UJ-pryse 2019: Repliek deur Charl-Pierre Naudé

  • 2

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Die debuutprys is vanjaar deur Andries Buys (skrywersnaam Lodewyk G du Plessis) vir Die dao van Daan van der Walt ontvang en die UJ-prys deur Charl-Pierre Naudé vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Hieronder deel Charl-Pierre Naudé sy repliek by die ontvangs van die UJ-prys.

My opregte dank aan die pryskomitee van die Universiteit Johannesburg, aan dr Karen de Wet, die sameroeper van die pryspaneel en die ander lede, vir die waardering van my boek wat hierdie toekenning vir my boek impliseer. Dit is vir my ’n sonderlinge eer om hierdie prys van u vir my eerste roman te ontvang.

Die UJ-Prys vir Letterkunde is sinoniem met die idee van ’n werk wat die potensiaal het om te verras, en daar is niks wat ek as skrywer graagter wil doen as dit nie. Ek het myself voorgeneem om hierdie rede kort te hou, omdat my roman self lank genoeg is. Ek skuld dit aan my lesers.

Ek wil heel eerste vir Nicky bedank, wat saam met my die maak van die boek beleef het, en dikwels moes opoffer omdat ek voortdurend uit hierdie wêreld in ander wêrelde ingeglip het.

Ek wil die geleentheid ook gebruik om spesifiek twee literêre stigtings bedank vir hul bydrae in die totstandkoming van my boek in die vorm van skrywersverblywe wat aan my gegun is: Die Sylt-Stigting onder leiding van Indra Wussow, en die Deutsche Akademischer Austauschdiens (Duitse Akademiese-uitruilingsdiens) oftewel DAAD se Berliner Künstlerprogramm, onder sy voormalige hoof, Katharina Narbotovic.

Laastens wil ek die Departement van Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat bedank, waar hierdie roman in sy manuskripvorm as ’n MA-verhandeling gedien het.

Charl-Pierre Naudé

Nou, as iemand my sou vra: “Glo jy dat die ewewêrelde van die kwantumfisika bestaan?”, sou ek ondanks die fassinerende aard van die onderwerp antwoord: “Dit gaan my nie eintlik aan nie.” Of ek sou antwoord soos Stephen Hawking, dat ewewêrelde waar is, maar, in sy eie woorde: “Yes, it is trivially true.”

Ek het ’n boek met die ewewêrelde as leitmotief in geskryf omdat die idee my as metafoor aangryp, omdat ek aan min scenario’s kan dink wat my meer aan die verwikkeldheid en Janus-gesig-aard van Suid-Afrika herinner. Die ewewêrelde is ’n onontkombare logiese postulasie wat nie bewys kan word nie. Dis ook vir my wat hierdie land is: ’n onontkombare postulasie wat éweneens nie bewys kan word nie. In elk geval, nie bewys kan word in die terme van almal wat al probeer het nie.

En nou wil ek nie sê ek glo nie in die fisiese realiteit van die ewewêrelde nie. Ek wil ook nie sê ek glo nié daarin nie. Is dit nie vreemd dat die wetenskap in sy mees radikale vorm ’n kwessie van geloof geword het nie? Ek vind dit heel pikant. En ek dra hierdie pikantheid vanaand op aan alle feitvormers en konfyttrappers en konterfeitontdekkers, soos die eerbare Richard Dawkins en selfs Charles Darwin.

Nee, ek wil bloot sê ek glo veral in die radikale implikasies van die idee van die ewewêrelde vir hierdie ondermaanse lewe soos dit aan ons elke dag manifesteer. Ek glo dus in die ewewêrelde – en ek sê dit weer – as metafoor. Dit wat die ewewêrelde self is van homself: metafoor.

En dis metafoor wat vir mý die sentrale draer is van “waarheid”, wat dit ook al mag wees, nie aktualiteit nie. Vandaar my respek vir die digkuns wat dalk hier en daar saamsing in my boek se koor.

Ek het baie interessante mense leer ken tydens die skryf van hierdie boek, en ek wil hulle bedank daarvoor dat ek hulle mag afgeloer het deur hierdie sleutelgat wat ons die letterkunde noem. Hulle verskyn in my storie. Natuurlik het ek agter die skerms probeer slim raak hier en daar, met berekeninkies en sieninkies, maar danksy die ongekunsteldheid van die karakters, wat nooit enige kans sou hê om sulke sienings oor hulself te hê nie, het ek op die nougesette romanbaantjie kon bly: die een van wys en nie sê nie.

Ná die skryf van hierdie storie, dink ek, weet ek minder van die wêreld, maar het ek meer gesien daarvan, en het ek minder oortuigings, maar glo ek, soort van, in meer.

Ek wil hulle persoonlik bedank in volgorde soos hulle aan my verskyn het, die mense met wie ek vir sewe jaar saamgeleef het. En ek parafraseer nou uit die opdrag voor in my boek:

Diederik Hendrik (Dirkie) Verwey: gebore 1952. Vermis geraak in 1984.

Anna Bandjies: 1954–1985. Rus in vrede.

Hermanus Jakobus Frederik Verdomp: gebore 1944 – en steeds in die lewe.

Maria Hakskeen: gebore 1951 – gestorwe 1975. Rus in vrede.

Emmarentia Anna Melck: gebore 1946 – steeds in die lewe.

Julle was ’n rare spulletjie, hoor!

Lees ook

UJ-pryse 2019: Commendatio vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

UJ-pryse 2019: Commendatio vir Die dao van Daan van der Walt

UJ-pryse 2019: Repliek deur Andries Buys

Mediaverklaring: wenners van die 2019 UJ-pryse

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Monica Hammes

    Dit was 'n ongelooflike ervaring om tyd met die boek deur te bring en ek sien uit daarna om dit oor 'n jaar of so weer te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top