Die laaste gesprek in vanjaar se Netwerk24-gespreksreeks wat die land se regstelsel tydens die Woordfees onder die loep moes neem, het min van die brandende vrae beantwoord wat in die program geadverteer is.
Van die vrae waarop die gehoor graag antwoorde wou hê was die swak standaarde in landdroshowe, die gehalte van prokureurs en advokate, en waarom hofrolle so oorlaai is dat regshulp jare neem.
Onder leiding van Netwerk24 se politieke redakteur Gert van der Westhuizen, met joernaliste Jana Breytenbach en Johann Maarman (al drie van dieselfde mediahuis) en oudregter Johan Kriegler as enigste regsverteenwoordiger, het die paneel probeer antwoorde gee. Die gehoor is weinig wyser gelaat, behalwe met die realiteit van ’n gebrekkige regstelsel.

Gert van der Westhuizen, Johan Kriegler, Jana Breytenbach en Johann Maarman (foto: Jean Oosthuizen)
Die vraag hoe Suid-Afrika hier beland het, en of daar ’n pad terug is, het grootliks onbeantwoord gebly.
Die gesprek het eerder gevoel soos ’n hofsaak sonder uitspraak: Vrae is gestel, getuienis is gelewer, maar die gehoor het die lokaal verlaat met meer onsekerheid as sekerheid.
Die tema van die gesprek was “Waar staan ons in die hof?” met vrae in die program soos: Is die howe op die rand van ’n afgrond? Wat is die standaard van regspraak, veral in die landdroshowe? En waarom neem dit jare om regshulp te kry?
Ongelukkig het die gesprek nie duidelike antwoorde op hierdie vrae gebied nie. Die gehoor is eerder gelaat met ’n gevoel van frustrasie en bekommernis. Die regstelsel, soos Kriegler dit gestel het, “werk nie omdat die mense nie die ding wil laat werk nie”.
Kriegler se pleidooi vir ’n meer gebalanseerde Regterlike Dienskommissie (RDK) het wel die kern van die probleem blootgelê. Die RDK, wat veronderstel is om die integriteit van die regbank te beskerm, is volgens hom gekaap deur politieke belange. Die samestelling van die kommissie – ’n mengsel van regters, politici, regsverenigings en akademici – is op papier gebalanseerd, maar in praktyk is dit dikwels ’n klomp ja-broers wat hul politieke base se belange dien eerder as dié van geregtigheid
Die regbank is nie ’n eiland nie. Dit is ’n spieël van die samelewing waarin dit funksioneer. Wanneer politici die reg ondermyn, wanneer hofrolle oorloop, wanneer regspraak in die landdroshowe wisselvallig is, dan is dit nie net ’n regstelsel wat faal nie, dit is ’n samelewing wat sy morele kompas verloor.
Die feit dat iemand soos Julius Malema, wat gereeld hofuitsprake en regters bevraagteken wanneer dit hom nie pas nie, op die RDK dien, is een van die sake wat uitgewys is as ’n skreiende teenstrydigheid. Dit is byna soos om ’n brandstigter aan te stel as brandweerhoof.
Die gesprek het ook die sogenaamde slagoffermentaliteit van politici soos Jacob Zuma en Malema onder die loep geneem. Wanneer hofuitsprake nie in hul guns val nie, word die regbank beskuldig van partydigheid, rassisme of politieke motiewe. Hierdie ondermyning van die regbank se legitimiteit is nie net gevaarlik nie, dit is vernietigend vir die oppergesag van die reg.
Kriegler het nostalgies verwys na Nelson Mandela se voorbeeld, toe hy sonder voorbehoud ’n uitspraak van die Grondwetlike Hof aanvaar het wat teen hom beslis het. Vandag is daardie soort staatsmanskap skaars. Politici van alle partye is vinnig om die regbank verdag te maak wanneer dit nie hul politieke agendas dien nie.
