
Foto: Elena Leya op Unsplash
- Karen Hart skryf ’n gereelde kosrubriek vir LitNet.
Een van die wonderlikste dinge wat ek uit my kinderdae onthou, is my ma se peppermint crisp-tert. Dekadent, deurdrenk van die sjerrie ... my ma het alles oordoen. Dit was ’n grootmenstert en nie eintlik vir ons kinders bedoel nie. Maar daardie klein happies wat ek kleintyd met onskuldige soet-dogtertjie-oë kon afbedel, bly my tot vandag toe by.
Veral nou – Junie is vir my ’n maand van onthou.
Wanneer die ysvingers van die winterkoue my hier aan my nek beetkry, sien ek weer die prentjie van my ma in haar wit truitjie soos ek haar daar in die eetsaal van die versorgingsoord agtergelaat het. Die laaste keer dat ek haar gesien het.
Ek moes terugdraai, want ek het my instapkaart agtergelaat in die ontspanningslokaal waar ek die oggend by haar gesit het. Ek moes weer deur die eetsaal stap, maar ek moes agter haar verby sluip. Ek het geweet as sy my sien en ek haar weer teen my vasdruk, soos ek op daardie oomblik wou doen, sy sou gedink het ek het so pas daar aangekom om by haar te kuier.
Dis wat demensie aan ’n mens doen. Aan die mense na aan jou. Daardie toneeltjie speel telkens weer en weer in my kop af en ek wens dikwels ek het op daardie oomblik teruggedraai na haar toe. Selfs al moes ek maak asof ek pas kom kuier het en ’n uur of twee langer gebly het.
Toe ek en my kleinsus haar goedjies gaan oppak en ek die wit truitjie in my hande vashou, het iets in my gebreek en ek het geweet ek sou myself nooit ophou verwyt dat ek nie omgedraai het nie.
Twee jaar gelede.
........
Sy was ’n sigeuner in hart en siel en het haar nie veel aan reëls of konvensies gesteur nie. Sy was maar 25 toe my pa skoolhoof geword het en sy moes inpas by die boeregemeenskap van Volmoed.
........
Op die Maandagoggend, die herdenking van die dag van haar dood, het ek besluit om die wit truitjie te besweer en op my stil manier haar lewe te vier. Ek het my mooi aangetrek en met haar bruin baadjie my uitrusting afgerond. Toe is ek biblioteek toe – een van ons twee se gunstelinguitstappies voor die demensie haar ook haar leesplesier ontneem het.
Middagete het ek een van ons twee se gunstelinggeregte gemaak – murgbene in rooiwyn en kruie geposjeer. Ek het die murg op roosterbrood uitgeskep en salig weggelê terwyl ek luister na Dvořák se “Songs my mother taught me”. Met elke happie het ek die ma onthou van voor demensie haar van my weggeskeur het ...
My pa het altyd laggend verwys na die verhoogstuk van Fred le Roux, Ek onthou vir Mamma. Hy het gesê dis nou die één ma oor wie nie een van ons sal kan skryf nie, want niemand sal ons glo nie.
Sy was ’n sigeuner in hart en siel en het haar nie veel aan reëls of konvensies gesteur nie. Sy was maar 25 toe my pa skoolhoof geword het en sy moes inpas by die boeregemeenskap van Volmoed.
Die Karoo-somers daar was warm en sy was hoog swanger met my kleinsus. My pa het gedink hy bewys haar ’n guns deur haar ’n bietjie ruimte te gee toe hy my en my broer in die motor laai en ons vir die dag Mosselbaai toe ry.
Toe ons by die huis kom, is daar ’n hele reddingspan in ons agterplaas. My ma het besluit om op ’n trekkerband in die sementdam te gaan dryf, maar kon toe nie weer uitkom nie. Gelukkig het die huishulp haar hulpkrete gehoor en die buurman gaan roep.
Dié storie het nog lank daarna die plaaslyne laat gons.
.........
My ma kon nie bak om haar lewe te red nie. ... Deel van haar pligte as skoolhoof se vrou was om reg te staan met koeke en terte vir funksies en verjaardae in die personeelkamer. Ek weet nie hoe nie, maar op die een of ander manier het sy oorleef.
........
