UNISA se Breyten-seminaar: Breyten Buiteblaf

  • 0

Die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by Unisa het op 19 Maart ’n Breyten-seminaar aangebied na aanleiding van Breyten Breytenbach se kunsuitstalling daar. Sommige van die sprekers by die seminaar deel hul bydraes met LitNet.

Hieronder deel Jo Prins sy aanbieding.


Daar is min digters van my generasie wat onaangeraak is deur Breyten Breytenbach.

Dit voel byna vir my half onnodig om hier – veral tussen ingewydes (ek kan dalk selfs ook sê toegewydes) – by te voeg “die Zen-geïnspireerde digter-skilder Breyten Breytenbach …”

Maar wat praat ek? Hoegenaamd nie net mý generasie nie.

Heelwat ouer en gevestigde digters was en is in gesprek met Breytenbach (kyk byvoorbeeld Louise Viljoen se Afrikaanse digters in gesprek met Breyten Breytenbach as digter op LitNet Akademies).

Maar, blyk dit, veral ook jonger digters.

Ek onthou goed hoe Breyten en die warrelwind-debuutdigter Bibi Slippers ’n paar jaar gelede by Spier buite Stellenbosch op die dansvloer geswaai en gedraai het.

Breyten het ’n behoorlike vonkel in die oog gehad, maar nie net hy nie … Bibi ook.

In dieselfde asem kan ’n mens digters soos Loftus Marais noem in dié gesprek met Breyten, en mense soos Andries Bezuidenhout – om werklik maar net ’n paar te noem.

Soos Louise Viljoen skryf: “Dit is opvallend dat dit dikwels jong digters aan die begin van hulle loopbaan is wat in hulle poësie reageer op Breytenbach se digterspersoonlikheid en werkswyse.

“Sommige van hierdie jong digters word bemagtig deur hulleself met Breytenbach te identifiseer en vind bevestiging vir hulle eie digterlike identiteit deur aan te sluit by sy werk, terwyl ander weer hulle eie identiteit ontwikkel deur sy werk in sekere opsigte te bevraagteken of weerspreek.”

Vir my was dit veral in my voorgraadse studies, later honneurs en MA aan die Universiteit Stellenbosch, waar die einste Louise my laat verstaan het dat ek ’n “sintuig” vir Breyten se werk het. Ek het van dié “sintuig” aanvanklik niks verstaan nie, en nie geweet waar dit vandaan kom nie. Maar later het ek tot die besef gekom dat dié sintuig vir my gelyk staan aan die lyf se vermoë om op natuurlike wyse op besonder hoë hoogtes bo seespieël te funksioneer.

Dis nie iets wat ek bewustelik geoefen het nie, maar soos ek aan Yk begin lees het destyds, Die ysterkoei moet sweet, Miernes … het ek – om dit sagkens te stel – baie onder die indruk van Breyten se werk gekom.

Aanvanklik natuurlik sy poësie, maar later sy niefiksie-goed soos The true confessions of an albino terrorist en tekste soos The memory of birds in times of revolution.

My aangetrokkenheid tot hierdie tekste was gesetel in Breyten se vermoë om politiese betrokkenheid op ’n besonder eiesoortige en (moet ek sê vir my as jong Stellenbosser vir wie donker Afrika noord van die Du Toitskloofberge gelê het) betrokke manier uit te lê.

Hierby: Vir my as kind wat uit ’n Christelik-religieuse huishouding kom, en wat besig was om te migreer na ’n ander manier van dink oor onder meer geloof, was die Zen van Breyten se Boeddhisme besonder aantreklik.

Hier praat ek dan nie noodwendig van geloof nie, maar eerder ’n manier van dink, ’n filosofie, ’n manier om ’n werklikheid intuïtief met ’n sterk meditatiewe element te benader.

Breyten se mandalas as motief voorin van sy boeke was verleidelik – die visuele voorstelling van iets byna buitesinnig wat ’n organiese eenheid of heelheid voorstel, waar al die dele onafhanklik is, maar terselfdertyd met mekaar veelvlakkig interaksie kon hê.

Breyten se tekste het gewoon mure afgebreek – intellektueel, intuïtief, emosioneel. Dit was nog nooit voorheen só in Afrikaans gedoen nie, maar wie sou dit tog vir ons dekodeer?