Die gesprek het ook gehandel oor die eindelose saak teen Jacob Zuma. Breytenbach het haar frustrasie uitgespreek oor die traagheid van die proses, maar ook haar twyfel of dit enige sin het om ’n “siek ou man” uiteindelik hof toe te sleep. Kriegler het selfs verder gegaan: Miskien is dit beter vir die land as Zuma nooit verhoor word nie. Die oortredings is oud, die impak van ’n tronkstraf op ’n voormalige president is kompleks en die regbank moet ook die breër gemeenskapsbelang in ag neem, het hy gesê.
Maar hierdie pragmatisme bots met ’n fundamentele beginsel van die reg: dat niemand bo die reg is nie. As Zuma nie verhoor word nie, wat sê dit vir die miljoene ander Suid-Afrikaners wat nie die luuksheid van politieke beskerming het nie?
Kriegler het die geval van Winnie Madikizela-Mandela as voorbeeld gebruik van hoe die regbank soms pragmaties optree. Hoewel sy in 1991 skuldig bevind is aan ontvoering en aanranding, is haar tronkstraf opgeskort – deels omdat dit polities onhoudbaar sou wees om haar tronk toe te stuur terwyl Nelson Mandela op die punt was om president te word. Dit was, volgens Kriegler, ’n wyse besluit in die belang van nasionale stabiliteit.
Maar dit laat weer eens die vraag ontstaan: Wanneer is pragmatisme geregverdig en wanneer word dit ’n verskoning vir ongelykheid?
Een van die duidelikste leemtes in die gesprek was die samestelling van die paneel self. Met slegs een regskenner – Kriegler – teenoor drie joernaliste, was die gesprek dikwels meer ’n mediakommentaar as ’n regsdiskoers. Dit sou waardevol gewees het om meer stemme uit die regsprofessie te hoor: praktiserende prokureurs, landdroste, akademici en selfs regshulporganisasies wat daagliks met die stelsel worstel.
Die feit dat feesgangers vooraf nie geweet het wie op die paneel sou wees nie, het ook die gesprek se impak beperk. In ’n tyd waar die regstelsel onder druk is, verdien die publiek ’n gesprek wat nie net vrae stel nie, maar ook antwoorde probeer gee. Dit vereis ’n breër spektrum van kundigheid.
Die regbank is die laaste skans tussen burger en magsmisbruik. Wanneer dit wankel, wankel die hele demokratiese projek.
Hoewel die gesprek by die Woordfees nie veel antwoorde kon verskaf nie, het dit wel die aanklagstaat begin opstel. Die vraag is nou: Wie gaan die reg verdedig?
As ons nie weet waar ons met die reg staan nie, weet ons ook nie waar ons as samelewing staan nie. Dit is ’n vraag wat nie net regskenners moet beantwoord nie, maar waarop elke burger wat glo in geregtigheid, gelykheid en die oppergesag van die reg antwoorde wil hê.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees: NGV en die toekoms van private mediese sorg
Toyota Stellenbosch Woordfees: Wie gaan die munisipale septers swaai na 2026?
Toyota Stellenbosch Woordfees: Wat beteken IK in die tyd van KI?


Kommentaar
Baie dankie, Jean, ek was een van die teleurgestelde vraestellers. Ten opsigte van die oorvol hofrolle: My vraag was oor die rol van mediasie wat tans as alternatiewe konflikoplossing aangebied word. Trouens, die howe moet dit as alternatief aan partye voorstel, en in sommige gevalle moet hulle opdrag gee dat die partye hulle tot mediasie moet wend. Die gesprekleier het my vraag aan regter Kriegler gestel wat net 'n snorkgeluid gemaak het en gevra het dat iemand anders die vraag beantwoord. Die gesprekleier het die vraag toe na Jana Breytenbach verwys. Sy het nie sleg gevaar nie, maar kon nie namens die regslui praat nie. Sy het my wel op 'n betekenisvolle punt gelyk gegee: Mediasie is eerstens 'n vrywillige proses, en nou moet dit afgedwing word deur die howe. Ek sou 'n gesprek hieroor deur regskundiges waardeer het.
