UNISA se Breyten-seminaar: "How to write in Afrikaans and still respect yourself in the morning"

  • 0

Harry Kalmer (foto: Naomi Bruwer) en ’n gedeelte van plakkaat wat as bemarking van die kunsuitstalling gedien het (volledige plakkaat heel onder)

Die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap by Unisa het op 19 Maart ’n Breyten-seminaar aangebied na aanleiding van Breyten Breytenbach se kunsuitstalling daar. Sommige van die sprekers by die seminaar deel hul bydraes met LitNet.

Hieronder deel Harry Kalmer sy toespraak.


Van ’n hand vol vere tot ’n lewe vol woorde.

Selfs in die donker kan ek my hande op een van sy boeke lê.

Die vertrek is vol boeke.

Daar is twee lae boekrakke teen twee van die mure.

Voor die een, op die vloer, staan vyf stapeltjies boeke.

Groot gedeeltes van die plat oppervlakke in die vertrek is ook vol boeke gepak.

Nogtans vat ek die boek raak.

’n Oranje omslag met ’n prent van ’n voël in ’n pak klere.

Die voël se kop is gestreep met die kleure van die Franse vlag.

Die beginsel van stof. Een van twee Breytens wat jare lank in die kamer rondflenter.

Saam met Windvanger.

Nie twee boeke nie. Maar twee Breytens. Want soms is boeke meer as ink en papier.

Hulle is, soos baie van Breytenbach se poësie ’n deurgaande teenwoordigheid in my lewe. Sommige gedigte vir meer as 40 jaar

Buite verander die lig van nag na grou.

Ek neem my boek in die een hand en my rekenaar in die ander en stap na die kombuis.

Skakel die radio aan.

Die note van ’n houtblaasinstrument draal uit die luidspreker.

Ek sit met my rug na die stoof en my gesig na die venster.

Maar ek staar na die skerm.

Buite sing die voëls.

Die dag breek.

“La vie de l’auteure” is wat die lewe van die skrywer in Google-Frans heet.

Vir my geslag was die aanloklikheid van die boheemse lewe wat voorgehou is deur die foto’s in die koerante van die sestigers in Parys ’n bloudruk vir drome.

’n Meesterplan om te ontsnap uit die grou, benouende en dikwels bedreigende omgewing van “blanke” (soos die regering ons destyds genoem het) Suid-Afrika.

Om van ’n lewe in blanke apartheid-Suid-Afrika te praat as bedreigend in konteks van die verskrikking wat in die res van die land afgespeel het, klink melodramaties soveel jare na die afloop. Maar apartheid het, soos Saturnus, ook sy eie kinders verslind.

Die sestigers het destyds soos ’n aantal heilige geeste gedraal oor die Afrikaanse skryf-en leeswêreld.

Breyten, Elsa Joubert en Abraham H de Vries is van die laaste oorlewendes.

Ons almal verander. Dit besef ek nou waar ek staan en my kop hamer om iets sinvol te fabriseer.

Die Breyten van toe en die Breyten van nou is nie digter van toe nie.

Net soos ek die leser van toe en ek die leser van nou hemelsbreed verskil.

 ’n Gedig het sy eie lewe

Elke maal wanneer die leser dit lees, lees hy dit met ander oë.

 

Dit is Heraklitus se rivier in woorde – jy kan nie twee maal dieselfde rivier binnegaan nie, want dit is nie dieselfde rivier nie en jy is nie dieselfde mens nie.

Goeie gedigte vloei saam met die tyd.

En kan honderde, selfs duisende jare nog iets na die leser bring.

So kan die leser langs ’n blou bromponie op ’n wit stofpad op Ithaca staan en wonder oor die wyndonker see van Homeros. Het die Grieke regtig nie ’n woord vir blou gehad nie? Of was Homeros dalk, soos wat sommige beweer, maar net kleurblind?

 

Duisende jare na Homeros sit jy op ’n klip in ’n kampeerterrein op ’n ander Griekse eiland. Die tente rondom jou is vol toeriste.

Ook ’n Noorweër met ’n Benoni-aksent wat voorgee dat hy nie Suid-Afrikaans is nie.

Jy self voel ver van die huis af. Uitgelewer aan internasionale koerante en briewe vir nuus. Jy is angstig oor wat in die land aan die gebeur is. Dit waarvoor jy vlug, volg jou.

