TK-lesing 4: Die werkwyse van die Taalkommissie

  • 1

Agtergrond:

Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron.

Sedert 1917 het elf Taalkommissies elf uitgawes van die AWS die lig laat sien terwyl daar in Suid-Afrika en in die wêreld rondom hulle belangwekkende gebeurtenisse afgespeel het wat noodwendig op elke uitgawe van die AWS hulle tekens gelaat het.

In hierdie eerste virtuele aanbieding van vyf, op Dinsdag 23 April 2024, het drie lede van die huidige Taalkommissie, Jana Luther, Fred Pheiffer en Annelise de Vries, ’n kort oorsig aangebied oor aspekte van die geskiedenis van Afrikaans wat in wisselwerking met die normering daarvan gestaan het.

Onder die vergrootglas was:

  • die ontstaansgeskiedenis van die AWS
  • belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat op die kodifisering van Afrikaans as skryftaal ingewerk het
  • die AWS en die WAT
  • die AWS en die Afrikaanse Bybelvertaling
  • die AWS en vaktaal
  • anglisismes
  • taalbeplanning

Die lesing is intyds aangebied, ingelei deur die TK-voorsitter, Suléne Pilon, en met geleentheid vir vrae aan die einde.


 

In hierdie uittreksel uit ’n reeks lesings wat die Taalkommissie in April en Mei 2024 aangebied het, toon Monique Rabé en Jana Luther prakties aan hoe die Taalkommissie die AWS hersien en bywerk. Aspekte wat aandag kry, is die:

  • die doel en aard van die AWS
  • kenmerke wat die AWS van ander verklarende Afrikaanse woordeboeke en taalhulpbronne onderskei
  • opname- en skrappingskriteria vir inskrywings in die Woordelys
  • die struktuur van en inskrywingstipes in die Woordelys.

Die doel van die AWS

Die doel van die AWS is hoofsaaklik tweërlei van aard, naamlik om:

  1. norme vir die eenvormige spelling en skryfwyse van hedendaagse, geskrewe, formele Standaardafrikaans (oftewel algemene Afrikaans) daar te stel
  2. te dien as handleiding en/of naslaanbron oor hierdie spel- en skryfnorme vir gebruikers van hedendaagse, geskrewe, formele Standaardafrikaans (oftewel algemene Afrikaans).

In die lig van hierdie tweeledige doel verwag sommige gebruikers dat die Taalkommissie voorskriftelik moet optree, terwyl ander weer ’n behoefte het aan ’n beskrywende benadering. Dit veroorsaak kennelik ’n spanning waarin ’n balans tussen beskrywing en voorskrywing gevind moet word. Die Taalkommissie is in die uitvoer van sy mandaat deurlopend bewus daarvan dat beskrywing die voorskrif moet voorafgaan, en moet deurgaans die hoogspanningslyn loop om te verseker dat die kommissie sy verantwoordelikheid nakom om ’n gesaghebbende en normgewende bron vir die taalgemeenskap daar te stel. Terselfdertyd moet die kommissie verseker dat die inhoud van hierdie bron ’n akkurate weerspieëling van die werklikheid en die tydsgees is, en nie te verwyderd van of irrelevant vir die algemene Afrikaanse gebruiker raak nie. Hierdie spanning word soos volg in die voorwerk van die AWS 11 uiteengesit:

Dit is dus altyd vir die Taalkommissie noodsaaklik om ’n goue middeweg te vind tussen enersyds voorskrywing (soos wat taalgebruikers dikwels van hom verwag), en andersyds beskrywing (soos wat die taalkundige dikwels van hom verwag). Daar moet dus ’n ewewig gehandhaaf word tussen wat vir die gemiddelde ingeligte gebruiker verstaanbaar en aanneemlik is, en wat vir die taalkundige aanneemlik en wetenskaplik verantwoordbaar is. (Taalkommissie, 2017:xi; eie kursivering)

Die aard van die AWS en ander taalgebruikshulpmiddels

In die breë word ’n woordeboek beskou as ’n beperkte versameling woorde, gewoonlik in alfabetiese volgorde, wat ook addisionele inligting oor elke woordeboekartikel of lemma verskaf. Vir elke woordeboek word ’n spesifieke groep teikengebruikers geïdentifiseer, en wat hul behoeftes is, en daar word dan bepaal hoe die inligting in hierdie woordeboeke aangebied moet word ten einde die beste in hierdie behoeftes te voorsien.

Dit gaan om die bevrediging van die verskeidenheid behoeftes van ’n gebruiker in ’n gegewe gebruiksituasie (Tarp 2000:196); en die wyse waarop inligting aangebied word, asook wat ingesluit word, hou verband met hierdie doel en uiteindelike sukses van die raadplegingsproses aan die kant van die gebruiker (Gouws 2007:325).