Miskien kan ek help met 'n antwoord:
Mediasie (bemiddeling?) het vir die partye verskeie voordele bo litigasie. Dit is o.a. privaat, vrywillig, goedkoper, gee finaliteit (geen appèlle nie), en die uitkoms is uitsluitlik in die hande van die partye. Vir die regspleging is daar voordele: dit verlig die druk op die hofrol en neem sake wat nie regtig 'n regter se aandag verdien nie (egskeidings, motor-ongelukke, ens) uit die sisteem. En as die bemiddelingproses onsuksesvol is, of die ooreenkoms wat die partye bereik verbreek word, dan is litigasie (of arbitrasie) steeds beskikbaar.
By wyse van 'n voorbeeld: In Nieu Seeland, waar ek woon, skik meer as 70% van siviele sake tydens die bemiddeling, wat in die meeste gevalle verpligtend is. En dit (bemiddeling) is 'n verpligte deel van die praktise opleiding van advokate (barristers).
Die vaardighede en kennis om 'n suksesvolle bemiddeling te doen word in my boek Litigation Skills for South African Lawyers behandel, en die onlangse stappe om dit verpligtend te maak sou ek verwelkom. Daar is ook verskeie kursusse beskikbaar vir diegene wat opleiding as bemiddelaar of 'n party se verteenwoordiger nodig het.
Die enigste moontlike verloorders is diegene wat hulle brood verdien uit litigasie: advokate en prokureurs, wat merendeels in elk geval genoeg werk het.
1. Is meer as een regsgeleerde uitgenooi? Indien nie, hoekom nie? Indien wel, hoekom was daar net een op die paneel?
2. 'Die regstelsel, soos Kriegler dit gestel het, “werk nie omdat die mense nie die ding wil laat werk nie”.' Korrek. Hoekom wil hulle dit nie laat werk nie? Kyk 4 vir een moontlike verklaring.
3. "Die samestelling van die kommissie – ’n mengsel van regters, politici, regsverenigings en akademici – is op papier gebalanseerd, maar in praktyk is dit dikwels ’n klomp ja-broers wat hul politieke base se belange dien eerder as dié van geregtigheid." Weer korrek. Ja-broer- en Ja-suster-praktyke is so oud soos die geskiedenis en werkend in alle organisasies. In SA is dit geïnstitusionaliseerde praktyk sedert 1652; en tot openbare beginsel verhef in en deur opvoedkundige-, godsdienstige-, politieke-, sake- en kultuurorganisasies. [En ek bedoel nie net die oorlede NP-plus-Broederbond-netwerk van Afrikaner nasionalistiese organisasies nie.] Ongelukkig is weerstand daarteen skaars. Vir die weerstandiges is 'n ligte vonnis rangering na syspore. Swaarder vonnisse? Kyk maar rond.
Beste Chris
Baie dankie vir jou respons. Ek sal beslis jou boek lees.
Ek het onlangs gekwalifiseer as mediator en my sommer met my eerste saak vasgeloop teen die tegelyk sterk- en swakpunt van mediasie: die eerste beginsel van vrywillige deelname deur beide partye.
Die party wat die konflik veroorsaak se eggenoot is 'n prokureur en die persoon weier om te medieer, wel wetende dat die ander party nie die geld het vir 'n hofgeding nie.
'n Ander interessante punt is dat die grondbeginsel van mediasie, vrywillige deelname, geïgnoreer word indien die hof die partye beveel om te medieer.
Beste Willem, ja, mediasie het 'n swakte omdat dit nie verpligtend is nie; maar... wanneer dit verpligtend is, kan die hof later die party wat die proses gesaboteur het deur buitensporige eise te stel, of sommer hardkoppig vasgesteek het, met 'n kostebevel straf.
Wat sal ek doen met 'n teenparty wat onredelik weier om deel te neem? Ek sou 'n "with prejudice" brief aan hulle rig en hulle nooi om deel te neem, en in kennis stel dat ek later die brief aan die hof sal wys indien hulle weier.