
Boekomslag: Naledi; foto van Evert Buurman: verskaf.
Titel: Van Oekraïne tot Iran: reisverhale met ’n lag en ’n traan
Skrywer: Evert Buurman
Uitgewer: Naledi, 2026
ISBN: 9781997476061
Evert Buurman se reisbundel getiteld Van Oekraïne tot Iran is onlangs deur Naledi uitgegee. Die bundel beslaan 50 verhale waarin Buurman sy reiservaringe in lande soos Oekraïne, Libanon, Sirië, Israel en Iran met lesers deel. Daar is ook staaltjies van lande in die Kaukasus-gebied en langs die Swart See, asook verskeie lande en bestemmings in die Midde-Ooste.
Die reisverhale spruit uit Evert se voorliefde vir geskiedenis en argeologie en reise wat hy onderneem het om navorsing te doen oor die oudste strata van die mensdom se geskiedenis, veral van die Bronstydperk en daarna, die antieke wêreldbeeld en hoe daardie mense gedink en hulleself in die breër kosmos gesien het.
Evert Buurman antwoord Louise Viljoen se vrae oor die boek.
Wie is Evert Buurman?
Ek is ’n Suid-Afrikaner in murg en been, maar ’n Nederlander in hart en siel. Ek is besonder trots op my herkoms as nasaat van die stigtervader van die De Wet-familie, Jacob de Wet, asook die De Ruijter-familie van Nederland. Dit was my voorreg om in ’n verrykende multikulturele familie op te groei. Ek het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en die grade BLC en LLB behaal, waarna ek vir baie jare as prokureur gepraktiseer het.
Sedert 2013 woon ek in verskillende Europese lande. Tans bly ek in Italië waar ek Engels doseer en boeke redigeer. Ek praat Afrikaans, Engels, Nederlands, Spaans en Frans (minder goed) en leer ook tans Italiaans (baie moeilik). Ek het ’n voorliefde vir reis, lees, geskiedenis en argeologie, swem en snorkel, vlieghengel en musiek.
Hoewel ek nie ’n tradisionele kerkganger is nie, is ek spiritueel en glo ek aan ’n almagtige God en ’n ewige hiernamaals. Ek is ook ’n romantikus wat vashou aan die mooi en die wonderlike. Ek glo aan die goeie in die mens en veral in die liefde.
Wat was jou beweegrede agter die skryf van Van Oekraïne tot Iran?
Ek het nie net eendag besluit om te gaan sit en skryf nie. Mense het my aangepor om my reis- en persoonlike ervarings neer te skryf. Hulle sê ek beskik oor die vermoë om die leser onmiddellik te boei en in my stories in te trek, dat my beskrywings so kleurvol en interessant is dat ek die leser ’n sensasie van “self daar wees” gee. Ek het mettertyd my stories oor besondere en unieke plekke, momente en ervarings in die vorm van kortverhale begin neerskryf. Die gevolg is dat ek nou oor ’n paar honderd stories beskik.
Met ’n hele aantal stories oor plekke wat vandag in die nuus is, sentraal staan in wêreldgebeure en tans nie eens besoekbaar is nie, het ek gedink dat dit dalk ’n goeie tyd is om van hierdie stories te publiseer. Ek het ’n bundel met ’n keur van 50 stories uit hierdie omstreke saamgestel. Naledi het dit uitgegee.
Is daar ’n deurlopende kerngedagte in Van Oekraïne tot Iran wat jy hoop lesers sal ontdek en internaliseer?
My primêre oogmerk was om iets te deel van die besonderse plekke wat ek bevoorreg was om te besoek, plekke waarby die meeste mense waarskynlik nooit sal uitkom nie, en ook te vertel van die onvergeetlike ervarings wat ek daar beleef het. Ek wou aan lesers ’n ander perspektief bied oor lande en gebiede waaroor daar negatiewe dinge in die media gesien en gehoor word. Dan wou ek ook die menslikheid van die inwoners uitlig, aangesien daar in die algemeen ’n skewe en verwronge beeld van hulle bestaan. Laastens wou ek ook die wonder en vreugde van reis – en die verbreding van die gees wat dit meebring – aan lesers oordra.
........
My primêre oogmerk was om iets te deel van die besonderse plekke wat ek bevoorreg was om te besoek, plekke waarby die meeste mense waarskynlik nooit sal uitkom nie, en ook te vertel van die onvergeetlike ervarings wat ek daar beleef het. Ek wou aan lesers ’n ander perspektief bied oor lande en gebiede waaroor daar negatiewe dinge in die media gesien en gehoor word. Dan wou ek ook die menslikheid van die inwoners uitlig, aangesien daar in die algemeen ’n skewe en verwronge beeld van hulle bestaan. Laastens wou ek ook die wonder en vreugde van reis – en die verbreding van die gees wat dit meebring – aan lesers oordra.
