Braam en die engel by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Nico Scheepers

  • 0
Nico Scheepers praat met Naomi Meyer oor die toneelstuk Braam en die engel by die Toyota US Woordfees 2023.

Bespreek kaartjies vir Braam en die engel by Quicket.

Nico, jy is regisseur van Braam en die engel by die Woordfees. Dis ’n kinderproduksie. Die kinders is bevoorreg dat jy, as bekroonde regisseur, so ’n stuk vir hulle kom aanmekaarsit! So as jy die stuk skep, hoe verplaas jy jou van grootmens-TV (Donkerbos) en tienertoneel (Lyf) na kinderproduksie? Wat is eenders, wat is anders?

Ons verwys glad nie daarna as kinderteater nie. Dit is teater vir die hele gesin – visueel, magies, eerlik en uitdagend. As mens aanhou om na hierdie tipe werk te verwys as "kinderteater", dan draai sekere volwassenes hulle rug daarop. Ons werk met magic hier, en mense kan gerus kom kyk. Ek glo altyd ’n storie is ’n storie, en alle stories werk volgens dieselfde reëls, of dit nou ’n misdaadreeks is, of in hierdie geval die verhaal van ’n klein seuntjie en sy beskermengel.

Daar is magies-realistiese elemente in hierdie stuk. Of dink jy nie kinders beleef dit so nie? Is die magiese vir hulle konkreet? Dink jy hieroor na as jy regisseur is van so ’n produksie?

Die gehoor gaan hulself in die produksie verloor. Die akteurs toor met Braam (’n pop), en jy kan nie jou oë van hom af hou nie. Vir my voel dit soos om animasie te kyk wat lewend word. Dis werklik iets wat mens net in die teater kan ervaar.

........
Vir my voel dit soos om animasie te kyk wat lewend word. Dis werklik iets wat mens net in die teater kan ervaar.
........

Moet mens die boek gelees het om die teaterstuk te verstaan? Of om dit op te voer en te interpreteer?

Glad nie. Hierdie is ’n verwerking van die boek. Natuurlik is die verhaal dieselfde, maar ons het baie dinge aangepas vir die nuwe medium. Om so ‘n groot verhaal op ’n ’n klein seuntjie se skouers te laat rus is ’n uitdaging, maar Braam aanskou die wêreld om hom met nuwe oë ... Hy soek ook maar net ’n huis waar hy tuis voel.

Wat kan kinders en grootmense verwag as hulle hierna kom kyk?

’n Magiese avontuur, ’n hartroerende storie, en prentjies wat jy nog nie vantevore gesien het nie. Top akteurs wie se toewyding en liefde vir hierdie produksie lewe gee aan ’n storie wat jy nie gou gaan vergeet nie.

Wat is die lekkerte van die produksie en wat is die uitdagendste?

Die lekkerste deel van enige teaterproduksie is eerstens die repetisieproses – om te kan speel in ’n ruimte waar almal saamkom en tyd en aandag gee, dag na dag, om lewe aan ’n storie te gee. Dis die lekkerste verantwoordelikheid onder die son.

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top