Uit jou rugsak haal jy ’n boek en begin om Breyten se gedig oor Lorca se teregstelling, Rimbaud se vrotbeen en Majakofsky se selfdood te lees en dink by jouselwers hoeveel wis jy van oorlewing? Breyten se Yk is die enigste Afrikaanse boek wat jy nou al maande lank rond dra. Die ander boeke is Don Quixote, waarvan jy besig is om die tweede deel te lees, Madame Bovary en Jim Harrison se Legends of the fall.

Hierdie Breyten is ’n inkommer – spontane geskenk van ’n skrywersvriend terwyl jy alreeds op pad lughawe toe was.

Jy maak die boek toe – Breyten het sy eie gesig op die boek se agterblad geskilder. Daar sit ’n vlinder op sy gesig. Jy kan hom nie in die oë kyk nie.

Dertig jaar later kan jy nie ’n enkele frase in die boek spontaan aanhaal nie, maar dit bly een van die groot boeke in jou lewe. Waarvan die lees, soos wat iemand een maal gesê het, onder jou ribbekas vasgesteek het om vir altyd onthou te word.

 

Ek is in 1956 in Kaapstad gebore.

In 1959 het ons in Johannesburg beland na ’n kort draai in Leeuhof-spoorwegkamp naby Vereeniging.

My pa was ’n Engelssprekende elektrotegniese ingenieur en my ma ’n Afrikaanse huisvrou-aflos-onderwyser-dosent met ’n BA-graad.

Al twee was trots op hulle identiteit.

Hulle albei is in 1917 gebore – ek (hulle vierde kind) het in hulle 40ste lewensjaar my opwagting gemaak.

Al drie my sibbe, Hester, William en Christo, het tot met hulle onderskeie aftredes in die wêreld van kostes en finansies gewerk.

My storie klink soos baie van my geslag s’n wat die Afrikaanse paadjie geloop het: geboelie op laerskool, sleg-in-sport op hoërskool, dronk op universiteit en bosbefok ná die Grens.

Ek het vroeg reeds die betowering van stories ontdek en het saam met my jonger broer onder my pa se arm lê en luister na stories, en het een van sy stories eendag aan my klasmaats in graad 1 vertel. Vir ’n paar minute ten minste het hulle met ander oë na my gekyk.

Ek was hooked. Ek wou (met apologie aan Deborah Levy) deel wees van die republiek van storievertel.

En dalk was die storie-element dit wat my aanvanklik tot Breyten aangetrek het. Die woorde:

mammie
            ek het gedog
as ek eendag huis toe kom
sal dit onverwags teen skemerdag wees
met jare se opgegaarde rykdom
op rûe van ysterkoeie

dis nog blouerig
ek maak sjuut en saggies die agterplaas-hek oop
ou Wagter knorblaf
maar stert-herken my dan
Fritz Kreisler sal soet op sy viool speel
ma weet mos
sulke Weense walse
en verbaas begin die vensters luister
mense wat ek nie ken nie
of net nog van baie ver
leun uit met nagrokke vol glimlagte en elmboë
mense op wie se skote ek gepee het kleintyd
binne staan my hart stil
(en waar is die bril?)
pa skrik wakker verdwaas so deur die wind
maar mammie is reeds buite
met ’n kamerjas en rooi wange.

Vir my, ’n onverskillige, amper toevallige leser wat grootgeword het op serials in die Royal Bioscope en fotoboekies was hierdie gedig pure storie, visueel, emosioneel en “loaded with action” (albeit aksie van die understated, elegante en stadige aard).

My ma was ’n leser en het letterkundige en ander biblioteekboeke by die huis aangedra. Op dié manier het ek Leroux, Brink en die ander sestigers ontdek. Meestal net gelees op soek na sekstonele.

Ek het vroeg van Breyten geweet – moontlik selfs op laerskool het iemand in ’n fluisterstem op die skoolgronde gepraat van Breyten se sluwe bitter eende.

Ek het ook geweet dat hy met ’n Viëtnamese vrou getroud was en dat dit onwettig was.

Toe Breyten in my matriekjaar vir vakansie terugkeer na die land van sy geboorte, was die koerante vol van hulle besoek. Breyten was bebaard en bepyp en op reis deur die land.

