
Johan Coetzee
In 2005 het Johan Coetzee die onafhanklike uitgewershuis, Naledi, gestig. Danksy ’n toegewyde en passievolle span staan Naledi vandag sy skoene as uitgewer vol en spog met verskeie trefferboeke agter sy naam. Die Naledi-span beskou die proses van boekmaak as ’n avontuur, een wat die leser die voorreg van ’n fisiese boek verseker.
Tydens die Toyota Stellenbosch Woordfees 2025 waar boeke en boekgesprekke hoogty vier, is Naledi se 20ste verjaarsdag by die Leopard’s Leap Familie Wynlandgoed in Franschhoek gevier.
Gaste is bederf met ’n uitsig oor Leopard’s Leap se wingerde, heerlike wyn, ’n ligte ete en geskenke van Naledi en Annique Rooibos-produkte. Die klanke van ’n opwindende sangpaar het die vertrek tussen gaste se gemoedelike en opgewonde gesels gevul.
Die voorreg van ’n 20 jaar

Op 20!
Asof Franschhoek wou deel in die verrigtinge, het die omgewing sy beste voet voorgesit en gespog met ’n koel, prentjiemooi somersaand op die Leopard’s Leap-landgoed. Die sonsondergang agter die wingerde het gaste na hul tafels aangepor, sodat die aand se verrigtinge kon begin.
Die Vrystaatse Elsabe de Jager, vryskutskrywer, radio-omroeper en Naledi-vriendin, het gaste van naby en ver verwelkom by die geleentheid om Naledi se 20ste bestaansjaar te vier.

Jannes Erasmus, Naledi se bemarkingsbestuurder, en Elsabe de Jager
“Vanaand praat ons van die voorreg om Naledi se 20 jaar te vier,” het Elsabe haar verwelkoming begin.
Sy het gaste gemaan om ’n glasie byderhand te hê vir die instelling van ’n heildronk op Naledi se twee dekades van sukses, “te midde van vele uitdagings”. Elsabe het voortgegaan om te sê dat Naledi al vele onbekende en ervare skrywers op die pad na skryfsukses gelei het met ’n geoefende hand.
“Naledi is nog jonk, sy knieë het nog baie heuglike huppel in die stap.”
Ter afsluiting het Elsabe die borge, Naledi-personeel, vriende, skrywers, musikante, boekkopers en gaste bedank vir hulle teenwoordigheid, ondersteuning en die deel in Naledi se 20 jaar van lief en leed.
“Dankie by voorbaat vir die volgende 20 jaar se vriendskap, saamwerk en saamstap.”
’n Taalbeweging op sy eie
Die media- en boekewêreld is moeilik en die winsgrense is laag. Tog huiwer Naledi-stigter Johan Coetzee nie om met passie en liefde keer op keer ’n skrywer se boek die lig te laat sien nie.
Waarom dan juis hierdie industrie vir hom?
Johan stap al ’n lang pad in die boekewêreld, maar wou graag uit die korporatiewe omgewing beweeg. Hy vertel dat iemand hom in Nylstroom gevra het waarom hy boeke maak. Sy antwoord was eenvoudig: “Want ek kan niks anders doen nie.” Johan verduidelik: “Toe ek die geleentheid gekry het om Naledi te begin, het ek nie twee keer gedink nie. Dit was asof die son vir my deurgebreek het en die sterre vir my opgekom het.”
Hy erken dat dit beslis nie ’n maklike pad was nie: In die boekebedryf is kapitaal altyd ’n bron van kommer. “Mense lees nie meer nie.”

Johan en Mimi
Vir Johan is Naledi se skrywers soos sy kinders; hy is altyd daar vir elkeen van hulle en voel selfs effens besitlik oor sy skrywers, verduidelik Mimi Roux, die vrou aan Johan se sy. Dit is juis Mimi se liefde vir woorde en boeke wat hulle so ’n gedugte span maak. Dié twee is baie lief vir lekker, goeie koffie en tydens een van hierdie koffiewinkelbesoeke het sy gehoor hoe iemand aan haar tafelgenoot sê: “Johan Coetzee is Naledi.”
Sy het voorts vertel dat Johan die mooiste woorde gebruik en al as “’n taalbeweging op sy eie” beskryf is.
Mimi het Johan se liefde vir sy kinders en skrywers geprys en gesê sy is ’n stille getuie van daardie liefde. Johan se kinders het ook die vieringe bygewoon en hy het Mimi se sentiment dat hulle sy lewe is, beaam. Hy het verder ook die band tussen hulle as gesin geloof. Johan se kleinseun, Aiden, het ’n gedig voorgelees wat hy by Eisteddfod uitgevoer het en die gaste vermaak met sy pittige manier van gesels en voordra.
“Dit is regtig vir my ’n groot voorreg dat julle almal hier is. Ek is ongelooflik trots op julle.”
Mimi het ’n heildronk op beide Johan en Naledi ingestel.
Naledi se span
Die Naledi-span is na vore geroep waar spesiale dank en erkenning gebring is aan nie net die huidige span nie, maar ook die kosbare lede wat tevore deel van die span was.
Johan het aan die gaste vertel dat die span saam baie avonture en belewenisse ervaar het en dat elke lid van die Naledi-span sy of haar langstaande geskiedenis in goud werd is.
Vir Johan is die vele spesiale mense, soos die Naledi-span, in Naledi se bestaan van onskatbare waarde vir sy groei en sukses. Johan het keer op keer sy dank uitgespreek vir die pad wat hierdie mense saam met Naledi stap.