Dit bring my weer eens by Louise Viljoen.

Is daar ’n beter literator in die ganse Suid-Afrika om Breyten se tekste, veral sy poësie, sinvol vir ons gewone sterflinge bloot te lê?

En ek praat hier ook as boekeredakteur van Media24 se Afrikaanse dagblaaie: Min akademici snap die medium van koerante. Hierdie is nie ’n vaktydskrif waar jy jou belesenheid ten toon stel en jou inter- en hipertekstuele spiere so ’n bietjie bult nie – paragrawe moet in kolomvorm gegiet word en kan nie op ’n A4-bladsy net drie of vier wees nie.

Nou, Louise snap dié dinge baie goed.

Benewens dit het sy die vermoë om vir die gemiddelde koerantleser te vertel hoekom die jongste Breyten-teks gelees moet word, maar sy skryf nie af na die leser toe nie.

Dit beteken natuurlik nie dat hier enigsins ’n geringskatting van die teks is nie, óf dat daar nie pitkos vir die stipleser is nie.

Maar die teks en die man is natuurlik twee verskillende dinge … Of is dit?

Nadine Gordimer het op ’n tyd gesê: “Breytenbach is a writer who carries his whole life with him, all the time … and who possesses a creative ability equal to his experience.”

My eerste kennismaking met Breytenbach was as jong student in Afrikaans en Nederlands (ook by Stellenbosch) in die vroeë 1990’s.

Ons het as groep na Kaapstad vertrek waar Breyten en ander Suid-Afrikaanse ikone van die digterslandskap, Antjie Krog onder meer (as ek reg onthou), saam met ’n groep reisende Nederlandse eweknieë opgetree het.

Maar daardie eerste interaksies met Breyten het my baie laat wonder: Is dit goed om jou woorde-op-papier-ikoon in lewende lywe te ontmoet?

Breyten was en is ’n enigma. Nou staan dié man in lewende lywe voor jou; die woord word mens, as ’t ware. Wat maak ’n Afrikaans en Nederlands-studentjie dan nou met dié gegewe?

Wat sake natuurlik nie verder gehelp het nie, was dat ek ’n ogie op een van die Nederlandse vrouedigters gehad het, en Breyten het haar sommer so – terwyl ons besig was om te praat – voor my oë weggeraap.

Dié onskuldige, amper naïewe, encounter het my nóg meer oor Breyten se werk laat tob, maar nou was die mens as teks ook daar (om gelees te word).

Laasgenoemde het waarskynlik daartoe aanleiding gegee dat ek vir ’n tydperk meer in Breyten se niefiksiewerk begin belangstel het.

Vir ’n hele tydperk was my belangstelling in Breyten en sy werk op ’n akademiese afstand – hoe dan nou anders?

In dié tyd het ook sy werk as skilder heelwat meer onder my aandag gekom, en was die gesprek tussen die geskrewe woord en die visuele ook iets wat my al hoe meer geïnteresseer het.

Breyten is onder andere daarvoor verantwoordelik dat ek in ’n stadium ’n (waarskynlik ongesonde) belangstelling in die werk van Wopko Jensma ontwikkel het. Breyten, ja, maar hier moet ek ook weer vir Andries Bezuidenhout noem.

Hoe ook al – die Jensma-gogga het my tot vandag toe nog nie heeltemal gelos nie.

Maar terug na Breyten.

Ek was vir ’n tyd lank vies vir Breyten. Nee, “vies” is dalk nie die woord nie; “die moer in” sou meer akkuraat wees.

Ek het gevoel ons jong skrywers aan huis, hier in Suid-Afrika, het mense soos hy se hulp en leiding nodig. Natuurlik het hy ten brode onder meer by die Goree-instituut betrokke geraak en in New York kreatiewe skryfwerk aangebied, maar ek het gevoel sy onbetrokkenheid hier is ’n helse leemte.

Breyten se “aanvalle” uit die buiteland op die realiteit wat later beurtkrag-Suid-Afrika sou word, het my as jong(er) joernalis sowat 20 jaar gelede vreemd gestem.

