
Bernard Odendaal deel kennis met digters.
- Foto’s verskaf met vergunning van Laevelder/Caxton
Die skilderagtige dorpie Kaapsche Hoop, geleë in Mpumalanga, het tussen 29 en 31 Augustus gewemel van boekgeesdriftiges wat die Innibos Boekenaweek bygewoon het.
Die naweek het afgeskop met die ATKV-skryfskool vir poësie, aangebied deur Bernard Odendaal.

Philna Scholtz tydens die poësiewerkswinkel (Foto verskaf met vergunning van Laevelder/Caxton)
Die bekoorlike kapel waar boekgesprekke plaasgevind het, was gepak vir die eerste boekgesprek tussen die skrywer Dana Snyman en die gespreksleier, Pieter Steyn, wat ook as bekendstelling gedien het vir Dana se rugbyboek Wie de hel is Johnny Joubert?. Daarna is die opwindende debuutroman Die onsigbare deur die skrywer, PJO (Philip) Jonker, en Susan Booyens bespreek.

Dana Snyman deel rugbystaaltjies met Pieter Steyn.

Susan Booyens bespreek Die onsigbare met die skrywer, PJO Jonker.
Vrydagaand het Luna Paige se pragtoonsettings en komposisies boekefeesgangers in die regte luim gekry vir die gesprekke en kuierfees wat Saterdag hervat is.

Luna Paige het vir Vrydagaand-vermaak gesorg.
Madelaine Page se gesprek met Marita van der Vyver oor haar jaar van vrees en vryheid (wat die titel van Marita se reisverhaal eggo) was ’n treffer onder feesgangers.

Marita van der Vyver verskaf konteks oor die skepping van My jaar van vrees en vryheid.

Marita van der Vyver het vele boeke geteken. (Foto verskaf met vergunning van Laevelder/Caxton)
Pieter Stoffberg se roman Donker vuur het die gehoor se belangstelling geprikkel, onder meer omdat die verhaal afspeel in die Oekraïne voor die oorlog wat tans daar heers.

Pieter Stoffberg lees voor uit sy roman Donker vuur.
Neil Cochrane, een van die samestellers van die uitsonderlike poësieversamelbundel Merang se gesprek met Jo Prins is verlewendig met voorlesings, meestal deur digters wie se voorheen ongepubliseerde gedigte in dié bundel verskyn.

Neil Cochrane, een van die samestellers van Merang, en gespreksleier Jo Prins.
Menzi Mkhoza en ’n groep digters het die gehoor nie alleen bekoor nie, maar hul ook laat deelneem aan die ritme van Afrika-poësie.

Nothando Nonyane, Jenrick Ground, Sinethemba Ndlovu en Menzi Mkhonza
Karin Schimke het in gesprek getree met Annemarie van der Walt (wat ook die hooforganiseerder van die boekenaweek was) oor die digitale era waarin skrywers en lesers hul bevind.

Elzilda Becker en De Wet Potgieter (Foto verskaf met vergunning van Laevelder/Caxton)
Elzilda Becker en De Wet Potgieter het ’n terugblik gebied oor die geskiedenis van die De Kat-tydskif die afgelope 40 jaar en gehoorlede bederf met ’n geskenk van vorige De Kat-voorblaaie.

Eben Venter van NB-uitgewers, De Wet Potgieter, Marita van der Vyver en haar eggenoot, Alain Claisse (Foto verskaf met vergunning van Laevelder/Caxton)

Bernard Odendaal en Nita Cronjé van die ATKV
Die gespreksessies met skrywers is op ’n hoogtepunt afgesluit met Barnard Beukman, die laaste redakteur van Beeld, en Foeta Krige, veteraanjoernalis, in gesprek oor Beukman se boek Die (vreemde) dood van ’n koerant. Oudjoernaliste, rubriekskrywers, Beeld-brieweskrywers en akademici in die gehoor het gesorg vir lewendige opmerkings, menings, vrae wat steeds kwel, en bespiegeling oor die toekoms van Afrikaanse joernalistiek.

Foeta Krige in gesprek met Barnard Beukman oor Die (vreemde) einde van ’n koerant.
Tydens die boekefees is boeke fluks verkoop, en terwyl skrywers boeke geteken het, is vriendskapsbande gesmee.

Barnard Beukman, wie se boek hewige reaksie ontlok het, het na afloop van die sessie boeke geteken. (Foto verskaf met vergunning van Laevelder/Caxton)
Sosiale verkeer is nie agterweë gelaat nie, en daar is behoorlik gekuier in die dorpie se restaurante, veral in die legendariese Nagkantoor.
Sondagoggend het ’n groep poësieliefhebbers mekaar vir oulaas ontmoet tussen die rotse van die Kaapsche Hoop-staproete en in dié rustige omgewing vir mekaar gedigte voorgelees.
Menige Innibos Boekenaweek-ganger het die bekoorlike Kaapsche Hoop verlaat met die versugting om volgende jaar weer terug te keer.
Lees ook:
Die onsigbare deur PJO Jonker: ’n LitNet Akademies-resensie-essay

