ANC: Verwond, maar tans nog onoorwonne

  • 0

...
Dis ’n mengsel van Ramaphosa se ondersteuners en teenstanders, en gaan baie moeilik wees om as ’n eenheid saam te snoer.
...

Die 55ste kongres van die ANC het onlangs ’n nuwe leierskap onder pres Cyril Ramaphosa verkies, maar baie min het van enige beleidsbesluite gekom.

Ramaphosa het ’n redelik gemaklike oorwinning van 2 476 stemme teenoor 1 897 stemme vir Zweli Mkhize, voormalige minister van gesondheid, behaal. Paul Mashatile is die nuwe adjunkpresident van die ANC, wat hom in ’n sterk posisie plaas om binnekort adjunkpresident van die land te word. Gwede Mantashe is naelskraaps herkies as nasionale voorsitter, met Fikile Mbalula as sektretaris-generaal. Sy twee adjunkte is Nomvula Mokonyane en Maropene Ramokgopa. Die nuwe tesourier-generaal is Gwen Ramokgopa.

Die tagtig verkose lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) is ook aangewys. Dis ’n mengsel van Ramaphosa se ondersteuners en teenstanders, en gaan baie moeilik wees om as ’n eenheid saam te snoer. Ramaphosa-ondersteuners, soos die voormalige premier van KwaZulu-Natal, Sihle Zikalala, en die minister van justisie, Ronald Lamola, sal skouers skuur met Ramaphosa-opponente soos Malusi Gigaba, Nkosazana Dlamini-Zuma en Lindiwe Sisulu.

Sewe ministers het nie die paal gehaal vir die NUK nie. Hulle sluit in Naledi Pandor (minister van internasionale verhoudinge en samewerking), Maite Nkoana-Mashabane (minister van vroue, kinders en gestremdes), Nathi Mthethwa (minister van kuns en kultuur), Pravin Gordhan (minister van openbare ondernemings), Ebrahim Patel (minister van handel en nywerheid), Thulas  Nxesi (minister van arbeid en werkskepping), en Blade Nzimande (minister van hoër onderwys en opleiding).

Twee prominente ANC-lede met onlangse kriminele oortredings, naamlik oudminister Bathabile Dlamini (meineed) en die Nelson Mandelabaaise stadsraadslid Andile Lungisa (aanranding), is tot die NUK verkies.

Dit wil voorkom asof Ramaphosa die uitgesproke steun van die meeste NUK-lede geniet, maar van sy felste teenstanders (soos sy leierskapsopponent Mkhize) is ook verkies. Dit gaan ’n woelige groepering vol verdeeldheid wees.

...
Dit was die deurmekaarste konferensie van die ANC sedert die ontbanning in 1990.
...

In daardie sin is die NUK inderdaad ’n weerspieëling van die sowat 4 500 ANC-afgevaardigdes wat van 16 tot 20 Desember by Nasrec byeengekom het. Dit was die deurmekaarste konferensie van die ANC sedert die ontbanning in 1990. Daar is dae lank gestry oor wie stemgeregtig is en wie vir die NUK genomineer kon word. Hoewel alkohol op die perseel verbied is, was daar ’n groot straatpartytjie – padlangs, eintlik ’n dronknes uit die kattebakke van dosyne motors – in die strate buite die afgebakende gebied rondom die vergadersaal.

Dit was dan ook nie veel van ’n verrassing nie dat die afgevaardigdes min besluite oor beleid afgehandel het – dit was duidelik nie hul prioriteit nie. Teen die einde van die konferensie is geen resolusies dus aanvaar nie. Dit moet oorstaan tot 5 Januarie wanneer die konferensie in hibridiese formaat voortgesit word. Dit is die eerste keer in 110 jaar dat ’n ANC-konferensie nie sy werk afhandel nie.

Oor groot kwessies soos grondhervorming, die bevegting van korrupsie, die nasionalisering van die Reserwebank en die oplos van die elektrisiteitkrisis is daar dus nog geen finale besluite nie. As sodanig was die konferensie straks ’n mikrokosmos van die ANC as regerende party – volop praat, volop planne, bedenklike keuses vir diegene wat dit moet uitvoer, en werk wat uiteindelik nie klaarkom nie.

Dis ’n verwonde, maar tans nog onoorwonne, ANC wat voort hink die toekoms in, en Suid-Afrika as sukkelende, verdeelde party met ’n weliswaar meer verenigde leierskap moet regeer.

Lees ook:

Die ANC-55ste nasionale konferensie: Kan die agteruitgang van die bevrydingsparty gestuit word?

Is nuwe ANC-leiers Suid-Afrika se wys(st)e manne en vroue?

Seen elsewhere: Phala Phala and the rather dubious provenance of the allegations

Phala Phala – die langspel word toe die ondergang van Ramaphosa

Phala Phala: Gaan Ramaphosa die pyp rook?

Ek het mixed feelings, uncle Cyril

ANC-kieskonferensie: En nou?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top