UJ-pryse 2019: Commendatio vir Die dao van Daan van der Walt

  • 0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Die debuutprys is vanjaar deur Andries Buys (skrywersnaam Lodewyk G du Plessis) vir Die dao van Daan van der Walt ontvang en die UJ-prys deur Charl-Pierre Naudé vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Hieronder deel Amanda Lourens die commendatio vir Die dao van Daan van der Walt.
 
Op bl 188 van Die dao van Daan van der Walt lees ons dat die enigmatiese meester Yang aan Da Ni Eu, oftewel Daan, die opdrag gee om die Dao De Jing van Laozi te bestudeer. Oor hierdie werk sê Daan: “Die boek gaan oor die onbeskryfbare aard van die Dao” (189).

Want die Dao wat so ’n integrale deel van Lodewyk G du Plessis, oftewel Andries Buys, se debuutwerk is, is inderdaad nie onder woorde te bring nie. Ek lees vir u enkele reëls uit die Dao De Jing (my vertaling uit die Engels):

Die Dao waaroor ons kan praat, is nie die ewige Dao nie;
Die naam wat genoem kan word, is nie die ewige naam nie;
Die Naamlose is die oorsprong van die Hemel en Aarde;
Die Benoemde is die moeder van alle dinge.
...
Iets ongedifferensieerd maar tog volledig het
Voor die Hemel en die Aarde bestaan.
Dit is geluidloos en vormloos; van niks afhanklik en onveranderlik.
Dit is oraloor werksaam en buite gevaar.
Dit kan geag word die moeder van die heelal.
Ek ken nie die naam daarvan nie; ek noem dit Dao.

Die Dao skyn dus die uiteindelike kreatiewe beginsel van die heelal te wees, maar dit is nie ’n skepper-god nie. Dit huisves wel die samekoms van die pole van jin en jang; die onderliggende harmonie van alles wat is. Hierdie betekenisonderskeiding van dao staan ook bekend as die kosmiese Dao (Stefon, s j).

Maar ook het die woord die betekenis van ’n weg, in die sin van ’n pad.

Amanda Lourens (Foto: Naomi Bruwer)

Die plesierige, soms skreeusnaakse, maar diep deurleefde verhaal van Daan van der Walt, ’n afgetrede boer en eertydse advokaat, neem die leser as reisgenoot saam op Daan se weg om homself te vind ná ’n veelbewoë lewe, maar ook een waarin hy nie die verskillende fasette van en ervarings in sy lewe tot integrasie kon bring nie. Die roman, as die medium waardeur hy sy eie geskiedenis (sy “Historia”) opteken, maar ook gesprekke met sy gestorwe vrou en hond voer, word egter die saamkomplek van jin en jang wat op verskillende vlakke uitspeel: Afrika en China, Calvinisme en daoïsme, sinnelikheid en askese, jeug en ouderdom, liggaam en gees, manlikheid en vroulikheid.

Du Plessis (want dít is sy skrywersnaam, ook in die toekoms, sê Buys onlangs aan die media) bring met hierdie roman iets wesenliks nuuts en verrassends in die verhaal van die ouer Daan van der Walt wat in ’n katartiese verblyf in China opnuut na sy eie lewe en die samelewing met sy gebaande weë kyk en insigte verwerf wat sy lewe daadwerklik verander. Daan reis na China om sy seun – ’n afgestudeerde predikant wat tot sy enorme teleurstelling die bediening gesystap het – te besoek, maar daar raak hy ongesteld wanneer hy agterkom dat Jan-Willem met ’n Chinese vrou getroud is. Sy seun besef dat sy pa se balans herstel moet word en neem hom na die Tempel van Ewige Vrede, waar hy onder die groot meester Yang se oog tài jí leer beoefen. Hy maak kennis met nuwe gebruike en lewensfilosofieë (wat vir heelwat vermaak sorg wanneer dit vanuit Daan se stoere perspektief as volksvreemde afgodediens beskryf word), en maak algaande vrede met sy eie lank-onderdrukte gaywees. (Ek vermoed wel baie lesers sou die lieflik verwoorde liefdestoneel teen die einde eintlik veel meer uitgebrei wou hê.) Maar die roman is ook ’n herbesoek aan die verlede, en Daan probeer die verlede – en sy skuld teenoor sy naaste familie – tot afsluiting bring in onder meer briewe aan sy oorlede vrou. Uiteindelik blyk sy nuutgevonde lewenswysheid wanneer hy onomwonde kan verklaar: “Ek dink, daarom is ek deurmekaar.” Die afstand wat hy met hierdie woorde tussen hom en die aanvaarde Westerse denke van cogito ergo sum plaas, wys op die enorme reis wat hy reeds afgelê het.

