
Die NG Kerkargief is vanjaar vir die eerste keer deel van die Toyota Stellenbosch Woordfees, wat van 28 September tot 6 Oktober in die Eikestad plaasvind.
Die argief bied vyf diskoersessies in die kapel van die Fakulteit van Teologie aan.
Argiefbestuurder en spesialisgenealoog Andrew Kok vertel dat hierdie gespreksessies die stories van ons geskiedenis laat herleef op ’n interessante en verbeeldingryke wyse. “Daar is ware skatte wat in die kerkargief opgesluit lê en ons het gedink dat die Toyota Woordfees die ideale geleentheid bied om hierdie skatte af te stof en met lede van die publiek te deel. Hierdie vyf unieke aanbiedings gebruik beeld, geur en klank om die stemme van die verlede op te roep.”
Die eerste sessie vind op Maandag 30 September om 11:00 plaas wanneer Andrew Kok wys hoe jy jou familiegeskiedenis kan opspoor deur geboortesertifikate, doopregisters en huweliksertifikate wat in die argief beskikbaar is.
Op Dinsdag 1 Oktober om 11:00 gesels Amy Rommelspracher oor kosstories van pioniersendelinge en hoeveel van hulle kosbare stories so deur die eeue vasgevang is.
Kunsstudente het onlangs deur hulle verkennings van die argief die versamelings van twee NGK-sendelinge gebruik om hierdie draad van die geskiedenis in kunswerke te omskep.
Op Woensdag 2 Oktober om 11:00 kom die veldpredikers aan die beurt. Die argief se Esté Kotzé en Lizelle Smit neem ons op ’n reis saam met drie boerekapelane tydens die Anglo-Boereoorlog. Die dominees het baie meer as net preekwerk gedoen tydens die oorlog. JD Kestell was saam met die Bittereinders op kommando was, terwyl AF Louw die konsentrasiekampe op St Helena bedien het en AD Luckhoff was by die Bethulie-konsentrasiekamp waar dit baie sleg gegaan het. By nadere ondersoek het hulle ontdek dat hierdie dominees basies ’n informele hulpdiensnetwerk geskep het om lidmate nie net geestelik, maar ook fisies te versorg.
In Andrew Murray: Untold story of a vulnerable father, word daar gekyk na die briewe wat
Andrew Murray geskryf het. Op Donderdag 4 Oktober word hierdie aangrypende verhaal van praktiese vaderliefde deur Isabel Murray, Richard Holloway en Cecile Murray-Louw vertel.
Laurinda Hofmeyr se toonsettings (met Schalk Joubert op baskitaar) gee nuwe diepte aan hierdie 100 jaar oue woorde. Hierdie aanbieding vind om 10:00 plaas en word weer 17:00 herhaal.
Die argiefreeks sluit op Vrydag 4 Oktober om 11:00 af met ’n sessie oor ons musiekgeskiedenis. Kom luister en sing lekker saam met die bekendstelling van die eerste NGK-musiekversameling. Isabel Murray tree as verteller op met begeleiding deur Devandré
Boonzaaier, orrelis en kenner van die Morawiese liedereskat. Die “voorsanger” is die jong sangstudent, Carlo Louw.
Kom ontdek die stories wat vandag nog raak: van vroue en kinders, kerkmanne en krygers, kos en kleingeld, kerkmusiek en volksliedjies en familieregisters en -briewe.
Alle kaartjies is beskikbaar by: https://www.quicket.co.za/organisers/55878-toyota-us-woordfees.

