’n Organisasie vasgevang in homself, uitgediende tradisies in moderne tye
Die eerste drie weke van Desember 2022 was in alle opsigte ’n uitdagende politieke periode in Suid-Afrika en baie beslis meer nog vir die ANC as politieke party en sy leierskap. Alles is op die spits gedryf teen 16 Desember toe die 55ste nasionale konferensie by Nasrec begin het. Die program vir die konferensie is aanvanklik baie noukeurig uiteengesit en gepubliseer, maar soos nou al tradisie met hierdie konferensies, verander die program baie vinnig. Aan die einde van dag twee van die konferensie was die program reeds 24 uur agter die gepubliseerde skedule, veral as gevolg van registrasieprobleme (sien besonderhede in figuur 1) en die verrassende optrede van oudpresident Jacob Zuma wat op 15 Desember die skokaankondiging gemaak het dat hy president Cyril Ramaphosa privaat gaan vervolg in dieselfde saak wat tans hangend is tussen hom en die staatsaanklaer Billy Downer SC en die joernalis Karen Maughen. As ’n eerste kon die kongres nie voltooi word nie en word dit in die eerste week van Januarie 2023 afgehandel. Die verkiesings is darem afgehandel en president Ramaphosa het ’n sterker tweede termyn as partyleier gekry in vergelyking met die 2017-verkiesing wat naelskraap deur hom gewen is.
Die 55ste nasionale konferensie van die ANC is die hoogste besluitnemingsorgaan van die ANC oor beleid, leierskap en die rigting waarin die party beweeg. Dit word dikwels ook ’n “verkiesingskonferensie” genoem omdat die totale leierskap tydens die konferensie elke vyf jaar verkies word. Tegnies is dit dus nie net ’n verkiesingskonferensie nie, maar in praktyk is dit wat elke vyf jaar gebeur, en uit ervaring kan die skrywer getuig dat as die verkiesing van die sogenaamde “topses” en die ander 80 lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) afgehandel is, verloor die konferensie stoom en keer die takafgevaardigdes terug na hulle tuistes. Beleidsake word dan teen geweldige druk afgehandel in die spesifieke kommissies waar dit bespreek word. Vanjaar is die buitengewone besluit geneem om die nasionale konferensie eers af te handel in die eerste week van 2023, aangesien die tyd vir die konferensie uitgeloop het. Hierdie besluit sou nie moontlik gewees het sonder die invloed wat Covid-19 op die samelewing gehad het nie, want die afhandeling vroeg in 2023 sal op hibriede basis plaasvind – ’n werkswyse wat tydens die pandemie deel van die nuwe normaal geword het.
Die konteks waarin die ongeveer 5 000 mense byeengekom het, vorm ’n belangrike deel van die Nasrec II-verhaal. Nasrec I was die 54ste nasionale konferensie waartydens Cyril Ramaphosa vir sy eerste 5 jaar-termyn verkies is, en ANC-tradisie is dat die nasionale konferensie elke vyf jaar in ’n ander provinsie sal plaasvind. Bekende konferensies was in Mahikeng, Polokwane en Mangaung, maar dit wil voorkom asof Nasrec in Gauteng nou die voorkeurontmoetingsplek geword het, waarskynlik as gevolg van logistieke en finansiële redes. Die konteks van die Nasrec II-konferensie is veral deur die volgende gebeure beïnvloed:
- Verswakking van die ANC in terme van meningspeilings en die uitkoms van die 2021-plaaslike verkiesings waar die ANC slegs 46% van die nasionale steun kon mobiliseer. In die verkiesing van die Ditsobotla-munisipaliteit (Lichtenburg) op 14 Desember 2022 kon die ANC net 16 uit ’n moontlike 39 posisies op die raad inpalm en moes tevrede wees met 40% van die steun, aansienlik laer as die 53% wat die ANC in 2021 gekry het, as ’n voorbeeld.
- Destruktiewe faksiegevegte in die ANC in aanloop tot die konferensie tussen die “Renew22” van Ramaphosa en die RET-groepering van Zweli Mkize, wat eintlik steeds lojaal aan oudpresident Jacob Zuma is.
- Verswakkende dienslewering oor ’n breë spektrum met beurtkrag as die grootste enkele probleem. Op die vooraand van die konferensie was daar ook die skokbedanking van Andre de Ruyter as uitvoerende hoof van Eskom. Daar was druk op De Ruyter en, alhoewel hy steun van beide president Ramaphosa en minister Pravin Gordan gehad het, het die opmerkings van Gwede Mantashe dit vir hom onmoontlik gemaak om aan te bly. Sy bedanking was ook strategies van aard, want dit het die vraagstuk van Eskom as ’n debatspunt grootliks van die konferensie-agenda verwyder. Dit was tot voordeel van Cyril Ramaphosa.
