Tribuo-fonds: Nuwe fonds help kunste na pandemie

  • 0

Cornelia Faasen

’n Nuwe ondersteuningsfonds is onlangs gestig met ’n belang in die uitvoerendekunstebedryf in Suid-Afrika. Die fonds is spesifiek gerig op vryskutwerkers wat inkomste verbeur het as gevolg van die COVID-19-inperkingsmaatreëls en ook ná afloop van dié inperkingstyd.

Cornelia Faasen, wat betrokke is by die fonds, vertel meer.

 Wat behels die Tribuo-fonds? Wat is die doel daarvan?

Die Tribuo-fonds is gestig as ’n fondsinsamelingsinisiatief om uitvoerende kunstenaars deur die moeilike tyd gedurende inperking en na die inperking by te staan met finansiële steun. Met die kunstefeeste en teaters wat tydelik moes toemaak en aanpas by ’n nuwe digitale omgewing, het baie kunstenaars se werk en inkomste skielik heeltemal opgedroog. Ons beoog om die fonds te groei om ’n aantal behoeftes in die bedryf aan te spreek, maar vir nou is ons belangrikste oogmerk om fondse in te samel om kunstenaars en tegnici by te staan wat die laaste paar maande geen moontlikheid van inkomste gehad het nie. Ons vryskutkunstenaars en -tegnici is ongelooflik weerloos in dié tyd en ongelukkig is ons strukture van so ’n aard dat hulle van fees na fees en produksie tot produksie leef. Ons het ook besef dat staatshulp minimaal gaan wees en ook nie altyd so direk by kunstenaars gaan uitkom nie, en ons het besef dat dié van ons wat gelukkig genoeg is om ’n salaris te verdien, nou moet inspring en ons medekunstenaars en -tegnici moet bystaan en ons deel moet doen.

Die fonds is geregistreer as ’n niewinsgewende maatskappy en daar het baie werk ingegaan in die behoorlike oprigting van die organisasie om te verseker dat daar langtermynfokus is op die werksaamhede van die fonds.

Wie is verantwoordelik vir die stigting van hierdie fonds? Wie maak dit moontlik?

Die inisiatief kom van Karen Meiring by kykNET en sy het NATi genader om die inisiatief saam het hulle op die been te bring. Die Feesteforum (KKNK, Woordfees, Suidoosterfees, Aardklop, Vrystaat Kunstefees en Innibos), en spesifiek Hugo Theart en Saartjie Botha, het ook dadelik aan boord gekom saam met ander rolspelers wat (sonder vergoeding) die fondswerwing doen en die administrasie en bemarking hanteer. Ons is in die gelukkige posisie dat ons nou ’n administratiewe persoon kon aanstel (Nita Cronjé), aangesien almal van ons wat by die fonds betrokke is, ook nou moet begin fokus op ons eie werk en projekte. Die lewe en die kunste staan beslis nie stil nie, en ons is nou volstoom aan die beplan en woeker vir wat die feeste en teater vir volgende jaar gaan inhou. Kunstenaars wil nie bakhand staan nie, en ons grootste prioriteit is om nou vir kunstenaars en tegnici werk te skep, terwyl ons in gedagte hou dat daar ’n groot nood is. Tussen die twee fokusareas sal ons seker maak ons trek die wa deur die drif.

Hoekom is die fonds gestig? Sal die fonds voortaan permanent bestaan of is dit net ’n tydelike fonds?

Dit is beslis ’n permanente fonds, maar die fokus gaan skuif soos ons uit die krisistydperk beweeg. Vir nou is ons besig met die volgende siklus van fondswerwing sodat ons nog uitbetalings kan maak voor die einde van die jaar. Die fonds is gestig omdat ons almal bewus geword het in ons direkte omgewings dat vryskutwerkers in die uitvoerende kunste ewe skielik sonder werk en inkomste gesit het. Dit is alles goed en wel dat mense dink kunstenaars moet die inperking gebruik vir refleksie en meditasie en kreatief dink en skep, maar dit kan nie geëet word nie. Weens die gebrek aan behoorlike besteding van staatsfondse in die kunste is ons uitgelewer aan gehore en borge vir fondse om die kunste en teater aan die lewe te hou, en daarsonder is ons uitgelewer aan die genade. Dit is werklik verblydend om te sien hoe die publiek die fonds ondersteun en hoe baie organisasies besluit het om skenkings te maak. Dit gee mens baie hoop dat ons gehore die belang besef van die kunste, kunstenaars, teater en feeste. Ons is ’n geestelik arm samelewing hiersonder.

Wie baat by die fonds? Maw wie kan aansoek doen en hoe doen ’n mens aansoek?

Individuele kunstenaars en tegnici wat kan bewys dat hulle as vryskutwerkers in die bedryf oorleef en nie tans ’n vaste inkomste het nie. Ongelukkig ondersteun ons nie ander organisasies of teaters nie – ons het eenvoudig nie die fondse daarvoor nie. Al die riglyne is beskikbaar op ons webblad, www.tribuo.co.za. Die volgende siklus open op 1 November en die aansoekvorm sal ook daar beskikbaar wees op ons webblad.

Hoe kan die publiek wat graag wil help, ’n bydrae tot die fonds lewer?

Daar is verskeie maniere. Daar is ’n SnapScan-kode op ons webblad, asook bankbesonderhede. Persone wat skenkings maak, kwalifiseer ook vir ’n 18-A-belastingsertifikaat. Navrae kan ook gerig word aan info@tribuo.co.za.

Enige persoon wat op enige wyse wil betrokke raak deur ’n skenking, blootstelling, dienste of net ondersteuning van welke aard ook al, kan ons kontak by info@tribuo.co.za. Geen bydrae is te groot of te klein nie!

Lees ook

Mediaverklaring TRIBUO: Nuwe ondersteuningsfonds vir die kunste

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top