Phala Phala – die langspel word toe die ondergang van Ramaphosa

  • 5

Cyril Ramaphosa (Foto: Isac Nóbrega/PR, CC BY 2.0)

...
Eintlik het die komitee sy mandaat oorskry en is Ramaphosa onseremonieel in die pad gesteek. Wel, nie amptelik nie, maar geoordeel aan die oorwoë reaksie daarop, is dit wat gebeur het.
...

’n Eie doel vir Ramaphosa, ’n uitklophou vir die ANC, en ’n enorme krisis vir Suid-Afrika

In ’n vorige LitNet artikel (Junie 2022) oor Cyril Ramaphosa en die Phala Phala-gebeure is gevra of “die buffel nie besig is om te struikel nie”. Nou, na die uitkoms van die parlementêre Artikel 89-komitee, wonder mens of Ramaphosa hierdie ronde gaan oorleef. My eie verwagting van die drie juriste wat die komitee uitgemaak het, was dat hulle twee of drie tegniese oortredings sou uitwys en dat Ramaphosa die ondersoek met gemak sou oorleef. Die komitee gaan toe egter verder en maak baie ernstige bevindinge teen Ramaphosa wat daarop neerkom dat sy oortredings hom op sigwaarde (prima facie) in ’n staat van beskuldiging kan plaas. Eintlik het die komitee sy mandaat oorskry en is Ramaphosa onseremonieel in die pad gesteek. Wel, nie amptelik nie, maar geoordeel aan die oorwoë reaksie daarop, is dit wat gebeur het.

Einde November, begin Desember is gewoonlik ’n tydperk waarin die politieke proses in ’n soort slaap verval wat in die Amerikaanse pers as die “silly season” bekend staan. In hulle geval is Junie altyd die aanvang van die lang drie-maande-vakansie. Groot stories kom in hierdie joernalistieke slaaptyd op die lappe, soos Watergate in Junie 1972. Vir ons sal dit die Phala Phala-storie wees in Desember 2022, maar interessant is dat Mandy Rossouw ook die Nkandla-storie aan die einde van November 2009 bekendgemaak het.

Die onsekerheid en politieke chaos wat deur die aankondiging op 30 November 2022 veroorsaak is, staan uit in ons kort politieke en konstitusionele geskiedenis sedert 1994. Die chaotiese oorgang van Thabo Mbeki na Jacob Zuma in September 2008 het ook hierdie soort onsekerheid geskep, en beslis ook die oorgang van Zuma na Ramaphosa in Februarie 2018. Die Nene-insident tydens Jacob Zuma se presidentskap het soortgelyke onsekerheid in markte veroorsaak en die waarde van die rand baie benadeel, maar dit het nie die staatshoof betrek nie, bloot die minister van finansies, en is binne dae reggestel. Na my oordeel is die onsekerheid wat met die Phala Phala-saak gepaard gaan, die grootste krisis in die afgelope 30 jaar, omdat dit die eerste keer sal wees dat ’n president met ’n staat van beskuldiging gekonfronteer kan word.

Phala Phala verteenwoordig ’n klomp aangeleenthede in die politiek-konstitusionele proses tegelyk. Dit is juis die politieke kruisstrome waarin Phala Phala sig bevind wat die moontlike bedanking van Cyril Ramaphosa so ’n reële moontlikheid maak.

Uit watter hoeke kom die kruisvuur wat hierdie gebeure in die politieke proses in ’n kategorie van sy eie plaas?

