Cyril Ramaphosa se stryd: Is die buffel besig om te struikel1
Sedert die storie oor die diefstal op Ramaphosa se wildsplaas Phala Phala op 1 Junie op die lappe gekom het, het dit tot ’n groot mate die nuus oorheers. Dit is sonder twyfel ’n belangrike gebeurtenis, en in hierdie artikel wil ek die kwessie so ’n bietjie dekonstrueer.
Die eerste reaksie met die bekendmaking van Fraser se aanklag kom uit eie bodem met die Four Jacks and a Jill se 1968-treffer waarin hulle sing “It’s a strange, strange world we live in, Master Jack!” As mense deur die koerante blaai en na die nuus luister, dan besef jy Creedence Clearwater Revival was nader aan die waarheid met hulle 1969-treffer “Bad moon rising” (“I see the bad moon a-risin’. I see trouble on the way. I see earthquakes and lightnin’. I see bad times today)! Dan kom daar ’n boodskap van ’n oudpolitikus met sterk historiese bande met Cyril Ramaphosa by my aan en dit lui: “Die buffel is waarskynlik net gekwes en sal wegkom van die jagter, maar ’n gekweste buffel in die veld is ’n kwesbare slagoffer vir ander aas- en prooidiere.” Ek begin die opstel met hierdie drie aanhalings om die sentiment te probeer vasvang sedert die storie en sy uitkringeffek die Suid-Afrikaanse politiek getref het.

Cyril Ramaphosa (Foto: Palácio do Planalto [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons)
Die jaar 2022 moet deur die prisma van die ANC se nasionale Konferensie gesien word wat van 16 tot 22 Desember 2022 gaan plaasvind. Dit is die hoogste besluitnemingsliggaam van die ANC en sal besluite oor beleid neem, maar die hoogtepunt van so ’n konferensie is die verkiesing van die top ses leiers wat belangrikste amptenare van die ANC uitmaak en twee poste is veral kritiek, naamlik dié van president en dié van sekretaris-generaal. Die ANC-president lei die organisasie en die sekretaris-generaal is die dag-tot-dag- administratiewe bestuurder van die party. Die top ses leiers word individueel en per geslote stembrief deur ongeveer 4 000 afgevaardigdes van ANC-takke verkies.
Dit is ’n bekende feit dat Cyril Ramaphosa die wedloop om president van die ANC te word in Desember 2017 naelskraap met 179 stemme gewen het teen Nkosazana Dlamini-Zuma wat sy opponent vir die pos was. Dit is ook bekend dat Ace Magashule die wedloop om sekretaris-generaal te word met ’n nog kleiner meerderheid gewen het teen sy opponent Senzo Mchunu. Die uitkoms van die verkiesing was bepalend beïnvloed deur David Mabuza van Mpumalanga wat sy volgelinge op die konferensie versoek het om op die nippertjie hulle steun aan die Ramaphosa-kamp te gee, terwyl hulle eintlik na die konferensie gekom het as deel van die sogenaamde Premierliga. Die uitkoms van die Nasrec-konferensie was dus dat die ANC se top ses leiers verdeeld was, dat die nasionale werkskomitee (NWC) verdeeld was, en dat die nasionale uitvoerende komitee (NEC) ook verdeeld was. Faksies in die ANC het die party verlam gelaat en Ramaphosa moes sy steun konsolideer teen ’n baie vyandiggesinde Zuma-kamp wat ook as die Radical Economic Transformation-groep of RET-faksie bekend gestaan het. Arthur Fraser, die man wat nou die klagtes teen Ramaphosa aanhangig gaan maak het, het hom baie knus in hierdie groepering bevind.
Tussen die 2017-konferensie en die 2022-konferensie moes daar ’n nasionale raadgewende konferensie (NGC) plaasgevind het waar Ramaphosa sy steun in die party sou kon toets, maar as gevolg van COVID-19 het dit nie plaasgevind nie. Vier ander faktore het eintlik die prosesse in die ANC bepaal. Die eerste was die vroeëre instelling van die Zondo-kommissie na staatskaping deur president Zuma as gevolg van druk van die voormalige openbare beskermer, Thuli Madonsela, en die Konstitusionele Hof. Die tweede was toe president Zuma deur die ANC en die nuutverkose leier van die party, Cyril Ramaphosa, gedwing is om op 15 Februarie 2018 as president uit te tree, 18 maande voordat sy termyn sou eindig. Die derde faktor was dat Ramaphosa kort nadat hy as president ingehuldig is, ’n paar belangrike kabinetskuiwe gemaak het en van die mees prominente Zuma-kornuite in die kabinet ontslae geraak het. Die vierde faktor was die besluit van die NEC dat daar ’n opsystaanreël moet wees vir ANC-leiers op alle vlakke wat van korrupsie aangekla is. Op dié wyse is ’n Zuma-aanhanger soos Ace Magashule in die party geneutraliseer.
