Kunsmatige intelligensie (KI) is besig om die wêreld te hervorm en die onderwys staan nie buite hierdie verandering nie. By die Toyota Stellenbosch Woordfees is die vraag gevra: Wat beteken IK in die tyd van KI? ’n Deskundige paneel het bespreek hoe leerders toegerus kan word om KI sinvol te gebruik, watter rol onderwysers in hierdie nuwe werklikheid speel en of ons werklik bekommerd moet wees.
Kritiese denke, nie net KI nie, moet die kern van onderwys bly. Só lui die sentrale boodskap van ’n lewendige paneelgesprek (“KI in die klaskamer”) van die Netwerk24-gespreksreeks waar kenners en opvoeders die impak van KI op leer en onderrig bespreek het. Die vraag wat die gesprek aangevuur het: Wat beteken IK in die tyd van KI?
Die paneel, bestaande uit Hanelie Adendorff van die Sentrum vir Onderrig en Leer aan die Universiteit Stellenbosch (US), Riaan van der Bergh van FEDSAS en Jaco van Niekerk, ’n spesialis in digitale onderrig van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, het ’n duidelike boodskap oorgedra: Ons moet KI met omsigtigheid benader, maar nie met vrees nie. Die gespreksleier was Gert van der Westhuizen, Netwerk24 se politieke redakteur.

Gert van der Westhuizen, Hanelie Adendorff, Riaan van der Bergh en Jaco van Niekerk (foto: Jean Oosthuizen)
“Mense moet versigtig wees vir KI, maar hoef nie bang te wees daarvoor nie,” het Adendorff gesê. Van der Bergh het hierdie sentiment beaam en ’n oproep gedoen vir opwinding eerder as angs. “Ons behoort opgewonde te wees om die era van KI te betree. Hierdie nuwe tegnologie moet omarm word, maar dit is belangrik dat daar die nodige riglyne sal wees hoe om dit verantwoordelik te gebruik.”
Van Niekerk het saamgestem dat riglyne noodsaaklik is, maar het uitgewys dat daar tans nog min werklik met KI in Suid-Afrikaanse klaskamers geëksperimenteer word, wat die gesprek oor beleid en implementering des te meer dringend maak.
Volgens die paneel is dit belangrik dat leerders moet leer om die uitsette van KI te bevraagteken, te verifieer en nie klakkeloos te aanvaar nie.
“KI is nie die vyand nie. Die probleem is nie die instrument nie, maar hoe mense dit gebruik,” het Van der Bergh gesê. Hy het gepleit vir duidelike riglyne en etiese raamwerke om KI verantwoordelik in skole te integreer.
Van Niekerk het daarop gewys dat daar nog min praktiese eksperimentering met KI in klaskamers plaasvind. Hy het beklemtoon dat die gesprek oor KI deel moet wees van die breër onderwysdebat, insluitend kwessies soos plagiaat en die proses van leer.
Die paneel was dit eens: Onderrig moet nie net oor punte gaan nie, maar oor werklike leer. KI kan leerders help om tyd te bespaar en om hul leer meer persoonlik te maak. Maar dit vereis dat onderwysers hul rol as kontekstualiseerders en mentors behou. “KI gee nie konteks nie,” het Van Niekerk gesê. “Dit is die onderwyser se taak om sin te maak van die inligting.”
Adendorff het die gesprek verder gevoer deur te wys op die unieke geleentheid wat KI bied om kritiese denke aan te moedig. “As dit reg gebruik word, kan dit ’n groot bydrae lewer om studente te leer omgaan met kritiese denke,” het sy verduidelik. Dit sluit in die vermoë om die limiete van KI te verstaan en om nie die uitsette daarvan vanselfsprekend as korrek te aanvaar sonder om dit te verifieer nie. Die risiko van blindelingse aanvaarding is wesenlik, maar dit is juis hierdie risiko wat die noodsaaklikheid van kritiese evaluering beklemtoon.
Die paneel het ook daarop gewys dat KI leerders dwing om beter vrae te vra. Die kwaliteit van die antwoord wat ’n KI-model lewer, is direk afhanklik van die kwaliteit van die vraag. “Hoe slimmer die vrae, hoe slimmer sal die antwoord wees,” het die kenners beklemtoon. Hierdie proses help op sigself om kritiese denkvaardighede te slyp.
Adendorff het ook gewaarsku teen die risiko dat KI as ’n kortpad gebruik word. “Die proses om by ’n antwoord uit te kom is belangriker as die antwoord self,” het sy gesê. Dit is juis wanneer die proses verwaarloos word dat leerders geneig is om te kul.
’n Interessante vraag wat opgeduik het, is of KI mense minder boeke gaan laat lees. Adendorff het erken dat die verskuiwing van teks na video reeds aan die gang is. Van der Bergh het daarop gewys dat die huidige matriekgroep die laaste generasie is wat gebore is voor slimfone, ’n aanduiding van hoe vinnig tegnologie ons leefwêreld hervorm.
Sommige paneellede het erken dat hulle eerder KI gebruik om boeke op te som en dan slegs die mees relevante werke volledig lees. “Diegene wat lees, sal bly lees. Die res nie,” het Adendorff pragmaties opgemerk.
Een van die grootste bekommernisse is dat KI ’n kultuur van kullery sal bevorder. Die paneel was dit egter eens dat die tegnologie nie die skuldige is nie. “Kullery bestaan al lank voor die koms van KI-instrumente soos ChatGPT,” het Van der Bergh opgemerk. “Dit is nie die instrument wat skelm is nie, maar die mense wat dit gebruik om skelm te wees.” Die oplossing lê dus nie daarin om KI te verbied nie, maar om leerders op te voed oor die etiese en kritiese gebruik daarvan.
Die konsensus was duidelik: Die grootste bekommernis is nie dat KI bestaan nie, maar hoe dit gebruik word. KI kan ’n navorsingsassistent wees, ’n leermaat en selfs ’n tydbespaarder – maar slegs as leerders leer om die regte vrae te vra en onderwysers die leiding behou.
Van der Bergh het dit treffend opgesom: “In die sewentigerjare het dominees gewaarsku teen TV. Vandag preek hulle op TV. Ons pas aan.” Die spoed van verandering is werklik, maar dit hoef nie gevrees te word nie, mits ons leer om saam met die verandering te beweeg.
Die metafoor waarmee die gesprek afgesluit is, is gepas vir ons tyd: Ouers moet ophou om buite die swembad te staan en hul kinders te waarsku oor die gevare van tegnologie. Dis tyd om self in te klim, te leer swem en saam met hul kinders dieper te duik in die wêreld van KI.
Die tyd van KI is hier. Maar die tyd van menslike intelligensie, naamlik IK, is nog lank nie verby nie. Dit is juis nou dat ons dit moet koester, ontwikkel en in gesprek bring met die masjien. Want in die klas van die toekoms, is dit nie óf mens óf masjien nie, dis mens met masjien.
Lees meer oor KI op LitNet: Kunsmatige intelligensie | Artificial intelligence
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees: Wie gaan die munisipale septers swaai na 2026?

