Tien stukkies raad aan mnr Ramaphosa voor die Staatsrede van 2023

  • 0

...
Ramaphosa lyk tans taamlik hulpeloos in die amp van president van Suid-Afrika. Ek kry dikwels die indruk dat hy geabdikeer het, sonder om die pos te verlaat.
...

Die staatsrede (of Sona) is vanjaar vir Donderdagaand 9 Februarie 2023 beplan. Histories het die staatsrede as die opening van die parlement deur die president van Suid-Afrika bekend gestaan.

Die parlement bestaan uit die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) en die Nasionale Vergadering (NV). Die staatsrede is die seremoniële geleentheid wat die begin van hul werksaamhede vir die nuwe parlementêre siklus inlui.

Die onmiddellike gehoor vir die staatsrede is die lede van die NRVP en die NV, maar die impak daarvan is veel wyer. Die staatsrede word omvattend in die media gedek en is dus ’n besondere geleentheid vir die president om met alle Suid-Afrikaners te praat.

Om Ramaphosa raad te gee vir die staatsrede is ’n uitdaging, want hy het sy eie agenda. My raad aan Ramaphosa fokus op wat goed is vir Suid-Afrika, terwyl hy sy eie politieke agenda vir die staatsrede het. Goeie regering en politieke agendas is nie gemaklike bedmaats nie.

Ek wil nietemin tog raad aanbied, want Ramaphosa lyk tans taamlik hulpeloos in die amp van president van Suid-Afrika. Ek kry dikwels die indruk dat hy geabdikeer het, sonder om die pos te verlaat.

1.

My eerste stukkie raad aan Ramaphosa is dus om te onthou dat hy regtig die president is en dat hy dienooreenkomstig moet optree. Hy moet oophou om tot vervelens toe te konsulteer en moet besluite tot voordeel van alle Suid-Afrikaners neem en uitvoer. Suid-Afrika wag dringend op leierskap en slegs Ramaphosa kan dit tans verskaf. As hy moeg is vir die amp, moet hy liewers opsy staan sodat iemand anders vir ons hoop kan gee.

2.

Tweedens moet Ramaphosa homself voorberei vir grootskaalse ontwrigting deur die EFF in die sitting voordat hy met die staatsrede begin. Die stank van die Phala Phala-skandaal kleef steeds aan hom. Die staatsrede gaan dus baie laat begin, want die EFF gaan die geleentheid uitbuit vir maksimum publisiteit. Ongelukkig het die EFF ’n punt beet met hul kritiek oor die gebeure by Phala Phala.

Ramaphosa het net homself om vir hierdie fiasko te blameer. Hy behoort teen hierdie tyd te besef dat Suid-Afrikaners nie eintlik enige geloof het in die verklaring wat hy gee vir die geld wat verdwyn het nie. Hierdie verklaring is net té dik vir ’n daalder, gegewe die geld wat ter sprake is.

3.

Derdens, omdat die Staatsrede eers baie laat na die EFF se ontwrigting gelewer gaan word, moet Ramaphosa nie weer die fout van die verlede herhaal en heeltemal té lank praat nie. In vorige jare het joernaliste dikwels vir kommentaar gevra lank voor hy die staatsrede voltooi het. Koerante het immers saktye en kan nie wag tot Ramaphosa klaar gebabbel het nie.

My Engelse raad is: “Don’t be afraid of the full stop”, effens lomp in Afrikaans vertaal as “Moenie bang wees vir die punt nie.” Ramaphosa moet tot die punt kom en nie tot vervelens toe praat nie.

4.

Die vierde stukkie raad is dat die staatsrede samehangend moet wees. Die staatsrede in 2022 het geklink soos ’n reeks paragrawe wat uit die bydraes van verskillende kabinetsministers, staatsdepartemente en so meer saamgeflans is. Gevolglik was daar baie herhaling en het die staatsrede soos ’n wenslysie aan Kersvader geklink, eerder as ’n plan om Suid-Afrikaners te inspireer.

Vanjaar se staatsrede is beslis nie die geleentheid om ’n lang wenslys aan Suid-Afrikaners voor te hou nie. Ons weet reeds uit vorige ondervinding dat hierdie wenslysies eintlik net ’n blufspul is, met min of geen gevolge nie. My gunstelingverdoeming uit vorige wenslysies tydens enige Staatsrede is Ramaphosa se versugting na ’n slimstad. ’n Slim stad werk met elektrisiteit, dus hoef ek niks meer hieroor kwyt te raak nie.

5.