Om die situasie in die ANC nog verder te kompliseer het die party se steun in die algemene verkiesing van 2019 tot 57% gedaal en in die plaaslike verkiesings van November 2021 tot 46% gedaal. ANC-steun het dus in die party se konstante binnegevegte ’n duidelike afwaartse tendens begin toon en die verwagting is dat die steun in die nasionale verkiesing van 2024 verder kan daal.
Om by die nasionale konferensie in Desember 2022 uit te kom moet die ANC ’n aantal administratiewe en verkiesingsverpligtinge nakom. Die eerste is om te bepaal hoeveel takke funksioneer en op gesonde grondslag bestaan. In 2017 was daar ongeveer 3 900 takke wat 4 500 afgevaardigdes na Nasrec gestuur het. In 2022 is daar ’n afname in die aantal ANC-takke omdat die administrasie beter gedoen word en vals of pseudotakke uit die spel gehaal is. Nadat geldige takke bepaal is en streekskonferensies gehou is, moet daar in al nege provinsies verkiesings plaasvind om provinsiale leiers te kies. Hierdie proses moes reeds teen einde Mei 2022 voltooi gewees het, maar sal eers teen die begin van Julie afgehandel wees. Sodra provinsiale strukture verkies is, moet daar ’n beleidskonferensie plaasvind om die beleide en beleidsveranderinge in aanloop tot Desember 2022 te bespreek. Hierdie konferensie word vir einde Julie 2022 beplan. Hierdie beleidskonferensie kan ook ’n algemene raadskonferensie (National General Conference) insluit om kontensieuse sake te bespreek. Dit is egter nie ’n leierskapskonferensie nie en kan slegs aanbevelings maak.
Sodra al hierdie prosesse voltooi is, begin die aanvoorwerk vir die nasionale konferensie in alle erns. Die faksies besluit op leierskapslyste (sogenaamde slates) en leiers werf steun op alle vlakke. Dis tydens hierdie proses waar groot geld in die agtergrond ter sprake is om steun te koop. Hierdie intrapartyprosesse staan egter buite die wet op partyfinansiering en word bepaal deur partye self. Ook die spelreëls word in hierdie tyd bepaal ten opsigte van takverteenwoordiging, verteenwoordiging van die Jeugliga, Vroueliga en Veterane, SAKP en vakbonde. Die oorgrote meerderheid op die konferensies bly egter die afgevaardigdes van takke regoor Suid-Afrika.
Dit is in die aanloop tot hierdie prosesse dat Arthur Fraser sy politieke kartets gelewer het deur die enigste duidelike presidentskandidaat van korrupsie, geldwassery en ’n aantal ander misdrywe te beskuldig. Twee kwessies was onmiddellik duidelik, naamlik dat die klagtes teen Ramaphosa ’n politieke motief het, maar dat daar meriete in die klagtes mag wees. Arthur Fraser is geen onbekende in omstrede politieke kringe nie en was onder andere eintlik die hoofakteur in Jacques Pauw se The President’s keepers wat staatskaping en die korrupte optrede van Zuma so duidelik gedemonstreer het. Fraser was toe hoof van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) en het Pauw met omvangryke naamskendingshofsake gedreig, maar daarvan het dadels gekom. Die vraag is natuurlik hoe Fraser aan die inligting gekom het wat in sy klagtes en eedsverklaring vervat is en waarom dit juis nou gebruik word, meer as twee jaar na die gebeure?
Is Ramaphosa skuldig? Daar was beslis ’n inbraak op sy wildsplaas in Februarie 2020, en dit is deur Ramaphosa bevestig, asook dat sy eie beskermingseenheid dit ondersoek het. Hier is ’n aantal los drade wat smeek om antwoorde, omdat dit die integriteit van Cyril Ramaphosa raak. Baie hiervan is vervat in die vrae wat die nou geskorste openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, op 9 Junie 2022 aan Ramaphosa gerig het. Vrae soos hoeveel geld daar was, waarom daar so baie kontant op die wildsplaas gehou is en of daar aan al die regulasies voldoen is. Nog ’n los draad is die rol van generaal Wally Rhoode wat ’n pos in die SAPS beklee, maar klaarblyklik nie die diefstal amptelik hanteer het nie. Wat was die rol van ’n klomp onverwante Namibiërs in die diefstal? Ons weet dat daar na die onafhanklikwording van Namibië oud-Koevoetlede na elke provinsie afgedeel is en dat hulle mettertyd in misdaad soos politieke moorde en transitorooftogte betrokke geraak het omdat hulle ledig was en nie behoorlik benut is nie. Hierdie Namibiërs is waarskynlik deel van daardie mislukte proses. Ons weet verder dat die President in ongeveer November 2020 daarop gewys is dat Fraser dalk oor die inligting met betrekking tot die diefstal beskik. Hy het op tipiese Ramaphosa-wyse besluit om niks daaromtrent te doen nie.