  • Die Suid-Afrikaanse ekonomie beur met moeite uit die post-Covid era, onderworpe aan daaglikse beurtkrag, die langdurige impak van die Russiese aggressie in die Oekraine en die duidelike uitwerking van klimaatsverandering. Die samevloeiing van hierdie faktore plaas die Ramaphosa-regering onder geweldige finansiële druk. ’n Verswakte president is die laaste ding wat Suid-Afrika nou nodig het.
  • Die ANC staan op die vooraand van sy 55ste nasionale konferensie (16–21 Desember 2022) en die lys van genomineerde kandidate is in November gepubliseer. Ramaphosa was tot 30 November 2022 verseker van ’n herverkiesing vir ’n tweede termyn as ANC-president. Indien hy besluit om te bedank, draai dit die konferensie op sy kop. Die ANC-leierskap is nou soos ’n vliegtuig in ’n draaiduik op soek na ’n rigtingsroer.
  • Die ANC boer oor die afgelope paar jaar met elke verkiesing agteruit, en die 2024 nasionale en provinsiale verkiesing is 18 maande van nou af. Die huidige gebeure voorspel niks goeds vir die ANC as party nie, wel wetend dat Ramaphosa deur die bank meer populêr as die ANC as party is. Op hierdie stadium is die kollektiewe wysheid van politieke analiste dat die ANC waarskynlik in 2024 nie 50% van die nasionale steun gaan haal nie, en dit is met Ramaphosa as leier aan boord. Sonder Ramaphosa, in die scenario waar hy bedank, is ANC-steun nader aan 40% as aan 50%. Opposisiepartye voel reeds ’n soort oorwinning aan en gaan dit vir die ANC baie moeilik maak in en buite die parlement.
  • Die kwessie van korrupsie het die ANC ingehaal, en met die Zondo-kommissie se verslag beskikbaar en in die proses van implementering, kom die Phala Phala-aangeleentheid op ’n baie ongeleë tyd, veral as die bevindings van die Artikel 89-komitee bekyk word. Volgens hulle het Ramaphosa op sigwaarde artikel 96(2)(a) en artikel 96(2)(b) van die Grondwet oortree, en ook artikel 34(1) van die Wet op die Voorkoming van Korrupsie (PRECCA-wet) moontlik oortree deurdat hy nie korrupte aktiwiteite aangemeld het nie. Ramaphosa het van meet af aan die geveg teen korrupsie as een van sy politieke oogmerke opgeneem en dit is tragies dat gebeure waarin hy die slagoffer van misdaad was, tot sy moontlike val kan lei.

Wat staan Ramaphosa te doen in hierdie krisis waar almal oor sy lot besin? Ramaphosa het reeds voorheen, in 1997, sy goed gevat en geloop toe dit duidelik geword het dat Thabo Mbeki die voorkeurkandidaat by die 50ste nasionale konferensie (in Mafikeng) sou wees. Ramaphosa het basies drie opsies met betrekking tot die huidige aangeleentheid: (i) om die beslissing van die Artikel 89-komitee in die howe te beveg; (ii) om die parlementere proses te volg, met die hoop dat die ANC-koukus hulle agter hom sal verenig en die mosie sodoende sal laat misluk; (iii) om sy uittrede aan te kondig.

Indien Ramaphosa die bevindinge van die komitee in die hof wil betwis, sal dit binne ’n dag of twee moet gebeur, en dit het ’n aantal konsekwensies. Dit sal die parlementêre proses tot stilstand bring en waarskynlik tot 2023 uitstel, maar ook ’n reeks ander prosesse beïnvloed, onder andere die 2023-Staatsrede. Die voordeel sal wees dat die ANC se nasionale konferensie soos beplan kan plaasvind, maar dat Ramaphosa onder geweldige politieke druk sal bly verkeer. ’n Hofproses sal die proses uitrek en dit vir beide die ANC en Ramaphosa baie moeilik maak in 2023 en 2024.

...
Die president wat van sy korrupte voorganger, Jacob Zuma, ontslae geraak het, het deur sy eie toedoen ’n beleërde staatshoof geword. Ramaphosa het slagoffer geword van sy eie politieke styl, naamlik die sogenaamde langspel.
...

As Ramaphosa en die ANC besluit om wel die mosie wat op 6 Desember in die parlement gaan dien, teen te staan, sal dit teen ’n politieke prys gebeur, want van sy grootste politieke vyande in die ANC sit in die parlementêre koukus. Die situasie dat ’n regerende party laer trek om ’n beleërde leier, is niks nuuts nie – die ANC het dit gedoen met Zuma en Nkandla, en beide presidente Clinton en Trump het impeachment vrygespring deurdat hulle onderskeie partye laer getrek en hulle beskerm het. President Nixon, daarenteen, het impeachment vrygespring omdat hy as president bedank het voordat die proses as gevolg van Watergate teen hom kon begin.

