UJ-pryse 2019: Commendatio vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

  • 0

Die UJ-pryse word jaarliks in twee kategorieë en oor die grense van  genres heen, toegeken. Die debuutprys is vanjaar deur Andries Buys (skrywersnaam Lodewyk G du Plessis) vir Die dao van Daan van der Walt ontvang en die UJ-prys deur Charl-Pierre Naudé vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Hieronder deel Frederick J Botha die commendatio vir Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Sedert sy debuut in 1995 met Die nomadiese oomblik het Charl-Pierre Naudé hom hoofsaaklik as bekroonde digter gevestig. Vir sy debuut ontvang hy in 1997 die Ingrid Jonkerprys, en sy tweede digbundel, In die geheim van die dag (2004), word in 2005 met die M-Net- sowel as die Protea-prys vir Afrikaanse poësie bekroon. In 2015 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Letterkunde-toekenning vir sy derde digbundel, Al die lieflike dade (2014). As samesteller is Naudé verantwoordelik vir die versamelbundels My ousie is ’n blom in 2005, en Nuwe stemme 6 in 2017 met Bibi Slippers as medesamesteller. Benewens sy optredes by ’n menigte internasionale poësiefeeste het hy ook al aan verskeie skrywersresidensieprogramme deelgeneem, wat veral sy Europese status as gesogte Suid-Afrikaanse digter bevestig (SALA 2019).

Frederick J Botha

By hierdie lys van prestasies moet Naudé se aansien as vryskutjoernalis, rubriekskrywer en resensent ook natuurlik bygevoeg word. In 2018 sorg Naudé egter vir die grootste verrassing – en moontlik prestasie – van sy skrywersloopbaan tot op hede wanneer hy as prosaskrywer debuteer met ’n lywige roman wat hy as ’n “para-psigologiese mystery story” (Naudé en Meyer 2018) beskryf. Hierdie roman is in 2016 voorgelê vir Naudé se meestersgraad in skeppende skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat onder leiding van Francois Smith (Opperman 2018).

Die UJ-prys onderskei homself van ander Afrikaanse literêre pryse deurdat dit jaarliks uitnemendheid oor die grense van genre heen beloon. Dat Naudé se debuutroman hierdie jaar met die UJ-prys bekroon word, is gepas, aangesien die roman self oor verskeie genres heen beweeg en, ten spyte van Naudé se bogenoemde definisie, nie maklik is om te tipeer nie. Elemente van die liefdes- en speurverhaal, magiese realisme, satire, geskiedskrywing, metafiksie en spekulatiewe wetenskap word alles saam en aan die hand van ewewêrelde as tema verken, met die eindproduk só vernuwend en verrassend in Afrikaans dat dit die bekroning met die UJ-prys regverdig.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey se aansluiting by metafiksie word reeds aan die begin van die roman aangekondig. In ’n kreatiewe en uiters belonende spel met die leser verklaar Naudé in die voorwoord dat hy nie die skrywer van hierdie boek is nie. Volgens Naudé het ’n joernalis, ene Hermanus Verdomp, die storie meer as dertig jaar gelede geskryf, maar dit nooit aan ’n uitgewer voorgelê nie. Deur ’n sameloop van omstandighede het die manuskrip by Naudé uitgekom, en nadat hy die nodige toestemming by ’n knorrige Verdomp via Skype gekry het, het Naudé dit aan sy uitgewer voorgelê wat onmiddellik belangstelling getoon het. Verdomp wil egter niks meer met sy manuskrip te doen hê nie, en daarom tree Naudé nou as annoteerder en samesteller op, wat bloot erkenning neem vir die voetnote asook die voor- en nawoord wat hy kwansuis geskryf het.

Hierdie “literêre blufspel”, om Naudé se eie woorde in ’n LitNet-onderhoud aan te haal (Naudé en Meyer 2018), lei reeds die hooftema van ewewêrelde in, met Naudé wat spot dat hy en Hermanus Verdomp ewewêreldweergawes van mekaar mag wees. As metaroman aktiveer Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey dus ’n spel tussen outeur en leser waar die leser die heeltyd wonder wat werklik of blote versinsels is. Die roman bied ook ’n kreatiewe besinning oor die skryfproses en die aard van fiksie, asook oor die ontstaan en belangrikheid van stories as manier om sin aan die menslike bestaan te gee.

Hermanus Verdomp se roman, via Charl-Pierre Naudé, vertel die verhaal van verskeie karakters wat meer as een lewensweergawe van hulself beleef gedurende die apartheidsjare van die vroeë sewentigs tot middel-tagtigs. Op die Lyksovlakte verskyn daar oornag ’n motelgebou, net om ’n paar weke later weer te verdwyn. Twee halfkaal jongmense word deur die koster betrap waar hulle in die kerkbanke liefkoos, maar nadat hulle in die konsistorie toegesluit word, word daar uitgevind dat hierdie twee jongmense beide tuis en in hulle beddens is. Daar is ook die storie van die “mis-voor-die-son-hoed” wat vroue onweerstaanbaar maak vir mans wanneer hulle dit dra, en dan is daar ook Dirkie wat glad nie op foto’s vertoon of getel kan word nie, en daarom ook nie opgeroep kan word vir diensplig nie. Hierdie wonderlike verbeeldingsvlugte waarop die leser geneem word, word egter deurgaans gekontrasteer met die byhaal van traumatiese gebeure gedurende hierdie skisofreniese tyd in Suid-Afrika se geskiedenis, byvoorbeeld magsmisbruik deur die polisie, moord, verkragting, en onwettige liefdesverhoudings oor die kleurgrens heen.

