Van Oekraïne tot Iran deur Evert Buurman: Reis is meer as net ontdekking en verkenning

  • 0

Titel: Van Oekraïne tot Iran: reisverhale met ’n lag en ’n traan
Skrywer: Evert Buurman
Uitgewer: Naledi, 2026
ISBN: 9781997476061

Die mens se dryfveer om te reis lê dikwels dieper as die blote begeerte na ontspanning of die versameling van oppervlakkige toeriste-indrukke. Vir sommige is die daad van verplasing ’n eksistensiële soeke, ’n argeologiese uitgrawingsproses van die siel én van die geskiedenis.

In Van Oekraïne tot Iran: reisverhale met ’n lag en ’n traan neem Evert Buurman die leser op presies so ’n diepdelwende ekspedisie. Dit is ’n versameling wat oor jare heen geslyp is uit die skrywer se ryk persoonlike argief van herwaarts en derwaarts reis, sorgvuldig saamgestel uit ’n keur van talle intieme reisverhale en opgetekende ervarings.

Evert se kortverhaalbundel onderskei homself dadelik van die deursnee-reisartikel deur doelbewus koers te kies na die minder begaanbare gebiede en komplekse bestemmings van die wêreld. Sommige verhale staan op hul eie, ander strek oor verskeie hoofstukkies, maar het een bestemming as gemene deler om dit saam te bind.

Sy roete sny hoofsaaklik deur die histories gelaaide geopolitieke landskappe rondom die Swart See, vanwaar dit verder suidwaarts kronkel na die Midde-Ooste om uiteindelik in die ryk, eeue oue kultuurwêreld van Iran te eindig. Hierdie is nie streke waarheen die gemiddelde reisiger sonder meer stroom nie; dit is gebiede wat dikwels in die hoofstroommedia met konflik geassosieer word, maar wat onder Evert se fyn pen transformerend blootgelê word as bakens van diep menslikheid, gasvryheid en historiese kontinuïteit.

Wat hierdie verhale so meesleurend maak, is die skrywer se passievolle voorliefde vir die geskiedenis en die argeologie. Evert reis nie as ’n passiewe toeskouer nie, maar as ’n navorser wat op soek is na die oudste strata van die mensdom se geskiedenis. Sy akademiese en intellektuele agtergrond syfer subtiel deur die teks sonder dat dit ooit swaar of pedanties raak. Elke baken, elke antieke ruïne en elke ontmoeting word geplaas binne ’n breër historiese konteks, waardeur die verlede tasbaar in die hede in herleef. Dit voel nooit of hy dinge lys net om jou te beïndruk nie, maar eerder om sy woorde dieper te laat insink,

Die subtitel van die bundel, Reisverhale met ’n lag en ’n traan, som die emosionele trefkrag van die boek perfek op. Evert beskik oor die rare vermoë om die berekende, die humoristiese en die hartverskeurende in een sin te balanseer. Die staaltjies uit hierdie uitdagende gebiede weerspieël die dikwels uitmergelende burokrasie, die taalversperrings en die onvoorspelbaarheid van die pad, maar dit word altyd hanteer met ’n fyn humorsin en diepe deernis vir die mense wat sy pad kruis.

Hy skryf onder meer tydens sy reis na Armenië van hoe hy ’n  man ontmoet wie se taal hy nie verstaan nie. Hulle groet mekaar in hul eie taal en na ’n paar kosbare oomblikke ontmoet hul oë en is daar skielik geen kommunikasieprobleme nie: net twee pa’s wat na hul seuns verlang. Ek en my geliefde het hierdie tipe verbintenis met ’n gesin in Letland gehad, waar ons hulle help olywe oes het en saam met hulle geeët het; onbevoeg om te gesels, maar nie om te kommunikeer oor die basiese respekte en dankbaarheid nie.

In Side in Turkye kom hulle ounag by ’n gastehuis aan. Die Duitse vrou lyk nors en hulle weet dis ’n ongoddelike uur om te arriveer. Maar teen alle verwagtinge in haal sy ’n paar bottels wyn uit die yskas ...