So ook poog die Taalkommissie met elke nuwe verskyning van die AWS om in die veranderende behoeftes van die veronderstelde groep teikengebruikers (dit is diegene wat van versorgde, formele algemene Afrikaans gebruik wil maak) te voorsien.

Hoewel die AWS nie tipologies uitsluitlik as ’n woordeboek beskou kan word nie, deel dit wel bepaalde ooreenkomste met ander verklarende woordeboeke, naamlik:

  • Dit het merkbaar ’n normatiewe karakter.
  • As normatiewe naslaanbron word dit as ’n gesaghebbende bron beskou.
  • Dit het primêr ’n voorskriftelike funksie, aangesien dit nie slegs ’n aanduiding gee van hoe die taal hedendaags gebruik word nie, maar ook hoe dit na verwagting nog vir ’n voorsienbare gedeelte van die toekoms gebruik gaan word.

Hierteenoor toon die AWS ook duidelike verskille met ander verklarende woordeboeke, soos die feit dat die AWS nóg leiding gee met betrekking tot betekenis of etimologie, nóg voorsiening maak vir lektiese variasie of vertaalekwivalente by verskillende inskrywings in die woordelys. Desnieteenstaande bevat sommige bylae van die AWS 12 wel toeligtende vertaalekwivalente om gebruikers in hulle raadplegingsproses te lei, wat as ’t ware as ensiklopediese inligting beskou moet word.

Aan die hand van Zgusta (1971) se tipologie word die AWS dus as ’n “beperkte, eentalige, sinchroniese, linguisties-ensiklopediese naslaanbron” beskryf (vgl. ook Van Huyssteen 2017:327–8)). Hierdie klassifikasie is gebaseer op die feit dat die AWS slegs ’n gedeelte van die groter Afrikaanse woordeskat beskryf, maar ook dikwels hierdie inligting op ensiklopediese wyse aanbied. Dit sluit in die alfabetiese rangskikking van die hoofstukke van die spelreëls en die woordelys, asook die tematiese rangskikking van sommige bylae.

Die woordelys van die AWS

Die woordelys van die AWS is ’n afgebakende, eentalige voorstelling leksikale items wat deel uitmaak van die Afrikaans woordeskat en in geskrewe, formele kontekste gebruik sou kon word.

Sedert die AWS 2 verskyn het, werk die opeenvolgende Taalkommissies altyd met ’n oorgeërfde woordelys wat die basis van die volgende woordelys vorm. Opnames, wysigings en skrappings word deurentyd – tussen die verskyning van verskillende uitgawes – gemaak. In die leksikografie word ’n onderskeid tussen die makro- en mikrostruktuur van ’n woordeboek getref: Die makrostruktuur het te doen met lemmakeuse en die mikrostruktuur met die interne struktuur van elke woordeboekartikel.

Met betrekking tot die woordelys verwys hierdie kriteria terselfdertyd na wat vir opname/skrapping oorweeg behoort te word (makrostrukturele kriteria), asook hoe dit moet lyk wanneer dit opgeneem word (mikrostrukturele kriteria).

Makrostrukturele kriteria

Hierdie kriteria fokus op die algemene aard van die leksikale item en sy status in die Afrikaanse taal. Die sentrale vraag met betrekking tot die makrostrukturele kriteria is: Moet die leksikale item vir opname (of skrapping) oorweeg word al dan nie? In dié verband is die oorkoepelende kriterium bruikbaarheid. Hierdie kriteria omvat:

  1. Lewer die leksikale item potensiële spel- of skryfprobleme op?
  2. Is die leksikale item se spelling / skryfwyse / morfologiese struktuur ondeursigtig? (Indien dit wel deursigtig is en voldoende deur die reëls ondervang word, hoef dit nie noodwendig opgeneem te word nie.)
  3. Moet die leksikale item se status in Standaardafrikaans erken word?
  4. Is die leksikale item (nog) in hedendaagse Standaardafrikaans in gebruik?
  5. Kan die leksikale item as ’n unieke benoemer (byvoorbeeld ’n vakterm, nuutskepping, en so meer) beskou word?
  6. Is die leksikale item van spesifieke sosiokulturele belang?
  7. Is die leksikale item wyd genoeg bekend, of sal dit wyd gebruik kan word?
  8. Kom die leksikale item met prakties beduidende frekwensie in betroubare, verteenwoordigende, gebalanseerde korpora, byvoorbeeld die gestratifiseerde Taalkommissiekorpus, voor?
  9. Moet die leksikale item opgeneem word ter wille van paradigmavoltooiing?

