Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Danneline Ramsden oor Die antie soek ’n Ben10

  • 0

Danneline Ramsden praat met Naomi Meyer oor die Toyota US Woordfees-toneelstuk wat Danneline geskryf en vervaardig het, Die antie soek ’n Ben10.

Danneline, jy speel in die komedie Die antie soek ’n Ben10 by vanjaar se Woordfees. Vertel asseblief vir ons lesers wie jy is en van jou agtergrond.

Ek is Danneline Ramsden, oorspronklik van Komaggas in Namakwaland. Ek is vir die afgelope jare gevestig in Stellenbosch. Voorheen was ek ’n preprimêre onderwyseres en ek was ook betrokke by VCSV (Verenigende Christen-Studente Vereniging). Tans is ek ’n vryskutkunstenaar. Ek vertel oorspronklike Namakwaland-stories, en ek is ’n opkomende aktrise en ook ’n gepubliseerde skrywer. Die afgelope twee jaar is ek betrokke by Kollig Dramaskool in Stellenbosch.

Jy is dus ’n storieverteller en dis nie vir jou snaaks om jou storie voor mense te vertel nie. Maar wat van hierdie show? Vertel vir ons lesers wat jou die idee hiervoor gegee het?

Early B se liedjie “Ben Ten” het my geïnspireer om my eerste eenvroudrama te skryf wat ek self vervaardig en ook die rol van die antie wat ’n Ben 10 soek, speel. Die bekende akteur Eldon van der Merwe is my regisseur en mentor met die produksie. Hy is briljant. 

Mans het in die algemeen nie ’n probleem om te praat van ’n “jong blaar” nie, of wat praat ek. Dink jy vroue is gemaklik om te praat oor die man in wie hulle belangstel en of hy jonk of oud is, of wat verwag die samelewing van vroue en hulle smaak in hul verhoudingsmaats? Ek het nou ook ’n baie moeilike vraag vir jou. Wil ’n antie nie ook partykeer hê haar Ben 10 moet mooi groot raak en help kos maak en opruim en sorg vir die kinders nie?

Ek ondervind dat mans makliker praat oor hul verhoudingvoorkeure. Sommige vroue vind dit baie moeilik. Hulle is bang hulle word veroordeel en gelabel. Dit maak nie van jou ’n slegte vrou omdat jy iemand jonger verkies nie. Jy is nog steeds dieselfde persoon met dieselfde waardes en standaarde. Mans wat van ’n jonger vrou hou, praat van ’n Gwen 10. Dit hang af wat jy definieer as Ben 10. Vir sommige mense is die ouderdomsgaping groter as vir ander, bv ’n Ben 10, 20, 30, 40 ens. Die feit bly staan die ou is jonger as die vrou. Sommige vroue het ’n baie jong gees en verkies iemand jonger. Dis mense se persoonlike voorkeur. Ek het al baie paartjies ontmoet met ’n groot ouderdomsverskil. Sommige is in ’n verhouding, ander is getroud. ’n Mens weet nie eers daar is ’n verskil totdat iemand daarvan melding maak nie. Hulle pas soos ’n handskoen by mekaar. Sommige vroue hou van ouer mans en dis hulle persoonlike voorkeur. Soms voldoen mans en vroue nie aan mekaar se verwagtinge nie en dan het dit niks met ouderdom te doen nie. Stof tot nadenke.

........
Ek het al baie paartjies ontmoet met ’n groot ouderdomsverskil. Sommige is in ’n verhouding, ander is getroud. ’n Mens weet nie eers daar is ’n verskil totdat iemand daarvan melding maak nie.
........

Hoekom wil jy hierdie storie vir Woordfeesgangers vertel? Is dit vir jou lekker om mense te laat lag, te laat nadink, of wat is vir jou die lekkerste daarvan om so ’n storie op die planke te bring?

Ek is besonder geseënd met ’n sin vir humor. Ek hou baie van lag en om mense te laat lag. Ek het baie sports met die titel van my produksie en glo my, ek gee myself ’n gaar tyd. Baie mense vind dit moeilik om die kunstenaar van die karakter te skei. Hulle vergeet dis net ’n karakter wat jy speel. Ek xhoulag vir die mense se reaksies. Baie mense is geskok, verras, verbaas, gexhouam vir die titel van die produksie. Ek is ’n kunstenaar. Ons moet uit die boks dink om seker te maak mense is geïnteresseerd. Die eerste ding wat mense sien, is die titel van jou produksie. Dit moet hulle aandag onmiddellik vang. Indien hulle geïnteresseerd is, gaan hulle meer wil weet rakende die produksie. Sommige mense kom met vooroordele op grond van die naam van die produksie, dan word hulle verras. Solank mense dit geniet en lekker kan xhoulag, is ek gelukkig. My produksies is altyd familievriendelik.

Wat is vir jou die lekkerte of die belang van ’n fees soos die Woordfees en waar gaan jy nog betrokke wees? Ek hoor jy praat op die radio; jy gaan by die WOW-fees wees. Wil jy dalk hierop uitbrei? Waar kan mense orals na jou luister?

Feeste is van kardinale belang vir ons almal. Dit gee kunstenaars die geleentheid om hul talente en gawes te deel met almal. Dit bring kunstenaars en feesgangers bymekaar en dis ’n baie goeie geleentheid vir mense om te netwerk. Ek het groot dank en waardering vir Saartjie Botha en die res van die Toyota US Woordfees-personeel asook vir Fiona van Kerwel en die res van die WOW-personeel. Hulle het groot skoene om vol te staan. Alle eer aan die Here vir feespersoneel wat ons almal in die industrie die geleentheid gee om ons gawes en talente uit te leef.

Donderdag tussen 14h00 en 15h00 het ek ’n onderhoud met Johan Rademan by RSG. Ons gesels oor my produksie en tussen 17h00 en 18h00 praat ons nostalgie. Die onderhoud oor nostalgie word opgeneem en op ’n latere stadium uitgesaai. Vrydagoggend het ek ’n onderhoud met Radio Helderberg oor Die antie soek ’n Ben10, en ek het ook ’n onderhoud met Radio NFM 98.1 in Namakwaland oor die produksie.

Radio-onderhoude

Donderdag 12 Oktober

Tussen 14:00 en 15:00 met Johan Rademan, RSG.

Dit gaan oor my produksie.

Tussen 17:00 en 18:00 met Johan Rademan, RSG

Dit gaan oor nostalgie. Dit word opgeneem en op ’n later stadium uitgesaai.

Vrydag 13 Oktober

Radio Helderberg, 09:15

Dit gaan oor my produksie. 

Radio NFM 98.1

Dit gaan oor my produksie asook my kortverhaal in die Afrikaans Tweede Taal- voorgeskrewe boek vir graad 7 tot 9.

Saterdag 14 Oktober

Saterdagoggend het ek en nog skrywers ’n onderhoud met Fiona van Kerwel van WOW asook met onderwysers. Ons praat oor die Afrikaans Tweede Taal-boek vir graad 7 tot 9, Leë blikkies vol liefde, wat deur Fiona van Kerwel saamgestel is. My verhaal “Kosbare juwele” is saam met ander skrywers se verhale in die boek gepubliseer. 

Optredes by die Toyota US Woordfees

My produksie Die antie soek ’n Ben10 vind op 14 Oktober om 14:00 asook op 15 Oktober om 17:00 by die Adam Small-ouditorium plaas. Besprekings kan by Quicket gedoen word. Mense kan ook by die deur betaal.

Klik hier om kaartjies te koop.

Lees ook:

Afrikaans, die taal van vele kulture

Persvrystelling: Ope brief aan die US-senaat

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top