Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Schalk Joubert

  • 0

Baskitaarspeler en musiekvervaardiger Schalk Joubert (Foto: woordfees.co.za)

Die Stellenbosse baskitaarspeler Schalk Joubert speel ’n onmisbare rol in die streek se musiekgemeenskap – nie bloot vanweë sy besige dagboek nie, maar ook in terme van sy bemoeienis met musiekerfenis en om geleenthede vir jong talent te skep. Hy gesels hier met Jannike Bergh oor sy noue betrokkenheid by vele produksies by die Toyota Stellenbosch Woordfees vanjaar.  

Anton Goosen en Schalk Joubert in Blommetjie gedenk aan my.

Hallo, Schalk. Jy is betrokke by ’n verskeidenheid produksies by Woordfees vanjaar – en ook musiekregisseur van unieke produksies, soos Blommetjie gedenk aan my en Koos en vyande – wat ook belowe om ’n historiese aangeleentheid te wees. Kan jy ons meer van hierdie twee produksies vertel en waarna gehore kan uitsien?

Blommetjie gedenk aan my is ’n uitstekende produksie waar die tydloosheid van Anton Goosen se liedjies gevier word saam met Anton, Sonja Herholdt, Lise Swart en Sima Mashazi, en dan met my, Blake Hellaby en Illimar Neitz as musikante. Dit strek van 50 jaar gelede toe Sonja Anton se liedjies begin sing het tot die liedjies van sy nuutste album getiteld Sirkels. Die produksie is vir ’n Kanna benoem by vanjaar se KKNK. Dit is ook ’n unieke geleentheid om Anton en Sonja saam op die verhoog te kan sien – hulle kook nog steeds!

Koos en vyande is ’n tong-in-die-kies alternatief op die “kunstenaar en vriende”-konsep wat baie populêr is. Koos het natuurlik ’n kleurryke lewe gelei en dit gaan ’n wonderlike reünie met sommige vyande en vriende uit die verlede wees. Dit sluit legendes soos Anton Goosen, Valiant Swart, Gert Vlok Nel en ook lede van die Gereformeerde Blues Band, die Warmblankes en nog meer in. Een van die hoogtepunte gaan beslis wees dat die befaamde Lisa van “Lisa se klavier” vir die eerste keer ooit saam met Koos die liedjie gaan speel op ’n verhoog. 

Verlangebos (1 Oktober, 3 Oktober): Jou betrokkenheid by musiekprojekte oor die jare, soos ook met hierdie Woordfees, getuig van meer as bloot saam speel – jy speel ’n aktiewe rol in die tentoonstelling (en dus bewaring) van musiekerfenis. Verlangebos – hoewel jy nie hiér ’n leidende rol speel nie – is ’n voorbeeld van so ’n musiekproduksie waar argiewe “lewend” gehou word. Wat is jou rol hier?

Ons almal staan op die skouers van reuse. Dit is vir my belangrik om betrokke te wees by eg Suid-Afrikaanse produksies en musiek. Ek vind aanklank by musiek uit al ons verskillende kulture. Ek is ewe lief vir mbaqanga en goema as vir boeremusiek en jazz. Die program van Verlangebos is baie slim saamgestel — dit is ’n lewensverhaal wat deur middel van ou Afrikaanse liedere vertel word. Musiek is soos kulture: Daar is altyd veel meer wat ooreenstem as wat verskil, selfs in uiterste gevalle. Op die oppervlak sien ons die verskille raak, maar alle musiek bestaan uit dieselfde beginsels van harmonie en ritme, gekombineer met die kuns om ’n storie te vertel en ’n emosie uit te druk. Dit kry soveel meer betekenis wanneer dit van ons eie bodem af kom.

Lise Swart en Sonja Herholdt in Blommetjie gedenk aan my.

Al daai jazz! Woordfees se musiekprogram is vanjaar baie wêrelds (byvoorbeeld Womad, wat ook ’n roots en blues-produksie na Woordfees bring), en daar is ook baie opwindende jazz op die program met groot name van die noorde van die land, soos Mandisi Dyantyis. 

Dit is lekker dat Suid-Afrikaanse jazz (en variasies daarvan)  in formele en meer informele settings deel vorm van ’n fees se mondering. Jy is betrokke by musieksessies wat op Sondae by Petites Bulles [Hertestraat net om die draai van De Akker] plaasvind. Dan is daar ook Jazz at the Konserve.

Kan jy asb uitbrei oor die aard van hierdie sessies? 

Die Jazz at the Konserve-sessies is saamgestel deur Vicky Davis en Ramon Alexander. Ramon doen uitstekende werk met betrekking tot jazzopvoeding by die universiteit, en Vicky is verantwoordelik vir onder andere die artistieke beplanning en konserte by die Konserve op ’n permanente basis. Saam het hulle ’n program saamgestel wat ’n gesonde verskeidenheid jazzmusiek na vore bring. Ek is betrokke by die Katemba Quartet wat op 3 Oktober optree, en ek het ook ’n duo-optrede saam met my groot vriend die meesterlike kitaarspeler Mauritz Lotz.

Ek gaan ook sorg dat daar elke aand by Petites Bulles ’n informele optrede sal plaasvind waar enige musikante welkom is om hulle instrumente te bring en saam te speel. Onder die gaste wat gaan speel, is Anna Davel, Rick Stander, Blake Hellaby, Nick Turner, Riaan van Rensburg, en vele meer.

En is daar ander enige ander gebeure waarvoor ons ons ore op die grond moet hou, tydens Woordfees, maar ook hierna, in die breë Stellenbosse musiekgemeenskap? Wat beteken ’n groeiende jazzgemeenskap en Stellenbosch-universiteit se rol hierin vir die Wes-Kaap en sy verbintenis met die land in sy geheel?

Kyk uit vir die jong talent!

Ek is baie opgewonde oor die groei van die gemeenskap. Een van die uitdagings is egter dat ons meer venues moet skep waar jong opkomende talent kan optree. Jazz is ’n interaktiewe musikale taal wat net verbeter wanneer daar geleenthede is om saam met ander op te tree.

Die Kaap het ’n baie definitiewe en sterk jazzgeskiedenis, en ek is bly om te sien dat dit aanklank vind by ’n jonger geslag. Ons kan trots wees daarop en moet dit soveel as moontlik ondersteun.

By watter ander produksies is jy betrokke vanjaar?

Ek is ook betrokke by:

Lees ook:

Press release: Toyota Stellenbosch Woordfees 2024 introduces new jazz venue and concert series "Jazz at the Konserve"

Persverklaring: Sonografie: Grepe in roots en blues – WOMAD South Africa 2024 en Toyota Stellenbosch Woordfees 2024

Persverklaring: Die NG Kerkargief is vanjaar vir die eerste keer deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud oor American rhythms

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Jaco van der Merwe

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top