oor gewone mense. In hierdie kategorie is dit lesers van graad 8 tot 10 wat self die wenners aanwys. Lara kom uit ’n doodgewone, taamlik disfunksionele huishouding. Alex het in ’n kinderhuis grootgeword. Albei werk om iets te verdien. Albei ken ryk kinders wat skynbaar baie het. Dié twee is dus doodnormale, alledaagse mense. Is jy bly dat regte lesers jou karakters genoeg geniet het om ’n prys daaraan toe te ken?

Ek wawiel oor die maan. Dit is die grootste kompliment tot dusver. Vir elkeen van daardie jongmense wat hulle stemme laat geld het: Hier is vir jou ’n veer. Met dank.

Tannie Flori in geel, heel regs, en tannie Koelsom langs haar. Kort na hierdie foto geneem is, het Nanette aan elkeen van hulle ’n getekende kopie van die boek oorhandig.

Die 17de veer is ’n Kaapse roman. ’n Mens kan gaan koffie drink waar Alex werk; jy kan die roete ry wat Lara met haar bromfiets ry. Jy het selfs vir tannie Koelsoem Kamalie en tannie Flori Schrikker ’n kamee gegee in jou boek. Aan die einde van verlede jaar, tydens hul tweede laaste optrede, het jy ’n boek aan elkeen van hulle oorhandig. Ek was hier speel ook op bekende plekke af. Waarom dié spel tussen feit en fiksie?

Ek moet die omgewing ken waarin my skryfsels afspeel. Ek loop sit aspris in daardie ruimte. Weet jy hoeveel Resurrection-koffies ek by Truth moes gaan drink met die skryf van Die 17de veer? Nee, jy wil nie weet nie.

Lees ook:

Lesersindruk: Die 17de veer deur Nanette van Rooyen

Ek was hier deur Nanette van Rooyen

Jong lesers: Nicholas Hanlon resenseer Ek was hier deur Nanette van Rooyen

ATKV-Woordveertjiewenners 2020: Kinderboekafdeling

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top