TK-lesing 1 (deel 3): Korpustaalbeplanning

  • 0

Agtergrond:

Om ’n taal formeel as skryftaal te kodifiseer, is ’n komplekse proses wat nóú verweef is met die politieke en sosiale leefwêreld van die taal se sprekers. Oor die afgelope eeu het die Taalkommissie van die Suid‑Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die taak gehad om Afrikaans as skryftaal te help vestig. Aan die een kant neem die Taalkommissie leiding deur reëls vir die eenvormige spelling en skryfwyse van Afrikaans aan gebruikers beskikbaar te stel. Aan die ander kant reflekteer die Taalkommissie se werk die altyd groeiende woordeskat, segswyse en behoeftes van Afrikaans se skrywende gemeenskap. Die resultaat van dié opdrag word telkens weerspieël in ’n nuwe uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls as Afrikaans se oudste lewende taalhulpbron.

Sedert 1917 het elf Taalkommissies elf uitgawes van die AWS die lig laat sien terwyl daar in Suid-Afrika en in die wêreld rondom hulle belangwekkende gebeurtenisse afgespeel het wat noodwendig op elke uitgawe van die AWS hulle tekens gelaat het.

In hierdie eerste virtuele aanbieding van vyf, op Dinsdag 23 April 2024, het drie lede van die huidige Taalkommissie, Jana Luther, Fred Pheiffer en Annelise de Vries, ’n kort oorsig aangebied oor aspekte van die geskiedenis van Afrikaans wat in wisselwerking met die normering daarvan gestaan het.

Onder die vergrootglas was:

  • die ontstaansgeskiedenis van die AWS
  • belangrike gebeurtenisse in die Suid-Afrikaanse geskiedenis wat op die kodifisering van Afrikaans as skryftaal ingewerk het
  • die AWS en die WAT
  • die AWS en die Afrikaanse Bybelvertaling
  • die AWS en vaktaal
  • anglisismes
  • taalbeplanning

Die lesing is intyds aangebied, ingelei deur die TK-voorsitter, Suléne Pilon, en met geleentheid vir vrae aan die einde.

Hier onder, met dank en erkenning aan die Taalkommissie gepubliseer, verskyn Annelise de Vries se bydrae aanvullend tot Jana Luther en Fred Pheiffer s’n, by die geleentheid:


Korpustaalbeplanning

In hierdie uittreksel uit die eerste van ’n reeks lesings wat die Taalkommissie in April en Mei 2024 aangebied het, beskryf Annelise de Vries kortliks die geskiedenis van korpustaalbeplanning vir Afrikaans aan die hand van geselekteerde geskiedenismomente van 1627 tot 1959.

Die geskiedenis van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns kan nie ten volle beskryf word sonder om na die veld van taalbeplanning – in die besonder korpustaalbeplanning – te verwys nie. Korpustaalbeplanning, ’n sleutelaspek van taalbeleid, behels doelbewuste pogings om die interne struktuur, gebruik en evolusie van ’n taal te beïnvloed. Hierdie vorm van beplanning omvat verskeie aktiwiteite wat daarop gemik is om ’n taal te standaardiseer en te moderniseer.

...........
Korpustaalbeplanning, ’n sleutelaspek van taalbeleid, behels doelbewuste pogings om die interne struktuur, gebruik en evolusie van ’n taal te beïnvloed. Hierdie vorm van beplanning omvat verskeie aktiwiteite wat daarop gemik is om ’n taal te standaardiseer en te moderniseer.
..............

Histories is korpusbeplanning gedryf deur die behoefte om ’n gestandaardiseerde taal te skep wat as nasionale of amptelike taal kan dien. Dit behels die ontwikkeling van norme vir die ortografie, leksikon, grammatika en uitspraak van ’n taal, dikwels om nasionale identiteit en kommunikasiedoeltreffendheid te bevorder (Baldauf 1989).