Wat dus voorkom as ’n magies-realistiese besinning oor apartheid, word uiteindelik soveel meer. Naudé gaan verder en daag alles uit wat die leser rondom die realiteit weet en as die werklikheid beskou. Aangesien drome in die roman as werklike lewens aangebied word, speel Naudé met die idee dat hierdie lewe ook net ’n droom kan wees. Hy bied swyes as geskiedskrywing aan, en daag die aard van menslike bestaan uit deur die moontlikheid te ondersoek dat ons gelyktydig op verskeie plekke in verskillende tye kan bestaan. Verder wys Naudé hoe vervleg ons lewens eintlik aan mekaar is, en dat daar nooit net een weergawe van dieselfde ervaring kan bestaan nie, want soos hy tereg aantoon, bestaan daar ook meer as een weergawe van ’n spesifieke lewe.

Vir Andries Oliphant, medebeoordelaar, staan hierdie roman in die teken van die satiriese fantasie waarin die rasionele verplaas word deur die absurde en onverklaarbare wat as doodgewoon en alledaags voorgestel word, terwyl daar terselfdertyd met die tradisionele konvensies van fiksie gespot word. Die roman sluit vir Oliphant ook aan by die werk van Herman Charles Bosman, waarin plattelandse insidente verbeeldingryk en sardonies met tong-in-die-kies-humor verhaal word, wat vir ’n uitbundige en vermaaklike karnavaleske roman sorg.

Johan Myburg, nog ’n medebeoordelaar, maak melding van die sterk verhaalmatigheid wat in Naudé se verse ingebou is, met die poëtiese inslag van sy roman wat dus nie die leser behoort te verras nie. Dis juis Naudé se poëtiese inslag (of is dit nou die digterlike talent van Hermanus Verdomp?) wat volgens medebeoordelaar en sameroeper van die UJ-prys, Karen de Wet, grotendeels bydra tot die leesplesier van die roman. Naudé se poëtiese vernuf wat vir uitsonderlike prosa sorg, maak die vertelling uiters filmies. Simboliek speel eweneens ’n groot rol in die roman, met Naudé wat tydens ’n onderhoud vir Beeld erken dat hy ’n metafoor vir die aard van Suid-Afrika wou vind as ’n land wat nie net een land is nie, maar ’n land binne lande, samelewings naas mekaar, soos herhalings (Opperman 2018). Boonop wemel die roman van treffende metafore, met ’n reisende biblioteekbus wat hier ook as bordeel funksioneer, want in hierdie wonderwêreld van ewelewens is kennis mag, maar ook jags.

Die parodiëring van die biblioteekbus as internasionale verskynsel wat in die roman binne die nasionalistiese opvoedings- en opheffingsideale van apartheid geplaas word, is, soos De Wet tereg uitwys, vlymskerp en tegelykertyd skreeusnaaks en tragies, met die intimiderende oordaad daarvan wat herinner aan Etienne Leroux se orgies. Ander tragiese en hartverskeurende tonele, byvoorbeeld waar Dirkie deur die bediendes in die stort betas en ontkrag word; die intense weergawe van hoe Dirkie en Maria onder ’n dekmantel hulle verhouding in die aseksuele waskamers van die geheime organisasie in die storte voltrek; en die dokumentering van Maria se verkragting as kind laat die leser nie alleen onverwags na asem snak nie, maar is kragtoere waarmee Naudé sy meesterskap as prosaïs bevestig.

Met hierdie roman, wat deur die keurpaneel as “voortreflik”, “verstommend”, “uitnemend” en “merkwaardig” beskryf word, maak Naudé die leser opnuut bewus van die krag van verbeelding. Trouens, die roman dien as oproep daarvoor. Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is wat mens ’n groot-opgesette roman sou noem, waarvan die aanbod ongetwyfeld uitgebreide akademiese ondersoek gaan ontvang én verdien. Net soos die karakters in hierdie boek meer as een keer lewe, verdien hierdie roman om meer as een keer gelees te word. Die roman is dalk kompleks en uitdagend, maar nooit vermoeiend nie, want die uiteindelike beloning is só groot.

Dames en here, om al bogenoemde redes, asook diés wat in ’n ander werklikheid of ewelewe aangevoer kan word, is dit vir my ’n groot plesier om Charl-Pierre Naudé se Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey vir die 2019-UJ-prys aan te beveel.

Bibliografie

Naudé, Charl-Pierre en Naomi Meyer. 2018. Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey: ’n onderhoud met Charl-Pierre Naudé. [Web:] https://www.litnet.co.za/die-ongelooflike-onskuld-van-dirkie-verwey-n-onderhoud-met-charl-pierre-naude. (Toegang verkry op 24 April 2019.)

Opperman, AJ. 2018. Om ’n lewe (of twee) te verbeel. [Web:] https://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/charl-pierre-naude-om-n-lewe-of-twee-te-verbeel-20181128. (Toegang verkry op 24 April 2019.)

SALA. 2019. Charl-Pierre Naudé. [Web:] https://sala.org.za/charl-pierre-naude (Toegang verkry op 24 April 2019.)

Lees ook

UJ-pryse 2019: Repliek deur Charl-Pierre Naudé

UJ-pryse 2019: Commendatio vir Die dao van Daan van der Walt

UJ-pryse 2019: Repliek deur Andries Buys

Mediaverklaring: wenners van die 2019 UJ-pryse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top