- Die stand van die ekonomie met rentekoerse wat hoër neig en brandstofpryse op baie hoë vlakke, gekombineer met ’n swak rand, het die omstandighede waartydens die konferensie plaasgevind het ook negatief beïnvloed. As die baie swak stand van die ANC se interne finansies en die gebrek aan groot borgskappe verder bygevoeg word, het die nuutverkose ANC-leiers ’n geweldige uitdaging op hande.
- Phala Phala en die staat van beskuldiging was ook ’n bepalende vraagstuk wat die herverkiesing van Ramaphosa ernstig in die wiele kon ry. Agter die skerms het die ANC egter laer getrek om Ramaphosa en in die parlementêre proses, die staat, van beskuldiging in sy spore gestuit met hulle parlementêre meerderheid en so die politieke aanslag wat om Phala Phala gebou is, vernietig. Gwede Mantashe het in hierdie proses ’n baie groot rol gespeel, in die afwesigheid van ’n sekretaris-generaal van die ANC. (Ace Magashule moes opsy staan en Paul Mashatile het waargeneem, maar was ook ’n kandidaat in die komende verkiesing.)
- Om ’n komplekse konferensie verder te kompliseer het Jacob Zuma op die vooraand van die konferensie bekendgemaak dat hy ’n privaatvervolging teen Ramaphosa gaan instel. Die bedoeling van die optrede was om Ramaphosa te verplig om opsy te staan en daardeur sy verkiesingskanse te vernietig, omdat Ramaphosa dan formeel aangekla sou wees in ’n hof. Die saak waarna verwys word, is die privaatvervolging van advokaat Billy Downer en die joernalis Karen Maughan, wat daarvan beskuldig word dat hulle Zuma se gesondheidstoestand onregmatig uitgelek het. Dit het egter gou geblyk dat die poging van Zuma nie op goeie regsgronde staan nie en dat dit nog ’n tipiese voorbeeld sou word van hoe Zuma regsprosesse vir politieke voordeel misbruik. Zuma het ook die konferensie, anders as die gebruik, as ’n afgevaardigde bygewoon en nie die ere-posisie van oudpresident ingeneem soos Thabo Mbeki gedoen het nie.
Die uitkoms van ’n konferensie word gebou op drie baie belangrike aspekte. Die eerste is die aantal afgevaardigdes van ANC-takke regoor Suid-Afrika en die akkreditasie van takke wat regtens bestaan. Daar was in die verlede beslis “spooktakke” wat net gebruik is om getalle kunsmatig te verhoog. Die tweede aspek is dat ’n kandidaat vir verkiesing op die nominasielys moet kom deur minstens 15% van alle takke se steun te ontvang. Dit is nie ’n eksakte aanduiding van steun nie, maar ’n eerste voet in die verkiesingsdeur. Die derde belangrike deel van ’n nasionale konferensie is die gekoukus en wandelgangpolitiek op pad na die konferensie en tydens die konferensie self. In figuur 1 kan duidelik gesien word watter provinsies die meeste takafgevaardigdes na die konferensie stuur, met KwaZulu-Natal boaan die lys, dan die Oos-Kaap en daarna Limpopo. Ná die eerste dag se registrasies en akkreditasies word hierdie getalle in alle verkiesings gebruik.
Figuur 1 (Klik op die prent om te vergroot)
Uit figuur 1 kan dus ook gesien word dat daar, uit die 4 426 konferensiegangers, 413 is wat nie uit takke afkomstig is nie, maar 90% van die besluite en verkiesings word deur die takafgevaardigdes bepaal. Om te demonstreer wat die rol van “spooktakke” in die verlede was, kan in figuur 1 gekyk word na die verteenwoordiging van Mpumalanga, Noordwes en die Vrystaat in 2022, in kontras met wat hulle verteenwoordiging in 2017 was. In twee gevalle het vreemde optrede gevolg wat beslis politieke nagevolge gaan hê. Terwyl die verkiesings aan die gang was, het die provinsiale leiers van beide Limpopo, Stan Mathabatha, en Noordwes, Nono Maloyi, hulle afgevaardigdes aangemoedig om hulle steun aan “Renew22”, dit wil sê Cyril Ramaphosa, te onttrek en aan “N3”, dit wil sê dr Zweli Mkize, toe te ken. In beide gevalle het die takke nie daardie opdragte uitgevoer nie en het die Ramaphosa-kamp geseëvier.