My ma kon nie bak om haar lewe te red nie. As jong pasgetroude vrou het sy eenkeer vir my pa ’n verjaardagkoek probeer maak. Die buurvrou het haar huilend in die kombuis aangetref waar sy met ’n lepel die eierdooier in ’n bak rondgejaag het om dit van die wit te probeer skei. Die buurvrou het die bestanddele gegryp en in haar eie kombuis vir my ma die koek gaan bak.
Deel van haar pligte as skoolhoof se vrou was om reg te staan met koeke en terte vir funksies en verjaardae in die personeelkamer. Ek weet nie hoe nie, maar op die een of ander manier het sy oorleef.
Dis net daai rebelse streep van haar wat kort-kort soos ’n guitige onderrok uitgehang het. Haar pynappelbier was so potent dat jy hoenderkop geraak het as jy net aan die prop geruik het. Dié bier moes sy maak vir kerkfunksies omdat daar destyds nie alkohol toegelaat is nie. I rest my case!
Ek onthou nog die fudge wat ons met hamers uit die pan moes los slaan. Fudge was dit beslis nie, maar ons skoolmaats was bereid om te betaal vir die skerwe toffie waaraan jy ure lank kon suig.
........
Een van haar reddingsboeie was daardie peppermint crisp-tert wat nou nog by my spook.
........
Een van haar reddingsboeie was daardie peppermint crisp-tert wat nou nog by my spook. Wonderlike herinneringe, ja, en ek was verstom toe ek in my soektog na die resep op webwerwe van uitgeweke Suid-Afrikaners sien hoeveel hunker nie net na biltong, Miesies Balls se blatjang en Top Deck-sjokolade nie – peppermint crisp-tert is heel boaan die lys!
Toe ek eers die resepte begin lees, kom ek agter Mamma het alweer die sigeunerpad met die resep geloop, haar eie kop gevolg en per ongeluk ’n wenner ontdek. Hare is beslis nie die tert wat almal onthou nie ...
Ná vele probeerslae en verskeie mislukkings het ek eindelik besef sy het die tradisionele vlatertresep met die een vir die peppermint crisp-tert gekombineer En hier is die resep vir daai tert van haar. Ek weet ’n yskastert is nou nie eintlik vir die winter nie, maar daar is genoeg sjerrie in dié een om jou sommer lekker warm te maak.
En, soos my sigeunerma ... wie steur hom nou eintlik aan konvensies?
Frances Gertruida se hoenderkop peppermint crisp-tert
Genoeg vir 6–8 (beskaafde tert-eters)
1 blik kondensmelk
3 eetlepels suurlemoensap
2 koppies melk
3 eetlepels vlapoeier
2 eetlepels suiker
’n knippie sout
1–2 pakkies tennisbeskuitjies
1 koppie sjerrie
5 x 49 g-stafies peppermint crisp, fyn gerasper
glanskersies vir versiering (opsioneel).
Verkoel die kondensmelk goed in die yskas (oornag as jy kan). Voeg die suurlemoensap by en klits totdat dit dik is. Maak ’n dik vla van die melk, vlapoeier, suiker en sout. (As jy onseker is, volg die aanwysings op die vlapoeierhouer, maar hou by die hoeveelhede van die resep.) Plaas ’n stukkie kleefplastiek direk bo-op die vla om te keer dat ’n skilletjie vorm en laat dit heeltemal afkoel. Doop die tennisbeskuitjies in die sjerrie. Die beskuitjies moet klam wees maar nie heeltemal pap nie. Rangskik die beskuitjies in ’n 20 x 20 cm-vierkantige bak en sprinkel ’n laag van die gerasperde peppermint crisp bo-oor. Skep ’n laag van geklitste kondensmelk bo-oor. Maak mooi gelyk en skep ’n laag vla bo-oor. Herhaal en eindig met ’n laag geweekte koekies. Smeer ’n lagie kondensmelkmengsel bo-oor en sprinkel die laaste bietjie peppermint crisp bo-oor en rangskik ’n paar kersies bo-op as jy wil. Verkoel vir minstens 4 tot 6 uuur of oornag in die yskas.
Kommentaar
Hoe verlang ek nie na my mamma nie, sy het ook demensie gehad. Dankie vir jou deel en vir resep van 'n besonderse pepperminttert.
Liewe Thelma, baie dankie vir die mooi boodskap. Ja, dis 'n moeilike pad - 'n mens verloor eintlik jou ma elke dag. Elke dag is 'n afskeid. Jy begin al rou nog lank voor die dood intree.
Dankie vir die onthou!