........
Jy is duidelik baie oplettend. Jy reissketse is gedetailleerd. Hoe onthou jy wat tydens jou reise gebeur? Hou jy dagboek? Of beroep jy jou slegs op jou geheue?
Ek is van nature oplettend en onthou dinge – selfs van so vroeg af as jong kind – in detail en kleur. Selfs klanke en reuke bly my by. Ek hou nie dagboek nie, nee, maar foto’s is ’n ongelooflike rekord en hulpmiddel. Wanneer ek ’n storie skryf, haal ek gewoonlik die foto’s wat met die vertelling verband hou, uit en merk soms iets daarin op wat my dalk oor tyd ontgaan het.
Oekraïne en Iran. Lande wat vir al die verkeerde (en regte) redes nuuswaardig is – verwysend natuurlik na die huidige konfliksituasies. Jy was daar en het die mense van Oekraïne en Iran ontmoet en hulle lewenswyses en kultuur ervaar.
Wat was jou indrukke van albei lande en hul inwoners?
Iran is een van die ongelooflikste lande wat ek in al my omswerwinge besoek het. Die Irannese is van die vriendelikste en mees gasvrye mense wat ek nog ooit ontmoet of teëgekom het. Ons moet nooit die fout maak om die wonderlike mense van Iran en die redelik brutale regime waaronder hulle gebuk gaan, met mekaar gelyk te stel nie. Ek het ook in Oekraïne wonderlike, gasvrye mense ontmoet, en die armstes is gewoonlik die vriendelikste en behulpsaamste. So ook in die pragtige bergagtige Libanon en eeue-oue Sirië. Die Israelies is van die onplesierigste mense wat ek al teëgekom het. Die Palestyne, Moslem en Christen, wat ek op die Westeroewer teëgekom en ontmoet het, was weer van die vriendelikste.
Het jy steeds kontak met van die mense in Oekraïne en Iran? Indien wel, weet jy dalk hoe hulle persoonlik deur die onderskeie konflikte geraak is?
Ek het lank kontak gehad met ’n pragtige jong vrou in Oekraïne. Ons het heeltemal kontak verloor toe die oorlog in die Donbass-gebied waar sy gewoon het, uitgebreek het. Haar pa was Oekraïens en haar ma Russies, wat dinge vir haar baie moeilik gemaak het veral ná die uitbreek van die konflik in 2022. Haar ma het summier na Rusland gevlug, maar sy het agtergebly om na haar bejaarde ouma om te sien. Wat van haar geword het, weet ek nie.
Ek het ook vir jare kontak gehad met Reza Hadjizogloo, die ongelooflike vriendelike Irannees wat ons vir vyf weke lank deur die lengte en breedte van Iran rondgery het en ’n goeie vriend geword het. Ons het sy vrou, verfynd en belese, in Isfahan ontmoet. Maar helaas en treurig genoeg het sy stem net een goeie dag stil geraak; selfs e-posse wou nie deurgaan nie. Ek wonder so baie wat met hom gebeur het – vir seker nie iets goeds nie! – en of ons nie dalk skuld daarin gehad het nie. Op ’n stadium wou ons terugkeer na Iran spesifiek om Reza te sien en veral ook om die antieke Kharg-eiland, die oudste bewoonde eiland in die Persiese Golf met sy graftempels en rotsinskripsies, te besoek. Ons het dit op ons visumaansoeke vermeld. Ons het nie geweet dat daar ’n groot militêre basis op die eiland is nie, en ons visums is op grond van verdenking van spioenasie summier geweier. Alle kontak met Reza het daarmee eensklaps tot ’n einde gekom.
Hoe het dit jou geraak om dalk plekke wat aan jou bekend is, in skrikwekkende nuusmateriaal te sien en te weet dinge sal nooit weer dieselfde wees of lyk nie?
Dit is vir my geweldig hartseer en tas my gemoed met tye ernstig aan. Ek dink so baie aan soveel mense wat ek teëgekom het en wat vir seker omgekom het. Ook aan plekke wat onherstelbaar verwoes is, wêrelderfgoed soos Palmira en Aleppo, een van die oudste bewoonde stede in die wêreld met sy ongelooflike antieke souk, waarvan weinig oor is. So kan ek aangaan en aangaan. Ek moet so versigtig wees hiermee, want dit gebeur dat ek in melankolie verval as ek te veel daaroor begin tob en dan soms sukkel om weer daaruit te kom. Hoewel dit nie oor oorlog gaan nie, maar oor die groot aardbewings van ’n paar jaar gelede, gee die laaste storie in die bundel “Nour, haar naam is Nour” iets weer van hierdie onderliggende hartseer in my.
Verkies jy om saam met iemand te reis of hou jy van jou eie geselskap?