Voor die verkiesing van die tradisionele topses kon plaasvind, het die ANC egter sy grondwet gewysig en een addisionele pos tot die sogenaamde amptenare van die party toegevoeg. Deur ’n tweede adjunksekretaris-generaal by te voeg, het die getal amptenare tot sewe gestyg en word daar nou na hulle verwys as die “topsewe”.
Die verkiesing van leierskap was vol intrige met vals nuus en verskillende boodskappe wat rondgestuur is. Sogenaamde politieke lysies (slates) is ook oral gepubliseer op sosiale media om stemgeregtigdes te probeer beïnvloed.
Die uitkoms van die ANC-leierskapsverkiesing was soos volg, met die provinsie wat hulle verteenwoordig in hakies agter die naam:
- President: Cyril Ramaphosa (GP) 2476 teenoor Zweli Mkize (KZN) 1897.
- Adjunkpresident: Paul Mashatile (GP) 2178 teenoor Oscar Mabuyane (EC) 1858, Ronald Lamola (MP) het 315 stemme in die derde plek gekry.
- Nasionale voorsitter: Gwede Mantashe (EC) 2062 teenoor Stanley Mathabatha (LP) 2018 en David Masondo (GP) derde met 280.
- Sekretaris-generaal: Fikile Mbalula (GP) 1692 teenoor Phumulo Masualle (EC) 1590 en in die derde plek Mdumiseni Ntuli (KZN) 1080.
- Tesourier-generaal: Gwen Ramokgopa (GP) teenoor 1809 Pule Mabe (GP) 1652 en dan het twee ander kandidate ook stemme gekry Bejani Chauke (LP) 590 en Mzwandile Masina (GP) 281.
- Eerste adjunksekretaris-generaal: Nomvula Mokonyane (GP) 2195 teenoor Tina Joemat-Pettersson (NK) 2145.
- Tweede adjunksekretaris-generaal: Maropene Ramokgopa (LP) 2373 teenoor Ronaldo Nalumango (WC) 1948.
Die uitslag was ’n klinkende oorwinning vir Cyril Ramaphosa vir sy tweede termyn van vyf jaar, wat sal strek tot Desember 2027 en, anders as in 2017 toe hy eintlik vyandige lede op die topses gekry het, kan hy nou steun op minstens ses van die sewe verkose lede. Dit is net Nomvula Mokonyane wat ’n uitgesproke ondersteuner van die RET-groepering is. Drie van die sewe lede is vroue, wat ’n eerste vir die ANC is, en die meeste van die oorwinnings was met klein meerderhede, met uitsondering van die president. Die uitkoms van die adjunkpresidentspos (Paul Mashatile) en van die nasionale voorsitter (Gwede Mantashe) en sekretaris-generaal (Fikile Mbalula) kon natuurlik baie anders gewees het as daar nie drie “pretbederwers” was by name Ronald Lamola, David Masondo, en Mdumiseni Ntuli nie. Nomvula Mokonyane se politieke oorlewing word egter reeds bevraagteken as gevolg van die Bosasa-skandaal waar sy deur die Zondo-kommissie uitgewys is, en dit geld natuurlik ook vir Gwede Mantashe. Die rol wat provinsies in die samestelling van die topsewe speel, is betekenisvol en vir die tweede keer het KwaZulu-Natal geen verteenwoordiging in die topstruktuur van die ANC nie.
Naas die verkiesing van die topsewe in 2022 moes die konferensie ook 80 lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) gekies het. Hieraan het 91% van die afgevaardigdes deelgeneem en die verkose lede het ’n baie interessante uitkoms gehad. Die mees populêre lid van die NUK was Sihle Zikalala, voormalige premier van KwaZulu-Natal, en onder die toptien tel ANC-lede soos Ronald Lamola, Senzo Mchunu, Bheki Cele, Malusi Gigaba, Pule Mabe, Zizi Kodwa en David Makhura. Interessant dat die tweede mees populêre NUK-lid Mduduzi Manana was, wat as adjunkminister moes bedank in ’n saak waarin drie vroue hom van aanranding aangekla het! Onder die lede wat dit nie gemaak het op die lys van 80 nie, tel Tony Yengeni, DD Mabuza, Thulas Nxesi, Blade Nzimande en Mosebenzi Zwane. Uit die NUK-verkiesing kan ’n paar afleidings gemaak word naamlik:
- Daar is duidelik ’n verjongingskuur aan die gebeur en van die ou garde is uitgestoot.
- Die samestelling lyk na ’n Mashatile-Mbalula ontwerp, jonger lede uit die ANCYL geledere, maar baie duidelik in hulle steun vir die Ramaphosa-presidentskap.
