Die Toyota Stellenbosch Woordfees het vanjaar nie net kultuur en kuns gevier nie, maar ook ’n platform gebied vir een van die mees dringende beleidsdebatte in Suid-Afrika: die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en die toekoms van private mediese sorg.
In ’n diskoersgesprek aangebied deur Netwerk24 het politieke ontleder Theo Venter, joernalis Fienie Grobler en Mediclinic se uitvoerende hoof Braam Jonker die NGV ontleed met ’n eerlikheid wat selde in parlementêre komitees gehoor word.
Die NGV bly ’n voortdurende bron van spanning binne die koalisie in die regering van nasionale eenheid (RNE). Terwyl dit belowe om universele gesondheidsorg te bring, dreig dit om die private sektor te ontwrig. Die vraag is of die NGV die regte voorskrif vir die RNE se langtermyn oorlewing is, of eerder ’n pil wat moeilik is om te sluk? En waar laat dit mediese skemas, versekering en hul bekommerde lede in die tussentyd?
Die Woordfees-paneel, onder leiding van Gert van der Westhuizen van Netwerk24, het die toon aangeslaan vir ’n kritiese ontleding van die NGV en die toekoms van private mediese sorg.

Gert van der Westhuizen, Fienie Grobler, Theo Venter en Braam Jonker (foto: Jean Oosthuizen)
Venter het nie doekies omgedraai nie. Suid-Afrika se gesondheidsorgstelsel is in ’n krisis, met die Wes-Kaap as die enigste provinsie wat nog toon hoe staatshospitale hóórt te funksioneer, het hy gesê. Hy het Bredasdorp se staatshospitaal geloof as ’n “klein Mediclinic”, terwyl Ficksburg se fasiliteit nie eens basiese noodsaaklikhede soos babakos in voorraad het nie. Dit is nie net ’n geografiese verskil nie, maar ’n sistemiese skeuring tussen bestuur en wanbestuur.
Hy het voorgestel dat president Cyril Ramaphosa, soos met munisipaliteite, die res van die land moet aanraai om by die Wes-Kaap te leer hoe staatshospitale behoort te werk.
Jonker het die noodsaaklikheid van goeie gesondheidsorg vir almal beklemtoon, maar gevra hoe om dit prakties meer bekostigbaar te maak. Hy glo oplossings is moontlik as alle rolspelers – regering, private sektor en siviele samelewing – om ’n tafel sit met toegewings.
Die paneel was dit ook eens dat die politieke wil by die ANC ontbreek. Venter het voorgestel om “water te trap” tot die 2029-verkiesing, wanneer die ANC dalk uiteindelik sal besef hulle is nie meer die meerderheid nie. Hy beskuldig die ANC daarvan dat hulle die NGV as stemlokmiddel gebruik, met beloftes van goedkoper sorg, maar sonder werklike resultate. Kiesers glo nie meer leë beloftes nie, veral ná die vorige verkiesing waar die NGV ’n groot belofte was, maar nie indruk gemaak het nie.
Jonker se groot kritiek was dat die regering op verkeerde plekke fokus. “Basiese gesondheidsorg begin by die klinieke.” As dinge daar reg loop, sal die breë publiek beter sorg ervaar. Hy het regulatoriese kwessies blameer vir die hoë koste, en voorgestel dat verpligte lidmaatskap aan mediese fondse vir werkende mense dit goedkoper sou maak op die langtermyn.
Jongmense wat nie aansluit nie, dra by tot duurder sorg. Grobler het saamgestem dat die NGV polities gedrewe is – ’n magstryd vir die ANC se oorlewing. Gesondheidsorg is almal se probleem, en ’n oplossing moet vir die land as geheel werk, sê hy. Venter het bygevoeg dat mediese sorg ’n hoofdoelwit behoort te wees van die Nasionale Dialoog, maar die ANC kan nie eers die Zondo-kommissie se aanbevelings implementeer nie en is vasgevang van die een krisis op die volgende.
Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal vir NGV by die departement van gesondheid en een van die NGV se argitekte, is volgens Venter ’n “totale ideoloog” wat in ’n droomwêreld leef. Crisp het onlangs weer in die kollig gekom met uitsprake oor befondsing. In ’n verslag aan die parlement se staande komitee oor gesondheid, het Crisp bevestig dat besprekings met die nasionale tesourie aan die gang is oor veranderinge aan mediese belastingkrediete.
Hierdie krediete, ter waarde van byna R34 miljard jaarliks, sal geleidelik uitgefaseer word om die NGV te befonds, aangesien dit “dubbele befondsing” sou wees sodra die NGV dienste dek.
Intussen hang die vraag in die lug watter mediese dienste word gedek deur die NGV en watter nie, aangesien niemand nog weet hoe die regulasies gaan lyk nie.
Die NGV-wet, wat in Mei 2024 onderteken is, stel ’n twee-fase-implementering voor: Fase 1 (2023–2026) is op skedule en fase 2 (2026–2028) wat die fondse moet aktiveer.
Kritici, insluitend die Wes-Kaap-regering, het die wet uitgedaag om grondwetlike regte te beskerm, met vrese oor ’n massiewe herstrukturering van gesondheidsdienste.
Vir mediese skemas en versekering is die tussentyd een van onsekerheid. Sodra die NGV ten volle geïmplementeer is, mag skemas nie dienste dek wat deur die NGV betaal word nie. Mediese skemas sal nie meer primêre sorg kan bied nie, wat lede mag dwing om op die NGV-stelsel te vertrou.
In die interim styg mediese skemas se koste elke jaar vir lede. Die uitfasering van belastingkrediete sal beskikbare inkomste verminder, veral vir middel- en laer-inkomste-huishoudings, pensioenarisse en gestremdes; moontlik lede uit private skemas dryf; en die openbare sektor oorlaai. Vakbonde soos Solidariteit beskryf dit as niks anders nie as diefstal van fondslede se geld om die NGV te befonds.
Binne die RNE is die NGV, volgens Grobler, blykbaar nie ’n finale rooi lyn vir die DA soos wat hulle al te kenne gegee het nie. Die DA poog om maksimum voordeel te trek voordat hulle dalk vertrek, en handhaaf ’n fyn balans, aldus Grobler. Ten spyte van al die binnegevegte in die RNE en agt uit 10 Suid-Afrikaners wat glo die land gaan in die verkeerde rigting, bly die RNE dus voorlopig ongeskonde.
Die paneel was dit eens dat sonder politieke wil en praktiese samewerking tussen alle rolspelers die NGV nie sal slaag nie. Die ANC hoop intussen dat die belofte van “gratis en beter gesondheidsorg” nog stemme sal lok in die komende verkiesings. Maar soos Venter sê, die kiesers is nie meer naïef nie en sien al hoe meer deur die retoriek.
Uiteindelik hang die NGV se sukses af van pragmatisme bo ideologie. Soos Venter gewaarsku het, wys korrupsie soos by Tembisa-hospitaal hoe die staat geërodeer word, wat ’n yslike hou in die maag vir mense soos Crisp moet wees.
Vir die RNE om te oorleef, moet daar intussen fyn voetwerk bemeester word: Balanseer ANC-ambisies met DA-pragmatisme, terwyl mediese skemas en lede nie in die koue gelaat word nie. In die interim bied vennootskappe hoop, maar sonder politieke wil, bly die NGV ’n riskante voorskrif. Die land wag asemloos op die volgende tree.
Die NGV is nie net ’n beleidsdokument nie. Dit is ’n toets van politieke integriteit, bestuursvermoë en nasionale prioriteite. En soos die gesprek by die Toyota Stellenbosch Woordfees gewys het, is daardie toets tot dusver nie geslaagd nie.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees: Wat beteken IK in die tyd van KI?
Toyota Stellenbosch Woordfees: Wie gaan die munisipale septers swaai na 2026?