Natuurlik was Breyten se toorn gerig teen die maatskappy vir wie ek in daardie stadium voltyds gewerk het, en ook die trogvreters van die nuwe Suid-Afrika wat, without missing a beat, maar net van kleur verander het.

Toe Leti Kleyn, redaktrise van Spilpunt se poësie-uitgawe in November 2005 my nader om ’n bydrae, het dit só verloop: 

ballade van getroue ontbindes

(’n mompelvers)

hoe lank het ons jou arse
poetica gelek, hoe diep het ons gedrink
aan jou broeklosmaak se woordstink   jou
kwasiwit spasie?

ek kuier by my vriendin w
wat swart pot op pot water kook
vir bad, “o, wat het geword van breyten b?”

“sy voorlesings van zen,” skerts sy
plonsend uit walms roosmaryn,
“in plaas van wie se zoon ik ben?”

“nee, sy vrugte van die droom van stilte,”
kombuis-sê ek met knoffel in my neus,
“mompelbuurt se mens!”

“maar is hy nie in new york of iets nie –
dié befaamde digter-skilder? ’n doos-ent
wat daar voetloos sonder vlerke geland het?”

jou mondmusiek is eggo’s
in ’n grot, skaduwees van lewe
teen ’n muur – ’n vae herinnering van kennis
van jou knetterende koue vuur.

Nie my beste werk nie – ek gee toe. Maar ek was die moer in vir Breyten.

In aanvanklike e-pos-korrespondensie met Breyten om hom te nader vir kommentaar vir ’n storie waaraan ek gewerk het, het sy reaksie nie juis gehelp om die moerigheid teen te werk nie. Maar, soos gesê, dit was hoegenaamd nie persoonlik nie; net daai “@24” aan die einde van my e-posadres het hom nou nie juis met vreugde gevul nie.

Na bemiddeling van die einste “vriendin w” na wie ek in die gedig verwys, het die korrespondensie tussen my en Breyten aansienlik meer hoflik geword.

Aanvanklik was dit van korte duur, want kort hierna het Media24 besluit om die boekeblaaie in die Afrikaanse dagblaaie te sentraliseer.

Die onderskeie publikasies sou voortaan nie meer elkeen ’n eie boekeblad hê met ’n boekeredakteur van sy of haar eie keuse van resensente nie, maar een resensie wat regdeur die bank staan.

Die uitval in die literêre gemeenskap was nie gering nie, en hierby het Breyten sy stem gevoeg in kritiek oor die verskraling van stemme, die inkrimping van die kritiese literêre diskoers in die breër Suid-Afrikaanse en, natuurlik, Afrikaanse, gemeenskap.

Gelukkig vir my was my eerste aansoek om dié pos onsuksesvol en het Elmari Rautenbach dié warmpatat van ’n stoel die eerste jaar beklee.

Maar ná Elmari groener weivelde by Rapport Tydskrif gaan opsoek het, het ek – soos Tim du Plessis graag sê – weer my hoed in die ring gegooi.

My benadering was: Natuurlik is die eerste keuse dat daar méér stemme moet wees, maar as hiérdie boekeblad die “lesser evil” is, die keuse tussen ’n boekeblad wat deur ’n hoofredaksielid van ’n publikasie met sy linkerhand gedoen word en iemand wat toegewyd na die blad kyk, kan dit net sowel ék wees.

Die eerste jaar in dié pos as “nasionale boekeredakteur” was, om die minste te sê, interessant, met ’n jaar of drie se wittebroodfase daarna. Maar dinge het intussen volsirkel gekom tot ek onlangs deur ’n formele afleggingsproses is en eersdaags weer dié leisels in ’n vryskuthoedanigheid opneem.

Maar dit was in dié wittebroodfase waar ek weer meer direk met Breyten kontak gehad het.

Teen die einde van 2012 is ek deur Dominique Enthoven (Botha) namens die Piroque-kollektief genader om ’n soirée in Westcliff in Johannesburg by te woon waar Breyten die eregas was.

Op ’n soel, soel aand is ek en my vrou, Mariska, laat uit die huis uit weens probleme met ’n kinderoppasser, en kom aan die stertkant van ’n gesprek by Dominique-hulle se lieflike onthaal-eiendom aan waar Breyten en sy Franse vertaler, Georges Lory, in gesprek is.