- Die toekomsmusiek van die ANC begin lyk na ’n Mashatile-presidentskap oor ’n paar jaar met Fikile Mbalula aan sy sy as adjunk. ’n Dekade gelede is daar na Malusi Gigaba en Mbalula as presidensiële materiaal gekyk, maar Gigaba het langs die pad gestruikel.
- Die RET-faksie het sterk name op die NUK gekry, soos Zweli Mkize, Nkosazana Dlamini-Zuma, Bathabile Dlamini, Supra Mahumapelo en Lindiwe Sisulu, maar hulle politieke fut is uit.
- Vier provinsies naamlik Gauteng, KZN, die Oos-Kaap en Limpopo, is sterk verteenwoordig op die NUK en Noordwes is swakker verteenwoordig as twee kleiner provinsies, naamlik die Wes-Kaap en Noord-Kaap, as gevolg van die faksiegevegte in die Noordwes se ANC.
- Laastens is van die ou garde nie herkies nie, onder andere adjunkpresident David Mabuza, SAKP-leiers Blade Nzimande en Thulas Nxezi, asook die president van Cosatu, Zingiswa Losi. Dit gaan beslis ’n impak maak in die verhoudinge in die drieledige alliansie.
Die volledige NUK sal bestaan uit die topsewe, die 80 verkose lede en dan nog sowat 30 ex officio-lede uit die provinsies en die Vroueliga, Jeugliga en Veteraneliga. In totaal ongeveer 120 lede wat dien as die hoogste besluitnemingsliggaam tussen konferensies. Uit die 87 verkose lede van die NUK moet dan nog ook ’n nasionale werkskomitee (NWK) saamgestel word, wat die topsewe insluit, en ’n soort dagbestuur van die ANC vorm. Die NWK se grootte mag nie meer as 25% van die NUK wees nie, dit wil sê so ongeveer 22 tot 25 lede. Die samestelling van die NWK gaan baie betekenisvol wees in terme van hoe die ANC die leierskap in KwaZulu-Natal gaan akkommodeer, wat soos ons reeds gesien het, geen posisie in die topsewe kon haal nie, maar sterk kandidate op die NUK verkies het. Die finale samestelling van beide die NUK en die NWK sal egter eers gedoen kan word nadat die Vroueliga, Jeugliga en Veterane hulle onderskeie konferensies in 2023 gehou het en leierskap behoorlik gekies het. Dit kan nog 10 lede tot die NUK voeg en nog 3 lede tot die NWK.
Die nuwe breedsprakige sekretaris-generaal van die ANC het reeds drie interessante uitlatings gemaak, naamlik dat partydissipline in die toekoms sterker toegepas gaan word, dat die president sy termyn sal uitdien en dat hy so gou moontlik sy kabinet sal moet skommel en hersaamstel. Dalk sal Fikile Mbalula ook vinnig iets leer van die langspel van Cyril Ramaphosa en sal die kosep “gou” vinnig uit sy taalgebruik verdwyn. Dit is egter belangrik dat daar na Ramaphosa se termyne gekyk sal moet word in die lig van gebeure rondom die Phala Phala-saak. Vanuit ANC-geledere is die Phala Phala-saak nou polities so dood, maar dit is nie die mening van ander belanghebbendes nie, en ook nie agentskappe wat die saak ondersoek nie.
Ramaphosa betree nou die laaste 18 maande van sy termyn as staatshoof, wat in Mei 2024 tot ’n einde kom, maar dan bly hy president van die ANC tot Desember 2027. Mbalula het nie gespesifiseer watter termyn Ramaphosa sal uitdien nie. Dit word algemeen aanvaar dat Ramaphosa staatshoof en leier van die regerende party sal bly tot en met die verkiesing van 2024, maar die gebeure in Desember 2022 tydens die parlementêre ondersoek na ’n staat van beskuldiging, het tog die deur oopgemaak vir ’n ander scenario. Ná die 2024-verkiesing, met die ANC as die grootste party, maar nie noodwendig met 51% van die steun nie, is dit ook moontlik dat Ramaphosa kan aandui dat hy die leier van die party sal bly, maar nie beskikbaar is as staatshoof nie. Die RSA se konstitusie bepaal dat die staatshoof uit die geledere van die parlementslede gekies moet word. Waarom sal hy so iets oorweeg? Die rede is geleë in die tydsverloop tussen die ANC se leierskapsverkiesing en die nasionale verkiesing, wat ongeveer 18 maande is. Indien Ramaphosa weer as staatshoof aangewys word in 2024, dan sal sy termyn strek tot Mei 2029. In figuur twee word die probleemarea uitgewys, waar vorige staatshoofde soos beide Thabo Mbeki en Jacob Zuma moes swig voor die nuutverkose leierskap van die party. Ramaphosa, as ’n politieke strateeg, sal deeglik bewus wees van hierdie ingeboude dilemma wat op net twee maniere opgelos kan word. Die eerste is dat ’n staatshoof uittree en ’n onaangename oorgawe van mag vermy kan word, of dat die ANC hulle nasionale konferensie met een jaar aanskuif om die tydsverloop korter te maak. Die ANC kon dit egter nog nie die afgelope 30 jaar regstel nie.
