Suidoosterfees vier 21 én 30 met lag én traan

  • 0

Die baba is mondig. Ongelooflik om te dink die Suidoosterfees – die fees vir almal – vier vanjaar sy 21ste jaar. Suid-Afrika vier 30 jaar van demokrasie, maar dinge is nie so rooskleurig soos ons gehoop het nie, en die kunste is die waghond, skryf Maryke Roberts na vier dae se feesaanbiedinge, waar Clifford Roberts die foto’s geneem het.

In repetisiekamers, operasale en syarenas wroeg akteurs met die nagevolge van apartheid, die verstikkendheid van armoede en ongelykheid. In gespreksreekse lig skrywers en akademici uit hoe ver ons in 21 én 30 jaar gekom het, maar hoeveel nog nodig is om regtig vooruit te gaan.

In die gesprek “Hoe reboot ons SA?” in samewerking met Jonathan Ball gesels Roy Havemann met Tessa Dooms en regter Dennis Davis oor Dennis se boek How to fix (Unf*ck) a country. Havemann glo dit begin met ses dinge: Eskom, onderwys, die omgewing, uitvoere, gelykheid en etiek.

In een van die ander Jakes Gerwel-herdenkingsgeleentheidgesprekke, “Afrikaans amptelik 100 – vier ons of verdeel ons?” – lei Martelize Brink ’n groepbespreking met Melt Myburgh, Earl-Ray Basson, Rene Arendse en Giep van Zyl oor die 100-jarige viering van Afrikaans as ’n amptelike landstaal wat vir 2025 beplan word. Terwyl sommige al feesvure wil aansteek, voel ander hulle word nogmaals uitgesluit en generasies se deelname in die totstandkoming van die taal word misken.

Buite poseer kinders bedags by die reuse houtbeeld van Klein Nana, die 10-jarige dogtertjie wat met haar driewiel uit Zimbabwe gery het om haar mamma te kom soek wat in die mallemoes van immigrasie verdwyn het. Dis deel van die #SameCampaign met die hutsmerk #Standup4migrants.

Saans tussen en ná vertonings word die trappe en terrein voor die Kunstekaap-deure ’n feestelike plek. Mense dans en sing saam met platejoggies, klink glasies wyn en skuur skouers met glanspersoonlikhede. Op een van hierdie lekker sosiale interaksies sê Amanda Strydom vir my al is almal moeg van die gedraf by die fees, is sy net so ongelooflik dankbaar om weer te kan werk.

Veranka Paschke se kunswerk Val/Vlieg was deel van die Een-en-wwintig-uitstalling. Die tema was “Rykdom en skoonhede”. Jan Rabie se kortverhaalbundel 21 is as inspirasie gebruik.

Ek glo dis die eintlike slagspreuk van die fees. Dit het maar swaar gegaan om hierdie mondige kind deur die laaste vier jaar van puberteit te kry met inperkings wat ons almal se planne so sleg omver gegooi het.

Tekwana is ’n openbare-optreekuns-uitvoering, gebaseer op die lewensverhaal van David Gara, ’n Zimbabwiese immigrant wat in Johannesburg woon, wat saans in die piazza opgevoer is. David skep pragtige skepe uit herwinbare materiaal, en verkoop dit om ’n bestaan te maak en om sy gedagtes en drome oor die wêreld te deel. Van sy bootjies is in die foyer uitgestal.

Edmund Jeneker, die voorsitter van die Suidoosterfees se direksie, sê: “Ons is trots op die diverse profiel van ons feesgangers en kunstenaars in ’n omgewing waar Afrikaans ’n gemene deler is. Ook op die innoverende manier waarop die taal haar plek in die familie van inheemse Suid-Afrikaanse tale by die fees inneem – inklusief, omarmend en grensverskuiwend.”

Die fotograaf Paul Alberts, wat in 2010 oorlede is, het hom in die 1970’s en ’80’s daaraan toegewy om die groot geeste van Suid-Afrikaanse kuns in hul skeppende oomblikke te dokumenteer. Hier is Sandra Prinsloo in 1978 deur hom afgeneem, en agter verskeie deure van die Kunstekaap-teater het sy weer op die fees haar slag as bekroonde aktrise gewys. Dié foto is een van verskeie wat deel van Paul Alberts se In die skeppende oomblik-uitstalling by die fees was.