Haugen (1983) se raamwerk word gebruik om te onderskei tussen die vorm (beleidsbepaling) en funksie (kultiveringsbeplanning) van ’n taal (Baldauf 1989). Du Plessis (2022) brei uit op hierdie raamwerk en stel dit dat beleidsbepaling oor korpusstandaardisering handel, terwyl kultiveringsbeplanning te make het met die leksikale en stilistiese modernisering en internasionalisering van ’n taal. Wanneer korpusstandaardisering (die proses waardeur konvensionele vorme van ’n taal gevestig en bestuur word) aan bod kom, is daar drie prosesse wat gevolg word:

  • Grafisering: Seleksie en aanpassing van ’n skryfsisteem (stel simbole) en die ortografiese konvensies van ’n taal.
  • Grammatisering: Proses van taalverandering waartydens woorde wat objekte en aksies voorstel (soos naamwoorde en werkwoorde) grammatikale merkers word (soos affikse en voorstelsels).
  • Leksikering: Die proses om ’n leksikon van ’n taal te aanvaar (simplekse, komplekse en leenwoorde kan geleksikeer word).

Kultiveringsbeplanning het op sy beurt te make met suiwering, hervorming, stilistiese vereenvoudiging en terminologiese vereniging.

Die Taalkommissie is primêr verantwoordelik vir die standaardisering van Afrikaans, en die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) is die vergestalting van hierdie werk wat al meer as ’n eeu duur. Sedert 1917 het 11 uitgawes van dié publikasie al die lig gesien, maar die beplanning daarvoor het reeds eeue gelede begin.

In hierdie skryfstuk verwys ek graag na (net) enkele historiese momente om die aanloop van korpustaalbeplanning vir Afrikaans te illustreer. Dit is van waarde om te meld dat hierdie momente aan die begin nie doelbewuste korpusbeplanning vir Afrikaans ten doel gehad het nie, maar dat dit dikwels die produk was daarvan om ’n gemeenskaplike kommunikasiemiddel tussen verskillende kontaktale daar te stel. Hierdie gebeure het gesamentlik bygedra tot die gestandaardiseerde of algemene vorm van Afrikaans wat ons vandag het en waarmee die Taalkommissie deurgaans besig is.

Tydlyn van korpusbeplanning vir Afrikaans: Kommunikasiemiddel tussen verskillende kontaktale met Nederlands as basis

  • Reeds in 1627 stel ’n bemanningslid van ’n Engelse skip ’n lysie van 31 woorde saam om tydens hul omswerwinge met die Khoi-Khoin, wat aan die suidelike punt van Afrika gevestig was, te kommunikeer.
  • In 1631 reis Autshumato (meer algemeen bekend as Herrie die Strandloper), ’n hoofman van die Khoi-Khoin, saam met die Britte na Batavia (vandag bekend as Djakarta). Hy leer Engels en Nederlands en keer na ’n jaar terug na die Kaap, waarna hy as tolk vir bemanning van verbygaande skepe optree.
  • In 1652 onderhandel Autshumato met Jan van Riebeeck, die Nederlandse koloniale administrateur van die Vereenigde Oost-Indische Compagnie (VOC). In hierdie tydperk was Nederlands die onderhandelingstaal aan die Kaap, maar dit het mettertyd oorgegaan na aanleerderstaal vir alle taalgemeenskappe wat in kontak met die amptenare van die VOC gekom het.
  • Kort na 1652 het Bredero, ’n Nederlandse digter en dramaturg, reeds klugte in die Hollandse omgangstaal begin skryf hierdie vorm van die taal het reeds anders begin lyk en klink as sy oorspronklike vorm.
  • In 1655 stel die direkteur-generaal van ’n Franse skip ’n Khoi-Franse woordelys van 211 woorde op met die doel om suksesvolle ruilhandel te dryf. Dié woordelys het talle Nederlandse woorde bevat wat deur die Khoi-Khoin by die Nederlanders aangeleer is. Voorbeelde hiervan is woorde soos “kers”, “kis”, “knoop”, “tou” en “koring”.
  • In die 1700’s is optekeninge gevind van die aanleerdersvorm van Nederlands (wat kenmerke met Afrikaans vertoon) wat deur die Khoi-Khoin en ingevoerde slawe gemaak is.