Figuur 2 (Klik op die prent om te vergroot)
Ramaphosa betree sy tweede termyn as partyleier met ’n baie sterker posisie as wat hy in Desember 2017 gehad het en selfs toe hy in Februarie 2018 by Zuma oorgeneem het. Op daardie stadium was die topleierskap van die ANC verdeel en die NUK kwalik aan Ramaphosa se kant. Hy betree nou 2023 met ’n baie sterk span om hom én ’n NUK waarvan 70% hom baie sterk steun. Gaan dit egter ’n verskil maak? Gaan dit Ramaphosa sterker laat optree en vinniger besluite laat neem? Gaan hy met die sterk steun die nodige doen om die ekonomiese klimaat positief te verander?
Cyril Ramaphosa gaan sy termyn van vyf jaar as partyleier tegemoet met sy oog baie duidelik op die nasionale en provinsiale verkiesing wat na verwagting in Mei 2024 gaan plaasvind. Op pad daarheen sal hy baie beslis aandag moet gee aan die volgende faktore wat tegelyk in nasionale belang is, maar ook in die belang van die regerende party:
- Die hersamestelling van die kabinet en optrede teen partylede wat partydissipline verontagsaam. Tog sal Ramaphosa en sy topleierskap omsigtig met die ANC in KwaZulu-Natal moet werk. Jacob Zuma het sy hand oorspeel en daar is baie nadenke oor sy rol, maar daar is beslis jong en dinamiese leierskap aanwesig in KZN.
- Rigtinggewende besluite oor beter staatsbestuur, veral met betrekking tot die plaaslike regering wat duidelik besig is om in duie te stort. Groter professionalisering van die staatsdiens is ’n aaneenlopende proses.
- Besluite oor ekonomiese beleid wat die besigheidsklimaat positief kan beïnvloed en investering kan aanmoedig. Besluite oor staatsondernemings soos Eskom, Transnet en Prasa is van kritieke belang. Dit gaan hier veral oor die model van samewerking tussen die staat en die privaatsektor. As Ramaphosa een nalatenskap kan vestig, dan sou dit wees om die ekonomie weer te laat groei teen 3,5%, ons groeigemiddeld sedert WOII.
- Sosiomaatskaplike vraagstukke soos armoede en werkloosheid sal opnuut aangepak moet word.
- Misdaad en misdaadvoorkoming sal opnuut geprioritiseer moet word en politieke leierskap moet verander word. Die beveiliging van ons grense en hawens het ’n nuwe prioriteitsarea geword.
- Die implementering van die aanbevelings van die Zondo-kommissie met betrekking tot korrupsie en korrupte praktyke, en daarom sal hy baie beslis moet optree teen partylede wat daar geïmpliseer word. Optrede teen partylede sal as simbolies gesien word van die erns waarmee met korrupsie omgegaan word.
- Infrastruktuurontwikkeling en die stand van ons pad- en spoorverbindings moet dringend aandag kry. Beurtkrag knel die ekonomie, maar so ook ons paaie en spoornetwerk wat maak dat ons nie die voordele van die wêreldwye vraag na kommoditeite kan bevredig nie.
Ten slotte, dominante partye soos die ANC tree op soos monopolieë en beweeg stadig en moeisaam. Ramaphosa het ’n goeie oorwinning in die Nasrec II-konferensie in Desember 2022 behaal onder die vegkreet “Renew22”, en die vraag is of hy en sy nuwe span dit sal kan doen, gegewe die karakter en ingeboude belange in die ANC? Ramaphosa het alles in sy guns om sy tweede termyn beter as voorheen af te skop. Polities is die Phala Phala-aangeleentheid uit die weg geruim en sy politieke opponente in die ANC se fut is uit. Die vraag is, kan Ramaphosa sy bekende styl van die langspel aanpas in ’n strategiese kortspel in belang van Suid-Afrika?
Kommentaar
Baie goeie artikel. Som onlangse gebeure mooi op en verduidelik wat dit alles beteken. Dan ook 'n netjiese toekomsblik.