Ek was geen leser van poësie nie, maar teen die tyd dat ek skool verlaat het, was ek goed bekend met Om te vlieg en ander Breytenbach-werke danksy die biblioteek in die Johannesburgse voorstad Florida waar ek grootgeword het.

Maar die pennie het, soos die Engelse sê, nog nie gedrop nie.

Na skool is ek universiteit toe.

Ek het in Pretoria arriveer op ’n geel Yamaha scrambler, ’n Day-Glo oranje reënjas, ’n Indiese syserp om my nek, ’n paar rooi clogs met dik houtsole, Levi 501’s en ’n karton Gauloises-sigarette in my rugsak. Nie regtig die ideale voorkoms om in te pas op ’n universiteitskampus waar party studente kleurbaadjies en safaripakke klas toe gedra het nie, vrouestudente nie in mansstudente se kamers toegelaat was nie en “dameskoshuise” se voordeure om 9-uur gesluit is.

Pretoria was dalk net ’n uur en ’n bietjie van Johannesburg. Maar vir ’n Johannesburger was dit ’n ander wêreld. In Pretoria was dit asof Woodstock nooit gebeur het nie, asof Neil Armstrong nog nie op die maan geland het nie en asof Hendrik Frensch Verwoerd nog gelewe het.

Pretoria was braaivleis, rugby, sonneskyn en Prys die Heer. Dit was jool en intervarsityrugby (alhoewel Wits nie meer teen ons wou speel nie) en sokkiejol.

In my dramakundeklasse het ek Racine, Tsjechof, Goethe, Schiller, Brecht, Artaud en Ionecso gelees. In my Afrikaans-klasse het ek die werke van Etienne Leroux, Hennie Aucamp, Abraham de Vries en Karel Schoeman (sommige vir ’n tweede maal) gelees. Een Vrydagoggend in Groot verseboek het ek “hand vol vere” gelees en vir die eerste maal Breyten Breytenbach se betowering verstaan. Maar nie in een van die drie jare wat ek letterkunde aan die UP studeer, hoor ek die naam Breyten Breytenbach nie.

Enkele dae na my Damaskus-Breyten-oomblik, in ’n toevalligheid wat so onwaarskynlik klink dat ek as romansier en dosent van die skryfkunde dit summier sou verwerp het as ’n moontlike storie-element, word Breyten Breytenbach gearresteer as vyand van die apartheid-regime. Enige twyfel wat ek dalk oor Breyten gehad het, het verdwyn.

Skielik was Breyten Breytenbach nie net meer ’n Hemingway met ’n baard, ’n polo neck en ’n Bolandse aksent nie. Hy was ’n revolutionary. So fotogenies soos Che Guevara en Leila Khaled, die 70’s poster boy en girl van wêreldwye sosiale revolusie. In pas met die internasionale jeugkultuur se verromantisering van revolusie en geweld wat in 1968 in beide Europa en Amerika begin het. Breyten was vir my so cool soos Peter Hain se betogers wat die 1970-Springboktoer ontwrig het. So cool soos Jimi Hendrix.

Een middag het die hele Huis Boekenhout se inwoners opgeruk na die Uniegebou. Selfs die studente wat ek as redelik progressief beskou het, het aangesluit. Een groep het ’n reusebanier gedra met die woorde “BREYTEN NEE” EN “ARTIKEL 6 JA” op. Twee dronk Duitsers van Paulpietersburg het ’n banier gedra met die woorde “Koeksisters 5c”.

Die enigste mense wat agtergebly het in die koshuis was ek en ’n veearts-en-snykunde-student van Stutterheim wat nooit iewers heen gegaan het nie.

In die koerante het die drama rondom Breyten se arrestasie ontvou. Die bestanddele ’n mooi vrou, ’n skuilnaam en verraad het my die storie soos ’n Springbokradio-storie laat volg.

Maar 1975 was ook die laaste jaar van die apartheidsidille. PW en Pik Botha het hulleself laat ompraat deur die VSA om Angola in te val. Duisende jong dienspligtiges, etlike van my matriekklasmaats ingesluit, is na Angola gestuur sonder hulle ouers se medewete. Die feite is uit die koerante gehou. Op ’n vraag in die parlement het PW Botha uitdruklik ontken dat daar enige Suid-Afrikaanse troepe in Angola is.