Het ons hier te doen met ’n Bell-Pottinger-tipe aksie, maar op politieke steroïede? Die dramatiese bekendmaking van ongeveer VSA$4 miljoen (R63 miljoen) in die Fraser-klag het ten doel om Ramaphosa in ’n swak lig te stel. Op die oog af lyk dit beslis na ’n politieke kartets wat na Ramaphosa gegooi is, en sy reaksie was ook klassiek in die Ramaphosa-styl, naamlik om ’n kantlynskoppie te waag en tyd te koop deur op ’n formele ondersoek deur die Valke te wag. Dit is my verwagting dat die ondersoek ’n paar interessante resultate sal lewer:
- Dat daar wel ’n inbraak was, maar dat dit nie openbaar gemaak is nie, om veiligheidsredes.
- Die omvang van die diefstal, naamlik die bedrag geld nie vasgestel kon word nie.
- Dat Ramaphosa die slagoffer van diefstal was en geen reëls oortree het nie, maar dat generaal Rhoode pa sal moet staan vir die foute wat gemaak is.
- Dat generaal Rhoode waarskynlik op vervroegde pensioen geplaas sal word.
- Dat minister Cele die politieke beheer oor die saak sal neem en selfs sal insinueer dat die Namibiese skelms deur Fraser en sy handlangers betaal is en dat die geld wat hulle so kwistig gebruik het, uit daardie oord sou kon gekom het. Fraser sal verbind word met die bendes op die Kaapse Vlaktes, veral omdat die skelms daar gaan wegkruip het.
- Dat die klagtes teen Ramaphosa nie die toets van ’n hofsaak sal deurstaan nie en hy dus nie opsy sal hoef te staan nie.
Het Ramaphosa se beeld skade gely? Sy beeld het sonder twyfel skade gely, en die chaos wat in die parlement afgespeel het deur onder andere die EFF se optrede, plaas Ramaphosa nou in dieselfde kategorie as Zuma na Nkandla. Ramaphosa het sy bes probeer om ’n toespraak te hou waarin hy Suid-Afrikaners wou motiveer en dat die ekonomie beslis besig is om stadig maar seker kop op te tel, maar min het daarna geluister, want hulle wou van die diefstal op Phala Phala hoor. Ek is ook van mening dat Ramaphosa se raadgewers nie die omvang van die krisis na behore begryp het nie en deel van die krisis is.
Watter impak sal die diefstal op Phala Phala, of “Farmgate”, hê op Ramaphosa se veldtog om vir ’n tweede termyn as ANC-president herkies te word? Paradoksaal sal dit uiteindelik in sy guns ontwikkel, want sy gekonsolideerde steun wat hy die afgelope twee jaar in die ANC opgebou het, gaan nou om ’n beleërde president laer trek. Dit gaan die kontoere tussen die faksies in die ANC baie duideliker laat uitstaan. Die Ramaphosa-strategie was om ná die 2022-konferensie die ANC te verenig op pad na die algemene verkiesing van 2024, maar dit gaan nie meer gebeur nie. Die Fraser-aanklag gaan die polarisasie in die ANC verdiep en ’n klimaat skep waarin die ANC as ’n diep verdeelde party uit die konferensie gaan kom. Ramaphosa sal ’n tweede termyn kry en die top ses sal nuwe gesigte insluit, maar daar sal min ruimte vir die Zuma-simpatiseerders en Magashule-kornuite wees. Hierdie polarisasie in die ANC gaan uiteindelik daartoe lei dat die Ramaphosa-opponente ná Desember 2022 op soek gaan wees na ’n nuwe politieke tuiste, links van die ANC, omdat hulle gaan voel dat hulle nie genoegsaam geakkommodeer is nie en dat die Zondo-kommissie eintlik as wapen teen hulle gebruik is. Die diefstal op Phala Phala het die herskikking in die Suid-Afrikaanse politiek versnel en die 2024-verkiesing ’n nóg groter uitdaging vir die ANC gemaak.
Theo Venter
Professor in Praktyk, Kollege van Besigheid en Ekonomie, Universiteit van Johannesburg
Eindnota
1 Met erkenning aan LJ Bothma, 2010, Die Buffel struikel.
Kyk ook:
Lees ook op LitNet Akademies:
Die evolusie van eietydse intelligensie en die rol van sosiale-media-intelligensie (Socmint)
Kommentaar
Theo, baie goed gebalanseerde stuk werk. Een van die min wat ek tot nou toe gelees het. Ek voel egter dat meer detail oor Arthur Fraser gegee moet word om nog beter perspektief te gee.
Netjiese uiteensetting Theo. Die kalm manier waarmee Ramaphosa die oproer in die parlement hanteer het, en op vrae later in die bespreking gereageer het, laat my wonder of daar nie dalkies van sy kant ook later (na afhandeling van die ondersoeke na die gebeure op sy plaas) ’n politieke kartets op sy teenstanders afgevuur sal word nie. Dit laat my dink aan Genl. Jan Smuts se "kat uit die boom bekyk" benadering van: "Laat dinge eers ontwikkel". Hoeveel koppe gaan spreekwoordelik intussen onder die dop uitkruip om gekartets te word?
Sal moet praat met Louis Bothma as ek weer by hom verbygaan, oor sy boek se titel wat in ANC- politieke konteks gebruik was.