Indien Ramaphosa sou besluit om as leier van die ANC te bedank en daarom ook as staatshoof, sal die adjunk, DD Mabuza, waarskynlik vir die volgende 30 dae as staatshoof ageer totdat die parlement byeen kan kom om ’n nuwe staatshoof aan te wys. Dit kan reeds vroeg in 2023 plaasvind en sal aan die ANC die geleentheid bied om sy nasionale konferensie af te handel en nuwe leierskap te verkies. Kandidate vir presidentskap sal dan waarskynlik van die vloer genomineer moet word, omdat Ramaphosa nie meer as kandidaat beskikbaar sal wees nie. Daar is reeds sprake dat daar ruggespraak gehou word tussen Paul Mashatile en die leierskap van die ANC in KwaZulu-Natal om op dié manier vir Mashatile en Zweli Mkize as onderskeidelik president en adjunkpresident van die ANC verkies te kry. Dit sal insluit dat Stan Matabata van Limpopo die nasionale voorsitter word en dat Gwede Mantashe sy pos kwyt sal wees.

Hierdie proses het die meeste implikasies van die drie opsies en dit is een van die redes waarom leiers in die ANC by Ramaphosa pleit om nie te bedank nie. Sedert 2007 se Polokwane- nasionale konferensie het die ANC skoonmaakprosesse in die party en die regering beleef. Dit is veral opmerklik wanneer sekere faksies binne die ANC die mag in provinsies bekom. Indien Ramaphosa wel sou besluit om uit te tree, is daar groot vrese by baie lede in die party en in die regering wat vir hulle poste afhanklik is van Ramaphosa se politieke goedgunstigheid, dat hulle in die spreekwoordelike politieke woestyn sal beland.

Die oorwig van waarskynlikhede lyk na president Cyril Ramaphosa wat die tuig as staatshoof gaan neerlê, maar daar is steeds ’n goeie kans dat hy met steun van die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee die mosie om hom in ’n staat van beskuldiging te plaas in die parlement gaan beveg. Die president wat van sy korrupte voorganger, Jacob Zuma, ontslae geraak het, het deur sy eie toedoen ’n beleërde staatshoof geword. Ramaphosa het slagoffer geword van sy eie politieke styl, naamlik die sogenaamde langspel. Die kortspel sou gewees het dat hy of sy werknemers kort nadat hulle geld vir wildverkope ontvang het, die korrekte prosesse gevolg het. Hy sou ook steeds die kortspel gespeel het as hy die diefstal formeel laat aanmeld het. Die verkoop van wild was regmatig; die hantering van die kontant was nie. Die diefstal op sy plaas was krimineel, maar die versluiering daarvan was uiteindelik sy politieke ondergang. Hy was reeds vroeg daarvan bewus dat sy politieke opponente (wat Arthur Fraser insluit) bewus was van die gebeure op Phala Phala, maar weer eens was die langspel sy strategie toe die kortspel sy enigste kans op politieke oorlewing was.

Lees ook:

Talk is cheap, maa money koep ie whiskey, uncle Cyril

Cyril Ramaphosa se stryd: Is die buffel besig om te struikel?

Elders gesien: Dalk is Phala-Phala op die lang duur nie net slegte nuus vir ons nie

Ramaphosa se politieke toekoms in die weegskaal na Phala Phala-verslag

Cyril Ramaphosa, King Charles and Rishi Sunak – the art of imperial swagger redefined

New from Penguin: The presidents by Richard Calland and Mabel Sithole

  • 5

Kommentaar

  • Johan Pretorius

    Net 'n tegniese puntjie: Clinton en Trump het nie 'impeachment' vrygespring nie. Hulle is nie skuldig bevind nie. Goeie, weldeurdagte ontleding.

  • Johann Strauss

    Kies die goue middeweg van politieke oorlewing. 'n Afvlerkvoël kan nog steeds stap en vir 'n tyd lank oorleef. Om die onderskeie faksies die satisfaksie te gee om van CR ontslae te raak, is by wyse van spreke to ghastly to contemplate wanneer die breër prentjie in gedagte gebou word.

  • Hanno Visagie

    Omtrent almal maak die sage en wat gedoen moet word, onnodig ingewikkeld, weens 'n ooglopende gebrek aan 'n Bybelgegronde, Christusgerigte lewens- en wêreldbeskouing: Doen die regte ding. Hou aan om elke goddelose party en persoon teen te staan tot Christus weer kom.

  • Nee wat, ek dink ’n paar politieke ontleders en kommentators sit die pot heel mis oor Ramaphosa. Hy sal die ANC-leier bly en ’n tweede termyn as president uitdien. Enige weddenskappe?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top