Mikrostrukturele kriteria

Mikrostrukturele oorwegings is dié wat betrekking het op die keuse en insluiting van kategorieë grammatikale inligting oor elke opgeneemde leksikale item. Die sentrale vraag met betrekking tot die makrostrukturele kriteria is dus: Hoe moet die leksikale item opgeneem word? Hierdie kriteria wil die volgende vrae beantwoord:

  1. Hoe moet die leksikale item gespel/geskryf word ingevolge taalkundige oorwegings (ook ten aansien van die Germaanse taalstelsel)?
  2. Watter spel- en skryfreël(s) is ter sake ten aansien van die spelling/skryfwyse van die leksikale item?
  3. Indien die leksikale item ’n uitsondering is wat tradisioneel anders gespel of geskryf word as wat deur die spel- en skryfreëls voorgeskryf word, op watter spel- en skryfreëls is dit ’n uitsondering?
  4. Hoe word die leksikale item in ander gesaghebbende woordeboeke of (taalkunde)boeke opgeneem en bewerk?
  5. Watter wisselvorm(e) moet vir die leksikale item opgeneem word?
  6. Hoe moet die artikel bewerk word om te voldoen aan die AWS se styl- en redaksionele beleid (insluitende fleksie-inligting en gebruikersleiding)?1

Struktuur van en inskrywingstipes in die woordelys

Die redaksionele beleid van die AWS bepaal nie net wat in die woordelys opgeneem behoort te word nie, maar ook hoe elke inskrywing behoort te lyk; vergelyk ook mikrostrukturele oorweging (6) hier bo. Elke woordelysinskrywing bestaan minstens uit ’n lemma (en wisselvorm(e)), gevolg deur morfologiese inligting (waar van toepassing), asook – in sommige gevalle – addisionele inligting (soos die woordsoort, betekenisonderskeidings, ’n voorbeeld, die gebruiksdomein, en die toepaslike reëlverwysing(s)). Daar word beoog om vanaf AWS 12 elke woordelysinskrywing van ’n gepaste reëlverwysing te voorsien.

Morfologiese inligting omvat fleksie-inligting soos die meervoudsvorm by naamwoorde, die attributiewe vorm by adjektiewe en die verledetydsvorm by werkwoorde, asook trappe van vergelyking by adjektiewe.

Addisionele inligting, soos die woordsoort, betekenisonderskeidings, voorbeelde en gebruiksdomeine, word verskaf slegs waar dit nodig word vir gebruikers om tussen verskillende inskrywings te onderskei, of waar die leksikale item verkeerd gespel of geskryf kan word. So byvoorbeeld word addisionele inligting by beide die onderstaande inskrywings verskaf om sodoende die taalbenaming (naamwoord; Latyn) van die adjektief (Latyns) te onderskei.

Latyn (taalbenaming)

Latyns (b.nw.), -e

Vergelyk ook byvoorbeeld die onderstaande twee inskrywings waar die morfologiese inligting in samehang met die betekenis gebruik word om die twee soortgelyke inskrywings van mekaar te onderskei.

          bad (gesondheidskuur), baaie

bad (voorwerp), -dens

Die AWS is geen Bybel nie

Die Taalkommissie het in die uitvoer van sy mandaat een kerndoel voor oë: Om ’n bron daar te stel wat leiding gee oor hoe om – in soverre dit moontlik is – konsekwent eenvormig te skryf en te spel sodat eerste-, tweede-, derde- én vreemdetaalsprekers van Afrikaans met die minimum moeite die maklikste met mekaar kan kommunikeer wanneer hulle formeel, amptelik moet lees en skryf.

Bibliografie

Gouws, RH. 2007. Op pad na ’n nuwe woordeboektipologie. Southern African Linguistics and Applied Language Studies, 25(3):319–31. https://doi.org/10.2989/16073610709486466.

Tarp, S. 2000. Theoretical challenges to LSP lexicography. Lexikos, 10:189–208.

Taalkommissie van die SAAWK. 2017. Afrikaanse woordelys en spelreëls. 11de uitgawe. Kaapstad: Pharos.

Van Huyssteen, GB. 2017. Die aard, doel en omvang van die Afrikaanse woordelys en spelreëls. Deel 1. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 57(2-1):323–45.  http://dx.doi.org/10.17159/2224-7912/2017/v57n2-1a7

Zgusta, L. 1971. Manual of lexicography. Den Haag: Mouton.

Eindnota

1 Vir ’n omvattende uiteensetting van hierdie kriteria, vergelyk Van Huyssteen (2017:333–9).

Lees ook:

TK-lesing 1 (deel 1): Geskiedenis van die Taalkommissie en die AWS

TK-lesing 1 (deel 2): AWS 1 tot 11 – ’n tydlyn

TK-lesing 1 (deel 3): Korpustaalbeplanning

Taalkommissie-lesing 1: Die begin van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS)

  • 1

Kommentaar

  • Joan Hambidge

    Baie dankie vir hierdie insigryke kommentaar. Ek lees woordeboeke en taalstudies vir wenke om 'n gedig beter te kan skryf.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top