Op Woensdag 16 Junie 1976 is Hector Pieterson doodgeskiet.

Soweto het ontplof.

Die onderrig van sommige vakke in Afrikaans was die sneller vir hierdie uitbarsting. Maar soos beide die Engelse en die Afrikaanse pers verslag gedoen het, was dit blote antagonisme teenoor die taal.

Die Donderdagaand het ek met die nou paadjie wat nou die R51 is en verby Diepsloot loop en Witkoppenweg via Bryanston huis toe gery.

Daardie aand was daar beeldmateriaal op die TV van die polisie wat iemand agter die stuurwiel van ’n motor in Alexandra doodgeskiet het. Die landskap was die geel droogheid van die Transvaalse hoëveld in die winter. Die polisiemanne was wit en in kamoefleerdrag geklee. Die bestuurder van die motor was swart.

Op die TV was daar ook ’n verslag van ’n vrou wat in ’n motor was wat deur woedende skare skoolkinders omring was en haar lewe probeer red het deur “I am English, I am English!” te skree.

Die volgende oggend het ek op die agterstoep van my ouerhuis gestaan. Van agter die mynhope aan die suidekant van Hoofrifweg wat Soweto van wit suburbia geskei het, het daar reuse swart rookwolke geborrel. ’n Kakiegroen helikopter het heen en weer gevlieg. (’n Paar dae later het die skoliere na bewering een van hierdie helikopters met klippe grond toe gebring.)

Vir my het die wrewel teen Afrikaans onregverdig gevoel. Ek het genoeg in Engelse kringe beweeg om te weet dat die rassisme van Engelse Suid-Afrikaners glad nie minder toksies as Afrikaanse rassisme was nie.

In 1977 het ek in ’n “ons is nie almal so nie”-oomblik besluit om kontak te probeer maak met die studente wat tydens die opstande die vorige jaar gevlug het. Ek het (verkeerdelik) vermoed dat van hulle in Lesotho sou wees, maar eers het ek ’n Oos-Kaapse draai gemaak. Daar het ek in die berugte Thornhill-“plakkerskamp” die eerste maal in my lewe die verskrikking van apartheid begin verstaan. Ek het ook vir die eerste maal die naam Steve Biko gehoor, by ’n kelner in die Graham Hotel in Grahamstown.

Die volgende aand het ek tuisgegaan in die Buffalo Hotel in Queenstown. Die bestuur het om verskoning gevra dat daar so baie “bantoes” in die hotel ingekom het, maar Steve Biko se regspan bly in die hotel en hulle moes met mense uit die “lokasie” praat.

’n Paar dae later het ek in ’n kroeg in Qacha’s Neck aan jong mans gevra of daar plek is vir wit mense in Suid-Afrika. Die lang gesprek is afgesluit deur ene Letapata – pas terug uit Edinburgh waar hy regte gestudeer het en wat teruggekeer het om die rol van “headman” by sy pas gestorwe pa oor te neem.

“Dis nodig dat wit mense soos jy bly … veral mense soos jy wat Afrikaans praat.”

Letapata was ’n burger van apartheidvrye Lesotho, maar nogtans het sy antwoord my tevrede gestel.

Die volgende dag het ’n man in ’n pak klere aan my deur geklop. Hy het homself voorgestel as ’n lid van die Lesotho Mounted Police en het ongenooid binnegestap. Hy het my uitgevra oor wat ek in Qacha’s Neck doen. Sy manier was dieselfde as dié van sy kollegas wat ek in die laat 1980’s in Yeoville leer ken het. Die lang das en gekreukelde pak. Sigaret wat met swierige gebare gerook word. Die oë wat die kamer deursoek terwyl jy hulle antwoord. Al wat anders was, was dat hy nie grys skoene gedra het nie. My antwoorde was vaag en huiwerig maar het hom klaarblyklik tevrede gestel, want hy het my vir ete genooi in die hotel se eetkamer. Die outydse breekgoed met bruin prentjies van Engelse jakkalsjagters se glasuring was gekraak. Die vleis was oneetbaar taai. Ek het stukke rooi vleis wat ek die vorige dag te koop in ’n boom sien hang het, onthou.

Die volgende dag het ek inderhaas saam met my rugsak op ’n skaal geklim op die plaaslike lughawe en Maseru toe gevlieg.

