Cintaine Schutte praat met Naomi Meyer oor Tuis, ek’s liefie by vanjaar se Toyota US Woordfees.
Cintaine, ek wil jou vra oor jou rol in Tuis, ek's liefie. Die titel klink grappig. Of mense die woorde omgeruil het. Is dit doelbewus so?
Die titel is direk vertaal van die naam van die Engelse verhoogstuk Home, I'm darling, wat deur die Engelse skrywer Laura Wade geskryf is. Die titel kan ’n bietjie oorkom as speels, dalk miskien as ’n klug. Maar die stuk het baie lae. Daar is humor, maar ook ernstige dele, wat die stuk so interessant maak.
Van omgeruil gepraat: Watter rolle word omgeruil in hierdie produksie?
Ons kyk na ’n paartjie, Johnny en Judy, wat besluit het om terug te keer na die “meer eenvoudige” lewenstyl van die vyftigerjare. Ons kyk ook na ’n ander paartjie, Markus en Frandi, wat ook die vraag opper of ’n vrou se waardes gemeet word aan hoeveel sy bybring tot huishoudelike take. Ons kyk ook na Johnny se baas, wat die moderne vrou is, en dan het ons Susan, Judy se ma, wat oop kaarte speel en ’n spieël vir al die ander karakters op hou en juis praat oor of die rolle rêrig omgeruil moet word of nie.
Wat kan die gehoor verwag as hulle na die produksie kom kyk? (Dink jy mense gaan lag of gaan hulle dalk ’n bietjie nadink oor hoe baie dinge dieselfde gebly het ...?) En waarom moet hulle ’n kaartjie hiervoor koop?
........
Tuis, ek's liefie het ook ’n fantastiese rolverdeling. Amanda Strydom, Wessel Pretorius, Crystal-Donna Roberts, Carlo Daniels en Veronique Jephtas.
........
Ek dink mense gaan die produksie geniet. Dit het baie lag en baie byt. Ek kan onthou toe ek die eerste keer die stuk gelees het , het dit vreeslik met my geresoneer. Iets anders, maar tog ook so lieflik om te kyk na al hierdie karakters en hoe hulle deur die lewe navigeer met hul eie prentjie van die “perfekte lewe”. En het ons almal maar nie soms daai “bubble” waarin ons wil wegglip en oor fantaseer nie? Tuis, ek's liefie het ook ’n fantastiese rolverdeling. Amanda Strydom, Wessel Pretorius, Crystal-Donna Roberts, Carlo Daniels en Veronique Jephtas. En dan die wonderlike Janice Honeyman wat die regie behartig, Wolf Britz wat die stel en ligte behartig. Birrie le Roux se ongelooflike kostuums. So baie rolspelers. Droomspan! Ek knyp myself.
Wat is vir jou die lekkerste van hierdie produksie en wat is die mees uitdagende?
Dis vreeslik lekker om met die span mense te werk. Soos ek genoem het, ek knyp myself. En dan natuurlik om Judy te kan speel. Baie lief vir haar geword ten spyte van al haar geite en giere. En om in elke toneel te wees en haar mooi te navigeer en te “pitch” deur hierdie stuk is vir my baie uitdagend. Maar as jy so ’n uitdagende karakter kry, is dit gewoonlik die geval.
Op ’n heeltemal ander syspoor: Die afgelope tyd het jy baie huisproduksies opgevoer en nou is jy weer op verskillende verhoë en by verskillende feeste te sien. Wat is die belang van kunstefeeste en hoe verskil die ervaring van die intieme by-die-huis-optree-situasie?
Ek is tans in The promise wat by die Home Coming Centre speel en dan op pad is na die Mark toe. En dan natuurlik my Huiskonsert-vertonings van Mutton hour wat ek saam met Wilhelm van der Walt doen, en Tuis, ek’s liefie, wat op pad is na die Toyota US Woordfees. So van sitkamer na teaters na feeste. Natuurlik verskil elkeen se platform, struktuur en intimiteit. Maar ek moet as kunstenaar myself herinner ek gee nie om waar ek speel en hoe groot die gehoor is of hoe fancy die speelvlak is nie, ek moet nog steeds die storie so eerlik as moontlik vertel. Dat daar vandag iemand gaan instap om die stuk te kom kyk, en dit mag miskien hul heel eerste keer wees wat hul teater sien of miskien hul heel laaste keer. Dat elkeen daar is want hul wil daar wees en dat ons almal die spasie saam deel. Dis die magic van teater.
Lees ook:
Braam en die engel by die Toyota US Woordfees: ’n onderhoud met Nico Scheepers