Vyfdens moet die staatsrede ’n sentrale tema voorhou. My voorstel vir ’n tema vir 2023 is: “Suid-Afrikaners gaan weer trots wees.” Met beurtkrag, swak dienslewering, misdaad en ’n onbevoegde regering sit ons op moedverloor se vlakte. Ons het inspirasie nodig, want ons wil weer trots wees op ons land, soos die geval na die demokratiese verkiesing in 1994 was. Ramaphosa moet die staatsrede gebruik om ons te inspireer.

Verwysings na die ANC se ietwat twyfelagtige glorieryke verlede gaan nie Suid-Afrikaners trots maak nie. Dit gaan ons net herinner aan skandale soos Nkandla, wapenaankope en die Guptas.

6.

Wat my by die sesde punt bring. Ramaphosa moet verduidelik hoe die verslag van die Zondo-kommissie in die praktyk gaan neerslag vind. Die Zondo-kommissie se werksaamhede was baie duur, maar die kommissie het baie deeglike werk gedoen. Suid-Afrikaners het met die Zondo-kommissie waarde vir hul geld gekry, maar sedertdien het daar nie veel gebeur nie. Die verslag moet tog immers die begin van prosesse wees, nie die einde daarvan nie.

7.

Die sewende stukkie advies handel met die aanwending van Suid-Afrikaners se swaarverdiende belastinggeld. Ons wil hoor dat die regering nie kranksinnige idees sal duld nie en sal optree teen diegene wat hulself daarmee besig hou. Die mees onlangse kranksinnige idee is ’n beplande borgskap van byna R1 miljard aan Tottenham Hotspur.

R1 miljard is regtig baie geld, naamlik R1 000 000 000 – een duidend miljoen rand. Met groot nood in Suid-Afrika kan die geld plaaslik baie beter aangewend word. Regeringsagentskappe wat planne soos ’n Tottenham Hotspur-borgskap uitdink en voorlê, moet eenvoudig gestuit word. Dit toon ’n totale gebrek aan insig vir die waarde van geld en die nood wat binne Suid-Afrika verlig moet word.

8.

Vervolgens moet Ramaphosa melding maak van die kabinetskommeling wat lank reeds verwag word. Suid-Afrika het ’n ooraanbod van onbevoegde ministers in die kabinet, terwyl sommige kabinetslede ook Ramaphosa se gesag openlik uitdaag. Hy kan nie langer hierdie ondermyning bekostig nie en moet wys dat hy in beheer is.

9.

Die negende stukkie raad is dat Ramaphosa op die kragkrisis en die gebrek aan dienslewering op munisipale vlak moet fokus. Hierdie twee vraagstukke oorheers tans die gemiddelde Suid-Afrikaner se belewenis van die regering en van die land. Dit is slegs die elite in die regering wat hulself tans met belastinggeld hierteen kan verskans. Hulle het geen idee van die lyding van gewone Suid-Afrikaners nie.

Weens beurtkrag, soos ons dit eufemisties noem, en chaos in verskeie munisipaliteite het Suid-Afrika se ekonomiese groeivooruitsigte gedaal tot onder die vlak van die bevolkingsgroei. Suid-Afrikaners word jaarliks armer op ’n per kapita-basis. Ramaphosa se drome van ekonomiese groei voordat hierdie twee probleme opgelos is, sal vinnig in ’n nagmerrie ontaard. Hoë ekonomiese groei is die enigste wyse waarop werkskepping kan plaasvind, en groei sal volg slegs wanneer die voorsiening van ononderbroke elektrisiteit verseker is en munisipaliteite dienste lewer.

Met die huidige probleme by Eskom en by munisipaliteite is samewerking met die privaatsektor die enigste pad vorentoe. Ons wag reeds té lank vir die regering, wat geen poging aanwend om die probleme op te los nie. Ons is op onsself aangewese.

10.

My tiende stukkie raad is aan Ramaphosa, die lede van die NRVP en die NV, maar ook aan alle Suid-Afrikaners: Koester lae verwagtings oor die staatsrede, want dan sal die teleurstelling kleiner wees. Ramaphosa en sy ANC-regering het lank gelede reeds die vermoë verloor om Suid-Afrikaners te inspireer of te lei. Ons moet nou gemeenskappe organiseer om self ’n beter lewe vir almal te verseker. Dit is die ware boodskap uit die staatsrede.

Lees ook:

Suid-Afrika se staatskuld

Reguit met Robinson: Waarom steeds die raskaart?

Vuurwarm politieke week lê vir Suid-Afrika voor

Die ANC se 55ste nasionale konferensie: Kan die agteruitgang van die bevrydingsparty gestuit word?

Openbare verontwaardiging oor sokkerborgskap

Van monumente gepraat …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top