
Evert Buurman skryf op Facebook:
So vlieg ons enkele dae voor die uitbreek van die Tweede Golfoorlog in April 2003 van Bahrein in die Persiese Golf na Shiraz in die weste van Iran.
In plaas daarvan dat die Boeing van Iran Air reg noord oor die Golf koers kies na Shiraz, vlieg dit tot ons verbasing reg suid oor Katar en draai dan oos al langs die kus van die Arabiese Emirate.
Ons is effe oorbluf en wonder of ons nie per dalks op die verkeerde vlug beland het nie. En waar is hierdie vliegtuig dan nou eintlik heen op pad?
Uiteindelik kom die kaptein se stem oor die luidspreker en verduidelik omslagtig in Farsi en dan kortliks in Engels dat hy vanweë die broeiende Amerikaanse oorlog teen Irak en vegvliegtuigverkeer oor die noordelike gedeeltes van die Golf genoodsaak is om met ’n ompad na ons bestemming te vlieg.
Ek en my twee reisgenote, die enigste Westerlinge op die vliegtuig, slaak ’n sug van verligting. Ek sit terug en is verras om Abu Dhabi ver onder my te sien verby skuif wanneer ons algaande noord begin draai. Doebai kom ook in sig en ek kan die bekende Burj Al Arab, wat soos ’n reuse wit seilboot in die turkooisblou see gebou is, duidelik sien.
Na Sharjah en nog ’n paar Emirate-stede langs die kus kom die verste punt van Oman en die Arabiese Skiereiland in sig. Ons vlieg reg oor die Straat van Hormoes, die nou ingang van so ’n 30 kilometer of wat na die Persiese Golf waar ’n groot deel van die wêreld se olie daagliks deur honderde olietenkers verskeep word.
Ek kan my oë nie glo nie, wat ’n heerlike verrassing. Ek het al wonderlike goed uit vliegtuie gesien, Berg Kilimanjaro, die magtige Nylrivier, die piramides, eilande van die Middellandse See, Venesië wat kompleet lyk soos ’n vis wat in die water lê, die sneeubedekte Alpe en nog vele meer, maar hierdie is uitsonderlik, die bekende en omstrede Straat van Hormoes uit die lug, spesiaal net vir my.
Van Khasab met sy wit afgekalkte voorkoms aan die bergagtige punt van die Arabiese Skiereiland, oor die nou Straat met tientalle skepe wat daar deur vaar, oor Qeshm-eiland en Bandar Abbas aan die ander kant op die Iraanse-kus en dan, uiteindelik, met ’n draai reg wes na Shiraz.
Ek dink in hierdie dae van onrus en die oorlog teen Iran en Iran se blokkade van die Straat baie terug aan daardie lang ompad, daardie wonderlike en uitsonderlike vlug Van Bahrein na Shiraz. ’n Vlug sonder weerga.
Ek kan ook nie help om te dink aan Marcus Crassus nie, ’n vertroueling van Julius Caesar vir wie geld en mag die hoogste goed was. In sy tyd die rykste man van Rome, besluit hy as Goewerneur van Sirië om ’n aanslag teen die Partiese Ryk, wat onder andere die hedendaagse Iran ingesluit het, te loods en hulle van hulle groot rykdom te beroof.
Hoewel die Partiërs bekend was vir hulle pyl-en-boog-vaardigheid, was Crassus van mening dat hulle nie oor genoeg pyle beskik het om sy getalle-oormag die hoof te kon bied nie. Crassus loop egter sy rieme styf en verloor die stryd dramaties by die Slag van Carrhae en beloon die Partiërs vir sy dwaasheid en onversadigbare geldgierigheid deur vuurwarm gesmelte goud in sy keel af te gooi.