Ek het geen probleem met my eie geselskap nie, maar dis aangenamer om saam met persone waarvan ek hou, waarvoor ek lief is en wat my passie deel, te reis en plekke en ervarings mee te maak.
Watter land of plek sal jy graag weer wil besoek en hoekom?
Uit die lande wat in die boek figureer, sekerlik Iran, Libanon en Turkye. Iran vir sy ongelooflike en geskakeerde geskiedenis, eeue-oue kultuur en landmerke. Libanon vir sy asemrowende natuurskoon en Turkye wat ’n wafferse opelugmuseum is.
Oor watter plek het jy dalk groot verwagtinge gekoester, maar is toe teleurgestel?
Nee, daar bestaan nie so ’n plek nie. Elke plek en bestemming het sy eie bekoring, unieke gevoel en besonderse aanbod. Daarmee saam, en hoewel ek presies weet wat ek wil sien en doen, koester ek nie noodwendig verwagtinge nie. Ek vat ’n land soos dit kom en geniet die wonderlikhede wat elke plek bied. My filosofie is dat die wonderlikste plekke en momente oor jou pad kom juis wanneer jy sonder te veel verwagtinge en vooropgestelde idees gaan om net oopkop te geniet en saam met die vloei te beweeg.
Jy is lief vir navorsing, argeologie en geskiedenis. Dit gee seker aan jou ’n besonderse reiservaring om meer oor die agtergrond van die plekke wat jy besoek, te weet. Kan jy meer daaroor vertel?
Dit maak in my beskeie mening al die verskil. Agtergrondkennis, om presies te weet waar jy jou bevind en wat alles daar gebeur het, maak die ervaring soveel meer intens en waardevol. Dit bring ook ’n diep bewustheid wat die siel ryklik beloon en die gees enorm verryk.
Vertel meer oor jou skryf- en publikasieproses ten opsigte van Van Oekraïne tot Iran.
My skryfproses hang grootliks van my gemoed en bui af. Ek skryf wanneer ek opgewonde of bly is en ook wanneer ek treurig en hartseer is. Ek het dus ’n impuls nodig om my aan die skryf te kry. Ek kry idees uit ervarings, kortstondige oomblikke of langer periodes en broei daaroor. So werk ek aan die struktuur en inhoud van ’n beoogde storie in my kop en wanneer ek dit neerskryf, gaan dit gewoonlik vinnig, aangesien ek dan presies weet wat ek wil sê en hoe.
Watter skryfwenke het jy vir voornemende reisverhaalskrywers?
Van uitstel kom afstel. Gaan sit en begin net.
........
Van uitstel kom afstel. Gaan sit en begin net.
........
Dit is harde werk; dit is oor en oor skryf; dit is eensame werk. Maar daar is baie hulp van uitgewers en hul medewerkers om jou teks te veredel tot ’n volwaardige publikasie vir almal om te lees en geniet en wat jy agterlaat vir die nageslag. Al die moeite en opoffering is die moeite werd wanneer jy met jou publikasie in die hand staan. Neem net die stap, gaan sit en begin net; dit is die heel belangrikste en mees deurslaggewende stap in die hele proses.
Vertel gerus meer oor jou skryfgeskiedenis.
Van Oekraïne tot Iran is my eerste volwaardig onafhanklike publikasie. Ek het vanaf 2008 tot 2012 enkele bydraes geskryf vir ’n jaarlikse glanspublikasie wat deur die destydse Griffel Uitgewery uitgegee is, naamlik POMP. Ek was nou betrokke by die skryf van ’n boek wat in 2009 onder ’n skuilnaam uitgegee is, naamlik Discovering the keystone, solving the riddle of The Red Serpent after 40 years.
Dan was ek ook betrokke by die skryf van ’n reeks boeke oor die Nephilim deur my vriend Willem McLoud. My naam verskyn op die titelblad as erkenning vir my noue medewerking (waaronder uitgebreide navorsing, reise vir navorsingsdoeleindes na die Midde-Ooste, die Kaukasus-gebied, die Swart See-gebied, die Middellandse See-gebied, Europa tot die verre noorde en die Britse Eilande, redigering en proeflees). Met die skryf daarvan: The Nephilim: kings of an epic age (2021), The Nephilim: an unholy brood (2022), The Nephilim: grail bloodlines (2023). Dragon seed: the Hurrians, dragon-slayer myths and traditions of giants (2025) en Nine ages of the Nephilim: a brief history (2026). Ons is tans ver gevorder met A stone fallen from Lucifer’s crown: high secrets of the holy grail. Dit sal volgende jaar verskyn. En laastens is ons besig om aan die laaste boek in die siklus te werk The A to Z of Nephilim lore.
Dankie vir jou interessante antwoorde, Evert!
Lees ook:
Van Oekraïne tot Iran deur Evert Buurman: Reis is meer as net ontdekking en verkenning