Tydlyn van korpusbeplanning vir Afrikaans: Aanleerdersnederlands begin al hoe meer na Afrikaans lyk en betree talle lewensruimtes

  • Afrikaans as geloofstaal. In 1875 vergader die nuutgestigte Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) om planne te maak vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Hoewel die GRA besef het dat Afrikaans teen hierdie tyd reeds ’n kode uit eie reg is, was daar nog baie standaardiseringswerk om te doen voordat ’n Bybelvertaling enigsins moontlik sou kon wees. Hierna is talle doelbewuste korpusbeplanningsinisiatiewe van stapel gestuur om Afrikaans te standaardiseer.
  • Afrikaans in die media. Een van hierdie inisiatiewe was die verskyning van die eerste uitgawe van die Afrikaanse Patriot, die eerste Afrikaanse koerant, in 1876. Met hierdie stap het Afrikaans die medialandskap betree. Talle voorbeelde van Afrikaans in die media het hierna gevolg, waaronder die publikasie van die eerste Afrikaanse tydskrif, Ons Klyntji.
  • Afrikaans as onderrigtaal. In 1882 word die Gedenkschool der Hugenoten op die plaas Kleinbosch in Dal Josafat gestig. Hierdie skool was nie die eerste skool waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik is nie, maar dit het ’n belangrike rol gespeel om Afrikaans as ’n amptelike skooltaal erken te kry.
  • Afrikaanse se korpus brei uit. Omdat die pogings soos in die vorige drie kolpunte beskryf, aanleiding gegee het tot ’n korpus van hoe Afrikaans in sy geskrewe vorm lyk, is daar in 1915 eenvormige spelreëls vir Afrikaans ingestel, waarna die eerste AWS in 1917 die lig gesien het. Werk aan die eerste Afrikaanse woordeboek begin in 1926 en vanaf 1929 sien talle Afrikaans-Engelse woordelyste die lig – veral na die vestiging van Afrikaans as een van die amptelike landstale in 1925.
  • Afrikaans as regstaal. In 1932 betree Afrikaans die formele regsisteem met die eerste hofuitspraak wat in Afrikaans gepubliseer is.
  • Ekonomiese waarde. Van 1939 tot 1951 word talle ekonomiese volkskongresse gehou om te bepaal hoe Afrikaanssprekendes hulself in ’n groter mate in die ekonomie kan laat geld. In hierdie tyd het talle terminologielyste die lig gesien, waaronder terme vir die versekeringsbedryf, mediamaatskappye, bankinstellings en nuwe bedrywe soos Sasol en Yskor.
  • Afrikaans as wetenskapstaal. Die Afrikaanse aanbod het van 1942 tot 1959 met rasse skrede uitgebrei toe Afrikaans by vier universiteite as wetenskapstaal gevestig word.

Ridge skryf in 2001 die volgende in ’n artikel waarin hy die vraag vra of Afrikaans ’n navolgbare voorbeeld is vir die ontwikkeling van ander tale:

The history of Afrikaans is fascinating. So rapid a trajectory from pidgin to creole to independent language in communion with its major ancestor and operative in all domains of use is immensely appealing, not least to linguists. Language planners have much to learn from this history, both as to what is profitable and as to what paths might be unfortunate to follow.

Uit die vereenvoudigde tydlyn en die aanhaling hier bo, is dit duidelik dat daar in die verlede onbewustelik en bewustelik omgegaan is met korpustaalbeplanning vir Afrikaans.

