
Laokoön en sy seuns deur Jastrow (2003) (Openbare domein), die Trojaanse perd deur Salih Altuntaş from Pixabay
*
Hannatjie Snyman se interessante navraag oor die uitdrukking “Jou vet lakoon is uit” het my weer na die Griekse mitologie laat gryp.
Ten eerste: Ek ken nie die uitdrukking nie, maar die naam Lakoon, wat ook Lacoön, Laokoön en Laocoön gespel word, is bekend.
Hierdie kêrel was ’n priester, en volgens sommige vertellings was hy die seun van Agenor. Agenor was ’n dapper kryger, die enigste een wat bereid was om die onsterflike Achilles te probeer stuit. Agenor sou later die koning van Sidon word. Hy was ook die pa van ’n beeldskone dogter, Europa, en ’n ander bekende seun, Kadmos.
Ten tweede: Die inskrywing lakon- is wel in die Van Dale, groot woordenboek der Nederlandse taal, maar dit verwys bloot na lacon-. Daar vind ons laconiek en lakoniek wat verwys na Sparta. Die Spartane, ook skynbaar Laconiërs genoem, was glo bekend vir hul kort en bondige antwoorde.
The new shorter Oxford English dictionary het verskeie inskrywings wat ooreenstem met die Van Dale.
Ook in die HAT lees ek dat Lakōn verwys na ’n Spartaan.
Iewers tussen Lakōn en Laokoön lê ’n baie interessante stel mites.
Lakoon, of dan Laokoön, was skynbaar van Troje. Paris van Troje het naamlik weggeloop met Helena, die koning van Sparta se mooi vrou. En so het die Trojaanse oorlog uitgebreek.
Die positiewe Laokoön
PJ Conradie noem hom Laokoön in sy boek Griekse helde en gode.
Laokoön was, aldus Conradie, ’n priester tydens die Griekse oorlog teen Troje. (Ek het al oor die begin van die oorlog geskryf; sien gerus hier.)
Die Grieke wou naamlik die Trojane se gefortifiseerde stad inneem, maar hulle kon g’n hond haaraf maak nie. Aphrodite se seun, Aineias, was in beheer van die Trojaanse leer en hy was ’n gedugte opponent. Die Grieke se magtige weermag was later raadop.
Toe bedink Kalchas, ’n priester, ’n baie goeie plan. Hy roep die Griekse generaals bymekaar en sê: “Kêrels. Met geweld gaan ons niks bereik nie. Ons moet slimmer wees as hulle.”
Hy stel toe voor dat die Grieke ’n enorme perd bou wat hulle op die eiland Troje moet agterlaat. In die perd moet 30 van die beste Griekse krygers skuil. Nog ’n paar Griekse soldate – dink aan ons recces – moes ook op versteekte plekke op die eiland agterbly.
Kalchas se idee was dat die res van die Griekse weermag dan op hulle skepe moes klim en vertrek. Die Trojane sou dan die perd in hulle stad insleep, en dan, in die middel van die nag, sou die 30 soldate uitklim, die wagte vermoor, die hekke van Troje oopmaak en die recces inlaat. Dan sou hulle die res van die weermag weer laat kom. (Die seinkorps was in daardie dae al vaardig met rook en duiwe.)
Hulle doen dit toe.
Die perd word gebou.
Die 30 soldate, onder wie Odusseus, die aanvoerder van die Griekse leer, klim in die perd.
Die recces versteek hulleself op strategiese plekke.
Die Grieke brand alles in hulle kamp af, klim in hulle bote en vertrek.
Die Trojane word wakker met die verstommende gesig van ’n Griekse weermag wat terugval.
Hulle stuur hul eie recces uit.
Tjop-tjop word een van die Griekse recces gevang.
Nou is die Trojane hoogs die dinges in. Hulle vermoed onraad. Maar uiteindelik is die enorme perd wat agtergelaat is, iets wat almal fassineer. Die res van die gewone bevolking kom ook uit die stad om die perd te aanskou.
Hulle kan nie uitwerk wat om daarmee te maak nie.
Verskeie Trojane wil die perd na hul stad sleep en dit van nader bestudeer.
Laokoön, ’n priester, sê vir die Trojane hulle moet asseblief nie die perd na die stad neem nie: “Ek vrees die Grieke ook wanneer hulle geskenke gee!”
Laokoön word in hierdie weergawe van die storie dus as ’n goeie mens gesien.
Twee goed gebeur toe egter om die Trojane te laat glo dat Laokoön verkeerd is.
Ten eerste is die Griekse recce wat gevang is (sy naam is Sinon), ’n baie goeie diplomaat. Hy vertel aan die Trojane dat Odusseus twee dinge gesê het voor hy per skip vertrek het.
Ten eerste het hy Sinon agtergelaat op Troje as ’n offer. Odusseus het naamlik geweet die Trojane is kwaad. Hy vertel die Trojane dat hy baie bang was en daarom weggekruip het, maar al wat hy nou kan doen, is om by hulle te pleit dat hulle hom meer genade sal betoon as die Grieke.
Oor die perd vertel hy toe vir hulle dat Laokoön ten dele reg is. Hy sê Odusseus se opdrag was dat die perd ’n soenoffer aan die godin Athena moet wees. Hy het daarmee gehoop op ’n spoedige terugvaart na Griekeland.
Die rede waarom die perd so enorm is, vertel Sinon, is juis dat Odusseus nie wou hê dat die Trojane dit binne-in die stad moes laat staan nie. Odusseus wou naamlik nie hê dat die Trojane die perd moes gebruik om Athene se guns te wen nie.
En toe gebeur daar iets wat Laokoön, die priester, vir duisende jare in mense se geheues sou laat voortleef: Uit die see kom daar twee enorme slange wat Laokoön en sy twee seuns vang en dooddruk.
Sinon se storie en die slange uit die see het die Trojane oortuig dat die perd magiese kragte het. Hulle sleep dit in hulle stad in.
Daardie nag voer Odusseus sy plan uit. Hy en sy troepe klim uit, vermoor die wagte, maak die hekke oop vir die recces en laat weet die res van weermag om weer terug te keer na Troje.
’n Verskriklike en bloedige slagting het toe begin.
Daar is ’n ander, negatiewe storie oor Laokoön
In die talle mitologiese stories wat oor duisende jare vertel en opgeteken is, kom Laokoön ook in ’n ander gedaante ter sprake.
In hierdie weergawe word Laokoön ook as ’n priester uitgebeeld, maar onder effens ander omstandighede.
In hierdie weergawe word Laokoön geskets as ’n priester in diens van Apollo. Hy moes, volgens hierdie weergawe van die verhaal, selibaat bly. Maar hy kon nie. Toe hy dus trou en seks gehad het in die tempel, was Apollo woedend. Dit sou die rede wees waarom Apollo later vir Laokoön en sy twee seuns sou laat doodmaak deur twee slange wat uit die see gekom het.
Kuns
Laokoön en sy twee seuns se tragiese einde is deur verskeie kunstenaars uitgebeeld. Een van die bekendste beelde staan in die Vatikaan.
Die Britannica en verskeie inskrywings op WikiPedia, veral dié een, vertel meer hieroor.
Lees ook:
Koeke, terte, Paris se twisappel en ’n bietjie Marita van der Vyver