Dis nie net die taal wat inklusief en omarmend is nie. Die kunste is hier net die middel waardeur daardie inklusiwiteit weer tuisgebring word.

Ek lees in die program dat Droomwerk met die 2021 ATKV-Woordveertjie vir beste nuwe teks bekroon is; en dat Jill Levenberg verskeie nominasies en toekennings vir haar vertolking van Diana van Madagaskar ontvang het. Dis onmiddellik op die wenslys.

Die klein knus Arena-teater aan die kant van die Kunstekaap-teaterkompleks is een van my gunstelingplekke. Dis asof jy iewers op die West End of Off-off Broadway sit.

Twee hospitaalbeddens met ’n ou oom in een en ’n jong man in ’n sinkbad waaroor jy amper struikel in die skemerte op pad na jou sitplek toe, wag as jy instap. In die rolverdeling saam met Jill (wat as verpleegster verskyn) is Ben Albertyn, Gerben Kamper, Tyrish Mili en Johann Vermaak.

Petrus is in ’n hospitaal vir geestesiekes. Sy dokters en ouers glo skokterapie is al wat oor is vir hierdie depressiewe, psigotiese en angstige jong man. Hy is al agt jaar onder behandeling, maar daar is geen verlossing van die swart hond nie.

Sy oupa, Piet, is op sy doodsbed, en in uitbarstings van wanhoop resiteer hy dele van sy toesprake as senator in die apartheidsjare. Hy het sy “lewe gegee vir hierdie land en gaan nie nou toelaat dat alles uitmekaar val nie”. Petrus droom van sy stammoeder, Diana van Madagaskar, wat haar verlore dogter se graf soek. Nie een van die twee Odendaals sal rus voor Diana haar antwoorde gekry het nie. Maar die verpleegster waarsku: “Jy moet oppas vir jou drome; hulle gaan jou so ver vat dat jy nooit weer kan terugkom nie.” Tog berus die rus vir hom en sy oupa net by hom. Tot hy doen wat sy stammoeder van hom vra, gaan hulle al twee dwaal. “Dis nie nagmerries wat jou teister nie; jy moet net vir jou voorvaders sê dat jy die boodskap hoor,” verklaar die toordokter terwyl sy beentjies gooi en kooigoed brand.

Diana het in die 1660’s in Madagaskar “in vrede tussen veld en sterre gewoon” voor sy “twee weke en 20 lyke later” as slaaf in Kaapstad aanland. Sy word deur ’n “vaalvel” verlei en baar sy kind, Susanna, die stammoeder van die Odendaals. En van daar is dit net afdraande – tot nou waar Petrus moet ingryp.

Diana fluister in ’n ylende Piet se oor: “Ek is jou eerste wortel in hierdie land en jou laaste takkies in die wind.”

Sy volstaan uiteindelik daarmee dat sy te moeg is om te dien; sy moet nou na haarself kyk.

Die stuk praat diep tot in jou maagweefsel met jou. “Ons het almal ’n aandeel in die verlede,” verklaar die toordokter. Ons almal het ’n slavin van iewers elders as stammoeder.

Inklusief, omarmend. Inderdaad.

Later, op RSG, gesels Martelize Brink en Johan Rademan met Pieter Odendaal, skrywer en vervaardiger, daaroor dat die stuk ’n metafoor is vir alle Odendaals van hierdie lewe. “Ons is almal nog altyd van mekaar. Die stuk is om anders te kyk na die geskiedenis wat vir ons gevoer is. En ons moet besef, die verlede is nooit afgehandel nie.”

Die tweede maal dat ons tydens die fees daar in die intimiteit van die Arena sit, en weer vir die spel van die formidabele Jill Levenberg, is vir Gas saam met Elton Landrew.

Dawid keer ná 15 jaar keer terug Alexanderbaai toe. Sy suster, Maria, het agtergebly en leef as kluisenaar in hul grootwordhuis. Die sibbe staan aan weerskante van ’n nuwe haweontwikkeling. Dawid sien geleenthede, gesondheidsorg, opvoeding, vooruitgang. Maria sien die ondergang van bestaansvissers, seebesoedeling, uitbuiting.