Ons het byna in die ysige waters langs die Yslandse kus beland na ons klein bootjie enjinprobleme ontwikkel het. Met taal die grootste struikelblok spring ’n Britse vrou in en help die kaptein en sy jong span om die brand in die enjin te blus en sê ons moet saam met haar op die bodek gaan sit, en sy haal heel rustig ’n bottel wyn uit en bring drie plastiekbekertjies te voorskyn. Sy was bang ons almal verdrink en dan het sy nog nie kans gehad om oor Suid-Afrika uit te vra nie!

Daardie onverwagse kuiers op onmoontlike plekke of tye is wat reis so onweerstaanbaar maak.

In Israel – na ’n lang rit deur die Sinai-woestyn word hy deursoek nadat ’n koevert met dollars by hom gevind word. Dis mooipraat en verduidelik voor hy vrygelaat word. Ons is in 2014 deur Mianmar en moes ook splinternuwe dollars saamneem, want toe kon jy nog nie geld by kitsbanke trek nie. Ek is ook uit die tou gehaal deur ’n doeaneman en ons kon mekaar ook nie verstaan nie. Gelukkig het ek die brief van die reisagent in my handbagasie gehou en daar het sy geskryf hoeveel sy aanbeveel ons in note saambring vir die duur van die reis. Toe dié bedrag die note in my koevert ewenaar, was ek vry om te gaan.

“Dit was nou hittete,” soos Evert se ma sou sê.

Evert Buurman se eie lewensloop lees soos ’n kosmopolitiese avontuur wat hom uniek kwalifiseer om hierdie tipe verhale te vertel. Hy is in 1958 op Witbank in die destydse Oos-Transvaal (nou Mpumalanga) van ’n Nederlandse pa en Afrikaanse ma gebore en dra reeds van kleins af ’n ryk skat van kulturele dualiteit in hom saam.

Sy vormingsjare aan die Universiteit van Pretoria, waar hy die grade BLC en LLB behaal het, asook sy jare as praktiserende prokureur in Pretoria, het hom duidelik toegerus met ’n skerp waarnemingsvermoë. Sy latere verhuising na Kaapstad en uiteindelik na Europa, waar hy agtereenvolgens in Nederland, Slowakye en lank in Spanje gewoon het, en tans as Engels-dosent (madre lingua) in Italië woon, maak van hom die argetipiese wêreldburger.

Sy veeltalige agtergrond (hy praat benewens Afrikaans, Engels en Nederlands ook Spaans, Frans – wat hy nie ewe goed skryf nie – en leer tans Italiaans) stel hom in staat om met deernis anderkant vooroordele te kyk.

Hoewel sy ankers vandag stewig in Europa en sy familie (sy seun Anthon, kleinseun Jan-Anthon en Jean-Mari in Nederland) gevestig is, bly sy pen getrou aan die ryk tradisie van die Afrikaanse reisverhaal. Van Oekraïne tot Iran is ’n hoogs vermaaklike toevoeging tot die genre, en ’n lekker-lees vir dié wat die wêreld se polsslag anderkant die bekende toeristeweë wil voel.

Soos hy tereg in sy voorwoord skryf: “Reis verbreed horisonne, leer en voed op, dit raak die menswees aan. Reis word vir my nie net ’n passie nie maar ’n lewenswyse.” As ewe reismal skrywer vind ek aanklank by hierdie woorde en by baie van sy beskrywings.

Dis ’n heerlike leunstoelervaring en kan in klein dosisse op ’n slag geniet word; of as jou reisvoete jeuk, alles na mekaar.

Ek het hier en daar ’n effense krieweling agter my ruggraat voel afloop oor lomp sinskonstruksie wat dikwels soos KI klink, en ongevraagde hoofletters wat die boek se taal so effe verkramp laat voorkom. Ek glo altyd ’n ekstra redakteurs- en proeflesersoog is nodig om daardie klein jakkalsies raak te sien.

Maar ek verstaan ook dat dit in die moderne samelewing ’n wonderwerk is dat ’n boek soos hierdie die lig sien, en daarom is mens se kritiek minder en jou dankbaarheid groter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top