Die dag daarna het ek ’n plakkaat in Bloemfontein gesien met die woorde “Breyten Breytenbach vrygespreek”, ’n verwysing na die Lucky Groenewald-debakel waarin Breyten tot ’n R50-boete of drie maande in die tronk gevonnis is.

Tien jaar later het ek en my vrou, Sanpat, na ’n lang verblyf in Europa na Suid-Afrika teruggekeer. Breyten Breytenbach was uit die tronk uit, maar terug in die nuus.

Hy en Van Zyl Slabbert was besig om ’n safari Afrikaners Dakar toe te neem. Elke dag het Beeld smalend oor hierdie ekspedisie rapporteer. So smalend dat ek besluit het om my bundel Die waarheid en ander stories by Human South Africa Rousseau (wat, soos Beeld, deur Nasionale Pers besit is) te onttrek en aan Taurus voor te lê.

Twee jaar later is dieselfde boek in Pretoria bekendgestel saam met twee ander Taurus- boeke: Antjie Krog se Lady Anne en Breytenbach se Memories of snow and dust.

Dit was seker onvermydelik dat ek as debuutskrywer in ’n onselfbewuste gesprek sou tree met iemand wat so ’n groot invloed op my skryflewe gehad het.

In my verhaal “Die nag steek op soos ’n seertand” dink ’n jong soldaat “dood begin by die voete” terwyl iemand ’n landmyn aftrap.

In dieselfde verhaal praat die verteller van “die laaste van die Breyten-bedonnerdes”.

Die lewe het aangegaan. Oor die jare het ek al hoe minder belanggestel in Breyten se uitsprake en opinies. Maar ek het sy gedigte bly lees.

Sy latere bundels spreek tot my op ’n ander manier as sy vroeëre werk. Ek het Breytenbach twee maal op openbare platforms hoor sê dat die poësie, soos die wiskunde, die domein is van die jong man, asof hy homself wil beskerm teen moontlike kritiek. As medeskrywer verstaan ek daardie vrese; as leser voel ek sy voorbehoude is oordrewe.

Ek is meer ontvanklik vir sy taalgebruik, en sy temas spreek steeds tot my nie op ’n veel ander manier as wat dit tot my as jongeling gespreek het nie. As 21-jarige het ek ’n kopie van Skryt – om ’n sinkende skip blou te verf gekoop en dit nooit klaar gelees nie – ek wou die boek nie laat “opraak” nie. Die boek staan nog steeds onklaar gelees in ’n plastieksak op die boekrak voor my bed.

’n Deel van my voel steeds so oor Breyten se hele oeuvre.

Steeds bly hy vir my ’n belangrike invloed in my lewe. En ek glo selfs dat hy een van die redes is hoekom ek op die rype ouderdom van 21 besluit het om in Afrikaans, my ma se taal, eerder as in Engels, my pa se taal, te skryf.

Ek het op ’n vroeë ouderdom gevoel apartheid is verkeerd, maar ek was nie in ’n omgewing waar ek met mense wat my gevoelens gedeel het, in kontak gekom het nie. My ervaring as offisier op die grens, waar ek soms in Breyten se broer Jan vasgeloop het in ons buitebasis Miershoop se kroeg, asook my vrou se ervaring as onderwyseres tydens die onrus van die 1980’s, het my paaie finaal met die apartheidsprojek laat skei.

Maar al was Afrikaans onlosmaaklik deel van daardie projek, het ek nooit enige wrewel teenoor die taal gevoel nie. ’n Ongeleeste bundel is dalk soos ’n ongedanste dans en daarom sluit ek af met ’n paar reëls van “Vlerkbrand”, een gedig uit Skryt wat ek wel gelees het wat jare lank, beide hier en in die buiteland, met my gespook het.

wanneer jy dink aan jou land
sien jy
ons moet sterk wees; binnegoed vol kraters en vlieë.

Wanneer ek wonder oor my verhouding met Afrikaans en hoekom ek daarin begin skryf het, dink ek aan die gedigte van Breyten Breytenbach. Binnegoed vol kraters en vlieë.

UNISA se Breyten-seminaar: "Breyten Breytenbach in turbulente jare, enkele persoonlike perspektiewe"

UNISA’s Breyten Seminar: "The birthday poem ritual as self-portrait in Breyten Breytenbach’s poetry: 1964–2014"

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top