“Hulle kom van regoor Suid-Afrika om ons goed te kom steel, en dit met ’n baas-houding,” verklaar sy oor die vorige mooi praatjies waar die gemeenskap in 2007 hul grond teruggekry het, maar “arm miljoenêrs” gedoop is omdat hulle sonder enige ondersteuning en hulp daar aan die uithoek van die land so verarm het.

Dawid probeer haar van siening laat verander, maar sy verklaar later dat die vyand toe al die tyd binne haar (hulle) huis is, nie daar buite soos sy geglo het nie.

Daar wag groot ontnugtering op haar met Dawid se openbaring van hoekom hy na hul ouers se verdrinking stad toe moes gaan. “Ek het nie gegaan omdat ek wou nie, maar oor ek moes.”

Haar verlies het maar nou eers werklik begin.

Die teks is aangrypend in sy eerlikheid. Dis nie net die akteurs se aksente wat Alexanderbaai vir die gehoor skets nie, dis ook die mooi beskrywings, soos “Maak daar vir ons ’n brou”; “Hoe’s dit dan nou met jou?”; en “Jy moet ophou om die verlede so op te gaar.”

Cintaine Schutte kom tot haar ware reg as aktrise in Onder ’n bloedrooi hemel saam met Daniel Mpilo Richards en Deon Lotz in die verwerking van Annemarié van Niekerk se gelyknamige boek. Die boek het die Henriëtte Roland Holst-prys vir Betrokken Letterkunde in Nederland gewen. Meer daaroor hier.

Nicola Hanekom, ’n Hertzogpryswenner vir drama, het dié aangrypende boek vir die Suidoosterfees-verhoog verwerk. Die verhoog is ’n mengelmoes van vorme en kleur met ’n skerm waarop beelde flits. Rooi wolletjies hang uit die dak; die akteurs is vasgedraai in die rooi. Soms is hulle verstrengel, soms knip hulle die rooi draadjies met klein skêrtjies af, en word dan net weer van vooraf verstrengel. Die kante van die verhoog lyk in die skemerlig asof dit met bloedspatsels bevlek is. Die stuk open met die wreedaardige moorde op ’n plaas naby Elliot, en hoe dit Annemarié op ’n reis neem die verlede in. Sy kyk na haar grootwordjare, ’n liefdesverhouding met ’n swart kollega, Denzel, en haar pa wat haar ten alle koste teen die wêreld wil beskerm. Daar is flitse van die land se bloedige geskiedenis; die verwarring van ’n kind wat nie verstaan wie ons vyand nou eintlik is nie – die swart gevaar, of die rooi gevaar of die antichris of die kommunis of die ateis. Hoe elke wit Suid-Afrikaner medepligtig is, maar aan wat? En hoe?

Sy verklaar die “woorde val soos ’n haelbui; skielik en onverwags”. Nie net die verwyte tussen haar en haar pa nie, maar ook tussen haar en Denzel. Almal is in pyn; almal is verlore.

Ek sit langs Cintaine se ma, Hesté. Voor die vertoning begin, is sy effe senuweeagtig vir haar dogter se onthalwe: Dis ’n lywige teks van meer as 400 bladsye. Maar sy weet haar dogter kán. Tydens die staande ovasie fluister sy vir haarself: “Mooi gedoen, my kind.”

Mooi gedoen inderdaad.

Een van die lekker projekte by vanjaar se fees was die vernuwende reeks van 21 teaterproduksies van 21 minute elk, waarvoor kaartjies R21 gekos het. Hier onder sien ons vir Carlo Daniels in Knyp die kous innie donker op die verhoog gevul met ’n bed, ’n pienk sokkie en ’n room-en-groen kous. Daarmee is die gehoor se aandag aangegryp. Hulle droom van ’n gewone paartjie wees, maar is afhanklik van die woonsteleienaar vir hul liefde se voortbestaan. Die kous verklaar dat die woonstelbewoner sy geliefde se drome verpletter en haar vasgekeer in die huis hou. “Jy is ’n sokkie weggesteek van die wêreld.” Dis ’n donker komedie oor verraad en liefde wat inderdaad geen perke of materiaal nie ken nie!