Wat ons nie geweet het nie, was dat die aand vir net sowat 30 of 40 gaste beskore was, en dat die kaalvoetvrou in die lieflike rok wat haar stoel vir Mariska afgestaan het, en sý op die tapyt gaan sit het, niemand anders as Dominique self was nie.

Dit was ’n betowerende aand. Met die gesprek tussen die innemende Georges en Jan Afrika wat dán in Afrikaans is, dán in Frans en dan Engels.

Omdat die besoekers dié aand vanuit Afrika, die VSA en Europa was, was dié mengsel van tale die beste uitweg. Telkens wanneer iemand in ’n kringetjie gestaan het en iemand praat nét Afrikaans of Frans, dan het iemand anders onderlangs vertaal sodat die res van die groep ook kon volg.

’n Mens sou jou kon verbeel het dat jy ’n gas is by een van die tonele in Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins met hierdie Welgevonden wat hoog bo die stad Johannesburg vanuit Westcliff uitkyk.

Na die tyd het ek en Mariska die geleentheid gekry om “one on one” met Breyten te praat, en in geen verrassende wending nie het hy meer in haar belang gestel. Maar dié aand, en in dié omgewing, jare sedert ons eerste ontmoeting, het Breyten die mens – met daai lieflike bry van hom – my weer eens oorrompel.

Dié aand het hy ook eksemplare van Intimate stranger, a writing book geteken wat sy uitgewer, Archipelago Books, saamgebring het vir die geleentheid.

Soos die meeste van julle sal weet is dié klein boekie op tipiese Breytenbach-styl ’n besinning oor die kuns van skryf, die poësie, en ’n bewustelike gesprek met die self asook die leser.

“Writing is fishing for memory in time,” skryf Breyten.

“Viscous. Time black. Sometimes you see it flitting just below the surface – memory – miming time. Memory takes on the blackness of time. Memory will be time surfacing. Use word as bait …”

Dié klein mymering oorrompel ’n mens. Sit hierby ’n glas of twee rooiwyn van die aand, en die herinnering aan dié intieme vreemdeling sit ’n mens weer in totale verbluftheid wanneer die woorde oor jou spoel.

Hierna het ons vir Breyten nog ’n keer of wat by Dominique-hulle se plek ontmoet, en elke keer was ek onder die indruk van nie net Breyten se teenwoordigheid nie, maar die skeppende aar wat hier raakgeboor is met die uiteenlopende groepe mense.

Die Goudstad se riwwe loop diep.

Die gesprekke met Breyten was hierna aansienlik vriendeliker. Ek kon hom vir kommentaar nader wanneer literêre figure tot sterwe kom – ek dink hier aan TT Cloete en Adam Small – en hy was meer toeganklik om oor die aktualiteit van die veranderende Suid-Afrikaanse landskap te reageer.

Telkens wanneer ek rubrieke vir van die dagblaaie geskryf het, het van Breyten se woorde en verwysings bewustelik én heel onbewustelik deurgesypel.

Oor ’n tyd het daar ’n korrespondensie ontwikkel en Breyten sou uit die bloute kommentaar lewer, of ’n skets stuur, in reaksie op ’n rubriek.

En hoewel Breyten self dié e-posse dikwels met “Buiteblaf” afgesluit het, het ek lank nie meer gevoel dis die plek van waar hy “blaf” nie.

Breyten het op ’n tyd oor sy besonderse produktiwiteit, dat hy soveel werk jaar op jaar kan lewer, gesê dat ’n boom die mooiste bot net voor hy doodgaan.

En nou Breyten, eersdaags op 80. My magtig! As die res van ons maar só kan doodgaan …

Dames en here, ek stel aan u voor: Breyten Binneblaf.

UNISA’s Breyten Seminar: "The birthday poem ritual as self-portrait in Breyten Breytenbach’s poetry: 1964–2014"

UNISA se Breyten-seminaar: "How to write in Afrikaans and still respect yourself in the morning"

UNISA se Breyten-seminaar: "Breyten Breytenbach in turbulente jare, enkele persoonlike perspektiewe"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top