Ek haal my kollega Frederick Botha graag aan, wat in sy keurverslag skryf: “Die nuwe bedeling en algemene omstandighede in postapartheid Suid-Afrika, magonteiening, manlikheid, skuld en vergifnis, godsdiens, seksualiteit, taal en kommunikasie, en ’n besinning oor die letterkunde, is maar slegs ’n paar kwessies wat in die roman ondersoek word. ’n Skrywer wat op so ’n boeiende wyse dit kan regkry om ’n groot lesersgehoor te bereik en hul hartsnare te roer terwyl hulle uitgedaag en gekonfronteer word, is vir my een van die opwindendste kwaliteite waaroor ’n debuutwerk kan beskik.”

Wat merkwaardig is, is hoe die teks daarin slaag om aanknopingspunte met ’n hele paar aktuele kwessies in die eietydse Suid-Afrikaanse diskoers te vind.

In Daan se verlede op die plaas Ystervarkfontein is die verwantskap met die plaasroman, maar dan ook met vertrek, soos in ander voortreflike hedendaagse aansluitings by hierdie tradisie, soos in Eben Venter se Ek stamel ek sterwe en Marlene van Niekerk se Agaat.

Daar is distopiese elemente: die plaasaanval en die moorde wat Daan se wêreld onherroeplik verander en sy arrestasie kort daarna. Daar word verwys na die wegkwyn van Afrikaans in ’n nuwe despotiese orde, soos wat byvoorbeeld ook in Venter se Horrelpoot gesien word.

Die roman sluit aan by die groeiende korpus van gayliteratuur, bied boonop ’n besinning oor manlikheid – iets wat bitterlik nodig is in ’n tyd waarin identiteite voortdurend uitgedaag en herdefinieer word.

Die gesprekke met die gestorwe Kaspaas sluit natuurlik aan by die opwindende studieveld van diere, en spesifiek die rol van honde, in die Suid-Afrikaanse literatuur.

En dan bring Die Dao van Daan van der Walt nog ’n speler op die toneel wat die meer teoretiese gesprek oor sogenaamde laatwerk betref. Daar is die groeiende verskynsel in Afrikaans van debute deur ouer skrywers, en van langer skrywers- en digtersloopbane – baie wat eers na aftree-ouderdom behoorlik vlamvat. Indien hierdie roman wel ’n voorbeeld van laatwerk is, sal dit een wees wat spreek van integrasie en integriteit – waar laasgenoemde die teenpool van desperaatheid is, volgens Erickson se bekende uiteensetting van die konflikte in die verskillende lewensfases.

Die skrywer gee deur hierdie roman dan erkenning aan ’n soort menswees – dié van die ouer, wit, manlike Afrikaanssprekende – wat in die eietydse klimaat dikwels aan verguising onderwerp word, maar wat, as deel van die groter weefwerk van menslike ervaring, ’n ondersoek én ’n nuwe reis verdien.

Ek wil graag afsluit met ’n aanhaling van Daan van der Walt se woorde, wat ek glo genoeg rede is om te verduidelik waarom Lodewyk G du Plessis hierdie prys deur en deur verdien:

Ek dink aan Songtao se storie van keiser Shu en keiser Hu wat gereeld by hul vriend keiser Hundun gaan eet het. Eendag besluit hulle om gate in Hundun se kop te boor omdat hy nie oë, ore en ’n neus gehad het nie. Net toe Hundun kon sien, hoor en ruik, gaan hy dood. Songtao moes die storie aan my verduidelik: die Dao doen wei wu wei. Hy boor nie gate in mense se koppe om hulle te verander nie. Hy dink nie eers oor die probleem nie, want hy weet die regte pen vind die regte gat, soos dit vir hom bestem is. “The Dao is no big deal,” het hy afgesluit.

Bronne

Stefon, M. s j. Dao. Chinese philosophy. Encyclopaedia Brittannica [Aanlyn]. https://www.britannica.com/topic/dao (22 April 2019).

What is the Tao? 2009. Religions. BBC [Aanlyn]. http://www.bbc.co.uk/religion/religions/taoism (21 April 2019).

Lees ook

UJ-pryse 2019: Repliek deur Andries Buys

UJ-pryse 2019: Commendatio vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

UJ-pryse 2019: Repliek deur Charl-Pierre Naudé

Mediaverklaring: wenners van die 2019 UJ-pryse

 
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top