Vir Ouma weet verruil die formidabele Margit Meyer-Rödenbeck haar lolliepop van die immer gewilde Dowwe Dolla vir uitgetrapte sandaaltjies, halfkouse en ’n groot modieuse bril, amper onvanpas vir dié outannie van Garies. Sy is nie op haar mond geval nie en draai nie doekies om nie. Almal loop deur: van spiertiere by die gym tot misleidende etikette op Woolworths-rakke en slinkse verkoopsagente op skeepsvaarte. Selfs GPS kry ’n stekie: “Head northwest. Hoe de hel moet ek weet waar dit is? Lyk ek soos ’n windkous?”

En natuurlik kan die jongklomp wat net heeldag op hul fone sit en “tap, tap, tap” ook nie haar toorn vryspring nie. “Hulle sal die Wegraping misloop en dan net een oomblik opkyk en wonder waar almal heen is.”

En hoe lyk ratelvriendelike heuning? Volgens Ouma is ’n ratel soos die befaamde oudrugbyspeler Frik du Preez: Sy heuning is sy heuning en jou heuning is ook sy heuning!

Die verkiesing kry ook sy beurt. Volgens Ouma het jy in Amerika net twee opsies as jy stem: óf vir ’n pedofiel óf vir ’n fossiel, en hulle moet jou in oorloë lei. In Suid-Afrika is daar darem 273 opsies “and counting”. Gelukkig kan ons nie oorlog maak nie, want almal wat weet hoe, is oor 60 en gaan slaap nege-uur saans – en staan weer elfuur op om te piepie!

Steeds onder die 21-minute-vaandel is Bon appétit!, ’n kort-opera met die koslegende Julia Child as “aanbieder” met Janelle Visagie. Sy sing in hoogdrawende Childs-styl die hele resep vir ’n klam Franse sjokoladekoek en dat jy nooit sjokolade mag oorverhit nie; eerder eierwitte met die hand klits en sorg dat die panne goed gesmeer én gemeel is, anders sit die koek vas. Sy verklaar opeens: “Kook is maar baie van dieselfde; partymaal is daar sjokolade en partymaal is daar vis.”

En dit alles terwyl José Dias haar op die klavier begelei. Dié musikale monoloog deur die Amerikaanse komponis Lee Hoiby is ’n transkripsie van ’n episode uit die 1963 TV-dokumentêr The French chef.

Soos een vriend dit stel: “As die produksie onder die 21-vaandel lekker is, wil jy nog hê. As dit goor is, is dit gelukkig net 21 minute van jou lewe wat jy vermors het.”

Ander lekkertes wat deel was van die 21-projek, was Rajee & Fatgiyah se show met Hadji Fatgiyah en Boeta Rajee, seremoniemonsters van die gewilde Boogie show. Hulle raak kwinkslae uit hul voorkamer in die Bo-Kaap kwyt wat só vinnig gebeur dat mens nie kan byhou om dit neer te skryf nie! Daar is nuwe organisasies met afkortings wat die gehoor laat skater, soos DIKGAT (Doctors in Knysna against gangsters and tik) of VETGAT (Vegans and Telemarketers against gangsterism and tik). Fatgiyah steek selfs die draak met haar eie naam: “Ander mense sal vat, maar ek sal gie-ja!”

Ook Een vir my baby! met André Terblanché en Karli Heine: Die speurder Jan Brand ondervra die jazzsangeres Alia Vry oor haar man se dood. Daar is jazz, melankolie, placebo’s en herhalende dilemmas met geestesgesondheid en dinge wat nie regtig gebeur nie.

Dis een ding om vir weke die Lauren Dickason-saak te volg, waar dié Suid-Afrikaner wat in Nieu-Seeland woon, haar drie dogtertjies versmoor het. Dis egter iets heeltemal anders om dit in Waansin, met Carin Bester in die rol, voor jou op die verhoog te sien afspeel: só naby dat jy aan die kinderkombersies kan raak.