Ridge se gevolgtrekking word deur twee van die vlakke van Unesco se hersiene sesvlakskaal van taalbedreiging beaam. Faktore ses en nege van hierdie skaal (beskikbare taalhulpbronne en hoeveelheid en gehalte van dokumentasie) gradeer Afrikaanse hulpbronne op die hoogste vlak, terwyl die gehalte van dokumentasie as top gehalte volgens hierdie skaal bestempel kan word. Laasgenoemde is waar vir algemene Afrikaans, maar daar is nog baie werk te doen vir ander gelykwaardige variëteite van algemene Afrikaans.

Herstandaardisering is nog ’n belangrike aspek van korpusbeplanning. Dit behels die verandering van bestaande taalvorme om in nuwe sosiopolitieke en kulturele behoeftes te voorsien. Voorbeelde hiervan is die opeenvolgende skrifhervormings van die Sowjet-taalbeplanners vir Turkse tale en die Turkse taalhervorming wat daarop gemik is om Persiese en Arabiese leenwoorde uit die weg te ruim (Baldauf 1989). Hierdie pogings word dikwels gemotiveer deur nasionale of ideologiese doelwitte, soos die bevordering van ’n gevoel van kulturele identiteit of moderniteit (Willemyns 1998).

Uitdagings en oorwegings

Korpusbeplanning word deur talle uitdagings in die gesig gestaar, insluitend die balansering van tradisionele taalvorme met die behoefte aan modernisering en insluiting van ander variëteite. Hierdie delikate balanseertoertjie behels dat die taal voldoende is vir hedendaagse gebruik en aanvaarbaar is vir al sy sprekers (Fishman 2006). Daarbenewens is korpusbeplanning dikwels verweef met statusbeplanning, aangesien die besluite wat in korpusbeplanning geneem word, beduidende sosiale en politieke implikasies kan hê. Die behoefte om ’n taal vir nasionale doeleindes te standaardiseer, moet byvoorbeeld nie lei tot die marginalisering van minderheidstale nie (Baldauf 1989).

Tot slot. Korpustaalbeplanning is ’n komplekse en veelvlakkige proses wat ’n deurslaggewende rol in die ontwikkeling en instandhouding van tale speel. Dit behels die sistematiese kodifisering en uitwerking van linguistiese norme om te verseker dat ’n taal in die kommunikatiewe en kulturele behoeftes van sy sprekers kan voorsien. Suksesvolle korpusbeplanning vereis sensitiwiteit vir die taalkultuur en die sosiopolitieke konteks waarin dit funksioneer. Namate tale voortgaan om te ontwikkel, bly die rol van korpusbeplanning in die vorming en leiding van hierdie evolusie noodsaaklik. Soos uit die geskiedenis blyk, staan die Taalkommissie wat korpustaalbeplanning vir Afrikaans betref, op die skouers van reuse, maar daar is nog baie werk wat gedoen moet word, en dié kommissie is ten volle tot hierdie werk verbind.

Bibliografie

Baldauf, RB. 1989. Language planning: Corpus planning. Annual review of applied linguistics, 10:3-13-2.

Carstens, WAM en T van Dyk (reds). 2022. Toegepaste taalkunde in Afrikaans. Pretoria: Van Schaik.

Cobarrubias, J en JA Fishman (reds). 1983. Progress in language planning: International perspectives. Berlyn: Mouton.

Du Plessis, T. 2022. Taalbeplanning. In Carstens en Van Dyk (reds) 2022.

Fishman, JA. 2006. Do not leave your language alone: the hidden status agendas within corpus planning in language policy. Londen: Routledge.

Haugen, E. 1983. The implementation of corpus planning: theory and practice. In Cobarrubias en Fishman (reds) 1983.

Ridge, SG. 2001. Is Afrikaans a suitable model in planning the development of African languages? Per Linguam, 17(1):24-35.

Willemyns, R. 1988. Language planning as an initiator of linguistic change. Synchronic and diachronic approaches to linguistic variation and change. Georgetown University Round Table on Languages and Linguistics.

Lees ook:

TK-lesing 1 (deel 1): Geskiedenis van die Taalkommissie en die AWS

TK-lesing 1 (deel 2): AWS 1 tot 11 – ’n tydlyn

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top