Van die gaste
“Ek sê vir julle elkeen baie dankie. Sonder julle kan ons dit nie doen nie; ek is die redigeerder, maar julle is die hart van Naledi,” het Johan aan die span gesê. Hy het ook vir Mimi uitgesonder vir haar voortdurende optimisme en lojale ondersteuning.
“Dit is nie altyd ’n maklike pad in die uitgewersbedryf nie en sy bemoedig my altyd. Sy is ’n juweel met ’n hoofletter en laat woorde leef in my lewe.”
Jannes Erasmus, Naledi se bemarkingsbestuurder, het nuut by die span aangesluit en het gesê dat in vandag se gejaagde wêreld, ’n boek beskryf kan word as “stadig, eg en konkreet”. Vir Jannes is Naledi ’n huis waar geloof, woorde en menswees mekaar ontmoet. Hy sê ook dat by Naledi is die verhaal altyd groter as die verkoopsyfer en eerder “steeds die lig dra van iets wat aanhou glo”.
Naledi gee skrywers ’n kans
Van Naledi se skrywers, soos Riku Lätti, Lanie van Reenen, Steven Bresler, Leilani Luyt Potgieter, Lelanie Roode, Frik de Jager, Michael le Cordeur, Quintus van der Merwe en Barnard Beukman, was onder die gaste.
Frik de Jager, skrywer van die twee kookboeke, Storiekos en Koesterkos, sê dit sou nie moontlik gewees het sonder Naledi se leiding nie. Hy sê dat Naledi se ondersteuning maak van hulle ’n unieke keuse wanneer dit by uitgewers kom en hy wil “vir nog 20 jaar vir Naledi skryf”.

Michael le Cordeur
Michael le Cordeur, vise-dekaan vir Onderrig en Leer in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, het ook sy dank teenoor Johan en Naledi uitgespreek. Nadat Naledi sy eerste boek, Die Wellingtonse klopse, uitgegee het, het daar verskeie boeke onder sy naam verskyn. “Danksy Johan en Naledi is iets geskep in Afrikaans, want ons wil nie die goed vir onsself hou nie,” sê hy oor sy eerste boek. Die publikasie daarvan het sedert 1994 getalm, totdat Naledi die geskiedkundige waarde van hierdie titel raakgesien het.
Ten slotte
Dit verg soms bloed, sweet en trane, het Johan ten slotte gesê, maar met Naledi se vriende word dit gedoen. Met die woorde: “Let’s party and have a good time” het Johan gaste uitgenooi om die aand verder te geniet.
“As ons kyk waar Naledi vandag in die mark staan, sien ons ’n onafhanklike uitgewer wat, teen alle verwagtinge, steeds groei, omdat ons dieper kyk en sagter begin luister het,” sê Jannes Erasmus
Vir Naledi en die skrywers onder sy vlerk lê daar nog baie opwindende vooruitsigte voor.

Riku en Jackie Lätti
Digter en musikant Riku Lätti het die aand as gas en vermaaklikheidskunstenaar bygewoon. Hy het na Johan se toespraak sy stuiwer in die beurs gegooi met ’n tong-in-die-kies verwerking van Johannes Kerkorrel se “Al lê die berge nog so blou”:
Na-ledi berge nog so blou,
Na-ledi berge nog so blou,
Na-ledi berge nog so blou,
Johan het ’n boek net vir jou.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2025: ’n Visuele resensie van Albert Pretorius se Ek is nie Danie


Kommentaar
Uitstekende resensie! Oor 'n uitstekende uitgewer.
Johan was altyd so 'n voorbeeldige seun en ware jintelman op skool gewees.
Dankie aan my twee vriende vir hulle opmerkings. Dankie aan LitNET vir hierdie plasing.