Daniël is die liefde van haar lewe; so mooi soos Vecellio se Adonis. Hul liefde en lewe is prentjiemooi, soos ’n Pierneef-skildery.

Wanneer sy ’n miskraam het en haar “lemoenduifiebaba Ester” vinnig tot hospitaalvullis verklein word en die werk by die kinderafdeling van die hospitaal haar sielkundig diep raak, begin die swart hond haar metgesel word. Haar geloof word tot die uiterste beproef, en met die toetrede van ’n prediker glo sy sy word gestraf omdat sy ’n slegte vrou en ma is. “My lyf is ’n mislukking, soos droë blare; my mislukte self.” Sy glo sy is besmet die sondes van Eva.

Sy pleit by Daniël om haar raak te sien; om haar seer te sien.

Soos haar geestesongesteldheid verswak, word haar radikale godsdiensbeskouing tot ’n hoogtepunt gedryf. Haar “offer” om haar kinders veilig van die duiwel te hou, kom tot besleg in die teksvers Markus 10:14: “Jesus het vir hulle gesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en moet hul nie verhinder nie …’”

Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan met Sandra Prinsloo en David Viviers (wat verskeie rolle skreeusnaaks vertolk) is iets tussen klug, drama en komedie. Nora beland onverwags (maar sonder haar wete) in die hiernamaals. Sy hoop egter om haar oorlede verloofde, oor wie sy 40 jaar getreur het, terug te bring aarde toe, want alles is mos ’n misverstand. Sy is nie dood nie. Maar toe sy voor die raad gaan sit, verklaar hulle sy het ’n lewe vermors deur te treur. Sy het nooit in die hede geleef nie. Maar Nora bring op die ou einde die grootste offer ...

Die geskiedenis het dalk die 17de-eeuse historiese figuur Zwarte Maria Evert, die eerste swart vrou wat ’n druiweplaas besit en wyn geproduseer het, uit die handboeke gehou, maar dié stuk het haar uit die argiewe gelig. Swart wyn bring hulde aan twee vroue wat bo die bande van mishandeling en armoede uitgestyg het om hul drome te verwesenlik, Bykans 300 jaar uitmekaar is dit wyn wat hulle roem laat sien. Die lewe van Vivian Kleynhans, eienaar van Seven Sisters Wines op Stellenbosch, soos vervat in die boek Wanneer water wyn word, vorm deel van die vertelling van die tweede vrou, wat deur Denise Jannah gespeel word. Lees meer oor die boek hier: https://www.litnet.co.za/wanneer-water-wyn-word-deur-vivian-kleynhans-soos-vertel-aan-jacqueline-leuvennink-n-resensie.

Ook in die rolverdeling is Pierre van Heerden, Johan Falck en die musikante Frazer Barry, Deniel Barry en Charlton Davids, en studente van Dance for all.

Vir 90 minute van regte dubbelvoulag van simpelgeid kuier ons in die Zip Zap Dome vir Verras. Dié klub is ’n warboel van misverstande en die groot chaos wat dit meebring. Het ouma Ellie gesê die familie gaan haar verras of veras? Die dominee het een ding in haar kop; die familie iets anders. En sussie is swanger, swaer is gay en die Hertzoggies al sandsuiker in die bakkie.

’n Hoogtepunt op ’n ander vlak was A couple of humans met die Finse kunstenaars Riikka en Antti Puumalainen. Die feesprogram beskryf hul vertoning as volg: “Wie is ek? Wie is ons saam? Dié fundamentele vrae word ondersoek in hierdie visueel aangrypende interdissiplinêre dansteaterproduksie. Dit spreek die uitdagings rondom sosiale interaksie aan in ’n wêreld wat deur digitale kommunikasie oorheers word. Dit vermeng choreografie, klankontwerp en beeldprojeksies om kommentaar te lewer op die manier waarop tegnologie menslike verhoudings verander het.”

