Mediaverklaring TRIBUO: Nuwe ondersteuningsfonds vir die kunste

  • 2

Die COVID-pandemie het die uitvoerende kunste wêreldwyd hard getref. Die plaaslike bedryf het tot stilstand geknars met die verbod op openbare byeenkomste, die sluiting van teaters en vermaaksentrums en die kansellasie van verskeie kunstefeeste. Die kunstebedryf in Suid-Afrika is hoofsaaaklik ’n vryskutomgewing en baie kunstenaars en tegnici het werksgeleenthede verloor weens die pandemie. Die TRIBUO-fonds is ’n inisiatief om die uitvoerende kunste in hierdie uitdagende tye ’n hupstoot te gee. Tribuo, Latyns vir “ek gee”, bied ’n geleentheid om ’n belegging in Suid-Afrika se uitnemende kunstenaars te maak.

Dié niewinsgewende maatskappy is gestig in samewerking met Karen Meiring, (kykNET), Cornelia Faasen (NATi – Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief) en die Feesteforum (Aardklop, KKNK, Innibos, Suidoosterfees, Vrystaatfees en die Toyota US Woordfees) om vryskutkunstenaars te ondersteun. Die fonds is afhanklik van die steun van liefhebbers en ondersteuners van kunstefeeste en die kunste in die algemeen. Bydraes kan deur privaat persone, korporatiewe instansies of filantropiese skenkers gemaak word en ’n 18A-belastingsertifikaat is op aanvraag beskikbaar. Bydraes kan anoniem gemaak word of skenkers kan erkenning ontvang as ’n donateur van die fonds. Kontak [email protected] vir meer inligting oor skenkingsmoontlikhede.

Kunstenaars kan vanaf Maandag 6 Julie aansoek doen om bystand. Die toekenning van uitbetalings sal deur ’n paneel van onafhanklike bedryfskundiges hanteer word.

Wie kan aansoek doen?

  • Suid-Afrikaanse burgers of permanente Suid-Afrikaanse inwoners;
  • vryskut- uitvoerende kunstenaars soos akteurs, musikante, dansers, tegnici skrywers, regisseurs, choreograwe en ander personeel wat dit moontlik maak om werk op die planke te bring;
  • mense wat nie op enige gereelde, kontrak- of termynkontrakbasis in diens geneem is deur enige organisasie, instansie of produksiehuis nie;
  • kan bewys dat hulle op 15 Maart 2020 aanbiedinge of kontrakte vir werk onderteken het vir die tydperk 15 Maart tot 31 Desember 2020 wat intussen gekanselleer of uitgestel is; of wat kan aantoon dat verdere werksgeleenthede in 2020 onwaarskynlik is
  • erge finansiële nood as gevolg van die COVID-19-pandemie ervaar;
  • deelname oor die afgelope drie jaar aan minstens twee produksies by ’n erkende kunstefees kan aantoon;

OF

  • deelname aan ’n minimum van drie produksies gedurende die afgelope drie jaar by ’n teater kan aantoon;

OF      

  • deelname kan aantoon aan ten minste twee plaaslik vervaardigde films en/of TV-reekse
  • nie ’n voltydse werknemer, bestuurslid, direkteur, beampte of onmiddellike familielid van enige van die fondsvennote is nie;
  • nie gedurende die afgelope drie maande hulptoelae van meer as R10 000 ontvang het nie;
  • ’n SARS-belastingnommer kan verskaf en belastingnakomingstatus kan aandui.

Die Stigterslede (en organisasies) van die Tribuo-fonds skenk hul dienste heeltemal gratis met geen verwagtinge van betaling deur die fonds nie. Die interimbestuurskomitee bestaan uit Karen Meiring (kykNET), Cornelia Faasen (NATi), dr. Leslie van Rooi (Universiteit Stellenbosch) en verteenwoordigers uit die feeste-omgewing en ander rolspelers in die bedryf. PWC is as ouditeure van die fonds aangestel.

Besoek www.tribuo.co.za vir meer inligting.

Facebook

Instagram

Twitter

Kyk die promovideo hier: 

  • 2

Kommentaar

  • Knap gedaan aan almal wat die wilskrag, meegevoel en insig gehad het om die inisiatief aan te pak en uit te voer.

  • As ek 'n skenking maak, sal dit help vir Steve Hofmeyer en al die kunstenaars wat julle biokot?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top