Die stuk laat jou opnuut besef hoe niemand los staan van enigiets nie; ons is op een of ander manier aan mekaar vas, soos die dansers in een stel broekiekouse of een groot trui. Hul hande lyk soos gewebde voete in die naaswit sykouse. Soms is die agtergrondmusiek soos hortende asemhaling, ander male herinner dit jou aan onderwater klanke wanneer die spelers ook ritmies soos bamboes in die gety wieg. Met die rooi gebreide rompe en broeke is die musiek Latyns-Amerikaans, opruiend amper. Dan dans hulle onbevange soos kinders op ’n speelgrond wat te veel suiker in het. Hulle lyk soos stokkiestekeninge wat lewe kry danksy animasie.

Dis altyd lekker om iets vir ’n tweede of derde maal te gaan kyk, wanneer die vertoning ingespeel is. Hier sonder ek Vincent: his quest to love and be loved uit. Vincent het ons verlede jaar by die Toyota US Woordfees gesien en Daniel Anderson, wat toe saam met die pianis Germaine Gamiet opgetree het, is genomineer vir beste prestasie: kontemporêre musiekproduksie – solo/duo. Nou is dit Tersia Harley saam met hom op die verhoog. Met voorlesing, sang en ’n mooi kostuum kry die eksentrieke Vincent van Gogh ’n ander lewe voor die gehoor.

Ook Braam en die engel: Dit bly vir my een magiese ervaring om te sien hoe daardie pop ’n mens tot trane kan dryf met sy onskuld, geloof in die goeie en in mense. Dis benoem vir vier Woordtrofees en vyf Fiëstas en elkeen van die akteurs, Joanie Combrink, De Klerk Oelofse, Rehane Abrahams, Marelize Viljoen, Timothy Isaacs en Shaun Oelf, gee alles wat hulle het om Braam spesiaal te maak.

Die groot verjaardagpartytjie kom in die vorm van 21, waar verskeie kunstenaars saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes optree. Van die land se grootste name was daar, met Sandra Prinsloo, Vinette Ebrahim en Marion Holm as seremoniemeesters.

Ballroom boy met Carmen Maarman, Ayden Croy en Zinedine Manus is in samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans op die planke gebring.

’n Ma en haar twee seuns word deur bendegeweld uitmekaar geskeur. Nicky No Jokes is pas uit die tronk. Hy wil weer Nicholas genoem word; hy wil sy lewe omdraai en hy wil baldans, soos sy oupa, wat ’n kampioenbaldanser was.

Carlo se toekoms wink blink; hy wil varsity toe. Hul ma droom van weer ’n gesin wees; hul pa is op pad terug na sy familie toe; ook hy wil oor begin.

Maar hoe gemaak as jy jou siel aan die duiwel verkoop het? Die een seun wil uit; die ander een is pas in die maalkolk van geweld en bendes in.

En almal is doof vir ’n ma se pleidooie: Haar gemeenskap, haar bure, selfs die polisie draai hul rug op haar. Nicky is nou ’n ekstronkvoël en hy word nie ’n tweede kans gegun nie. Die ma verloor nie net haar drome nie, maar ook haar man en albei haar seuns.

Lesley Thomas van Families South Africa (Famsa) praat ’n paar woorde ná die vertoning. Die gehoor sit nog in geskokte stilte toe hy vra dat almal hul arms oor hul bors moet vou en eers regs, dan links liggies tik teen jou boarm. Dis om skok te verwerk met ’n selfdrukkie.

Hy sê dit wat ons nou aanskou het, is vanweë onverwerkte pyn wat onenigheid veroorsaak. Die polisie én die gemeenskap het daardie ma en haar familie in die steek gelaat. Alles gebeur uit ’n plek van pyn.

“Skep ’n veilige ruimte in jou gemeenskap; al is daardie gemeenskap in jou eie huis.”

Lesley sê daar is te min erkenning vir ander. Ons kritiseer in plaas van om op te bou.

Daar is hopeloos te min empatie in die wêreld.

Ná ses dae van ’n fees soos hierdie hoop ek die golf van empatie en erkenning maak ’n tsoenami daar buite.

  • Foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

Die soet smaak van mondigwording

Ses dinge djy’t byrie boogie show gemis!

Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2024): Gaan kunsmatige intelligensie oorneem?

Oorsig ‒ Jakes Gerwel-gesprek (Suidoosterfees 2024): Wie gaan Suid-Afrika ná 29 Mei regeer?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top